Die debat oor grondhervorming is vir baie mense, maar veral ons boere, baie ontwrigtend. Die storielyn wat deur mnr. Julius Malema en ander geskep is dat witmense die grond waarop hulle boer, gesteel het, is gewoon vals. Die NG Kerk se standpunt is duidelik in ons voorlegging aan die parlementêre komitee (wat aangewys is om te bepaal of artikel 25 van die Grondwet gewysig moet word), naamlik dat artikel 25 nie gewysig moet word nie.

Die ware storielyn is dat die regering sedert 1996 die mandaat van artikel 25 van die Grondwet om grond te hervorm, baie swak hanteer het. Plase is onteien sonder om titelaktes aan landbouers oor te dra. Baie geld is wanbestuur in die proses. Daar was ook nie voldoende ondersteuning van die staat aan die opkomende en nuwe boere nie. Die waarheid is ook dat die landbougemeenskap reeds baie gedoen het om grondhervorming te laat slaag. Talle inisiatiewe deur landbouorganisasies en die boere self, was baie suksesvol. Hierdie inisiatiewe gaan steeds voort en kan met die staat se hulp baie uitgebrei word.

Die kerk verstaan dat die uitbreiding van grondbesit, stedelike grond, sowel as kommersiële landbougrond, na swartmense noodsaaklik is. Daar was immers tye waarin grond van mense vervreem is en toegang tot landbougrond vir hulle beperk is. Die staat moet ’n baie groot rol in die hervorming van grond speel, maar moet dit in oorleg met die landbougemeenskap doen. Die visie en die welwillendheid is daar. Volhoubare resultate kan so behaal word, sonder om die ekonomiese stabiliteit van ons land te ontwrig. Politieke retoriek gaan ons nie nou help nie. Dit gaan lankal nie net meer oor wit bevoordeling en swart benadeling nie. Die mense wat die swaarste kan ly onder onteiening sonder vergoeding gaan bes moontlik swart werkers en verbruikers wees.

Daar word in hierdie tyd baie onverantwoordelike stellings gemaak oor grondbesit. In tye van spanning ontstaan daar ook baie gerugte en word mense se angsvlakke daardeur opgejaag. Ons moenie van hierdie destruktiewe kultuur deel word nie. Die Grondwet is ’n sosiale kontrak wat in 1996 gesluit is. Dit laat ook ruimte vir konstruktiewe protes en druk vanuit die samelewing teen skadelike politieke prosesse. Ons moet by hierdie kontrak hou en protes aanteken op ’n wyse wat getuig van ons verbintenis om geregtigheid, menswaardigheid en vryheid vir almal te handhaaf.

Hierdie is ’n tyd van gebed en verootmoediging. Laat ons bid vir ons land. Laat ons hande vat met mede-gelowiges en die belang van almal bly dien en oplossings soek. Laat ons met karakter en innerlike vrede te werk gaan wanneer ons protes aanteken. En laat ons ons vertroue in die Here se sorg en genade behou. Laat ons in die besonder bid vir ons landbougemeenskap wat onder ekonomiese, ekologiese en politieke druk verkeer. In Psalm 27: 1 sê Dawid: “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?” Ons kan nou in praktyk helder en duidelik hiervan getuig: Dat die Here ons bron van krag en vrede is.

Nelis Janse van Rensburg
Voorsitter: Algemene Sinode Moderamen (ASM)

15 Augustus 2018

Nelis gesels op Sondag 19 Augustus 2018 op RSG se “Sondagjoernaal” – vanaf 07:15 op 100-104FM – oor die kerk en grondhervorming.