OosKaap Sinode eNuus
Nuus uit die Oos-Kaapse Sinode in
sitting te Port Elizabeth, 12-15 November 2007
Uitgawe 3 – Woensdag 14 November 2007
NB:
Die dokumente van hierdie vergadering van die Oos-Kaapse Sinode is
beskibaar by www.ngkok.co.za/sinode2007.
Klik hier vir die Gebedsonderwerpe
vir Donderdag, 15 November, opgestel deur Rethie van Niekerk.
GOD
SE WERK OP VOETSOOLVLAK
Heilige stories word Dinsdagaand in die Sinode
vertel: stories van ringe en gemeentes wat getuig hoedat lidmate in die
samelewing optree as God se hart en hande. Afgevaardigdes deel met mekaar
hoedat die Here in hulle onderskeie omgewings aan die werk is.
DAG-
EN AANDWYDINGS
Hierdie gebruik om elke sinode dag met ‘n
dagwyding te begin en te sluit vorm soos altyd die onderbou van alles wat
verder in die vergadering gebeur. Heerlike samesang, in-diepte omgang met die
skrif en gebed maak die kern uit van hierdie wyding geleenthede. Dank aan
Gerhard vir uitstekende bgeleiding.
TRAGIESE
HEENGAAN: DS FRANS STAPELBERG
Hierdie geliefde kollega, wat moés emiriteer in
2002 weens gesondheidsredes, is Dinsdagaand op 46-jarige ouderdom na ‘n siekbed
oorlede. Die Sinode betuig die nodige eerbied met ‘n oomblik van stilte en die
sing van ‘n gepaste lied. Sedert 2002 tot onlangs het hy ten spye van sy
seldsame longsiekte met sy liefde- en deernisvolle styl ‘n gemeente gehelp om weer
‘n nuwe visie en passie vir die Here te ontdek.
PREDIKANTE
SAKE
In die nuwe
formulering van die amp van predikant (Kerkorde artikel 9) word meer ruimte
geskep vir deelname aan die kerk se dienswerk in die wêreld en ‘n
gemeenskaplike verantwoordelikheid - saam met die ander ampte - vir leiding in
gemeente. Kerkrade ontvang ook meer ruimte om te onderskei oor watter gawes ‘n
leraar/s beskik, en die bediening daarvolgens in te rig.
In ‘n A-Z handleiding vir predikante kry die behoeftes en versorging van
predikante deeglike aandag sodat leraars hulle roeping kan vervul. Die beleid poog om die volgende te
bewerkstellig: roepingsherstel, meer effektiewe bediening sowel as
bedieningsvreugde om die gehalte van dominees te verbeter en sodoende
dinamiese, gemeenskapsgerigte gemeentes te vorm en te bemagtig.
BEGELEIDING
GEMEENTES
Daar
word indringend gesprek gevoer oor gemeente wees in die veranderende tyd en
samelewing waarin ons leef. Gemeentes word
aangemoedig om ‘n passie te ontwikkel om gemeentelede te bemagtig om al hoe
meer God se verteenwoordigers in die alledaagse lewe te wees om dan daardeur
die welstand van die gemeenskap te bevorder.
Die
feit dat die kerk nie meer so invloedryk soos voorheen funksioneer nie, bied
nuwe uitdagings in die vorm van die handhawing van verhoudings beide onderling
en na buite. Die dominee is nie die sentrale figuur in ‘n gemeente nie, lidmate
moet bemagtig word om ‘n rimpel effek in die samelewing te veroorsaak.
ONS GROET DR SCHALK DU TOIT
Die
sinode groet dr Schalk du Toit wat binnekort emiriteer. Hierdie begaafde
kerkman het die sinode vir 3 termyne gedien as aktuarius, hy het ook op die
Algemene Regskommissie gedien as skriba. Ds Hansie Schutte dra ‘n groete-woord
oor aan hom namens die Sinode.
MISSIE JAPAN
Ds
Tobie de Wet kom deel weer met die sinode die werksaamhede van Missie Japan
waar hy en sy vrou optree as sendelinge van die NG Kerk Familie in die Reformed
Church of Japan waar 128 miljoen Japanese woon in ‘n area so groot soos die
Vrystaat. Die sending aksie is die vrug van die RCJ se smeking: Kom oor en help
ons! Die rede: 99% van die land is
ongekersten! Die Sinode dra ds Tobie en Annelie met handoplegging in gebed aan
die Here op.
BEGELEIDING RINGE
Die
nuwe styl van werk binne die kerk bring mee dat sowat 70 projekte tans in die
Oos-Kaap realiseer waarvoor fondse deur die Sinode bewillig word. Vir
interessantheid: R1,14 miljoen word in die nuwe boekjaar begroot vir projekte
van die NG Kerk in die Oos-Kaap. Afgevaardigdes deel aan tafel met mekaar hoe
God se stem deur hierdie projekte gehoor word.
VLOEI
Na
aanleiding van die liturgie met die openingsgeleentheid het groepe die woord
“vloei” geneem om fokuspunte waar God aan die werk is uit te stippel.
Die
middag word afgesluit met die verskeie ringe wat onderling vergader.
Windgroete
uit Willows!
Wicus
Wait
GEBEDSONDERWERPE
Klik hier vir die Gebedsonderwerpe vir Donderdag, 15 November 2007. Dit word opgestel deur Rethie
van Niekerk.