|
Goeiedag
vriende,
Ek
skryf hierdie woorde uit die vergadersaal van die Konvent vir Eenheid in
Brackenfell, net nadat die byeenkoms ten einde geloop het.. Dit is bedoel om julle op hoogte te bring met 'n paar
kernaspekte van die Konvent. Sowat 230 afgevaardigdes het tot 'n paar
minute gelede hier rondom my om ronde tafels gesit en zoem soos bytjies van lekker gesels en saamdink
rondom die Woord van God en die soek na die hereniging van ons kerk.
Rig gerus enige verdere navrae oor die inhoud van hierdie dokument aan skriba@ngkok.org
of nuus@ngooskaap.co.za Status
van die Konvent Die
Konvent is 'n gesamentlike, verteenwoordigende vergadering wat geen
besluitneming-bevoegdheid het nie, maar slegs aanbevelings maak aan die
drie deelnemende sinodes uit die Familie van NG Kerke (VGK
Kaapland, NG Kerk Wes- en Suid-Kaap en die NG Kerk in Oos-Kaapland).
Die uitgangspunt, soos in die reglement verwoord, lees as volg: "Die
Konvent wil die eenwordingsproses tussen die deelnemende kerke bevorder en
onderneem om onvermoeid te werk aan die imperatief van een kerkverband.
Die reglement maak voorsiening vir die realiteit dat daar op die oomblik
nog verskillende kerke bestaan." (Artikel 1).
Die Konvent is bewus van die beperkinge waarbinne dit funksioneer.
Kerkvereniging en die wysiging van die belydenisgrondslag kan slegs op die
vlak van die Algemene Sinode hanteer word, nadat gemeentes gekonsulteer
is. Binne hierdie raamwerk is kerkvereniging egter die erns van die
Konvent en word hard daaraan gewerk. Bo
Fokusteks Die
karakter van die byeenkoms is in 'n besondere mate deur die fokusteks,
Filippense 1:27 - 2:11 gestempel. Ons is aangegryp deur Christus se
gehoorsaamheid aan die Vader, sy nederige diens en die slawegestalte
waarin Hy Homself gegee het. Net vanoggend kon ek sien hoe Paulus se
woorde in 2:2 die vergadering raak: "Maak dan nou my blydskap volkome
deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in
strewe". Bo
'n Geestelike ervaring
Die byeenkoms van die Konvent was 'n
geestelike ervaring soos min. As ek terugkyk op die
afgelope twee dae, is die enigste moontlike woorde om die Konvent mee te
beskryf dat dit 'n daad van God was. Soos die vergadering gevorder het, het
onderlinge vertroue en geloofwaardigheid inderdaad sterk gegroei. Die
vergadering het bygedra tot duidelikheid en 'n gemeenskaplike verbintenis
tussen die rolspelers. Daar sal sekerlik nog baie foute gemaak word, maar
by hierdie tweede Konvent (die eerste was in 2001) is 'n baie hegte
fondament gelê. Bo
Verwelkoming en
inleiding deur die drie moderators
Die opening
van die Konvent is deur die drie moderators van die samestellende sinodes
waargeneem. Ek haal die aantekeninge vir die notule aan:
"Pieter
Grove, Moderator van die VG Kerk, maak enkele inleidende opmerkings rondom
die noodsaaklikheid van kerkeenheid en die oortuiging rondom kerkeenheid
wat deur die onderskeie kerke gedeel word. Hoewel almal rondom die
imperatief van kerkeenheid saamstem, word die praktiese uitvoering daarvan
om verskeie redes verhinder. Die oproep tot eenheid moet nie alleen die
toekoms bepaal nie, maar moet ook die pynlike verlede in ag neem. Die
Heilige Gees sal die kerk moet lei van ‘n verlede van verdeeldheid na
‘n toekoms van versoening. Dit sal alleen moontlik wees deurdat God dit
self laat gebeur. Ons leef immers in die tydperk tussen die kruis van
Christus wat ons verlede bepaal en sy wederkoms wat verantwoording van ons
sal vra. Ons is op pad na God se toekoms en die imperatief wat Hy stel.
"Hansie Schutte, Moderator van die NG Kerk van Oos-Kaapland, wys die
Konvent daarop dat almal bloedfamilie van mekaar is en dat die doel van
die saamwees is om mekaar beter te leer ken en regtig na mekaar se harte
te luister. Dit is veral belangrik om na God se hart te luister. Die naam
van die Verenigende Kerk wys daarop dat die kerk ‘n doel en ‘n droom,
‘n visie en ‘n missie het. Dit naam wys ook daarop dat die
herenigingsproses nog nie voltooi is nie. Die saak van die hereniging is
‘n saak waarvoor hy homself persoonlik sal gee. Die eenheid van die NG
Kerk-familie dring ook die Sinode van Oos-Kaapland wat hulle erns rondom
eenheid op verskeie terreine al bewys het. Die koninkryk van God kan die
verskeurdheid van die NG Kerk nie meer duld nie. Die situasie in die land
vra ook dat die herenigingsproses moet spoed kry. Hy verwys ook na die
situasie wat Sagaria in die gesig gestaar het en die hoop en moed wat die
profeet moes deurgee.
"Hannes Koornhof, Moderator
van die NG Kerk in SA, wys in sy opleidende opmerkings op die feit dat die
drie kerke sedert die laaste vergadering van die Konvent nader aan
kerkeenheid gekom het. Tegelykertyd het die drie kerke egter ook besef dat
die proses tot kerkeenheid kompleks en ingewikkeld is. Die uitdaging is
egter om mekaar se verbintenis tot eenheid te aanvaar en nie mekaar se
integriteit te bevraagteken nie. Die belangrikheid van kommunikasie en
bereidwilligheid om werklik te luister, word onderstreep. Hy wys op die
besluite wat die NG Sinode van Wes- en Suid-Kaapland rondom kerkeenheid
geneem het. Belhar moet deel vorm van die belydenis van die nuwe kerk. Die
besluit rondom die vyf sirkels is ‘n poging om die groter eenheidsproses
te probeer dien en om geensins afbreek te doen aan die posisie van die
Belharbelydenis nie. Eenheid sien op strukturele eenheid. Die voorstel
rondom ‘n gesamentlike sinode is ‘n poging om groter uitdrukking aan
eenheid in Kaapland te gee en die eenheidsproses in die land te probeer
aanhelp. Hy maak ook enkele opmerkings rondom sinodale poste en prosesse
wat gevolg is. Foute wat gemaak is, moet vergewe word en ‘n nuwe en
gesamentlike pad moet geloop word. Naas die feit dat daar ‘n soeke is na
groter eenheid, is daar egter ook die realiteit dat die kerke nog
afsonderlik is en daarmee moet ook rekening gehou word." Bo
Betekenisvolle
Prosesse Die
prosesse wat tydens die Konvent gevolg is, het bygedra tot die
betekenisvolle resultate.
Afgevaardiges het byvoorbeeld 'n massiewe storiemuur gebou waarop die gebeure en verhale op die vlak van die kerk en elke
deelnemer se persoonlike geskiedenis aangebring is. Die verhaal dek die
periode van 1975 tot op hede. 'n Aangrypende muur van papier, wat almal se ervarings
insluit, het ontvou. Dit het die vergadering gehelp om foute uit die verlede te
verstaan en om waardes te formuleer wat dit nie sal herhaal nie. Die muur wys ook duidelik uit wat die
gedeelde waardes en ervaring is waarop die toekoms gebou kan word.
Die
Konvent het die storie-ervaring afgesluit deur terugskouend na die
samehang van die verhaal van kerkhereniging te kyk. Hoe het die gebeure
verloop wat gelei het tot die Konvent? Uit hierdie gebeure het die
vergadering twee moontlike scenario's geskryf: die een wat lei tot absoluut
die donkerste moontlike uitkoms, en die ander wat lei tot die mees
positiewe uitkoms. Vanuit hierdie baie waardevolle beskrywings het lede
geïdentifiseer watter sentrale waardes aanleiding gegee het tot elke
scenario. Bo Verbind
aan gemeenskaplike waardes Die
waardes wat volgens die vergadering se insigte tot kerkvereniging sal lei, is as volg beskryf: "Ons
sal: 1.
verbonde bly aan God se roeping tot kerkhereniging; 2.
gesprek bly voer tot op gemeentevlak; 3.
mekaar se verskille vier, respekteer en verdra; 4.
mekaar onvoorwaardelik aanvaar en vertrou; 5.
mekaar vergewe; 6.
mekaar se belange dien. Bo
Die
Belydenis van Belhar
Die
Konvent het 'n indringende en moedige gesprek oor die Belhar Belydenis
gevoer. Die vyf konsentriese sirkels vir die belydenisgrondslag van 'n
herenigde kerk, waarop onder andere die NGK in Oos-Kaapland verlede jaar
besluit het, het hoe langer hoe meer, minder in die gesprek bevredig. 'n
Nuwe konsensusbesluit is vir aanbeveling aan die deelnemende sinodes en
die Algemene Sinodes van die kerk geformuleer. Bo
Besluite in
verband met die Belydenis van Belhar
Die
besluite lui as volg:
"Die
Konvent vir Eenheid neem kennis van die Sinodes van Wes- en Suid-Kaapland
en Oos-Kaapland se suggestie ten opsigte van die vyf konsentriese kringe
vir die belydenisgrondslag.
"
Die Konvent stel die volgende in die plek daarvan voor as buitelyne vir 'n
Kerkorde artikel oor die belydenisgrondslag van 'n nuwe herenigde kerk:
"1. In die
belydenisgrondslag van die nuwe herenigde kerk is die Belhar Belydenis 'n
volwaardige, vierde belydenis saam met die drie Formuliere van Eenheid,
die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die
Dordtse Leerreëls.
"2. Dit
impliseer dat van predikante en proponente van die nuwe herenigde kerk
verwag sal word om hierdie belydenisgrondslag te onderteken.
"3. Indien
gemeentes en predikante met eenwording nie dadelik gereed voel om Belhar
as belydenisskrif te aanvaar nie, word voorgestel dat 'n pastorale pad van
gesprek en begeleiding met die oog op die aanvaarding van die belydenis
gevolg word.
"4. Die
Konvent spreek die wens uit dat sover moontlik alle lidmate van die
familie meegeneem sal word op die pad van eenwording. Ons versoek die
kerke om alles in hulle vermoë te doen om dit te bereik juis omdat die
Woord van God ons oproep om die eenheid van alle gelowiges te bewaar en te
koester.
"5. Ons
beveel aan dat bogenoemde besluit via die moderamens van die Sinodes wat
lede is van die Konvent vir Eenheid aan die Algemene Sinodes van die NG
Kerk en VGK voorgelê word vir goedkeuring en implementering."
Ten opsigte van punt 3 het die Konvent geen konkrete tydraamwerk
voorgestel nie. Bo
Model
vir kerkeenheid
Wat die model vir 'n nuwe
kerk betref, is die volgende besluit:
"1.
Die gewone presbiteriale struktuur van 'n gemeente, ring, streeksinode en
algemene sinode word gevolg.
"2.
Ten opsigte van gemeentes word 'n spontane proses van
herrangskikking voorgestel waarby plaaslike omstandighede en geleenthede
'n sterk rol sal speel – met die onderneming dat gemeentes nie van buite
in prosesse ingedwing sal word nie. Plaaslike kerkrade behou dus die
besluitnemingsbevoegdheid oor die inrigting van die plaaslike gemeente. In
die besluit word rekening gehou met die unieke aard van gemeentes.
"3.
Vanaf gemeentes tot algemene sinode vorm dit organies een kerkverband.
"4.
Streeksinodes
en ringe moet toesien dat
strategieë
uitgewerk word om gemeentes nader aan mekaar te bring of nuwe gemeentes te
vorm.
"5.
Die model moet rekening hou daarmee dat bydraes van ander
rolspelers in die familie van kerke noodwendige invloed sal hê in die
formulering van toekomstige eenheidsmodelle."
Bo
Verdere Gesprek in Streke
Hoe word die proses nou verder geneem? Persone wat
nie deel van die Konvent was nie, sal moeilik verstaan deur watter
ervaring ons gegaan het. Die proses self moet dus verder geneem word, het die
Konvent geoordeel, sodat ander by die ervaring ingesluit kan word. Daar moet in groter verbande gesels word oor die roeping
van die kerk en wat kan gebeur as die nuwe herenigde kerk werklik haar
roeping uitleef. Coenie Burger het verwys na 'n "Mission in Unity" -
indien lidmate iets verstaan van wat 'n herenigde kerk kan vermag in die
koninkryk van God, sal die geesdrif vir die proses geweldig uitbrei.
Derhalwe het die Konvent die volgende besluit goedgekeur:
"Omdat die
eenwordingsproses nie net gaan om die aanvaarding van standpunte nie, maar
ook oor die meeneem van mense, beveel die Konvent dringend aan dat
vergadering en gesprekke soos wat ons hier meegemaak het, dwarsdeur die
streek gehou word op rings- en gemeentevlak. Spanne moet gevorm word wat
met die reëlings en fasilitering van die vergaderings kan help.
"Ons stel voor dat by
die vergaderings twee sake op die agenda sal wees nl a) die taak roeping
van 'n verenigende kerk in SA en b) die eenwordingsproses in die familie.
Ons is oortuig dat ons moeilik met die eenwordingsproses gaan vorder as
ons nie duidelik verstaan watter groot dinge die Here kan doen met 'n
verenigende kerk in SA nie." Bo
Nasionale
kerkhereniging mag lank neem...
Die
eerste prys vir die Konvent is vereniging op algemene sinodale vlak. Dit
is egter 'n proses wat baie lank kan neem. Met die oog op tydskale kan dit
gebeur dat bepaalde streeksinodes gereed voel vir kerkhereniging. Die
gedagte het gevolglik ontstaan om die verskillende Algemene Sinodes om
toestemming te vra om op streeksvlak voort te gaan met die proses. Daar is
reeds Gereformeerde Kerke wat volgens so 'n model funksioneer. Twee
voorstelle is in hierdie verband aanvaar:
Voorstel
1:
"Die Konvent versoek die UK om die moontlikheid te ondersoek dat, op pad na
nasionale kerkhereniging, en veral indien kerkhereniging op nasionale vlak
te lank neem, die Algemene Sinodes van die deelnemende kerke genader word
om toestemming te verleen tot eenheid in Kaapland tussen die deelnemende
kerke van die Konvent, steeds met behoud van die algemene sinodale verband
van die onderskeie kerke. Daar is reeds Gereformeerde Kerke wat volgens
hierdie model funksioneer."
Voorstel 2:
"Die konvent besluit om by die algemene sinodes van die VGK en NGK aan te
beveel dat:
1. die strukturele eenheid van die NG Kerk-familie so spoedig moontlik
gevestig moet word.
2. aangesien strukturele eenheid op algemene sinode vlak noodwendig ‘n
langsamer proses is, streeksinodes wat daarvoor gereed is, wel struktureel
met mekaar kan verenig as sinodes sonder om die bestaande kerkverbande
prys te gee. Die bedoeling hiermee is ook om die herenigingsproses op
algemene sinode vlak te bevorder.
Die konvent bly toegewy aan die ideaal van die algehele hereniging van die
NGK-familie." Bo
Eietydse
uitleg van die Belydenis van Belhar
Die
Konvent het 'n interessante eietydse uitleg van die Belhar-Belydenis
behandel. Die begeleidende brief is ook daarmee saam bespreek.
Belangstellendes kan die dokument gerus by my aanvra, dit is elektronies
beskikbaar. Stuur 'n boodskap aan skriba@ngkok.org
Viering
van die VGK se tiende verjaardag
Ek
sluit af met 'n verjaardagstorie. Die
samestellende sinodes van die Konvent is uitgenooi na die VGK se tiende
verjaardagvieringe 25, 26 September te George. Hansie Schutte en Coenie
Burger het boeiende verhale vertel van die streeksvieringe wat hulle reeds
bygewoon het.
Wel,
dis dan die hooftrekke van die Konvent 2004. Persone wat graag meer
inligting wil bekom, is welkom om my te kontak by skriba@ngkok.org
of by 082 9234 178.
Groete!
Danie Mouton SKRIBA Bo |