NG Kerk in Oos-Kaapland

OosKaap eNuus

Visie: Een, heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges

 

Jaargang 2  -  Nommer 10  - 7 Julie 2004  -  nuus@ngkooskaap.co.za

 

IN HIERDIE UITGAWE

Gegroet

'n Nuwe Bybelvertaling aan die kom

God is in die nuus

In die eerste eeue

Simbole en rituele

Notule: Konvent vir Eenheid

Bybel-Media Monitor

Wat gaan aan?

DAGBOEK

Die rol van geloofsonderskeiding in besluitneming

Gebedsberaad vir Geestelike Leiers

Fasiliterende Leierskap

Teologiese Dag met prof Adrio König

Die volmaakte dominee

Gegroet!
Met die skoolvakansie het welkome rus vir baie van ons aangebreek. Vir diegene wat tans met vakansie is, wens ons 'n heerlike rustyd toe. Vir die ander: vasbyt!
    Onthou dat al julle nuusbrokkies altyd baie welkom is!  Bo 

 

'n Nuwe Bybelvertaling aan die kom

Groot nuus is dat die Kerklike Advieskomitee, wat die Bybelgenootskap oor die Bybel in Afrikaans adviseer, aanbeveel dat daar begin word om 'n volgende vertaling van die Bybel voor te berei. Die komitee, waarop alle kerke wat die Bybel in Afrikaans gebruik sittingsreg het, sę die vertaling moet 'n getroue weergawe van die grondteks wees, terwyl die beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks sover moontlik behou moet word.

    Die vertaling is nodig, meen die komitee, omdat studie van die brontale nuwe insigte gebring het. Sekere woorde en uitdrukkings in die Bybel word nou beter verstaan as toe die 1983-vertaling voorberei is. Afrikaans ontwikkel ook steeds as taal. Bybelvertaling is 'n lang proses en die nuwe vertaling sal ten minste 10 jaar duur om te voltooi. 

    Die span vertalers sal hierdie keer nie net teoloë insluit nie, maar ook nie-teoloë wat kenners is van die brontale asook van Afrikaans. Kundiges van alle kerke wat die vertaling sal gebruik, sal sover moontlik in die vertaalspanne ingesluit word.  Bo

 

God is in die nuus

Dit val mens op hoeveel openbare gesprek daar deesdae in Suid-Afrika oor God gevoer word. Dis vir baie lidmate spanningsvol aangesien die debat wyer en nuwer oor God wil dink as wat ons tradisionele opvattings toelaat.

    As deel van hierdie debat het daar so pas 'n publikasie, "Die omstrede God, bestaan God of nie?", verskyn. Die boek beslaan meer as 500 bladsye en is saamgestel uit briewe wat op die Internet-Joernaal Litnet oor God verskyn het. Etienne van Heerden het as eindredakteur opgetree. Vir tradisionele Gereformeerde gelowiges bevat dit vreemde vrae, stellings en opmerkings. 

    Nog 'n nuwe boek is dié van dr Japie Coetzee: "Ek en die Bybel: op soek na die waarheid". "In hierdie boek word die stem van gehoor 'n gewone en nie 'n teologiese geskoolde mens nie" skryf AJ Basson vanoggend in Die Burger se briewekolom. Volgens Basson is dit iets wat op dié terrein glad te min gebeur. "Daar word mos gewoonlik 'van bo' gepraat en die kerklidmate moet maar luister en aanvaar".

    Hoewel die debat vir gelowiges soms oppervlakkig en banaal mag voorkom, skep dit vir die kerk 'n wonderlike geleentheid om deel te neem aan 'n publieke gesprek oor God. Maar let op: daar was 'n skuif in mense se siening oor gesag. Anders as in die verlede setel gesag vir mense nie meer in die geleerdheid van die professionele teoloog nie, maar in die ontplooiing van die debat waarin die deelnemers almal hul bydrae lewer. Luister word 'n belangriker vaardigheid as ooit tevore. Luister is trouens belangriker as verdedig. Vir my aanvoeling is God self in die debat aanwesig. Die kerk as (tans nog grootliks afwesige) gespreksgenoot moet God toelaat om God te wees. Hoe goed ons Hom probeer verdedig, is minder belangrik as hoe eg ons lewens deur Hom aangeraak is, en hoe opsigtelik sy transformerende krag in ons lewens sigbaar is. 

    Hoe sou dit wees as groepies mense rondom die Bybel bymekaar kom, die tekste lees en daarna luister? IN die openbare sfeer met mekaar oog od gesels? Hoe sou dit wees as ons die ontstaansgeskiedenis van die Bybel saam ontrafel en God toelaat om ons te verras met die manier waarop Hy destyds mense se selfgerigte motiewe en dinge gebruik het om 'n Boek te publiseer?

    Ek is daarvan oortuig dat die onortodokse gesprek baie potensiaal het - vir die breë gemeenskap en vir die kerk in besonder. Ons hoef ook nie bang te wees nie: ons Gereformeerde tradisie het baie diepte en hoef nie krampagtig beskerm te word nie.  Bo

 

In die eerste eeue

Al die gesprekke oor God laat my dink aan John Norwich se uitstekende boek oor die eerste eeue van die Bisantynse ryk en die geskiedenis van Konstantinopel*. Hy vertel hoe ongewilde teologiese uitsprake oor Jesus deur beide keiser en pous dikwels tot openbare oproer aanleiding gegee het. Dink jou in dat die publieke gesprek oor Jesus so ernstig geneem is dat openbare betogings niks ongewoond was nie. Destyds het dit veral gegaan oor 'n monofusitiese keiser of twee wat beweer het die vleesgeworde Jesus het nét 'n goddelike natuur. 

    Teologiese gesprekke, vertel Norwich, het op die straathoeke, trouens oral in die publiek, plaasgevind. Mense het heftig van mekaar verskil, en God was hoofnuus. Hy vertel hoedat 'n bakker tydens een die kerklike konsilies waar die leer oor Jesus geformuleer is, verduidelik het dat die goddelike en menslike nature van Jesus in een Persoon vermeng is, soos die water en meel saam vermeng om brood te word!  (* "Byzantium, the early centuries" - Penguin Books).

    Beleef ons nie weer iets van die begin hiervan nie? Net soos die destydse gesprekke en debatte bepalende invloed op opeenvolgende eeue van geloof gehad het, leef ons in die smelkroes van die geboorte van 'n nuwe tyd waarin ons die geleentheid het om lewende geloof in 'n lewende Here in te messel in die grondstruktuur van ons samelewing.  Bo

 

Simbole en rituele

Tydens die jongste Oos-Kaapse Sinode is 'n verslag oor die gebruik van simbole en rituele na 'n lang debat aanvaar. Patmos-gemeente het aangedui dat hulle leierskap nie hierdie sinodale besluit aanvaar nie. Patmos oordeel dat "kerse en rituele nie volgens die Woord is nie en die genoegsaamheid van Christus en die volledige bediening van die Heilige Gees beledig". Dit maak ook die pad oop na dwaling.

    Dit is belangrik om na Patmos te luister en oor hierdie sake te bly gesels. Die Sinodale Kommissie het besluit om sáám met Patmos oor die saak na te dink.

    Patmos-gemeente het sy kommentaar op die sinodale besluit na al die leraars in ons sinodale gebied gestuur. Lesers van OosKaap eNuus kan die sinodale verslag en Patmos se kommentaar by my aanvra. Stuur 'n e-pos aan skriba@ngkok.org  Dit sal goed wees as daar 'n deurdringende gesprek oor hierdie saak gevoer kan word. Julle kan gerus ook bydraes hieroor aan my stuur.  Bo

 

Notule: Konvent vir Eenheid

Die notule van die onlangse Konvent vir Eenheid is intussen voltooi. Persone wat belangstel in 'n kopie van hierdie dokument kan dit by my aanvra - weer eens by skriba@ngkok.org.  Bo

 

Bybel-Media Monitor

Hierdie is regtig 'n oulike, nuttige, maandelikse e-nuusbrief vir almal wat tegnologie en veral die Internet beter wil inspan in diens van God se koninkryk. As jy wil inteken, stuur 'n boodskap aan attie@bmedia.co.za. Jy sal nie spyt wees nie. Die laaste item in hierdie eNuus (oor die volmaakte dominee) kom juis uit die jongste BMM.  Bo

 

Wat gaan aan?

1994 was in meer as een opsig 'n waterskeiding in Suid-Afrika, ook vir die kerk. Waar dinge soos groep (waar groepsidentiteit en -lojaliteit), tradisie (ook geloofstradisie), gesag (wat in kundige leiers setel) en gehoorsaamheid voorheen mense se gedrag bepaal het, skuif gesag nou tot binne-in elke indiwidu (ek is my eie wet), en word vryheid van uitdrukking, kritiese bevraagtekening van oorgelewerde gebruike ('n uiters skeptiese ingesteldheid teenoor tradisie) nou die algemene norm.

    Een manier om hierdie skuif te verwoord, is om te sę die samelewing skuif van 'n pre-moderne na 'n moderne lewensgevoel. 'n Moderne ingesteldheid plaas baie vertroue in die rasionele denkvermoë van die mens, ook wat die teologie betref. Dit wil alles wetenskaplik-analities in terme van die menslike rede beoordeel. Voorbeelde hiervan in die teologie is die sg Nuwe Hevorming en Jesus-Seminaar wat om rasioneel-wetenskaplike redes nie Jesus se maagdelike geboorte of opstanding uit die dood wil aanvaar nie. 'n Rasioneel-wetenskaplike benadering meen dat die waarheid logies-objektief beskryf kan word. Wat waar is, is algemeen-geldend waar en kan wetenskaplik bewys word. Hierdie soort teologie praat graag van die historiese Jesus (dit wat as feitelik waar oor Jesus bewys kan word) en die Jesus van geloof (dit wat Bybelskrywers en die vroeë kerk weens geloofsredes "foutiewelik" aan Jesus sou toegedig het, soos sy opstanding uit die dood).

    Sedertdien begin 'n post-moderne lewensgevoel ook in Suid-Afrika posvat. So 'n benadering is ontnugter met 'n suiwer rasionele benadering. Post-moderne mense is bewus van die relatiwiteit van denke en standpunte. Dit is baie meer gemaklik met onsekerheid en eis nie die algehele reg tot waarheid vir die eie standpunt op nie. Dit weet dat die waarheid nie alleen logies en objektief is nie, maar eerder relasioneel is - verbind aan wie ek is en wat my omstandighede is.

    Dit lyk asof die moderne lewensuitkyk sedert 1994 geweldig veld gewen het in Suid-Afrika. Dit sit agter baie van die kritiek wat deesdae op kerk en teologie uitgespreek word. 

    Daar is inderdaad groot denkskuiwe in ons samelewing aan die gang met geweldige implikasies vir die kerk. Miskien is dit die grootste denkskuiwe in die afgelope 1,600 jaar!  Hou dit in gedagte wanneer jy na mense luister wat oor God praat.   Bo

 

DAGBOEK

 

Kursus: Die Rol van Geloofsonderskeiding in Besluitneming (27 Julie 2004)

Daar is 'n groeiende besef dat leiers van gemeentes meer moeite sal moet doen met die beoefening van geloofsonderskeiding in leierskap en besluitneming.  

Dink aan die verskil wat dit aan jou leierskap sal maak indien jy saam met jou gemeenteleiers byeenkomste beleef waarin

      * daar ‘n doelbewuste fokus op God se teenwoordigheid en leiding is;

     * daar ‘n verrykende en heilsame gemeenskap met God en met mekaar beleef word;

     * die Skrif en gebed ‘n integrale deel van die proses is en 'n beslissende rol in besluitneming speel;

     * die leiers besig is met sake wat met die hart van die gemeente se lewe en bediening verband hou;

     * spiritualiteit, beplanning en bestuur in die gemeente behoorlik met mekaar geďntegreer word.

Hierdie ideale is nie vergesog nie.  Dit is binne elke gemeente se bereik.  Om jou hiermee te help, word daar binnekort 'n kursus in jou kontrei aangebied. In hierdie kursus word jy toegerus met die kennis en vaardighede wat benodig word om te verseker dat leierskap, spiritualiteit en besluitneming in die gemeente nouer op mekaar  betrek word.

Die besonderhede van die kursus is die volgende:

      * Aanbieder:  Arnold Smit

      * Datum:  Dinsdag 27 Julie 2004

      * Plek:  NGK Somerstrand, Port Elizabeth

      * Tyd:  09:00 – 16:00

      * Koste:  R250.00

      * Bespreking geskied deur registrasie vir die kursus op die GFN webwerf (www.cfn.org.za) onder die hofie, registrasie. Na registrasie sal Gretha Horn jou kontak ter bevestiging en ook vir jou aanwysings na die lokaal stuur.  Die keerdatum vir bespreking is Woensdag, 21 Julie 2004. Indien jy nog nie van Gretha gehoor het teen Donderdag, 22 Julie nie, kontak haar asseblief by (011) 793 3953 of 082 781 2446

    * Betaling geskied ook via die GFN webwerf.  Indien jy enige navrae hieroor het, kontak asseblief vir Mandy le Bruyns by die Kaapstad kantoor:  (021) 685 6883.

      Dit sal aangenaam wees om jou by die kursus te sien.  Die kursus is ook vir gemeentelede en leiers bedoel, deel asseblief ook hierdie inligting met hulle. En onthou asseblief om te laat weet dat jy/julle kom.  Bo

 

Gebedsberaad vir Geestelike Leiers (29 Julie)

Transformasie Nelson Mandela Metropool reël op Donderdag, 29 Julie, 'n gebedsberaad vir die geestelike leiers van die metropool. Dit vind van 09:00 - 13:00 in die Algoa Park Volle Evangelie kerk plaas. Hier word regtig geskiedenis gemaak, want dit is die eerste keer dat predikante en pastore op so 'n wye basis bymekaar kom met die gemeenskaplike doelwit om vir mekaar en vir die stad te bid.

    Vir meer inligting kan julle Pierre van Wyk kontak by outreach@global.co.za of 083 370 3592.  Bo

 

Kursus: Fasiliterende Leierskap (23-26 Augustus 2004)

GFN (Gemeente en Gemeenskaps Fasiliterings Netwerk) / CFN (Church and Community Facilitation Network) bied ook hul kursus in Fasiliterende Leierskap van 23-26 Augustus 2004 in Somerstrand Gemeente. Meer besonderhede hieroor volg eersdaags. Vir enige verdere navrae, kontak asseblief vir Gretha Horn by (011) 793 3953 of 082 781 2446.   Bo

 

Teologiese dag met prof Adrio König (9 Oktober)

Die Begeleidings- en Navorsingsnetwerke bied op Saterdag, 9 Oktober, 'n teologiese dag met prof Adrio König in PE aan. Dit bestaan uit 'n ontbyt en voordrag. Prof König lewer later in die oggend 'n tweede lesing. Dit gaan oor persoonlike en kerklike vernuwing. Die dag vind plaas by PE-Hoogland gemeente. Kaartjies vir die ontbyt moet vooraf gekoop word. Belangstellendes kan met ds Barnard Steyn kontak maak by bicsteyn@net4all.co.za of 082 842 7028.  Bo

 

Die volmaakte dominee

* Die volmaakte dominee preek presies 10 minute lank.
* Hy preek reguit teen sonde, maar maak niemand se gevoelens seer nie.
* Hy werk van 8:00 tot middernag en is sommer ook die koster.
* Hy verdien R280 per week, dra goeie klere, bestuur 'n goeie motor, koop goeie boeke en gee R200 per week as dankoffer.
* Hy is 29 jaar oud en het 40 jaar ervaring.
* Hy is natuurlik baie aantreklik ook.
* Die volmaakte dominee het 'n passie vir jeugwerk, en spandeer die meeste van sy tyd met bejaardesorg.
* Hy glimlag geduring met 'n ernstige gesig, want hy het 'n goeie sin vir humor wat hom 'n ernstige, toegewyde mens maak.
* Hy besoek elke dag 15 huise en is altyd op kantoor as jy hom nodig het.
* Hy het altyd tyd vir die kerkraad en al die komitees. Hy woon alle vergaderings by en is gedurig besig om buitekerklikes vir Christus te wen.
* Die volmaakte dominee dien ongelukkig altyd in 'n ander gemeente.
* As jou leraar nie so is nie, stuur hierdie boodskap aan ses ander gemeentes wat ook moeg is van hulle predikant. Verpak dan jou predikant en pos hom aan die gemeente bo aan die lys.
* As almal saamwerk sal jy binne 'n week 1,643 predikante ontvang.
* Een van hulle sal darem seker volmaak wees.
* Glo in hierdie brief. Een gemeente het die ketting verbreek en binne drie maande hulle ou leraar teruggekry.
(Verwag ons nie dalk te veel van ons leraars nie?)
Marilyn Graham

Groetnis tot ons weer gesels,

 

Danie Mouton
SKRIBA  Bo

Tuisblad  -  OosKaap eNuus Argief  -  Administratief

Navrae: Danie Mouton