NG Kerk in Oos-Kaapland

 

OosKaap eNuus

 

Visie: Een, heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges

 

Jaargang 3  -  Nommer 5  -  23 Maart 2005  -  nuus@ngkooskaap.co.za

 

 

“Waarom soek julle die lewende by die dooies? Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek...”

 

Beste wense vir ‘n geseënde Paasnaweek. “Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God...”

 

INHOUD

 

‘n Seisoen van toewyding en luister

Wonderlike hulpmiddels vir Paasfees

Homoseksualiteit

Sprekers: Algemene Predikantebyeenkoms 2005

Projek Winterhoop

Wat is die Gereformeerde Belydende Beweging?

Hond het dié deel van die  preek opgevreet...

 

 

‘n Seisoen van toewyding en luister

Tydens die jongste vergadering van die Moderamen van die Algemene Sinode het riglyne voor die vergadering gedien oor ‘n “seisoen van toewyding en luister na die Here”. Wat hiermee beoog word, is ’n opwindende ontwikkeling omdat dit ons help om te fokus op God, ons roeping as kerk en gemeentes en ons omgewing. Die algemene predikantevergadering is deel van die afskop van hierdie seisoen van luister. Hiermee plaas ons die volledige dokument:

    Die Bybel leer ons dat daar tye kom in die lewens van gemeentes en kerke dat ‘n nuwe toewyding aan die Here van ons gevra word.  Dit het veral in oorgangstye gebeur dat die Here van sy kinders gevra het om opnuut te bevestig dat hulle in Hom glo en Hom alleen wil dien (bv Jos 24).  Sulke tye het gewoonlik gepaard gegaan met selfondersoek, ‘n heroorweging van lewensprioriteite  - en veral ‘n tyd van diepe luister na God en na sy wil vir ons lewens.

    Ons (as Moderamen) is vas oortuig dat die kerk nou by so’n punt is.  Ons is deur ‘n ingrypende sosiale transformasieproses in ons land wat almal van ons – ook ons as kerk – diep geraak het en ons lewens verander het.  Ons wil ons gemeentes oproep tot ‘n seisoen van nuwe toewyding en luister.  Ons staan voor ‘n nuwe uitdaging en ‘n nuwe behoefte om duidelik te weet wat die Here van ons verwag.

    Ons kom in hierdie tyd na die Here …

* In die oortuiging dat Hy leef, dat Hy ook in die 21ste eeu God is en dat Hy steeds besig is om ook in ons land en kontinent te werk.

* Met die wete dat Hy hoë verwagtings vir sy kerk het en ons roep om Hom na te volg en ons deel te doen vir die ontvouding van sy koninkryk

* Met die verwagting dat Hy ‘n God van sy Woord is wat sy wil en roeping vir ons aan ons bekend sal maak as ons Hom daarom vra

* En in die vertroue dat sy pad vir ons ‘n goeie pad sal wees – waarop dalk nie al ons begeertes nie, maar wel al sy beloftes aan ons waar sal word.

    Wat sien ons vir die seisoen van toewyding en luister?  En wat verwag ons van gemeentes?

1. Omdat gemeentes hulle eie programme het en sommiges reeds hiermee besig is, het gemeentes en kerkrade die vryheid om die program rondom die luisterseisoen in te rig soos wat dit hulle situasie pas.

2. Die hoofsaak is dat die gemeente saam, maar ook lidmate afsonderlik, deur ‘n tyd van luister en stilword  gehelp word om ons roeping nuut te verstaan en tot ‘n nuwe toewyding aan die Here te kom.  Ons hoop is dat ons hiermee ‘n nuwe kultuur in die kerk sal vestig, of dalk ‘n ou kultuur hervestig, nl dat ons mense is wat werklik in die lewende, sprekende God glo, in afhanklikheid van Hom leef en wat bly leef vanuit sy roeping vir ons. 

3. Omdat dit op ‘n laer profiel sal wees, sien ons ‘n proses wat oor verskeie jare kan loop.  As ons ‘n kultuur wil probeer vestig, kan dit nouliks anders.

4. Ons voorsien dat ‘n paar sake aandag behoort te kry in die luisterperiode:
+ daar behoort spesiale aandag gegee te word aan gebed en aan die ander geloofsdissiplines soos Bybellees, koinonia, ens;
+ spesiale aandag behoort gegee te word aan programme wat lidmate kan help om die Woord van die Here weer nuut te lees.  Ons is besorg dat daaglikse omgang met die Woord van die Here in baie van ons gemeentes nie meer ‘n prioriteit is nie;
+ in ‘n tyd waarin baie vrae oor die inhoud van ons geloof gevra word, behoort ons mekaar te help om duidelikheid te kry oor wat Christene presies glo – veral wat ons glo oor God, Christus en die Heilige Gees;
+ daar behoort ook gesprekke te wees waardeur ons die Here vra om ons te help om die tye waarin ons leef te verstaan, om te sien wat Hy besig is om te doen, en om die dinge waarop dit aankom te kan onderskei;
+ geloofsgesprekke oor wat nou gebeur en oor wat vir ons voorlê, sou  moeilik gevoer kon word sonder dat ons terugkyk en ons eie pad of geskiedenis probeer verstaan.  Dit is ons pad as kerk, as gemeente, asook ons eie persoonlike paaie.  Daar is reeds programme of prosesse beskikbaar wat mense hiermee kan help;
+ uiteindelik behoort die luistertyd ons ook te help om saam en afsonderlik ons roeping voor die Here nuut te verstaan; 

5. Die Moderamen sal saam met die betrokke diensgroepe materiaal uitwerk en keur wat gedurende die tyd, veral tov die programme hierbo genoem, gebruik kan word.

6. Ons beveel aan dat ruimte gemaak word vir ‘n toewydingssondag iewers in die jaar (dalk Pinkstersondag of een of ander Nagmaalviering) waar mense hulself in die erediens nuut aan die Here kan wy.

7. Ons voorsien die seisoen nie as ‘n vaste program wat op ‘n spesifieke dag begin of  klaarmaak nie.  Ons sien dit as ‘n oop program wat ons na goeddunke kan gebruik en waarmee ons mekaar kan help en van mekaar kan leer.  Aandag kan gegee word aan ‘n webblad wat besonderhede oor die program bevat, met materiaal wat afgelaai kan word en moontlik ook ‘n “kletskamer”waarin mense vrae kan vra en raad kan gee.

8. GDN, ADGO en instansies soos Buvton en SBO moet genader word om te help met die ontwikkeling van die materiaal vir die seisoen.   Bo

 

Wonderlike hulpmiddels vir Paasfees

Gemeentes wat dataprojektors in die erediens gebruik, kan gerus 'n draai gaan maak by die volgende webtuistes:

http://sermonspice.com  Klik op "Free Video" - daar is 'n pragtige video getiteld "The Last Painting".

Besoek ook www.midnightoilproductions.net.  Aan die regterkant van die skerm staan "Free Media".  Klik daarop vir 'n video oor die kruisiging, opstanding en hemelvaart.

Vir ‘n aangrypende flash video oor Jesus se lydensweg, besoek: www.beliefnet.com/story/21/story_2151_1.html  (Kies een van die “launch” opsies en kyk die video.)

Digitale hulpmiddels

Ons leef in ‘n era waar ons al meer die waarde van kuns besef om die verkondiging van die Evangelie te versterk.  Dit is natuurlik belangrik dat ons die gawes in ons eie midde ontgin, maar intussen bied die internet ‘n magdom hulpmiddels.  www.heartlight.org/art/ bevat skakels na hul “galery”, waar jy prente kan soek volgens Skrifgedeeltes (met ‘n baie gebruiker-vriendelike soekfunksie), asook ‘n skakel na PowerPoint agtergronde.  Hierdie hulpmiddels is gratis beskikbaar!  http://sermonspice.com vervaardig video’s rondom (Amerikaanse) Bybelse temas.  Dit is te koop, maar hulle bied elke maand een gratis video aan.  Predikante wat die Leesrooster gebruik, behoort almal www.textweek.com in hul “Favourites” lêer te hê! Textweek het ook ‘n skakel na kuns.  As jy die skakels volg, sal dit jou by ‘n magdom kuns – van so vroeg as die 12de eeu tot baie modern – uitbring. Vir gemeentes wat nog meer van gedrukte media gebruik maak, is daar ook gratis “Clip Art” beskikbaar.  Textweek  het ook hier ‘n heerlike nuwe funksie:  onderaan die bladsy van elke week se teks, is daar ‘n hofie: “Graphics and Bulletin Materials”, wat skakels na gratis prentjies bevat.  Probeer gerus www.hermanoleon.org (clip art en kuns).  www.servicioskoinonia.org/cerezo/indexAgraf.html bevat pragtige prentjies oor elke week se Evangelie-teks.  En vir van (na my mening) die mooiste kuns op die internet, besoek www.heqiarts.com.  Lekker surf! (Met dank aan Rethie van Niekerk)   Bo

 

Homoseksualiteit

Ds Tobie Verreyne van die Christelike Gereformeerde Kerk Uitenhage skryf na aanleiding van Piet Naudé se gedagtes oor die homoseksualiteit-debat:

     “Die kwessie van homoseksualiteit wat vandag baie aandag geniet, is 'n saak wat volgens my geen plek in die Woord van God het nie.  Of jy in die skepping glo of die herskepping  -  die Woord van God verbied 'n verhouding tussen mense van dieselfde geslag.  Die sogenaamde "herskepping" onder Jesus (wat jou 'n Christologiese perspektief gee) mag nie gesien word as 'n geleentheid om geskei te word van die skeppingsorde nie.  Dis dieselfde Jesus wat van die begin af daar was.  Joh 1:1-4 beklemtoon die feit dat Jesus by die skepping betrokke was, en dat alles deur Hom ontstaan het.  Ook die verhouding tussen man en vrou is deur Hom, as die Woord wat lewe gee, geskape.  Ek glo eerder in die skepping en die wedergeboorte soos Jesus dit aan Nikodemus verduidelik het.  'n Herskepping van die mens vind dalk in 'n sekere sin plaas tydens die wedergeboorte, waartydens die ou lewe (ou mens)  -  soos Paulus dit stel in Kol 2:5-10  -  vervang word met die nuwe lewe (nuwe mens).  Hierdie nuwe mens staan egter gladnie los van die orde wat God tydens die skepping en geboorte van die eerste mens Adam ingestel het nie.  Inteendeel word die nuwe mens al meer vernuwe volgens die beeld van sy Skepper (Kol 2:10).  As ons vir 'n oomblik sou dink dat die "herskepping" ons onder 'n ander stel reëls plaas, maak ons 'n groot fout.  Dit is dieselfde Jesus, dieselfde Hemelse Vader en dieselfde Heilige Gees wat alles geskep het, wat nou ook vir ons vernuwe in wedergeboorte.  As die herskeppingsteologie sterk fokus op Jesus van Nasaret, die vroeë kerk en die lewensvernuwende werk van die Heilige Gees, is dit goed.  Maar ons word deur die Gees vernuwe om soos Jesus te wees.  Die Bybelse inhoud alleen (voor en na Jesus) behoort op die ou einde van die dag vir ons die deurslaggewende antwoord oor hierdie netelige saak te gee.”   Bo

 

Sprekers: Algemene Predikantebyeenkoms 2005

Die uitstaande sprekers wat tydens die Algemene Predikantebyeenkoms 2005 gaan optree, is pas bekendgemaak. Onder hulle tel die wêreldbekende prof Eddie Gibbs van die VSA, ons eie prof Piet Naudé, prof Malan Nel en dr Coenie Burger.

    Daar is pas ‘n indiwiduele uitnodiging na elke predikant uit ons sinodale kantoor gepos. Dit sal wonderlik wees as elkeen uit die Oos-Kaap hierdie geleentheid kan bywoon. ‘n Video-CD is ook eersdaags by ringsvoorsitters beskikbaar met meer agtergronfsinligting.

    Aangeheg as attachment die derde nuusflits oor hierdie byeenkoms.   Bo

 

Projek Winterhoop

Uit die kantoor van dr Kobus Gerber, Algemene Sekretaris van die NG Kerk, kom die versoek dat gemeentes dit oorweeg om by Projek Winterhoop betrokke te raak. Hier is die volledige besonderhede:

Winterhoop 2005 – 8-22 Mei 2005

U word uitgenooi  om (weer) aan die 5e jaarlikse Winterhoop projek deel te neem saam met verskeie  kerke en welsynsorganisasies.  Die poging vorm ook deel van sommige gemeentes se Week-van- Oorvloedprogram

Geskiedenis van Winterhoop

Winterhoop is ‘n spontane insameling van kos, klere en komberse om gedurende die winter in die nood van armes te voorsien.

    Die inisiatief het oorspronklik gekom van  MES (Johannesburg) PEN (Pretoria)  Straatwerk (Kaapstad), Maranatha (Port Elizabeth), Polsslag (Bloemfontein) en Insinkwa Setheku (Durban), almal organisasies wat werk in die middestadsomgewing met ontwikkelingsprogramme.

    Verlede jaar het verskeie gemeentes van die NG Kerk en Hervormde kerk  en die kerke  se welsynafdelings (CMR, Badisa, ens) deelgeneem, asook  die OVV en ACVV en baie ander.  Die jaar kom die SAVF by en die ATKV het ook gesê hulle gaan die poging steun.

    Die instansies het hande geneem met Monitor, (SABC) Beeld, Volksblad, Burger, Burger (Oos Kaap) en Rapport om mense te motiveer om die nood van armes gedurende die winter te help verlig. Die program Ontbytsake op KykNET neem ook deel van hierdie jaar af.

MES (Metro Evangeliese Sorg) koördineer die landswye poging.

Wat behels deelname aan Winterhoop?

Die deelnemende instansies kan tot 15 April aflaaipunte in hulle stede en dorpe identifiseer.  Die voorwaarde vir ‘n aflaaipunt is dat die instansie  ‘n infrastruktuur  gereed moet hê om goedere self te kan versprei, selfs ook na ander organisasies. Die instansies  wat deelneem, moet ook die projek in hulle eie kerke en gemeenskappe bekendstel.  Welsynsorganisasies kan ook kerke of skole nader om betrokke te wees en as aflaaipunte te dien.

Finansiële bydraes

Dit is nie primêr ‘n fondsinsameling nie, maar verskeie deelnemende instansies het verlede jaar finansieel baat gevind omdat mense hulle direk geskakel het. ‘n  Sentrale Winterhooprekening is egter beskikbaar, en fondse wat daar inbetaal word,  word verdeel tussen die oorspronklike deelnemers naamlik  PEN, Polsslag, Maranatha, Straatwerk, Insinkwa Setheku en MES vir hulle werk onder behoeftiges in die middestede. Dié bankbesonderhede sal via telefoon en in die media bekend gemaak word.

Hoe vind die projek plaas?

1. MES  sal ‘n sentrale telefoon beman gedurende kantoorure wat alle inligting kan kanaliseer na die regte  plekke.

2. Beeld, Burger, en Volksblad sal aflaaipunte in hulle verspreidingsgebied op ‘n gereelde basis publiseer.

3. Monitor en Spektrum sal daagliks mense bewus maak van Winterhoop en verwys na die aflaaipunte wat in die onderskeie koerante gepubliseer word.

4. Rapport sal ook mense bewus maak van die projek.

5. Almal sal gedurende die tyd ekstra artikels/onderhoude doen oor verdienstelike projekte van deelnemende instansies

Inligting wat verlang word

Inligting kan op Excel  beskikbaar gestel word onder die volgende opskrifte:

* Begunstigde   (Bv. CMR, PEN, ens)

* Adres (van aflaaipunt)

* Kontakpersoon

* Kontak nommer

* E-Pos (aflaaipunt of koördinerende instansie)

* Moontlike projek (wat gebruik kan word vir mediadekking vooraf en tydens die insameling.  Die betrokke media sal self die seleksie maak met die beskikbare inligting)

Keerdatum 22 April

Aflaaipunte behoort  vanaf  08:00 – 16:00 oop te wees.  Kerke kan ook hulle eie tye reël

Tydskaal

* 22 April                       Keerdatum vir inligting

* 25-29 April                  Voorbereiding van aflaaipunte vir koerante

* 24 April – 6 Mei           Bekendstelling deur Media en kerke

Onderhoude  met deelnemers om die nood bekend te stel

* 7 – 22 Mei                   Media veldtog om mense aan te moedig om deel te neem.

Verwys publiek na die aflaaipunte

Onderhoude/artikels

* 23 – 29 Mei                 Terugvoer oor die afloop van die projek

Opgestel deur Johan Krige -Tel: 011 720-6328; Sel 082 572-3279; E-Pos: johankrige@mes.org.za  Bo

 

Wat is die Gereformeerde Belydende Beweging?

Daar het onlangs verskeie mediaberigte oor die Gereformeerde Belydende Beweging van Allan Boesak en André Bartlett verskyn. Kruis-en-Dwars, nuusblad van die Suid-Transvaalse sinode het ondersoek ingestel en ons neem die volgende beriggie oor:

    “Volgens dr André Bartlett is die Gereformeerde Belydende Beweging ‘n inisiatief wat deur drie predikante van die NG Kerkfamilie, dr André Bartlett van die NG Kerk en dr Allan Boesak en ds Temba Nyatyaowa van die VGK onderneem word. Die oogmerk met die beweging is om die proses van hereniging van die NG Kerkfamilie sowel as die aanvaarding van die Belydenis van Belhar in die kerkfamilie te bevorder. Die persone betrokke by die inisiatief glo dat die bereiking van hierdie doelwitte daartoe kan lei dat die stem van die Gereformeerde Kerke in ons land baie duideliker hoorbaar sal wees en dat hierdie kerke se getuienis teenoor die samelewing ook meer geloofwaardig sal wees. Die voorneme met betrekking tot hierdie inisiatief is teen die einde van verlede jaar bekend gemaak in ‘n verklaring “Bring bymekaar” (sien bladsy ). Die gedagte is om die beweging nog in die eerste helfte van hierdie jaar formeel tot stand te bring en ‘n uitnodiging sal met die oog hierop aan alle predikante en lidmate wat belang stel om deel van die beweging te wees, gerig word.

    “Die wyse waarop die beoogde beweging sal funksioneer, is veral deur middel van gespreksgroepe op plaaslike vlak waar lidmate en ampsdraers uit die verskillende kerke mekaar informeel beter kan leer ken en saam kan besin oor die wyse waarop die ideaal van kerkhereniging verwesenlik kan word.

Gesprekke is tot op datum reeds met die moderature van die Algemene Sinodes van sowel die NG Kerk as die VGK gevoer. In hierdie gesprekke het die inisieërders dit duidelik gemaak dat hulle inisiatief nie bedoel is om enige van die amptelike prosesse te ondermyn of teë te werk nie, maar eerder gesien moet word as aanvullend tot dit wat reeds in die verskillende kerke gedoen word om kerkhereniging tot stand te bring. Albei die moderature het hulle versigtig positief teenoor die inisiatief uitgelaat en daar is ooreengekom om voortdurend met mekaar in gesprek te bly oor die saak.

Die Algemene Sinodale Kommissie van die NG Kerk se standpunt hieroor

    In die notule van die ASK vergadering wat gehou is van 14 tot 16 Februarie 005 te Zikomo in die Strand, Wes-Kaap is die volgende besluit geformuleer:

"6. Die proses van Allan Boesak en André Bartlett

*1 Die Moderamen neem kennis van hulle dokumente (aangeheg as Bylaag 14) asook van die gesprek wat die Moderatuur op 14 Februarie met hulle gevoer het in die verband en die verklaring wat na afloop van die gesprek uitgereik is:

1.1 Die Moderatuur van die Algemene Sinode van die NG Kerk en drr Allan Boesak en André Bartlett het ‘n goeie konstruktiewe gesprek gevoer oor laasgenoemde se inisiatief ter bevordering van kerkhereniging van die familie.   Die Moderatuur het kennis geneem van die feit dat hulle nie ‘n drukgroep wil wees nie maar die breër kerklike prosesse wil dien deur gesprekke oor die herenigingsproses so wyd moontlik en op grondvlak te inisieer.

1.2 Ons is almal saam bewus van die sensitiwiteit van die proses en die moontlike polarisasie en het onderneem om die hele proses met sorg te hanteer. ‘n Afspraak is gemaak om voortdurend met mekaar in gesprek te bly oor die saak.

*2 Die Moderamen besluit om sinodes daarop te wys dat die formele gesprekke oor kerkhereniging by die kerkleidings van die onderskeie kerke lê.

*3 Die Moderamen neem kennis dat verklarings oor sensitiewe sake soos dié verskillend ervaar word en versigtig bestuur moet word.  Bo

 

Hond het dié deel van die  preek opgevreet...

Een Sondagoggend preek die dominee net omtrent tien minute -- minder as die helfte van die lengte van sy normale preke.

'Ek is jammer, maar my hond het dié deel van my preek opgevreet wat ek nie vanoggend kon lewer nie.'

Ná die diens kom groet 'n besoeker uit 'n ander gemeente.

Hy sê: 'Dominee, as daardie hond van jou ooit kleintjies kry, wil ek graag een hê om vir my pastoor te gee!'  (Dankie aan World Thrust eNuus vir dié enetjie)

 

 

Groete tot ons weer gesels,

 

Danie Mouton

Bo