NG Kerk in Oos-Kaapland

 

OosKaap eNuus

 

Visie: Een, heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges

 

Jaargang 4  -  Nommer 4  -  3 April 2006  -  nuus@ngkooskaap.co.za

 

Teken in                                                                       Beëindig intekening

 

 

INHOUD

 

Brian McLaren: ‘n Jaar se reénval in een week

A-Z Beleidsdokument vir predikante

Luisterseisoen

Eddie Makue (VGK-lidmaat) aangestel as Algemene Sekretaris: SA Raad van Kerke

Prof George Ellis oor die verhouding wetenskap en godsdiens

Skepping, Evolusie en die Waarheid van Genesis

Kenners krap kop oor ‘ark’ op Ararat

Fasiliterende Leierskapskursus 14-17 Augustus deur CFN in Port Elizabeth

Mentorsopleiding 4 Julie deur CFN in Port Elizabeth

Julle “Waarmee is God besig” is fantasties!

Teologiestudent skuldig aan oneerlikheid oor dwaalleer-brief

Resensie van “Tsotsi”

Resensie van “Brokeback Mountain”

Kan daar sprake wees van ‘n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse geskiedenis?

Op kennisgewings

A Brief Guide To Scientific Literature

 

 

Brian McLaren: ‘n Jaar se reénval in een week

Dit was lekker om verlede week na die wêreldbekende gespreksgenoot in die emergent church beweging in die VSA, Brian McLaren te luister. In ‘n gesprek met hoofsaaklik jongmense en studente in die Stellenbosse Moederkerk, het hy gebeure in Honduras toe ‘n jaar se reënval in een week geval het, as metafoor vir die groot oorgange in die wêreld se geskiedenis gebruik. Die hoë reënval het bv. tot gevolg gehad dat ‘n rivierloop totaal verander het, sodat die voormalige brug oor die rivier op droë grond langs die rivier beland het. Die struktuur – wat voorheen as ‘n brug bekend was – het behoue gebly as blote toeriste-attraksie.

    Histories het dit verskeie kere in die wêreldgeskiedenis gebeur dat verandering net so gekonsentreerd as ‘n jaar se reënval in een week “gebeur” het. Vir die kerk het dit telkens geweldige implikasies gehad. Ons leef ook tans in so ‘n tyd. Opvallend genoeg het die studente byna letterlik aan “die middeljarige kaalkop-ou met sy Buddha-magie” (soos hy homself beskryf) se lippe gehang. Ten spyte van groot veranderinge – tsunami’s – het die Christelike geloof altyd merkwaardig soepel gebly en voortgeleef. Hierdie soepel skuiwe is gefasiliteer deur mense wat óf jonk óf relatief nuut binne die heersende (ou) paradigma was. Johannes Calvyn, wat sy Institusie tussen 19 en 25-jarige leeftyd geskryf het, is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Mense wat tuis is in een gestalte daarvan, het telkens die ergste verwag, en is verkeerd bewys.

    McLaren is krities oor die sake wat die sentrale aandag op kerklike agendas haal. In die VSA word die kerk bv volgens ‘n ondersoek verbind aan ‘n anti-gay standpunt. Maak nie saak wat jou standpunt oor homoseksualiteit is nie, sê McLaren, die rooi ligte flikker wanneer mense buite die kerk jou primêr as ‘n instansie begin sien wat teen persone met ‘n homoseksuele oriëntasie gekant is.

    Hy is ‘n voorstander van ‘n “generous orthodoxy” – ‘n posisie van ‘n waarderende houding teenoor die hele Christelike tradisie in al sy gestaltes. A generous orthodoxy is ook die titel van een van sy nuwer boeke waarin McLaren verduidelik: Why I am a missional + evangelical + post/protestant + liberal/conservative + mystical/poetic + biblical + charismatic/contemplative + fundamental/calvinist + anabaptist/anglican + methodist + catholic + green + incarnational +depressed-yet-hopeful + emergent + unfinished CHRISTIAN. Klink dit na ‘n vreeslike ondeursigtige potjiekos-roesemoes van verwardheid? Dit is nie, hoor. Lees die boek.

    Brian is waarskynlik meer as enigiets anders ‘n gelowige kerkleier wat deur die Here gestuur word na ‘n nuwe soort Christen, ‘n na-moderne / post-moderne konteks. Hy het telkens verduidelik dat almal nie na hierdie konteks gestuur word, maar sommige wel. Die gestalte wat geloof in so ‘n konteks praktiseer lyk vir ander vreemd. En na-moderne mense gooi vir elke klip wat die kerk na hulle slinger dikwels ook maar een terug. Hy pleit vir begrip en goeie verhoudinge.

    McLaren is dus veral ‘n missionele Christen. Dit gaan oor gestuurdheid. Die karakter van God is dat Hy as Vader, Seun en Heilige Gees op ’n missie na die wêreld is. Hierdie karakter moet ook in die kerk gesien word: die kerk is missioneel, gestuurd, na mense in welke tyd en omstandigheid hulle hul ook al bevind. Die kerk is daar om mense te dien en lief te hê – of hulle as gevolg daarvan Christene word, of nie; of hulle goed is en dit verdien, al dan nie.

    Hoofsaak is nie dat ons na-moderne kerke moet wees nie. Hoofsaak is dat die kerk trou aan die evangelie van Jesus Christus moet wees – in welke konteks die kerk ook al geroep is om te werk, bv: voor-modern, modern, of na-modern.

    Ek is veral getref deur die diepte van die vrae wat die jongmense hom in die Moederkerk gevra het – veel dieper as bv die vrae van mense uit my eie geslag by ander geleenthede. Veral die vraag oor hoop-loosheid by jonger mense was aangrypend. McLaren het in sy antwoord ‘n sentrale kenmerk van die emergent church-beweging uitgelig: ‘n her-sentrering van kerk-wees op Jesus Christus en die boodskap van die koninkryk van God. Hy het ook beklemtoon dat die jonger geslag nie die kwessies wat sy geslag se aandag trek klakkeloos moet oorneem en die wêreld in terme daarvan moet definieer nie.

 

A-Z Beleidsdokument vir predikante

Die A-Z Beleidsdokument, wat alle aspekte rakende die bediening van predikante verwoord, is nou op die Algemene Sinode se webblad beskikbaar vir kommentaar tot 1 Mei 2006. Alle kommentaar wat ontvang word sal verreken word in die dokument wat voor die ASM in Junie 2006 sal dien.  Alle kommentaar asook enige navrae in hierdie verband, kan direk per e-pos aan ds Manie Kleynhans by Sasolburg-Vier Ankers gerig word. (izelsu@mweb.co.za).

    Terwyl jy op die webblad rondkuier, kan jy sommer meer inligting oor die Luisterseisoen lees – sien ook die volgende beriggie.   Bo

 

Luisterseisoen

Johan van Rooyen (Cradock) skryf die volgende oor die voortgang van die Luisterseisoen:

Die Seisoen van Luister is besig om momentum te kry en oral hoor 'n mens opgewonde mense wat met afwagting uitsien (uit-luister!!) na wat besig is om te gebeur.  Hier en daar tel 'n mens 'n bietjie agterdog op - maar dit is VERSEKER op vooroordele en misverstande gebaseer.  Die Luisterseisoen is die beste ding wat sedert vrouepredikante met die kerk gebeur het!! 

    Dankie aan al die loodsgemeentes wat vir ons 'n groen lig gegee het om deel te wees van die "proeflopie"  met die luistermateriaal. Ek hoop julle het ook daarvoor begroot - soos ons gevra het.  Die aanvanklike boekies sal slegs R200 per gemeeente kos - so ek hoop julle kan dit bybring.  Die baniere, plakate en ander bemarkinsmateiaal kos natuurlik heelwat meer, maar dit kan julle mettertyd aanskaf.  Dankie ook vir die lekker gesprek en vrae tydens die Sinodale Werkswinkel!

    Ons gaan drie geleenthede in ons sinodale gebied aanbied waarby ons die Luistersiklus gaan inoefen en deurpraat met mekaar - voordat ons dit vir die hele kerk beskikbaar stel!  So - julle is uitverkore - swaai jou stert! 

Ek het die loodsgemeentes as volg ingedeel:  

Groep een:  Despatch-Eendrag, Humansdorp-Oos, Jeffreysbaai en Uitenhage-Noord. (Chris van Wyk)

Groep twee:  Gonubie,  PE-Hoogland,  Somerstrand en Kensington. (Jurie Pretorius)

Groep drie:  Cradock (Moeder, Oos en Noord),  Hofmeyer,  Aliwal en Maclear. (Johan van Rooyen)

    Wat ons nou asb vra is dat julle tydens die Predikantebyeenkomste in ringsverband asb saam as loodsgemeentes op 'n Saterdag sal besluit wat julle as groep op 'n sentrale plek byeen kan kom. Dit moet asb iewers in die tweede kwartaal wees.  Elke gemeente stuur ongeveer sewe persone plus 'n predikant / tentmaker sodat tussen 30 en 40 lidmate per groep die Luistersiklus deurloop.  Dit geskied onder leiding van Chris van Wyk,  Jurie Pretorius en  ekself.  Jurie en  Chris sal self reel watter een van die suidelike groepe hulle sal hanteer.  Ek is beskikbaar vir die Karoo-gemeentes - en ons sal waarskynlik op Hofmeyer vergader. 

   Geniet solank alles wat tans oor "luister" geskryf en gese word. 

Seënwense vir Lydenstyd en Paasnaweek.   Bo

 

Eddie Makue (VGK-lidmaat) aangestel as Algemene Sekretaris: SA Raad van Kerke

Baie geluk aan Eddie Makue van die VGK wat in bogenoemde invloedryke ekumeniese pos aangestel is. In die SARK se persverklaring word onder andere die volgende oor hom gesê:

Mr. Makue, 52, has a distinguished record of service to the ecumenical movement that spans two decades.  He began working for the SACC in 1986 as a field worker and programme facilitator.  His responsibilities included providing material and moral support to victims of unjust prosecution, political prisoners and their dependents.  He went on to direct the Council's Democracy Education programme from its inception in 1992 before becoming head of the Justice Ministries Unit in 1994.  For the past eighteen months, he has served as the SACC's Deputy General Secretary, in addition to his Justice Ministries post.

    "Mr. Makue has a demonstrated commitment to social and economic justice, gender equity, human rights and the inclusiveness of Christ's Church -  all central themes in the Council's prophetic witness," said Prof Russel Botman, President of the SACC and Chair of the Search Committee that selected Makue. "His organisational management and development skills will also continue to be great assets to the Council."

    A graduate of Kliptown High School, Mr. Makue studied theology and sociology at the University of the Western Cape and UNISA.  He also holds a Master of Science from Buckinghamshire Chilterns University College in the United Kingdom.  He is an elder and lay leader of the Uniting Reformed Church in Southern Africa, one of the Council's 26 member denominations, and an active member of the URCSA congregation at Eldorado Park.

   Mr. Makue and his wife have three daughters and two grandchildren.   Bo

 

Prof George Ellis oor die verhouding wetenskap en godsdiens

‘n Hele aantal Oos-Kapenaars het die onlangse lesings van prof George Ellis, Templetonprys-wenner vir sy werk op rondom die verhouding tussen wetenskap en godsdiens, by die idilliese Noorspoort-gastehuis in die Oos-Kaap bygewoon. Danie Craven Jnr het die volgende verslag geskryf:

    Professor George Ellis gave his lecture at Noorspoort Guest Farm on Saturday 25 March 2006 to a group of more than 30 people. One participant had come all the way from the West Coast to listen to a fascinating topic and to experience at first hand how a top scientist analyses and views the thorny issue of reconciling religion and science. And what a mental journey it was! There were very few disciplines and areas that were not covered in Professor Ellis’ analysis, directly or by inference.

    The professor pointed out the excessive claims and standpoints that both scientists and theologians have made throughout man’s recorded history, and said that there was now a better mutual understanding between the two groups about when to take a stance and when to simply shut up! Although some fundamentalists and extremists have given religion a bad name, they basically preach the same message - a message of love and compassion. He also emphasised the importance of the act of Kenosis which allows man to ‘empty’ (self-sacrifice) himself for and on behalf of others without the expectation of any reward.

    Thanks Prof. Ellis, you helped to instill a feeling of awe in us for the beauty of the natural world and cosmos surrounding us, and to realise that our very future depends how we treat our fellow human beings - with respect and compassion, rather than in self-destructive confrontation.

    George Ellis behoort in terme van geloofstradisie tot die Kwaker-beweging, waarvan sommige lede hulself as ‘n Christelike beweging en ander hulself of as agnosties, ateïsties of universalisties beskou.   Bo

 

Skepping, Evolusie en die Waarheid van Genesis

In ‘n onlangse OosKaap eNuus is die optrede van dr Johan Kruger van Creation Ministries by verskillende geleenthede in Port elizabeth bekendgestel. Uiteenlopende briefies is hieroor ontvang. Iemand skryf:

Briefie Een

Hallo Danie,

    Ek voel  bietjie ongemaklik met "skepping,  evolusie en die waarheid van Genesis". Hoekom sit ons kerk so 'n advertensie op ons eNuus? In 1987 is die Nobelprys toegeken aan die bewysers van die "Big Bang".

Groete!

Briefie Twee

Innes Visagie, tot onlangs leraar te King William’s Town, en nou teologiese dosent in Londen, laat hoor:

Hallo Danie

Groete hier uit London.

    Net bietjie kommentaar na aanleiding van die beoogde seminaar “Skepping, evolusie en die waarheid van Genesis” deur Dr Johan Kruger: Hier in London het die Queen die ander dag die Moslem gemeenskap daaraan herinner dat hulle vooraf geweet het hul immigreer na ‘n Christelike land. Die ironie is egter dat in die praktyk daar gewoon neergesien word op iemand wat nie die evolusie teorie van Charles Darwin as die absolute verklaring van die skepping aanvaar nie. (‘n Lang dokumentêr oor christen-individue wat waag om die leerplan te ignoreer - nou die dag op TV) Iemand wat aan die skeppingsverhaal uit die Woord vashou, word as totaal “agtergeblewe” en gevaarlik beskou. Die skoolleerplan maak geen ruimte vir ‘n Bybelse visie oor God as die Skepper nie. Ek dink die skoolleerplan in SA maak ook nie daarvoor voorsiening nie, die verskil in SA is egter dat die Christen-kinders nog sterk deur hul ouers en deur hul eie kerkbesoek beïnvloed word. Hier in London is kerkbesoek deur die Engelse jeug minimaal en dit is al in die derde of vierde geslag (van die wat My haat) met die gevolg ouers raak ontevrede met enige christelike inmenging in die skoolprogram. Die Bybel het heel irrelevant geword vir die erg gesekulariseerde wêreldstad, London.

    Die uitdaging aan die Christelike kerk is beslis hoe om die openbaringsgeskiedenis van God geloofwaardig en relevant te maak in die kontemporêre, gesekulariseerde en verwetenskaplikte wêreld.

    Interessant: In vergelyking woon daar maar twee keer soveel mense in die hele Holland (16 407,00) as in Londen (8 000.00).

Groete

Innes   Bo

 

Kenners krap kop oor ‘ark’ op Ararat

(Die Burger, 15.03.2006)

WASHINGTON - Is dit Noag se ark wat op die berg Ararat in die ooste van Turkye uittroon” As dit is, was die ark groter as die Titanic en omtrent so groot soos die grootste vliegdekskip tans ter see, reken ‘n Amerikaanse satelliet-analis wat foto’s van dié “iets” op die berg ontleed.  Mnr Rod Franz van die Sun Trek Media Group/Ritelmage sê in ‘n onderhoud met die aanlynnuusdiens SPACE.com satelietfoto’s van Ararat dui op ‘n afwyking in die patroon van die berg.  ‘n Ander wetenskaplike dink die afwyking kan “dalk ‘n Bybelse omvang” aanneem.  Die lengte van hierdie afwyking - op die satellietfoto’s lyk dit soos ‘n groot, moderne oorlogskip op die rotsbank - is 309 meter.  Hy het ook gevind die vorm van die afwyking kan in ‘n sirkel pas...  Hierdie vreemde voorwerp is op die noordwestelike hoek (4 664m bo seespieël) van die berg Ararat te sien en is byna deur ‘n ysgletser bedek.  Prof Porcher Taylor van die Universiteit van Richmond... sê hy het “nuwe hoop” gekry nadat hy die nuwe hoëresolusie digitale foto’s van DigitalGlobe se Quick-Bird-satelliet gesien het.  Hy praat van ‘n “nuwe en betekenisvolle ontwikkeling” in die soektog na Noag se ark.  Hy glo hy is op die punt om die geheim van Noag se ark te ontrafel, wat in die Bybelboek Genesis beskryf word...Hy lê nou al hierdie beelde voor aan wetenskaplikes en ontleders...  Ek hou vol dat as dit iets mensgemaak is en moontlik seevarend, dan is dit moontlik iets van ‘n Bybelse omvang” ...   Bo

 

Fasiliterende Leierskapskursus 14-17 Augustus deur CFN in Port Elizabeth

Die hoofdoel van dié kursus is om deelnemers te help om ‘n fasiliterende benadering tot die lewe en veral leierskap te ontwikkel.  Praktiese vaardighede word aangeleer en ‘n hele aantal hulpmiddels word beskikbaar gestel om te gebruik in transformasie prosesse.  Om te verseker dat dit nie net teoreties bly nie, word die vaardighede aangeleer aan die hand van gevallestudies uit die deelnemers se eie omgewing waar situasies vasgeval of verstrik het.  Die meer as dertig predikante en lidmate in die Oos-Kaap wat die kursus al deurloop het, praat met groot lof van die kursus:  “Fasilitering het my geleer om meer aandag aan die individuele mense in ’n voortgaande proses of reis met mekaar te skenk.  Verhoudings is net so belangrik as die uitvoering van besluite.” 

    Lidmate, leiers en leraars in die Oos-Kaap word nou weer die geleentheid gebied om die kursus by te woon.  Dit word aangebied van 14-17 Augustus 2006 by die fasiliteite van die NG Kerk Somerstrand.  Inskrywings kan gedoen word by http://www.cfn.org.za .  Die eerste aantal inskrywings vir die kursus word gesubsidieer.  Die koste vir die 4 dag kursus kon daarom verlaag word tot R980 per persoon.  Vir meer inligting kan die webtuiste geraadpleeg word of Chris van Wyk gekontak word by acv@global.co.za of 0825749191.   Bo

 

Mentorsopleiding 4 Julie deur CFN in Port Elizabeth

Dié kursus bou op die fondament wat die fasiliterende leierskap kursus gelê het.  Die hoofdoel is om mense toe te rus om ‘n effektiewe mentor van ander te wees.  Deur rollespel word deelnemers in staat gestel om praktiese vaardighede aan te leer.

    Alle deelnemers wat al die eerste fasiliteringskursus bygewoon het, word nou uitgenooi om die mentorsopleiding by te woon.  Dit word aangebied op 4 Julie 2006 by die fasiliteite van die NG Kerk Somerstrand.  Inskrywings kan gedoen word by http://www.cfn.org.za .  Die eerste 12 inskrywings vir die kursus word gesubsidieer.  Die koste vir die kursus kon daarom verlaag word tot R250 per persoon.  Vir meer inligting kan die webtuiste geraadpleeg word of Chris van Wyk gekontak word by acv@global.co.za of 0825749191.   Bo

 

Julle “Waarmee is God besig” is fantasties!

Tobie de Wet skryf uit Japan na aanleiding van ‘n onlangse OosKaap eNuus:

Liewe Danie,

Vreeslik dankie vir jou OosKaap eNuus!!! Ek kry verskeie Sinodes s'n maar niks kom by julle s'n nie!!! DANKIE vir jou besondere moeite en insette. Moet nie moeg word om so goed te doen nie........

Die artikel "Waarmee is God besig" en wat julle beoog is fantasties!! Ek is besig om GROOT uit te mis daar in die OosKaap. Is verskriklik JALOERS!!

Die verslag oor kerkeenheid bemoedigend maar ook steeds kommerwekkend. Ten spyte van al die positiewe is die oorheersende indruk egter dat die weerstand wyer en dieper is as wat ons wil erken en dat die pad nog lank en swaar is.....

Die brief aan F-polisiekar interressant. Soos jy dalk weet ii een van die lede se ouers, THEO en MARLENE Badenhorst saam met ons hier in Japan.

Jou grappies is nogal ook humoristies.....

Dankie, ons waardeer jou

Groete

Tobie

 

(OosKaap eNuus wens tobie en Annelie graag geluk met hul 32ste huweliksherdenking wat hulle die afgelope week gevier het.)   Bo

 

Teologiestudent skuldig aan oneerlikheid oor dwaalleer-brief

(Neels Jackson – Beeld 29 Maart 2006)

Die teologiestudent van die NG Kerk wat verskeie dosente en predikante in die kerk van leerdwaling beskuldig het, is deur die kerk skuldig bevind aan oneerlikheid. Sy toekoms as predikant is nou in die gedrang.

    Die klag teen mnr. Ferdie Mulder spruit uit 'n verklaring wat in Junie verlede jaar opgestel is. Daarvolgens distansieer 46 teologiestudente hulle van beskouings dat Jesus Christus se opstanding uit die dood nie histories letterlik en liggaamlik plaasgevind het nie.

    Dié sienings is aan dosente van die fakulteit teologie aan die Universiteit van Pretoria toegeskryf.

    Mulder is daaraan skuldig bevind dat hy in verskeie opsigte oneerlik opgetree het met die opstel, ondertekening, verwerking en verspreiding van die verklaring. Dit behels onder meer dat hy van die studente een weergawe van die verklaring laat onderteken het, maar dit toe verander het en 'n ander weergawe daarvan met hul name daarby versprei het, het dr. Flip du Toit, predikant vir teologiese opleiding, gister gesê.

    Ander studente is net telefonies gekontak en het nooit die dokument onderteken nie, terwyl 'n derde groep glad nie geken is in die saak nie, hoewel hul name onder aan die verklaring bygevoeg is.

    Die kommissie wat Mulder skuldig bevind het, het sy toelating tot die evangeliebediening opgeskort totdat hy die kuratorium (wat toesig hou oor teologiese opleiding) oortuig het van sy berou oor die oneerlikheid.

    Mulder het gister gesê hy oorweeg dit om by die algemene sinode te appelleer.

Hy sou einde vanjaar sy studie voltooi en dan gelegitimeer word en as predikant beroepbaar gestel word. Die beslissing bring egter sy gemeentejaar in die gedrang omdat sy preekvergunning ingetrek is.

• Intussen is die ondersoeke na die beskouings van die dosente wie se leersuiwerheid bevraagteken is, steeds aan die gang.   Bo

 

Resensie van “Tsotsi”

(Suzette Kotzé-Myburgh – Litnet)

Spelers: Presley Chweneyagae, Terry Pheto, Kenneth Nkosi, Mothusi Magano, Zenzo Ngqobe, Zola, Rapulana Seiphemo, Nambitha Mpumlwana, Nthuthuko Sibisi, Ian Roberts
Regisseur: Gavin Hood
    Daar is 'n mooi aanhaling van Franz Kafka wat lui dat 'n goeie boek soos 'n yspik moet wees wat die bevrore see van ons hart oopkap. Só 'n yspik teen apartheid was Athol Fugard se boek Tsotsi vir my toe ek dit iewers in my hoërskooljare in die 1980's gelees het. (Nog 'n yspik was André P Brink se 'n Droë wit seisoen, destyds nog verbied en in ons skoolkoshuis ingesmokkel.)

    Die ander rede om hierdie fliek, wat op Fugard se boek gebaseer is, te gaan kyk, was regisseur Gavin Hood se uitstekende film A reasonable man van so omtrent ses jaar gelede. Dat Hood nogmaals goeie werk gedoen het, word bevestig deur die twee gesogte toekennings wat Tsotsi pas by die Edinburghse Filmfees ontvang het.

    Die fliek handel oor 'n klipharde jong gangster wat ná 'n motorkaping 'n baba op die motor se agtersitplek aantref. Hy besluit uiteindelik om die kind saam te neem na sy blyplek - 'n besluit wat sy hele lewe verander. 'n Maklike verhaal om oortuigend te vertel is dit hoegenaamd nie. Dis algemeen bekend dat geharde kriminele nie sommer net so met 'n klap van die vingers 'n hartsverandering ondergaan nie, veral nie wanneer hul leefwyse die tipe misdaad is wat Tsotsi-hulle pleeg nie (en wees gewaarsku: die geweld is sterk en grafies).

    Vir die boek had Fugard uiteraard meer verteltyd en kon Tsotsi se inkeer meer geleidelik, en dus meer geloofwaardig, uitgebeeld word; in die fliek geskied dit binne enkele dae, dalk tog 'n bietjie te vinnig, maar darem nie heeltemal onrealisties nie. Die boekomgewing (as ek reg onthou, is die boek in die 1970's gepubliseer, maar dit kan selfs ouer wees) word ook interessant verplaas na die hede (byvoorbeeld die motorkaping en die suggestie dat Tsotsi se ma weens vigs dood is).

    Die film bied 'n geleentheid om te dink oor die storie ágter 'n misdadiger se gruweldade - dis waar die yspik so effektief is. So moeilik soos dit sekerlik vir die slagoffers van geweld is om empatie met hul aandoeners te hê, lê daar in die meeste gevalle verstaanbare redes en oorsake agter mense se gedrag - "If we could know all, we could forgive all" is 'n ander aanhaling wat by my opkom.

    Ten spyte van al die slaggate van vergoeliking en sentimentalisering van 'n komplekse onderwerp word Tsotsi se verhaal bymekaargetrek met 'n realistiese en goed verantwoorde slot.

    Die township-omgewing word in fyn detail ingekleur, en die musiek van Zola is een groot plesier. Die akteurs kwyt hulle almal goed van hul taak, maar veral Presley Chweneyagae in die hoofrol moet uitgesonder word - van hom behoort ons nog baie meer te sien. Die fliek kry ekstra punte daarvoor dat die taal outentiek is (hou die ore oop vir die stukkies Afrikaans) en dat Engelse onderskrifte gebruik word eerder as Engelse dialoog. Daar is ook 'n paar heerlike spatsels humor, veral vir wynliefhebbers.

    Die een aspek van die film wat vir my wel onrealisties was, was die jong vrou na wie Tsotsi die baba neem om te soog - haar voorkoms veral was té gepoleerd vir haar omgewing. En ai, daai koorsang soos wenende viole met die suggestie van liefde in die lug …

    Verder is dit hoede af vir regisseur Hood en Viva Suid-Afrikaanse films!   Bo

 

Resensie van “Brokeback Mountain”

(André Crous – Litnet)

(Die homoseksuele tema van Brokeback Mountain laat menige Christen met gemengde gevoelens. Hierdie resensie het my gehelp om ‘n meer ewewigtige beoordeling van Brokeback Mountain te maak.)

Regisseur: Ang Lee
Draaiboek: Larry McMurtry en Diana Ossana
Looptyd: 134 min
Rolverdeling: Heath Ledger, Jake Gyllenhaal, Michelle Williams, Anne Hathaway

    Verhoudings is vreeslik mooi en vreeslik hartseer.

    Brokeback Mountain, Ang Lee se meesterlike visualisering van Annie Proulx se gelyknamige kortverhaal, bied ‘n blik op die intense, onbetwisbare liefde (hoewel die woord nooit in die film gebruik word nie) tussen twee cowboys.

    Eendag in 1963 daag twee heeltemal verskillende jong mans op in Signal, ‘n piepklein dorpie in die staat Wyoming (in die VSA se weste) en doen aansoek om skape op te pas teen die hange van Brokeback Mountain.
    Reeds in die eerste toneel probeer Jack Twist (vertolk deur Jake Gyllenhaal) en Ennis del Mar (Heath Ledger) oogkontak vermy, maar daar is iets wat krap. Daar is ‘n skaamte, maar duidelik een of ander onverklaarbare belangstelling.

    Nie lank daarna nie kry ons die beste visuele idee in die hele film. Ek gaan nie verklap wat dit is nie; wanneer jy die film sien, kyk na die skoot waar Jack ‘n aartappel skil en sy bes probeer om nie agtertoe te kyk nie. Ang Lee se regie is eenvoudig uit die boonste rakke en dis op hierdie oomblik dat ons besef dat die film iets besonders gaan wees.

    Een aand dryf alkohol, die lewe se groot disinhibeerder, latente gevoelens op ‘n spits en dan gebeur dit wat tot onlangs ondenkbaar (en onwettig) was in die meeste samelewings.

    Wat volg, is jare se intimiteit, geheime, leuens en groot onsekerheid oor wat volgende gaan gebeur.

    Dit is ‘n film hierdie waar jy die karakters kan sien dink, kan sien struwel. Heath Ledger se uitbeelding van ‘n introvert slaag met verrassende sterkte en insig. Ennis se uitspraak is soms baie onduidelik en moeilik om te verstaan – soos sy gevoelens en sy gedagtes, is die betekenis soms moeilik om te snap. Ennis is versigtig en kom dalk koud voor, maar hy is ‘n karakter wat vol seer is en ‘n hele paar keer links en regs kyk voor hy die straat oorsteek.

    Jake Gyllenhaal se effens meer avontuurlustige karakter het egter ook emosionele diepte. Hy is die een wat homself voorstel, vir Ennis vra of hulle kan oorslaap in dieselfde kamp, dan een aand by hom in die tent kom inkruip. Hy is die een wat risiko’s neem.

    Maar kyk hoe bang is hy om met Loreen (Anne Hathaway) te flirteer. Hy is uiterlik vol selfvertroue, maar sy vrou ry veel beter rodeo (‘n meer manlike eienskap) as hy en is sterk in die besigheidswêreld.

    Die karakters word almal deur die draaiboek gerespekteer, en laat die kyker toe om dieselfde te doen.

    Jack en Ennis praat oor die moontlikheid van saam huis opsit, maar die gemeenskap is ‘n onvergewende een en hierdie wens kan nie verwesenlik word nie. Wat die homofobe sal skok, is die menslikheid van die karakters, hul veelkantigheid. Hulle is doodnormale mense, niks beter of slegter nie. Wat baie kykers ook moontlik kan verras, is die tikkie homofobie wat Jack en Ennis self openbaar. Hulle ontdek dat daar iets binne-in hulle is wat hulle nie verwag het nie, en nou weet hulle nie hoe om verder te maak nie.

    Hulle verskil in die manier waarop hulle hierdie gevoel hanteer. Ennis – en hiervoor is daar ‘n terugflits om sy vrese te verduidelik – hou al sy gevoelens binne. Sy emosionele isolasie affekteer egter almal rondom hom, insluitend Jack. Die liefde is nie net ‘n idee nie, dit is iets waaraan hy fisies ly: kyk wat met hom gebeur wanneer hy en Jack groet na hul eerste winter op Brokeback.

    Jack raak eers na ‘n lang ruk werklik bewus van wat dit is wat hy voel. Wanneer hy die eerste keer van Ennis af wegry, sien hy hom net as ‘n figuur in sy truspieël. Die volgende keer wat hy alleen in sy kar ry, begin hy huil wanneer hy agterkom dat hy Ennis nodig het.

    Die draaiboekskrywers ken die leuens wat vertel moet word aan geliefdes, die ewige gekyk oor jou skouer of jy nie dalk raakgesien word nie, die paranoia dat ander mense weet wat jy is en wat jy doen.

    Daar word ook gekyk na albei karakters se pogings om hulself te vestig as sterk manlike figure. En dis nie altyd maklik nie. Jack se opstand teen sy skoonpa ontbloot heelwat van sy karakter.

    Niks is maklik nie, en niks lyk maklik nie. Ennis se vrou hou haar frustrasie opgeprop omdat sy te bang is vir die waarheid, te bang om al die leidrade te volg. Jack se vrou is baie sterk, en ‘n finale telefoongesprek spreek van liefde en begrip vir die man wat soveel geheime het.

    Die etiket wat om Brokeback Mountain se nek gehang word (om nie eens te praat van die woordspelings op die titel nie!) as ‘n gay-western pas nie mooi nie, omdat dit nie ‘n gay-film soos die meeste is nie en die twee cowboys aan die ander kant enige twee ouens op enige ander plek kon gewees het.

    Die film is kragtig en na die vertoning sal die ontknoping nog by jou spook. Daar is geen pretensie nie. Wat Brokeback Mountain regkry, is om ‘n volledige film met ‘n homoseksuele verhouding te skep waar die emosies, die karakters en die omstandighede realisties, emosiewekkend en ingewikkeld is. En die hartseer kitaar op die klankbaan is die perfekte musikale metafoor vir die melancholie van die verhaal.   Bo

 

Kan daar sprake wees van ‘n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse geskiedenis?

Prof Albert M Grundlingh - Lesing gelewer by die Woordfees, Maart 2006

    Die woord geskiedenis kan ‘n veelvoud van betekenisse behels. Vir die doeleindes van hierdie bespreking wil ek egter slegs op een aspek konsentreer, naamlik, geskiedenis-as-identiteit.

    Geskiedenis as identiteit is nou verwant aan wat ons as “inherente” idees oor die verlede kan beskou. Hierdie idees neem dikwels die vorm van sogenaamde “common sense” aan en kan as ‘n organiserende beginsel in die daaglikse lewe funksioneer. As sodanig kan idees oor die verlede daartoe bydra om ‘n persoon se hedendaagse uitgangspunte en perspektiewe te help vorm. Alhoewel die gewig van so ‘n historiese belading uiteraard individueel na gelang van uiteenlopende kontekste sal verskil, kan weinig individue daarop aanspraak maak dat hulle hoegenaamd geen verlede het nie en ongekontamineerd is deur alle gebeure wat in die verlede voorgekom het. Geskiedenis in ‘n sekere sin kan as die aambeeld van identiteit beskou word.

    Idees oor die verlede hoef natuurlik nie slegs van ampsweë oorgedra te word nie, maar kan ook informeel en byna onbewustelik deur eendersdenkende gemeenskappe gegenereer word. Die idees hoef ook nie dieselfde oor tyd te bly nie, en kan na gelang van veranderende omstandighede en breër ideologiese verskuiwings in ‘n samelewing aangepas word. ‘n Praktiese voorbeeld hiervan is die wyse waarop die herinneringe oor die Anglo-Boereoorlog hanteer is: vir jare was dit ‘n integrerende deel van die Afrikaner se lydingsgeskiedenis, maar soos die onlangse honderdjarige herdenking van die oorlog getuig het, het daar in ‘n veranderende konteks ‘n meer genuanseerde en geskakeerde beeld na vore getree waarin swartes en ander groepe meer prominent as vantevore figureer.

    Swart politieke organisasies het ook geskiedenis vrylik gebruik ten einde ‘n bepaalde historiese identiteit in lyn met hulle politieke oogmerke te smee. So het die akademikus Tom Lodge voor die ontbanning van die ANC in 1990 oor dié organisasie geskryf:

    The ANC has a well-developed sense of its historical identity. The very rhythm of its present day political and military activity demonstrates a deeply etched collective memory expressed through an annual calendar of commemorations and anniversaries. ANC speeches are larded with historical references to pre-colonial societies, to primary resistance, and to its previous campaigning. ANC recruits are drilled with a basic chronology of the ANC’s own development. (Radical History Review, 1991)

    Alhoewel die klem op militêre aangeleenthede sedertdien in die ANC se historiese retoriek weggeval het (maar nie volkome nie, te oordeel aan Zuma se onlangse “masjiengeweer”-dreunsang buite die hof) het die kern van hierdie identiteit wat die gedagte van swart bevryding en “struggle” in die algemeen bevat, nog weinig van sy glans verloor. Ofskoon die ANC hoog opgee oor die behoefte en ideologie van nie-rassigheid, poneer die praktiese alledaagse werklikhede egter ‘n ander ideologiese bestel van Afrikanistiese hegemonie. Veral sedert die organisasie se vyftigste jaarkongres in Mafikeng in 1997 is daar toenemend hierop klem gelê. Oor die teenstrydighede van dié posisie vis-à-vis nie-rassigheid het die historikus Colin Bundy soos volg kommentaar gelewer: “The call for African hegemony in the context of a multi-cultural and non-racial society is an oxymoron striving for orthodoxy.” (“New nation, new history?” Ongepubliseerde referaat, 2002)

    Die verlede wat nog steeds die luidste tot ons spreek vandag, is een van afsonderlike identiteite wat elk die geskiedenis in ‘n meerdere of mindere mate vir breë politieke doelwitte aangewend het of nog steeds aanwend.

    Maar desnieteenstaande wil ek tog vra of ons ons nie by tye te veel vas staar teen die formele politieke domein en nie genoeg ag slaan op die alledaagse, waar mense gereeld met mekaar skouers geskuur het en in weerwil van wesentlike verskille tog ‘n samelewing op grondvlak in stand gehou het nie. Moet ons nie miskien meer indringend kyk na wat al genoem is “the nooks and crannies of everyday historical existence” nie? Sal dit nie miskien vir ons ‘n andersoortige geskiedenis oplewer nie?

    Die historikus Charles van Onselen het byvoorbeeld in sy epogmakende werk oor Kas Maine, die deelsaaier in die voormalige Wes-Transvaal, bevind dat verhoudinge in die platteland baie meer interafhanklik was, en dat baie meer kulturele kruisbestuiwing tussen wit en swart plaasgevind het, as wat die stereotipe van die “boer en sy sambok” dikwels wil te kenne gee.

    Eweneens het ek, in my werk oor swart betrokkenheid by die Eerste Wêreldoorlog, gevind dat daar tydens die Boere-rebellie van 1914 aandag geskenk is aan die gedagte om Sotho-steun vir die Boere se saak te werf. Natuurlik moet mens nie te veel in sulke pogings inlees nie, maar dit toon tog op verrassende wyse hoe rasseskeidslyne onder bepaalde omstandighede meer vloeibaar was as wat die oorkoepelende geskiedsbeeld voorhou.

    In ‘n ander verband het die skrywer André P Brink hom reeds in 1987 oor ‘n byna “onsigbare” verband tussen wit en swart uitgelaat; hy het dit in Engels soos volg gestel:

    History has turned them into enemies. And yet they are probably the two groups of people in South Africa who have the most in common! They share a collective consciousness of a nomadic and peasant existence. Both have been conditioned by tribal experience. Both have chosen Africa as an object of their deepest loyalties and understanding. Both have experienced oppression, and the agonies and acceleration of a struggle for liberation. In the deepest possible sense they belong together. (Dakar-verslae, 1987)

    Hierdie tipe uitsprake kan natuurlik oordryf word, maar dit maak ons tog daarop attent dat, benewens die historiese verdelende faktore in die Suid-Afrikaanse samelewing, ons miskien ook moet kyk na daardie elemente wat die samelewing bymekaar gehou het.

Hiermee wil nie voorgegee word dat historici eensklaps met ‘n heel vars oorkoepelende geheel na vore sal kom nie – daarvoor was daar eenvoudig te veel stryd en drama in die Suid-Afrikaanse verlede. ‘n Geskiedenis wat alle groepe in die land eweseer tevrede sal stel, sal waarskynlik bloot ‘n hersenskim bly.

    Daar sal altyd verskillende uitgangspunte wees; daar is baie en uiteenlopende stories om te vertel. Die beste waarvoor mens kan hoop, is vir historici om te besef dat hulle hul stories beter sal vertel as hulle dit binne die kader van die breë tafereel van die Suid-Afrikaanse verlede kan plaas, met inagneming van die ideaal, hoe moeilik ook al, van ‘n verlede wat selfs opponerende en strydende groepe in ‘n binêre verband plaas

    (Prof Grundlingh is voorsitter van die dept Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch – Bron: Litnet)   Bo

 

Op kennisgewings

In ‘n restaurant in Zambië:   "Open seven days a week and weekends."

 Op die hekke van ‘n privaatskool in Suid-Afrika:  "No trespassing without permission."

 Op ‘n venster van ‘n Nigeriese winkel:   "Why go elsewhere to be cheated when you can come here?."

 Op ‘n plakkaat in Ghana:  "Are you an adult who cannot read? If so, we can help."

 In ‘n hotel in Mosambiek:  "Visitors are expected to complain at the office between the hours of

9.00 am and 11.00 am daily."

 By ‘n rivier in die Demokratiese Republiek van Congo:  "Take note: When this sign is submerged, the river is impassable."

 Op ‘n gebou in Sierra Leone:   "Mental Health Prevention Centre."

 In die kraamsaal van ‘n kliniek in Tanzania:   "No children allowed!"

 In ‘n Namibiese nagklub:   "Ladies are not allowed to have children in the bar."

(www.onnet.up.ac.za/humor.html)   Bo

 

A Brief Guide To Scientific Literature

The following phrases, frequently found in technical writings, are defined below for your enlightenment.

It has been long known:  I haven't bothered to check the references

It is known:  I believe

It is believed:  I think

It is generally believed:  My collegues and I think

There has been some discussion:  Nobody agrees with me

It can be shown:  Take my word for it

It is proven:  It agrees with something mathematical

Of great theoretical importance:  I find it interesting

Of great practical importance:  This justifies my employment

Of great historical importance:  This ought to make me famous

Some samples were chosen for study:  The others didn't make sense

Typical results are shown:  The best results are shown

Correct within order of magnitude:  Wrong

The values were obtained empirically:  The values were obtained by accident

The results are inconclusive:  The results seem to disprove my hypothesis

Additional work is required:  Someone else can work out the details

The investigations proved rewarding:  My grant has been renewed

(www.geoscience.org.za)

 

Groete tot ons weer gesels,

 

Danie Mouton

Bo