Amptelike Nuusblad : NG Kerk in Oos-Kaapland

 

OosKaap eNuus

 

Visie: Een, heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges

 

Jaargang 5  -  Nommer 14  -  12 September 2007  -  www.ngkok.co.za

 

Teken in                                                                       Beëindig intekening

 

 

 

INHOUD

 

Sinode 2007 by Willows gehou

XtremeActventures reël wegbreek vir matrieks

Wikiletics - Preekhulp

Die Youtube en Facebook-generasie, en die kerk

Evangeliese inisiatief

Om ‘n minderheidsgroep Christene in ‘n vyandige publieke konteks te wees

Ester-Konferensie 16-18 November te Jeffreysbaai

Konsephandves van Godsdiensregte

Op soek na ‘n skriba of administratiewe beampte?

Kry jou kerk se klokhorlosie weer op dreef

TYDENS ‘N KONFERENSIE OOR KERKEENHEID

* VS laat eenheid in NGK-familie sloer

* Onenigheid oor belydenis van Belhar sleep voort

* NG Kerk soek feite oor ‘knoeiery’ in Vrystaat

* Verklaring deur die 4 Moderators van die Kerke van die NG Kerkfamilie

* Onmin oor Belhar in kerkfamilie : VGK distansieer hom van verklaring

Bybel-Media – jou bedieningsvennoot

Nuut by LuxVerbi-BM

Soek God se moederhart

 

 

Sinode 2007 by Willows gehou

Die Sinode vergader vanjaar weer by die (opgegradeerde) Willows-Vakansieoord net buite Port Elizabeth. Dit is goeie nuus - mens kan darem so ‘n tydjie afknyp om die tien tree tot by die branders te stap en die vars seelug in te asem.

    Die vergadering is van 12-15 November.  Die sakelyste word in die eerste week van Oktober aan gemeentes gestuur.    Inhoud

 

XtremeActventures reël wegbreek vir matrieks

Van 26 November tot 2 Desember kan matrieks lekker opwindend dog veilig wegbreek saam met XtremeActVentures. Dit beloof baie opwinding. Spring om in te skryf - slegs 24 matrieks kan weens logistiese rede geakkommodeer word. Hier is die inskrywingsvorm.    Inhoud

 

Wikiletics - Preekhulp

Jy weet dit dalk nog nie, maar jy wil definitief - as jy ‘n predikant is, of ‘n verantwoordelikheid rondom Woordbediening in ‘n gemeente het - gaan kuier op ‘n baie, baie besondere webblad: www.wikiletics.com. Dit behoort tot die breër wikipedia-familie, en word onder andere deur akademici van die kaliber van Leonard Sweet bedryf.

    Op die voorblad, terwyl ek nou daarna sit en kyk, is onder andere ‘n preek van Steve Sjogren, getiteld: Arsonist’s Guide to Living beyond Self. Mens is sommer net lus om weg te val en te lees. Sjogren is mos die ou wat soveel werk rondom diens as die bediening van die evangelie.

    Hoe klink hierdie titels vir preke: The First The Final and The Finest Edition The Search is Over.  (Kan jy uit dié titel raai uit watter boek van die Nuwe Testament hierdie preek kom?) Of: Our Great escape with Rambo the LAMBo.

    Laat weet hoe beleef julle hierdie webblad. My vermoede is dat dit baie kan help met ‘n meer eietydse benadering tot die prediking.    Inhoud

 

Die Youtube en Facebook-generasie, en die kerk

My twee tieners maak my radeloos met die groot hoeveelheid bandwydte wat hulle verorber met Youtube en Facebook - en so ‘n paar ander mp3-webblaaie. Nie net laai hulle verbete op- en af nie, maar die produkte van die aflaai word bulderend in die huis gespeel.

    So is ek ook nou al “op” Youtube en Facebook. If you can’t beat them, join them. Dis absolute merkwaardige sagteware (en daar is baie meer hiervan op die web) waarin mens spelenderwys en blokkie vir blokkie bou aan ‘n identiteit en interaksie wat volledig binne jou eie beheer is, met volle bemagtiging deur die sagteware, en vrye omgaan met ander. So het ek nou al bande opgetel met ‘n voormalige lidmaat wat in Japan woon en volledig deel geword van sy wêreld op daai eilandjie aan die ander kant van die aardbol. Video’s ontsluit vir jou ‘n ongekende diversiteit van perspektiewe en lewensbeskouinge. Daar is dikwels ‘n ondertoon van humor en pret en ‘n verbasende gemoedelikheid te bespeur.

    Mens wonder hoe die vrye deelname, die interaksie, die skeppende vermoë, die groot aanbod van verskeidenheid (kwadraat) en die vermoë om self te kies ons saam-wees in die kerk, veral in die erediens, beïnvloed. Eredienste is dikwels voorspelbaar, daar setel gesag in die voorganger wat op kennis eerder as ervaring gebaseer is, die veronderstelling geld van een korrekte, onveranderlike Skrifgebaseerde antwoord wat rasioneel uitgelê en verduidelik word, die behoefte is om aan die verlede georiënteer te wees eerder dan aan wat hier en nou moontlik is, asook die beperkte “spyskaart” - ons kan net met een ding op ‘n slag besig wees. \

   Danksy webblaaie soos Youtube en Facebook sal die wyse waarop sinvolle deelname aan die erediens, soos die Woordbediening en sakramente, plaasvind deurslaggewend word vir ons kinders se belewing daarvan.

    En nie net ons kinders nie. Dit val my toenemend op hoe ook ouer mense, en ek kan ‘n paar pensioenarisse opnoem, deur nuwe tegnologie gevorm word om groter spontaneïteit en ‘n meer deelnemende benadering op te soek. En sulke mense voel al hoe minder veilig wanneer die waarheid met gesag van bo geproklameer word. Iewers, vertel hul webgene hulle, is iets nie reg nie....

    Ek is nie seker of mens hierdie soort fenomeen vreeslik moet beoordeel nie. Dit is gewoon deel van die landskap waarin geloofsgemeenskappe funksioneer en ons moet vra hoe die evangelie in so ‘n landskap vir mense hoop, ‘n tuiste, wegspringblokke na ‘n sinvolle toekoms, en vreugde kan bring. Anders gestel: hoe die evangelie ook hierdie landskap kan bevry deur heling, geregtigheid en vreugde daarvoor te bring.  Om dit te kan doen, sal ons die Youtube en Facebook geslag moet toelaat om ons te leer hoe om hulle - in vennootskap - te bedien. Die wyse waarop ons almal (pre- en post-Facebook) in hierdie proses sal leer om in interaksie met die evangelie self te verander, kan ons as ‘n geskenk van die Here ervaar.   Inhoud

 

Evangeliese Inisiatief

Die Evangeliese Inisiatief het in onlangs ‘n skrywe aan alle predikante gerig. Lidmate wat insae in die skrywe wil verkry, kan hier klik.

   Die NG Kerk se leierskap het onderneem om in gesprek met die Evangeliese Inisiatief te bly. Die mening is op verskeie vlakke uitgespreek dat die NG Kerk die EI se verstaan van die evangelie onderskryf. Vrae word ook gevra oor die interessante standpunte (dis nogal uiteenlopend oor sake soos homoseksualiteit en gereformeerdheid) wat deur die leierskap van die EI verteenwoordig word.    Inhoud

 

Om ‘n minderheidsgroep Christene in ‘n vyandige publieke konteks te wees

Net verlede Sondagaand sit ons in die erediens en luister na pastoor Martin de Lange, voormalige werker in Malatya, Turkye. Sowat 5 maande nadat hulle permanent na SA teruggekeer het, is drie van sy kollegas wreedaardig deur ekstremiste vermoor. Dis aangrypend om te hoor wat dit beteken om ‘n gelowige te wees in ‘n konteks waar die ganse publieke opinie nie net teen jou gekant is nie, maar jou ook as ‘n vyand van die publieke orde sien. Teen hierdie agtergrond kan mens gerus hierdie verklaring lees wat pas deur die Turkse Protestantse Gemeenskap (sowat 3,500 Protestante in Turkye in ‘h bevolking van meer as 70 miljoen) uitgereik is. Dit alles in ‘n staat wat konstitusioneel sekulêr is.

A  Summary  of  the  Concerns  of  theLocal  Protestant  Community  in  Turkey

01 September 2007

Various organisations and individuals involved in religious liberty issues have expressed that it would be helpful to communicate  the current concerns of the Protestant community in Turkey in more specific terms. Below is an attempt to convey our concerns in a concise manner.

    For those of you who would appreciate some background on the subject of freedom of religion in Turkey and the situation for Christians please refer to the reports put out by a number of organisations such as the US Commission on Freedom of Religion, Christian Solidarity Worldwide, OECD etc., all of  which can be viewed on their respective websites. Please do not hesitate to contact us if you have questions or would like more information on any related issues or on the topics below.

*  The Protestant Community is negatively affected by contemptuous, disinformative media coverage which also has the effect of showing  Christians and, in particular, persons who have converted to Christianity, as targets for acts of violence.  It is crucial to put a stop to this. Where such coverage is found, it is the community’s desire to see the relevant state institutions initiate prosecution within the framework of necessary limitations to freedom of expression; as well as in accordance with ICCPR Art.20  prohibiting ‘advocay of national, racial or religious hatred that constitute incitement to discrimination, hostility or violence’ and its counterpart in Turkish Penal Code enshrined in Art. 312.

*  In order to secure harmonious living together in a multi-cultural society, it is important to take steps, starting with education, to create a culture of tolerance.  This is important not only for Protestants but for all other ‘identities’ which do not conform to the majority. All efforts should be made to avoid ‘stigmatising’ minorities of any sort.

*  It is crucial for proselytising to be seen within the context of freedom of expression and freedom of religion or belief and to take pro-active steps so that it is also perceived as such by the public.  Similarly, it is necessary to put an end to the false understanding of the term ‘missionary,’ which portrays it as a Christian threat to the State and public.  Missionary activity needs to be taken out of the National Security Council’s list of threats to the country. 

*   The terrible event that resulted in the murder of one German and two Turkish Christians in April 2007 in the city of Malatya is the result of  the contemptuous, disinformative media campaign and the ongoing indoctrination carried out by some state and civil organisations. In order to avoid such events from happening again it is vital that the precautionary actions described above are taken without delay. 
*  In order to understand and appreciate the needs and concerns of the Protestant community, it would be very helpful for relevant State officials to recognize  representatives of this community and have meetings with them. So far, the officials have preferred to ignore this community.

*  A possible legal means of existence for the new churches has been created by allowing the establishment of religious associations. However, enormous problems remain in getting a building designated for church use within a city. There are a number of churches (Karatas (Izmir), Odemis among others) which have applied to their local municipality for their church buildings to be recognized as places of worship or for the municipality to designate an alternative  place that can be used as a church building but with no result. It is the community’s desire to worship in places that are classified by the authorities as legal places of worship and, in order for that to happen, it is now the state authorities turn to act promptly. It is important that facilitation of freedom of religion through registration and other regulations do not have the affect of restricting expressions of this freedom.

*  Similarly, the State is the guarantor of the right to worship individually or as a group. In the last year, there have been scores of threats or attacks on congregations and  church buildings. The perpetrators have not been found. At times, the security authorities, acknowledging that there is such a threat, advised the use of private security companies.  However, this is unacceptable when the State should be guaranteeing freedom of religion and the security of individuals and property.

*  In the long run, Turkey needs to create a comprehensive law which regulates the individual and collective expression of freedom of religion or belief for the existing groups in Turkey, including granting equal status before the State in terms of immunities, religious education of children, the right to train clergy, recognition etc.    

Legal Committee

The Alliance of Protestant Churches of Turkey

tekhukuk@gmail.com    Inhoud

 

Ester-Konferensie 16-18 November te Jeffreysbaai

'n Ester-Konferensie vind op genoemde datum by Mentorskraal net buite Jeffreysbaai plaas. Kyk gerus na meegaande plakkaat wat al die inligting verskaf, asook na die inskrywingsvorm.    Inhoud

 

Konsephandves van Godsdiensregte

'n Konsep Handves van Godsdiensregte soos ontvang van prof Pieter Coertzen tesame met 'n begeleidende brief is op ons webblad beskikbaar.  Persone wat daarop kommentaar wil lewer, kan dit doen tot die einde van September 2007.  E-pos besonderhede is op begeleidende brief.    Inhoud

 

Op soek na ‘n skriba of administratiewe beampte?

Ingrid de Lange is ‘n dame wat eersdaags van Cradock na PE verhuis en graag in ‘n kerkkantoor wil werk as skriba of administratiewe beampte. Sy het in 1971 matrikuleer. Julle kan Ingrid se CV sommer by haarself aanvra - skakel haar by 048 – 881 3030 (w), 048 – 881 4408 (h) of 082 877 1095 (sel)    Inhoud

 

Kry jou kerk se klokhorlosie weer op dreef

Wicus Wait van PE-Moedergemeente skryf: Roché (072 548 9026) het ons gemeente se kerkhorlosie weer aan die loop gekry met minimale herstel uitgawe. Hy het my versoek om sy info deur te gee aan gemeentes wat dalk dieselfde dienste benodig- gemeentes kan self onderhandel oor 'n prys.

    So kan jy weer die ding-dong terugsit in jou dorp se dag!    Inhoud

 

TYDENS ‘N KONFERENSIE OOR KERKEENHEID

Aan die einde van Augustus het ‘n Konferensie oor Kerkhereniging te Belhar plaasgevind. Drie persberigte uit die pen van die altyd betroubare Neels Jackson vertel die soms stamperige verhaal van dié gesprek (elektroniese weergawe met dank aan ABID):    Inhoud

 

VS laat eenheid in NGK-familie sloer

Burger, 31.08.2007
BELHAR. – Die spanning in die Vrystaatse NG Kerkfamilie is besig om die soektog na kerkeenheid in die hele NG Kerkfamilie onder druk te plaas. Dit het gister duidelik hier geblyk toe prof. Thias Kgatla, moderator van die Verenigende Gereformeerde Kerk, aan ’n konferensie oor kerkeenheid terugvoer gegee het oor die verloop van en probleme met die kerkherenigingsproses. Kgatla het aan die konferensie gesê dat hy vroeër vandeesweek op ’n vergadering van die vier moderature aangedring het op ’n skietstilstand, aangesien VGK-lidmate en -gemeentes in die Vrystaat steeds deur dreigbriewe van die NG Kerk in Afrika (NGKA) geteister word. Dié briewe vorm deel van die voortslepende dispuut oor eienaarskap van kerkgeboue en pastorieë, nadat die NGKA besluit het om nie deel van die VGK te word nie en verskeie gemeentes geskeur het.

    Kgatla het die NGKA as ’n verkleurmannetjie en ’n tweegatjakkals bestempel, omdat dié kerk aan die een kant deel wil wees van gesprekke oor versoening en kerkeenheid, maar andersyds voortgaan om VGK-gemeentes en -predikante uit kerkgeboue en pastorieë te jaag. Ná ’n feitesending by hoofsaaklik Vrystaatse gemeentes het Kgatla verskeie voorbeelde genoem van gebeure wat sy kerk as skreiend beleef. Só is daar gevalle waar die NGKA op kerkgeboue en pastorieë aandring, maar as hy dit kry, dan verhuur hy dit aan sekulêre instansies, omdat sy gemeentes – wat uit enkele gesinne bestaan – dit nie kan benut nie. Aan die ander kant sit VGK-gemeentes met honderde lidmate dan op straat. Kgatla het van een predikant vertel wat nou sonder ’n dak oor die kop sit.

    Binne die VGK is daar ook sterk bedenkinge oor die rol wat die Vrystaatse NG Kerk speel. Daar word geredelik van ’n derde mag gepraat. Kgatla het aangedui dat ’n ondersoek in die aktekantoor getoon het dat die meeste van die eiendomme wat in dispuut is, in die naam van die NG Kerk geregistreer is. Kaapse VGK-leraars hier het duidelik ’n sterk gevoel van solidariteit met hul Vrystaatse kollegas. Ds. Mary-Ann Plaatjies-Van Huffel, aktuarius van die Kaapse sinode, het byvoorbeeld reguit gevra of die Kaapse deel van die VGK kan voortgaan met die verenigingsproses soos wat hulle dit nou doen, terwyl hul Vrystaatse kollegas so ly. Een van die gedagtes wat hier geopper is, is dat daar in die Kaapse VGK ’n fonds gestig kan word om sy Vrystaatse kollegas te ondersteun. Kgatla het gesê Vrystaatse VGK-lede dreig om die NG Kerk in Afrika en die NG Kerk in talle gemeentes na die gelykheidshof te sleep. Een só ’n saak is reeds in die VGK se guns beslis. Hulle oorweeg ook om hul sake na grondeisehowe te neem of om politici te betrek en só die hele kwessie te verpolitiseer. Kgatla het hulle aangeraai om te wag met sulke drastiese stappe terwyl hy ’n skietstaking probeer beding. As die NGKA hom nie daaraan steur nie, kan die Vrystaatse VGK besluit om sy planne uit te voer. Neels Jackson    Inhoud

 

Onenigheid oor belydenis van Belhar sleep voort

Grondslag ‘moet eers uitgesorteer word’; Burger, 31.08.2007

BELHAR.  Die posisie van die belydenis van Belhar in die proses van hereniging van die NG Kerkfamilie is klaarblyklik nog glad nie uitgesorteer nie. Nadat die VGK se leiers verlede jaar aan die NG Kerk gesê het dat dié kerk die aanvaarding van Belhar nié as voorwaarde vir kerkeenheid stel nie, is daar wyd geglo dat Belhar nou nie meer ’n struikelblok op die pad na kerkeenheid is nie. Op ’n konferensie oor kerkeenheid was hier gister egter duidelik kommer in VGK-geledere oor die manier waarop daar nou oor Belhar gepraat word. Ds. James Buys, vorige moderator van die VGK se algemene sinode, het klem daarop gelê dat die belydenisgrondslag van ’n nuwe kerk uitgesorteer moet word voordat daar tot kerkeenheid oorgegaan word. Dit klop blykbaar ook met ’n regsmening wat deur die moderature van die vier kerke ingewin is. Buys sê die belydenisgrondslag is belangrik omdat dit die raamwerk verskaf waarbinne die Skrif in die kerk vertolk kan word. As daar geen belydenisgrondslag was nie, sou iemand byvoorbeeld kon sê dat God op grond van sy vertolking van die Bybel as ’n Vier-eenheid gesien kan word. Dit sou ’n krisis vir die kerk skep as daar nie ’n belydenisskrif is om die vertolkings te kontroleer nie.

    Prof. Thias Kgatla, huidige moderator, het egter daarop gewys dat daar destyds met die aanvaarding van Belhar deur die NG Sendingkerk en met die latere kerkvereniging om die VGK te vorm, ruimte geskep is vir mense wat nie dadelik gereed was om Belhar te aanvaar nie. Daar was ’n wye gevoel by konferensiegangers dat die ooreenkoms tussen die vier kerke oor Belhar só ’n ruimte wil skep, maar dat dit nie op ’n vrye keuse vir altyd neerkom nie. Mense wat nie gereed of gewillig is om Belhar te aanvaar nie, moet volgens Buys hulself uit die Skrif daarvoor verantwoord en hulle moet deur die kerk begelei word om Belhar te aanvaar. Buys sê in die inligtingstukke wat die NG Kerk aan sy gemeentes gestuur het, sien hy niks van só ’n proses nie. Dit lyk daarvolgens of mense bloot kan kies om Belhar nie te aanvaar nie.

    Kgatla het sy teleurstelling uitgespreek omdat die NG Kerk ná sy algemene sinode op sy eie inligtingstukke aan sy gemeentes gestuur het. Hy het gesê die vier kerke het vroeër ooreengekom om gesamentlike stukke op te stel en gelykluidende inligting aan hul gemeentes te versprei. Kgatla sê hy weet nie waarom die NG Kerk dié onderneming verbreek het nie.  Toe hy hulle daaroor gekonfronteer het, het hulle flou verskonings gehad.  Neels Jackson    Inhoud

 

NG Kerk soek feite oor ‘knoeiery’ in Vrystaat

Beeld, Sep 03 2007

Sit die feite op skrif. Dís die NG Kerk se reaksie op beweringe uit die Verenigende Gereformeerde Kerk dat die NGK ’n bydraende rol speel om verhoudinge tussen die VGK en die NG Kerk in Afrika in die Vrystaat te versuur. Prof. Piet Strauss, moderator van die NGK se algemene sinode, sê hulle het dié versoek verlede week tydens ’n vergadering van die moderature van die kerke aan die VGK gerig. Strauss sê die bewerings oor die Vrystaatse NG Kerk word nou al die afgelope paar jaar gemaak, maar hulle het nog nie feite daaroor gekry nie. As hulle die feite kry, kan hulle dit ondersoek, want ’n saak het altyd twee kante. Strauss sê die NGKA vind die siening beledigend dat dit die NG Kerk is wat agter die NGKA se verset teen die VGK sit. Dit impliseer dat die NGKA nie hul eie besluite kan neem nie, maar aan hul neuse rondgelei word.

    Die Vrystaatse moderatuur van die NG Kerk se standpunt die afgelope jare is dat hulle nié kant wil kies tussen die VGK en die NGKA nie. Hulle wil met albei kerke goeie verhoudinge hê. Oor die belydenis van Belhar sê Strauss dat dit nie sy persepsie is dat die belydenis van Belhar volgens die ooreenkoms wat die VGK en die NGK verlede jaar bereik het, ooit verpligtend gemaak sal word nie. As dit sou gebeur, sal daar geweldige weerstand daaroor binne die NGK wees, want daar is baie weerstand teen Belhar in die NGK. Prof. Thias Kgatla, moderator van die VGK, het Donderdag op ’n konferensie oor kerkeenheid in die Kaap gesê die gedagte is dat daar ruimte geskep word vir mense wat nie nou die belydenis van Belhar wil aanvaar nie, maar dat alle nuwe predikante in ’n verenigde kerk Belhar moet aanvaar.  njackson@beeld.com    Inhoud

 

Verklaring deur die 4 Moderators van die Kerke van die NG Kerkfamilie

Na afloop van die konferensie is ‘n mediaverklaring deur die 4 moderators uitgereik. Ons sinode het nie die verklaring ontvang nie, maar ek haal aan uit Vrydagnuus:

    Die 4 Moderators van die kerke NG Kerkfamilie in Suid-Afrika neem kennis dat sekere sake die huidige proses om tot groter eenheid in NG Kerkfamilie te kom, strem of kan strem. Ons verwys na:

*  Die voortslepende dispute oor kerklike eiendomme en die vraag of hierdie eiendomme deur die VGKSA of NGKA benut moet word.

*  Bewerings wat in die geledere van die verskillende kerke ten koste van sekere van die ander kerke in die familie gemaak word.

*  ‘n Gebrek aan onderlinge vertroue wat verhoog word deur skerp opmerkings wat onderling teen mekaar gemaak word.

*  Onduidelikheid oor die toekomstige posisie van die Belydenis van Belhar in ‘n nuwe kerkverband.

    As uitgangspunt vir enige verdere optrede of onderhandelings wil ons die volgende vertrekpunte wat reeds by die onlangse eenheidskonferensies by Achterbergh aanvaar is, opnuut onderstreep.

*  Ons bly moreel verbind tot groter eenheid in die NG Kerkfamilie waaronder die vorming van een kerkverband.

*  Terugslae op hierdie pad nie is nie onverwags nie, maar struikelblokke wat uit die weg geruim moet word. Juis omdat ons Christen-gelowiges in ‘n geestelik verdeelde Suider-Afrika is, het ons nou die geleentheid en verantwoordelikheid om ‘n voorbeeld te gee van hoe sulke probleme hanteer moet word. Die feit dat al vier kerke vanuit gereformeerde belydenisse of dieselfde kernoortuigings werk, verhoog die moontlikheid om hierdie probleme soos Christelike kerke te hanteer.

*  Ons erken ook die rykdom van die verskeidenheid in ons kerke. Hierdie verskeidenheid gaan nie oor sake wat ons geestelik verdeel nie, maar dinge soos die taal, bedieningstyl en identiteit van elke kerk. Ons is oortuig dat enige vorm van eenheid in die familie hierdie verskeidenheid in die eenheid van die kerk moet akkommodeer.

    Tydens ‘n vergadering oor moontlike struikelblokke in die huidige proses, het ons met dank van die volgende kennis geneem:

*  Die bewerings dat die NGKA “’n tweegatjakkals” is, is nie die amptelike houding van die VGKSA nie, maar ‘n opmerking wat vanaf die vloer tydens ‘n VGKSA-konferensie gemaak is.

*  Die VGKSA beskou die aanvaarding van Belhar steeds nie as ‘n voorwaarde vir kerkeenheid nie. Nie aan die begin nie en ook nie later nie. Omdat Belhar ‘n belangrike rol in die VGKSA speel, is dit egter verstaanbaar dat die aanvaarding daarvan deur lede van die NG Kerkfamilie vreugde in die VGKSA sal veroorsaak.

*  Bewerings dat die NG Kerk in die Vrystaat ‘n derde mag agter die weerstand van die NGKA teen die prysgawe van eiendomme aan die VGKSA is, sal in ‘n memorandum *  van die VGKSA in antwoord op ‘n memorandum van die NGKA oor struikelblokke, aangespreek word.

Onderlinge verskille, dit bly ons aanvaarde benadering, moet direk met mekaar bespreek word en nie deur ander instansies soos die media nie. Die sensitiewe aard van die eenheidsproses maak direkte gesprek noodsaaklik.

 

Prof Thias Kgatla (VGKSA)

Prof Piet Strauss (NG Kerk)

Ds Johannes Ramolahlehi (NGKA)

Rev Bennett Shunmugam (RCA)

5 September 2007     Inhoud

 

Onmin oor Belhar in kerkfamilie : VGK distansieer hom van verklaring

Neels Jackson
Die moderatuur van die al­gemene sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) het dié kerk gedistansieer van ’n verklaring van die vier moderators in die NG Kerkfamilie, onder wie die VGK se eie moderator, oor die belydenis van Belhar.
Verlede week het die moderators van die vier kerke, onder wie prof. Thias Kgatla, moderator van die VGK, in ’n gesamentlike verklaring gesê die VGK “beskou die aanvaarding van Belhar steeds nie as ’n voorwaarde vir kerkeenheid nie – nie aan die begin nie en ook nie later nie”.
Hieroor het prof. Piet Strauss, moderator van die NG Kerk, gesê soos hy dit verstaan, beteken die ooreenkoms tussen die kerke nié dat daar van alle nuwe predikante in ’n herenigde kerk verwag sal word om Belhar te onderteken nie.
As dit wel die geval moes wees, beteken dit moeilikheid, het hy gesê. Dit sal nie in die NG Kerk aanvaar word nie.
Kgatla was huiwerig om kommentaar te lewer, maar het gesê daar moet verder hieroor gepraat word.
Nou het die VGK se algemene sinodale moderatuur, onder wie Kgatla en dr. Allan Boesak, in hul eie verklaring gesê die verklaring van die vier moderators verteenwoordig nie die VGK se standpunt oor Belhar nie.
Vir die VGK is Belhar “onvervangbaar en onvervreembaar”.
Hul standpunt, wat volgens die VGK-moderatuur ook vervat is in die dokumente oor kerkeenheid waaroor die vier kerke konsensus bereik het, behels:
*  Dat die belydenis van Belhar in ’n nuwe kerkverband as vierde belydenisskrif ingesluit word;
*  Dat die ondertekening en aanvaarding daarvan deur elke enkele predikant van die ander drie kerke nie as voorwaarde vir kerkeenheid sal geld nie;
*  Dat leraars en lidmate wat daartoe bereid is, dit wel sal kan aanvaar en onderteken;
*  Dat die groei na ’n volle aanvaarding van Belhar as integrale deel van die prosesse van ’n nuwe kerkverband gesien word; en
*  Dat die gesprek oor Belhar tussen al vier kerke voortgesit word met die oog daarop om ooreenkoms oor die Bybelse inhoud van Belhar te bereik.
Die VGK se moderatuur sê hulle kan die proses van die volle aanvaarding van Belhar nie as ’n voortdurende oop en onbesliste proses sien nie.
njackson@beeld.com    Inhoud

 

Bybel-Media – jou bedieningsvennoot

HBI se kursusse gaan van krag tot krag

Bybel-Media se korrespondensiekursus wat deur die Hugenote Bybel-Instituut (HBI) aangebied word, gaan van krag tot krag. 'n Rekordgetal van méér as 250 studente volg op die oomblik een van HBI se kursusse.

        83 studente het vir die gewilde kursus oor traumaberading, wat die bekende skryfster Maretha Maartens opgestel het, ingeskryf.

        Daar is nog vier ander kursusse: Jeugbediening, Sending, Bybelkunde en Etiek. Met die oog op 2008 gaan die Etiekkursus heeltemal hersien word. Skakel +2721 864 8283 vir meer inligting óf om vir een van die kursusse in te skryf.

        Die kursusse is per korrespondensie en op 'n na-matriekvlak. Al die kursusse is by die Sentrum vir Kontekstuele Bediening aan die Universiteit van Pretoria geakkrediteer.

Christian Handbook 2007-2008 Nou Te Koop!

Die South African Christian Handbook is onontbeerlik vir almal wat ernstig is oor die verskillende kerke se werk in Suid-Afrika! Hierdie boek bied ‘n formidabele lys van inhoud en kan tereg die "kerklike geelbladsye" van Suid-Afrikaanse kerke genoem word. Behalwe vir inligting oor die hoofkantore van die onderskeie kerke, is daar ook inligting oor kampterreine, huise vir vigswesies, beradingskantore en nog talle meer.. Die boek bevat ook verwerkte statistiese inligting oor byvoorbeeld mense sonder godsdiens; armoede en vigs en die kerk; waardesisteme; kerk en sensus.

Prys per eenheid (boek): R154.50 (14 % BTW ingesluit)

Inligting, Navrae en Diensverskaffing:

Skakel  +27 21 8736971

*  Of stuur jou bestelling per e-pos na: bestel@bmedia.co.za

*  Of koop direk met jou kredietkaart op die webtuiste: www.bybelmedia.co.za    Inhoud

 

Nuut by LuxVerbi-BM

Ferdinand Deist was ‘n geliefde prediker, spreker en leermeester en sy boeke is in die 1980’s en in die 1990’s uitgegee. Dit is egter só gewild dat Lux Verbi-BM besluit het om dit nuut te verwerk en weer uit te gee. Hier word drie daarvan bekend gestel.

Oorstaptyd

Gedagtes oor geloof in krisistye

Ferdinand Deist

Krisisse in ‘n mens se lewe kan óf rampe óf geleenthede wees. Geloof in die nabyheid van God kan die verskil beteken tussen dié twee moontlikhede. ‘n Mens kan jou die lewe voorstel as ‘n treinreis tussen twee stede sonder ‘n direkte verbinding. Maar daar is ‘n belangrike verskil tussen ‘n gewone treinreis en ons lewenstreinreis omdat jy in die lewe nie weet waar en wanneer jy na watter nuwe trein moet oorklim nie. Jy het ook geen sê oor jou aankoms- en vertrektye nie. Die “oorstapstasies” tydens jou lewensreis is meestal lewenskrisisse wat jou onverwags, en dikwels teen jou sin, dwing om ‘n ander koers in te slaan. Soos eensaamheid, teleurstelling, bekommernis, lyding, dood, ouderdom, kleingeloof en vele meer.

Ferdinand Deist se aangrypende boek oor geloof in krisistye kan selfs die mees siniese leser oortuig dat geloof in God die sinvolheid van die lewensreis waarborg.

Prys:  R89,95  Bestellings:  0860 231 231

Nagdissipels

Oor kwelvrae van die geloof

Ferdinand Deist

Daar sal altyd ‘n paar vrae wees wat denkende Christene kwel. In die boek word dié vrae van naderby bekyk om sodoende lesers ‘n nuwe perspektief te gee op sekere van die besware wat teen die Christelike geloof geopper word. Daar is mense wat maklik, kinderlik, kan glo en dan is daar dié (en hul word al meer) wat “moeilik” glo en voortdurend geteister word deur “hoekom”-vrae. Dink maar aan Job, Jeremia, Tomas of Nikodemus – die vooraanstaande rabbi wat gefassineer is deur Jesus, wat dalk sy dissipel sou wou word, maar te onseker was oor Jesus se aansprake om Hom openlik te volg. Toe gaan besoek hy Jesus in die nag. Dit is vir hierdie soort “nagdissipels” dat Deist hierdie boek geskryf het: mense wat graag wil glo, maar sukkel om sonder vrae te glo.

Prys:  R69,95  Bestellings:  0860 231 231

Nalopers ... of navolgers?

God se genade is gratis, maar nie goedkoop nie

Ferdinand Deist

Dit is maklik om die boodskap van die Bybel te verander in ‘n stukkie goedkoop hemelpastei en dis maklik om die evangelie wat so duur gekos het, ‘n betekenislose trooswoordjie te maak.

Die boodskap van die Bybel is juis dat die navolging van Christus moeilik is. Ware uitlewing van jou geloof is harde werk. Dis dóén in plaas van net sê.

Die navolging van Christus eis veel, veel meer as om ‘n naloper van Christus te wees, of om net saam te stem met die Christelike beginsels – jy sal jou moue moet oprol en werklik volg!

Prys:  R79.95  Bestellings:  0860 231 231

Een dag op ‘n slag: Bemoedigings vir mense met kanker

Randy Becton

Wanneer ‘n dokter die “k”-woord en jou naam in een sin gebruik, beland jy onverwags en teen jou wil in ‘n onbekende en oorweldigende w�reld. As jy nie self in die mediese veld is nie, moet jy baie gou ‘n hele nuwe taal aanleer. Jy moet toekyk hoe jou geliefdes reageer op die nuus terwyl jy niks aan hul hartseer en kommer kan doen nie. Jy kom tot die besef dat jy nie so in beheer van jou lewe is soos wat jy gedink het nie. Jy voel weerloos en bang.

Vind vertroosting in 33 dagstukkies en Skrifgedeeltes van iemand wat self kanker oorwin het.

Navrae: Conette Hamman conette@luxverbi-bm.co.za    Inhoud

 

Soek God se moederhart

Pieter van Niekerk; in Rapport, 01/09/2007, skryf die volgende:

Pasop vir ’n manlike Godsbeeld. Waak teen die koppeling van geloof in God en geweld, waarsku die Anglikaanse Kerk in Engeland sy lidmate onlangs. Volgens Kerkbode het die kerk dit daaroor dat ’n manlike Godsbeeld mans kan aanstig tot gesinsgeweld. Geestelike leiers in die kerk het nuwe riglyne ontvang om te voorkom dat mans hul vrouens slaan. Te veel mense beskou die Bybelse God en die Christelike tradisie as potensieel onderdrukkend, meen die kerk. Veral die gewelddadige aksies wat in die Ou Testament aan God toegedig word, het volgens die waarskuwing versigtige uitleg nodig.... Vir geloofsgemeenskappe – alle geloofsgemeenskappe – beteken dit selfondersoek, veral omdat die meeste Suid-Afrikaanse burgers hul geloof in ’n God erken of bely. Geloof veronderstel ook die bevordering van moraliteit. Die algemene sinode van die NG Kerk het hom daartoe verbind om alles in sy vermoë te doen om by te dra tot die genesing van ’n misdaadgeteisterde samelewing. Sy lidmate word daaraan herinner dat niemand ’n vinger na ander kan wys as sy/haar persoonlike integriteit en optrede nie onbesproke is nie. Reg genoeg, maar dié verslag gee nie aandag aan die moontlike invloed van geloofsbeskouings op geweld en misdaad nie. Christen-ekstremiste, Joodse reaksionêre en Islamitiese fundamentaliste word deur hul geskrifte tot geweld geïnspireer. Watter invloed het gewone mense se geloof (in my konteks die Christelike geloof) op hul daaglikse handel en wandel? ...

Die meeste stories in die Bybel wat God aan geweld koppel, moet deur die kulturele bril van die Bybelskrywers gesien word. Die mense van die antieke tye het geglo God of die gode het ’n rol in alle gebeure. Die Ou Testament het bestaan uit ’n rykdom van aanhalings uit ou bronne soos die Boek van die oorloë van die Here, soos Numeri 20:14-15 aandui. Wanneer die skrywers nie die ou bronne gebruik nie, lyk hul prentjie van God anders. Dan lees ons van God se deernis en ontferming soos “God sorg dat die weduwees en weeskinders regverdig behandel word en Hy het mense van ander volke ook lief en gee vir hulle kos en klere” (Deuteronium 10:18). Klaus Nürnberger skryf oor die geweld en misdadige tendense in die Bybel “ons kan en mag dié uitsprake nie verdedig net omdat dit in die Bybel staan nie. As ons God se liefde wil uitleef, kan ons vandag beslis nie meer sulke taal gebruik en sulke sienings handhaaf nie.

“As ons sulke beskouings in die Bybel nie aan kritiek mag onderwerp nie, kan ons ook nie die vrymoedigheid hê om dit in die hedendaagse lewe te doen nie.” God word telkemale in die Bybel met ’n moederhart en vroulike eienskappe uitgebeeld, soos die Gees wat “geboorte gee” en God wat “wonde genees”, “versorg” en “troos”.  Ek dink ons moet meer en meer God se moederhart ontdek, integreer en illustreer. Dit is belangrik dat mense God se sagte, strelende hande van liefde, deernis en genesing beleef en dat ons dit uitleef. Christene – en ander geloofsgroepe – kan ’n verskil in ons misdaadgeteisterde land maak deur oor God se moederhart te getuig.

Dr. Pieter van Niekerk is ’n predikant in die VGK, George.

 

 

Groete tot ons weer gesels,

Danie Mouton

Skriba Sinodale Kommissie

Inhoud