Amptelike Nuusblad : NG Kerk in Oos-Kaapland

 

OosKaap eNuus

 

Visie: Een, heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges

 

Jaargang 6  -  Nommer 32 - 9 Oktober 2008  -  www.ngkok.co.za/enuus

 

Teken in                                                                       Beëindig intekening

 

 

 

INHOUD

Grahamstad loop deur onder mini-tornado

VGKSA se bespreking van Lesbi/Gay-verslag maak opslae - lees die verslag self

 

Kerkeenheid:

-  Kerkhereniging: katastrofe op katastrofe

-  Swaard van irrelevansie

-  Volledige besluit van die VGKSA re Kerkhereniging

-  Verklaring deur die Moderatuur Algemene Sinode oor die VGK Algemene Sinode

-  Oos-Kaapse moderatuur besin oor kerkhereniging

 

Missie Japan Oos-Kaap bekendstelling

Mercy Ministries as “voertuig” om eenheid en versoening met die kruis as middelpunt te bewerk.

Liturgie van die Lewe: Werkswinkel ‘n groot sukses

‘n Verbeeldingryke rekenaarkamer-bediening om grense in die middestad oor te steek

Manne-ontbyt saam met dr. Stéphan van der Watt

Die Heartline-inisiatief bring “Hopevillena jou TV-skerm

Hoe om jou lewe te verwoes voor jy 16 is

Bybel-Media Nuusbrief

Bestelvorm vir Kerkjaarboek 2009 op die web beskikbaar

Reclaiming Paul : An Emergent Discussion

Elke uur van die horlosie het 'n boodskap

 

 

Grahamstad loop deur onder mini-tornado

Ons harte gaan uit na die mense van Grahamstad wat groot skade gelei het nadat ‘n mini-tornado die dorp op Woensdag (gister) getref het. Ook in Port Elizabeth en op verskeie Oos-Kaapse dorpe is groot skade aangerig. ‘n Grasdakhuis in Sherwood, Port Elizabeth, het afgebrand nadat dit deur weerlig getref is.

By die skryf hiervan is dit nog nie bekend of die reën uitkoms vir die droogtegeteisterde dele in die weste van die Oos-Kaap gebring het nie. Ons vertrou so.

Inhoud

 

VGKSA se bespreking van Lesbi/Gay-verslag maak opslae - lees die verslag self

Die venyn van die bespreking van die verslag oor gays tydens die VGKSA se Algemene Sinode het daartoe gelei dat dr Alan Boesak uit alle poste waartoe hy in die kerk verkies is, bedank het. Volgens die afgelope naweek se koerant het hy nog nie sy hand op papier gesit om te bedank nie, maar groei die oortuiging in hom dat dit inderdaad die regte ding is om te doen.

Julle behoort daarin geïnteresseerd te wees om die volledige verslag te lees. Dit is op ons webblad beskikbaar - klik hier. Die dokument poog om vanuit ‘n duidelik-omlynde verstaansraamwerk oor die uitleg van die Bybel te dink, en - uniek - om Afrika-perspektiewe in berekening te bring. Die Belydenis van Belhar word ook as invalshoek gebruik.

Inhoud

 

Kerkhereniging: katastrofe op katastrofe

Die pasafgelope algemene sinode van die VGK te Hammanskraal was ‘n katastrofiese week vir kerkhereniging. Benewens die moratorium wat die VGK op kerkherenigingsgesprekke geplaas het, iets wat sy aanloop het in die Carmelite-besluite van die uitgebreide moderamen van die algemene sinode (Junie 2008), het prof Piet Strauss se groete-boodskap ontaard in wat as ‘n persoonlike aanval op prof Thias Kgatla deur die VGK beskou is.

Ek het verskeie menings hieroor gehoor:

In ontledende gesprekke, word gesê dat die NGK-leierskap die konsekwensies van hul besluite, na aanleiding van die terugvoer uit gemeentes, totaal onderskat het. Die VGK se reaksie was voorspelbaar en moes voorsien kon word.

Dit blyk ook nou dat die NGK nie alleen oor die terugvoer uit gemeentes moes besin nie. Die geskikte forum daarvoor was ‘n Achterbergh-tipe konsultasie waar al die deelnemende kerke saam daaroor kon besin. Dit sou die VGK in ‘n konstruktiewe sin mede-verantwoordelik maak om die wantroue in sekere NG-oorde te hanteer.

Verder word die VGK van oor-reaksie beskuldig. Die VGK het die morel hoë grond so vasberade opgeëis, en veral ouer NGK-lidmate oor ‘n lang tyd konsekwent beskaam, dat die VGK naïef is om te dink wit NG-lidmate sal Belhar in groot getalle wil omhels. Beskaming en etikettering is nie die styl van die evangelie nie. Indien die VGK werklik in die greep van Belhar is, sal hulle nie so gladweg afstap van kerkherenigingsgesprekke nie.

Ander kommentaar is dat die Belhar-dispuut ‘n muwwe debat is wat eintlik lankal afgehandel behoort te wees. Dis blote rassisme dat die NG Kerk Belhar nie as belydenis wil aanvaar nie. Terwyl die NGK en VGK soveel energie aan ja of nee vir Belhar bestee, is die kerke in ‘n groeiende krisis rondom sake soos die verlies aan lidmate en die onvermoë om jonger mense volledig in hul bedieninge in te skakel. Hierdie vryval na irrelevansie word nie eers raakgesien nie, want die energie in die kerke word in ‘n misplaaste posisionering oor strydpunte gekanaliseer. Dis soos twee honde wat verwoed oor ‘n been baklei, en nie sien die bus gaan hulle binne sekondes trap nie.

‘n Dominee, wat goed bekend is met beide NG en VG-kontekste, sê dat daar skynbaar soveel agendas in die nasionale gesprek is, dit is eintlik goed dat dié gesprek tot stilstand gekom het. Hoe meer mense (deur hul eie kortsigtige toedoen) op die vlak van meerdere vergaderings stilbly, hoe minder sal dit die hartlike samewerking en groei na organiese eenheid, wat reeds op grondvlak aan die gang is, kan beduiwel.

As belydenisskrifte gebruik kan word om Christene uitmekaar te hou, sal dit veel beter wees as die kerk géén belydenisskrifte het nie.

Vir Neels Jackson se hoë kwaliteit beriggewing oor dié sinode en ander kerksake kan julle op hierdie skakel klik.

Inhoud

 

Swaard van irrelevansie

(Lourens Schoeman, Die Burger, 4 Okt 2008)

Indien kerke in Suid-Afrika die swaard van irrelevansie bo hul koppe voel, steek hul­le dit soms baie goed weg. Net verlede maand is berig kerkgangers het met 22% afgeneem sedert verlede jaar, volgens die Amps-syfers van die Suid-Afrikaanse Reklamenavorsingstigting.

Intussen het die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) dié week op Hammanskraal, waar hy sinode hou, finaal sy humeur verloor met sy Nederduits Gereformeerde suster (NGK). Die algemene sinode plaas ’n moratorium op die herenigingsgesprek tussen die VGK en NGK totdat die NGK “ernstig, toegewyd en gereed” is vir eenheidsgesprekke.

Praat van ‘n eenheid-opstopper.

Dr. Braam Hanekom, moderator van die NGK-sinode van Wes- en Suid-Kaapland, reageer op die VGK se afsê met iets van ’n wedstrydplan vir dié “hartseer situasie”:

“Die moderatuur wil hiermee ’n dringende versoek rig tot gemeentes en leraars om op plaaslike vlak met hernude ywer na mekaar as familie van die NG Kerk uit te reik om verhoudinge te verstewig en toegewyd die ideaal van kerkeenheid na te streef. Op moderatuursvlak sal ons graag dieselfde wil doen.”

Die VGK het egter dié week weer ’n lyn in die sand getrek, wat die kerkbankies vir Belhar-agnostici waarskynlik net daai bietjie harder en ongemakliker sal maak: “(Die sinode besluit) dat die geloof, moed en werk van plaaslike sinodes, ringe, kommissies van die kerk en plaaslike gemeentes gerespekteer en eerbiedig sal word deur hulle aan te moedig, waar alle pogings tot vereniging uit geloofsoortuiging en met integriteit aangewend word, in gehoorsaamheid tot die wekroep deur Christus en op die grondslag van die aanvaarding van die Belydenis van Belhar, om vol te hou met dié pogings; om sodoende tekens te bly van hoop, versoening en liefde, ter volvoering van geregtigheid, die opvoeding en getuienis van die kerk en die heerlikheid van God.”

Vir die Latyns-vermoeides onder ons wat moes leer hoe dié geskrif rondom 1982 uit ’n Status confessionis (staat van belydenis) tot stand gekom het, is daar nou dus boonop sprake van ’n soort sine qua non met betrekking tot die inhoud van Belhar. Wel, niemand het gesê eenheid is eenvoudig nie.

Inteendeel, dr. Hanekom gaan so ver as om te sê: “Ons sal nooit van die feit kan wegkom dat die groot rasseskeiding in die land onder meer gebou is op van die standpunte wat in die NGK geformuleer is en ook gemaak het dat daar in die familie vier rasgebonde kerke tot stand gekom het nie.

“Hierdie virus van verdeeldheid kleef steeds in baie opsigte aan die land. Ons het ’n verantwoordelikheid om dit reg te maak.”

’n Verdere garnering by die onminresep tussen die VGK en NGK dié week was prof. Piet Strauss, moderator van die NGK, se groetboodskap aan die VGK-sinode, wat laasgenoemde genoop het tot die amptelike versoek tot ’n repudiëring van Strauss.

Die sinode het trouens sy “totale teleurstelling” uitgespreek oor wat hy beskryf as ’n persoonlike aanval op die moderator, prof. Thias Kgatla.

Intussen, op Piketberg, word die kerk daar se 175ste verjaardag gevier – met musiek deur Manuel Escorsio.

Inhoud

 

Volledige besluit van die VGKSA re Kerkhereniging

Die volledige besluit van die VGKSA se Hammanskraal Algemene Sinode re kerkhereniging is op ons webblad beskikbaar (met dank aan Ben du Toit van Vrydagnuus).

Inhoud

 

Verklaring deur die Moderatuur Algemene Sinode oor die VGK Algemene Sinode

Na aanleiding van die gebeure by die Algemene Sinode van die VGK, het die moderatuur van die NG Algemene Sinode ‘n verklaring op 3 Oktober 2008 uitgereik. Dit sluit ‘n onvoorwaardelike verskoning aan die VGK oor die groeteboodskap van prof Piet Strauss in. Die moderatuur rig ook ‘n versoek om die VGK leierskap te ontmoet.

Inhoud

 

Oos-Kaapse moderatuur besin oor kerkhereniging

Die Oos-Kaapse moderatuurslede het tydens ‘n ad hoc gesprek besin oor die inset wat ons graag oor kerkhereniging wil lewer. Daar is ‘n vaste oortuiging in die Oos-Kaap (sien maar die dokumente van die afgelope sinodale vergadering) dat ons hard op grondvlak moet werk aan verhoudinge. Die moderatuur meen dat hierdie energie gebruik moet word om gemeentes op eie inisiatief, en onder hul eie, plaaslike leierskap te help om nader aan mekaar te groei.

Juis die verwikkelinge op grondvlak, dwing die leiers op die vlak van ring en sinode om met mekaar te bly praat.

Hierdie siening is kort voor die Algemene Sinode van die VGK, maar nadat gesprekke reeds opgeskort is, aan die VGK Kaapland gekommunikeer. Klik hier vir die volledige skrywe.

Inhoud

 

Missie Japan Oos-Kaap bekendstelling

Ons Sinodale Kommissie amptelik hul seën oor die Missie Japan-werksaamhede uitgespreek en moedig gemeentes aan om die projek te ondersteun. Die SK is dankbaar dat hierdie projek (weer eens) ‘n stap vorentoe neem deur middel van ‘n Oos-Kaapse leraarspaar. Eers het ds Tobieen Annelie de Wet in 2000uit Port Elizabeth  teruggekeer Japan toe, en nou gaan hul dogter, Carina, en haar eggenoot, dr Stéphan van der Watt vroeg in 2009 ook aansluit by die bediening van die Reformed Church in Japan.  Die Oos-Kaap het al hoe meer en meer belang by die werk in Japan!

Hiermee verskaf Stéphan die besonderhede van besoeke wat hy eersdaags aan gemeentes in ons omgewing bring:

Do 16 Okt: Cradock (10h30); Kingfisher Radio-onderhoud (16h00)

Vry 17 Okt: Humansdorp-Moedergemeente (10h00)

Sat 18 Okt: Bless the Nations Sendingskool (14h00)

Son 19 Okt:  NGK Walmer (09h00); RCA Calvary in Malabar 10h30 (erediens), 14h00 (bekendstelling) en 15h00 (gebeds-geleentheid)

Ma 20 Okt: NGK Gamtoosvallei-Oos (12h00); NGK Newtonpark (18h30)

Di 21 Okt: NGK PE-Wes (09h00); NGK Uitenhage-Noord (18h30)

Woe 22 Okt: NGK Sondagsrivier-Kirkwood (19h00)

Do 23 Okt: NGK Jeffreysbaai (12h00 voorlopig); NGK Joubertina (19h00)

Son 26 Okt: NGK Humansdorp-Oos (09h00 en 18h00)

Enige iemand is welkom om enige van die byeenkomste by te woon. Indien jy nie een van die bekendstellings-geleenthede kan bywoon nie, kontak my gerus dan maak ons ‘n ander afspraak in die oop tye tussenin. Baie dankie!

Vrede

Stéphan

jsvdwatt@lantic.net  /  084 513 8516 

Inhoud

 

Mercy Ministries as “voertuig” om eenheid en versoening met die kruis as middelpunt te bewerk.

Lizeth Taljaardt van Colesberg lê hierdie praktiese getuienis af oor die verskil wat ‘n versoeningsproses in haar en haar man, ds Japie Taljaardt, en hul gemeente se lewens bewerk het:

Te midde van die stryd van die NG kerkfamilie om eenheid te bewerk glo ek dat daar baie kerkleiers met hulle hande in hulle hare sit, omdat hulle net nie weet waar en hoe om te begin nie. Daar is reeds soveel sake wat aandag moet geniet. Terselfdertyd is daar meningsverskille binne elke gemeente oor dié onderwerp, met die gevolg dat dit baie sensitief benader moet word.

Ons het vyf jaar gelede met Ds. Fanie en Mada Engelbrecht, S.A. Koördineerders van MMSA, kennis gemaak. Intussen het ds. Neels en Annabet Els hulle ook by die voltydse span gevoeg, en saam met Maria Dos Santos (ook voltyds) en ander medewerkers van verskillende etniese afkomste, word werkwinkels regoor die land dwarsdeur die jaar aangebied. Hulle het die afgelope vier jaar vier Healing the Wounds of Ethnic Division werkwinkels en `n Leierskap-opleidingwerkwinkel op Colesberg aangebied. Hulle het ook 'n Pinksterreeks by ons en die VGK aangebied, gebaseer op die werkwinkelmateriaal.

Hulle is 'n geloofsgebaseerde organisasie. Nie een van die permanente werkers ontvang 'n salaris nie. Alles wat hulle doen, word in biddende afhanklikheid teenoor die Here gedoen.

Japie en ek het aan die einde van verlede jaar 'n Retreat saam met die span in Heidelberg bygewoon. Die stigter van Mercy Ministries Internasionaal, Dr. Rhiannon Lloyd van Wallis, het die geestelike toerusting vanuit die Bergpredikasie aangebied. Sy het net teruggekeer van Ruanda, waar die eerste Mercy Ministries werkwinkels ongeveer 12 jaar gelede tussen die christen Hutus en Tutsis aangebied is, en opgewonde vertel hoe hulle nou saamwerk om 'n kerk wat deur die een groep afgebrand is, weer op te bou.

Die volgende stories en getuienisse kom van verskeie werkwinkels in S.A.:

1.         'n Ouerige Kleurlingvrou het dit baie moeilik gevind om haar “pyn” aan die kruis vas te spyker. Na baie trane en berading het sy dit uiteindelik reggekry. Die volgende dag het sy oorgeloop van blydskap en vir die groep vertel: “Gisternag was die eerste nag in 60 jaar dat ek kon gaan slaap sonder om myself aan die slaap te huil.” Haar storie: Toe sy 'n klein dogtertjie van ongeveer 5 was, het hulle op `n plaas gewoon. Haar boetie van 8 het na die vrugteboord gegaan en vrugte gesteel. Die boervrou was op pad terug van die dorp af, en het hom op heterdaad betrap. Sy het besluit om hom 'n stamp met die bakkie te gee, wat ongelukkig sy dood veroorsaak het. Al die plaaswerkers is bymekaar geroep en gewaarsku dat, as hulle met iemand oor die gebeurtenis sou praat, dieselfde lot vir hulle sou tref. Vir meer as 60 jaar het sy nooit daaroor gepraat nie en die aaklige geheim van haar broer se dood in haar hart bewaar. Nou was sy bevry en het volkome genesing ontvang. Sy kon die storie sonder die brandende pyn en bitterheid vertel.

2.         'n Swart pastoor vertel: As jongman het hy in `n kantoor gewerk. Hy moes skoonmaak, tee maak, die baas se koerant bring, ens. Op 'n dag was hy op sy knieë besig om die vloer skoon te maak toe die wit vrou wat ook in die kantoor gewerk het, ingekom het, en vir hom 'n skop gegee het. Daarna het hy gehoor hoe sy en die baas in sy kantoor lag. Hulle het uit die kantoor gekom, na hom gekyk en vir hom gelag. Dit was uiters vernederend vir hom. Hy het tuis vir sy vrou en kinders gaan vertel: “Moet nooit 'n wit vrou vertrou nie.” Vir meer as 50 jaar het hy met hierdie bitterheid in sy hart rondgeloop. Toe hy hierdie storie gedurende die “belydenis” sessie vertel, het die witman ('n afgetrede boer) en wit vrou wat saam met hom was, saam met hom gekniel en sy voete gewas. Hy kon teenoor die groep getuig dat hy genesing van sy pyn ontvang het, en kon nie wag om vir sy vrou en kinders te gaan vertel dat alle wit vroue nie dieselfde is nie.

3.         'n Kleurlingpastoor wat eers tydens die “belydenis”- sessie by die groep aangesluit het, het aanskou hoe 'n wit vrou 'n swart man se voete was, en om vergifnis vra vir al die ongeregtighede van die verlede, toe het 'n wit Engelsman gekom en die pastoor se voete gewas, en om verskoning gevra vir alles wat die Kleurlinge deurgemaak het. Na die sessie het hy homself verskoon en verdwyn. Die aand, nadat feitlik al die verrigtinge klaar was, en die verskillende groepe seëninge oor mekaar uitgespreek het, kom 'n groot groep mense daar aan – almal netjies aangetrek. Toe kom die pastoor en sy vrou in. Hy vra toe 'n spreekbeurt en vertel vir die groep: “Ek het baie rondgereis en as spreker in baie Afrika lande opgetree, maar toe ek vandag hier sit, die belydenisse aanhoor en die voetewas ervaar, het God vir my gewys dat ek 'n rassis is. Ek het 'n diep haat teenoor die Wittes gekoester vir wat hulle aan my ouers en my groep gedoen het. Vandag het die Here my van rassisme genees. Ons moes vanaand 'n gebedsbyeenkoms in ons kerk hê, maar ek het my gemeente gevra om saam te kom. Ek het iets om te doen. Kan ek asseblief die voete was van die twee Wittes wat die werkwinkel gereël het?” Terwyl die trane oor hulle wange gerol het, het hy die voete van die twee organiseerders gewas.

4.         'n Witman wat duidelik baie verbitterd was, het voor die belydenissessie gesê: “Niemand hoef my voete te was nie. Hulle is skoon, ek kan hulle self was as dit nodig is.” maar soos wat die belydenis-sessie vorder, kniel 'n Kleurlingvrou by sy voete en vra om vergifnis omdat sy kinders na Australië moes verhuis a.g.v. die negatiewe omstandighede in S.A., met die gevolg dat hulle nooit hulle kleinkinders sien nie. Voor hy kon protesteer het die res van die Kleurlinge in die groep om hom vergader en om vergifnis gevra en seëninge oor hom gebid. Dit was net te veel vir hom en hy het emosioneel geword.

5.         In een werkwinkel het 'n plaasboer die voete van sy plaaswerkers, wat ook teenwoordig was, gewas, en om verskoning gevra oor ongeregtighede wat deur hom, sy pa en oupa oor baie jare teenoor hulle gedoen is. Die oggend na die werkwinkel het hy al sy plaaswerkers bymekaar geroep, hulle voete gewas en om verskoning gevra.

6.         'n Kleurlingman wat 'n werkwinkel bygewoon het, het vir baie jare vir 'n straat met ongure elemente in sy buurt gebid. Vandag werk hy daagliks in die straat, en deel God se liefde met die uitgeworpenes. Hy het 'n selgroep in 'n restaurant waar dwelmverbruikers en -handelaars, Nigeriërs en mense van ander Afrikastate aandoen, begin. Sy groep het reeds tot 150 gegroei. Hy sê: “Ek weet intensiewe gebed lewer resultate, daarom het ek begin bid vir hierdie straat. Vandag kan ek sê God het nie hierdie straat vergeet nie. Al wat die mense nodig het, is God se Liefde. My liefde en belangstelling sê vir hulle iemand gee vir hulle om as mense. Hierdie opregte liefde bring genesing van hulle verwonding en help hulle om weg te breek van dwelms. Dit is die lering van Mercy Ministries wat my gehelp het om vry te kom van etniese bevooroordeling en die “reg”om te oordeel.”

Kontakbesonderhede van Mercy Ministries:

Ds. Fanie Engelbrecht: Sel. 079 5165428 / 082 3770087. Faks. 086 6471522

epos: mercyminsa@lantic.net

Inhoud

 

Liturgie van die Lewe: Werkswinkel ‘n groot sukses

Paul Odendaal, skriba van die Albanie-ring, vertel dat die onlangse liturgiese werkswinkel oor liturgie van die lewe ‘n massale sukses was.

Die sprekers was Theo Geyser, Marina Strydom en Carel Anthonissen. Kyk gerus op die ring se webblad - www.ngkok.co.za/ringalbanie - na ‘n foto wat tydens die werkswinkel geneem is.

Paul bedank Rudi Swanepoel en Charlene van der Walt wat dit uitstekend gereël het. Dankie ook aan die Sinode wat befondsing verskaf het.

Die Ringskommissie van Albanie het ook ‘n herderlike brief na al die ringsgemeentes gestuur. Dit is beskikbaar in die publieke domein, en daarom ook op hul webblad - klik hier.

Inhoud

 

‘n Verbeeldingryke rekenaarkamer-bediening om grense in die middestad oor te steek

Indien jou gemeente in ‘n sentrale stadsgebied geleë is, waar al die tradisionele NG-lidmate reeds na die voorstede verhuis het, kan jy die kerk se deure sluit en self laat spaander voorstede toe. Of jy kan die grense na die nuwe inwoners in jou area oorsteek, en by hulle leer hoe om hulle te bedien.

Dis wat PE-Sentraal toenemend as gemeente regkry. Dis ‘n pynlike verhaal, want daar is baie onkunde en wantroue by lidmate. Maar dit vul jou ook met energie as jy die krag van die evangelie ervaar wat die mure van skeiding afbreek.

Die omgewing van PE-Sentraal is die tuiste van baie jong, swart studente. Talle is hier vanuit die buiteland. Verder is hier ook baie mense wat ‘n nuwe kans in die lewe nodig het, en as ‘n brug na die hervat van ‘n ekonomies selfstandige lewe groot behoefte aan rekenaarvaardighede het.

Gillie Noeth, leraar, vertel:

Dit is die visie van die kerkraad om ’n rekenaarkamer in die kerkgebou op te stel.  Die doel hiervan is tweedoelig:

1)   Om aan arm en “min geskoolde” lidmate/persone rekenaargeletterdheid te gee met opheffing as doel.  Hierdie geletterdheid kan dan op hulle CV’s aangebring word.  Die minimum registrasiefooi (handleiding ingesluit) van elke leerling kos R400.  Hierdie fooie word oorbetaal aan SkillsPro in Johannesburg wat dan die geakrediteerde sertifikate sal uitreik.  Die rekenaarklasse self sal gratis aangebied word.

2)   Om ’n fasiliteit beskikbaar te stel (teen ’n minimale fooi) vir studente vir navorsing en take.  Die doel hiervan is om die beeld van die gemeente te verander sowel as die gemeente bekend te stel onder soveel swart studente in Sentraal wat nie altyd toegang tot rekenaar fasiliteite het nie.

Hiervoor het die gemeente ten minste 6 rekenaars nodig plus sagteware.  Elke rekenaar sal ongeveer R5 500 kos.  Die totale uitgawe hiervoor beloop dus R33 000.  ’n Verdere koste vir die voorbereiding van die kamer self (sekuriteit, internet, matte, dataprojektor + installering ens.) word beraam teen R15 000.

Die totale uitgawe van hierdie projek word dus beplan teen ’n koste van R48 000 (geen klasgelde is by hierdie bedrag ingesluit nie).  Ons is onseker hoeveel klasgelde sal benodig word, maar daar is reeds ongeveer 15 persone (meeste is buitelanders) wat belangstel.

Die Ring van Port Elizabeth is tans kliphard besig om planne te maak om hierdie bediening moontlik te maak.

Inhoud

 

Manne-ontbyt saam met dr. Stéphan van der Watt

(Stephan is predikant by die NG Kerk Aliwal-Noord en het ‘n doktorsgraad oor die uitdagings van Christen-man wees vandag.)

Saterdag 18 Oktober om 8:00

NG Kerk Somerstrand

Louis Bothasingel 77

Volwassenes R75

Leerders en Studente R50

Kaartjies by Kerkkantoor, NGK Somerstrand 041 583 5115 (kantoorure)

Kom kuier saam met ander manne om ‘n heerlike ontbyt!

(Stephan sal ook die aanddiens van 19 Oktober om 18:30 by Somerstrand lei.)

(En: Stephan se doktorale verhandeling is hier op ons webblad beskikbaar)

Inhoud

 

Die Heartline-inisiatief bring “Hopevillena jou TV-skerm

Lekker opwindende nuus is dat die Heartlines-mense verantwoordelik is vir ‘n nuwe TV-reeks van 6 episodes wat vanaf 24 Februarie 2009 gebeeldsend word. Hier is die amptelike kennisgewing:

Hopeville: A new drama series is currently being developed. Called “Hopeville” this series will tell the gripping story on one man’s effort against all odds to restore a broken down swimming pool in a rural town. His efforts galvanise the people and turns the town from hopelessness to hope. The series has a strong youth and family emphasis. Broadcast is scheduled to start on the 24th February 2009.

My indruk is dat hierdie reeks weer van dieselfde hoë kwaliteit as die vorige reeks, wat oor 8 waardes gehandel het, sal wees. Gemeentes kan gerus moeite doen om nou reeds te beplan om hierdie beeldsending by hul bedieninge in te skakel. Daar word weer ‘n volledige werkboek gepubliseer. Kleingroepe en ander bedieninge kan baie baat vind by die verhaal wat hierdie reeks gaan vertel.

Inhoud

 

Hoe om jou lewe te verwoes voor jy 16 is

Chris Johnsen van Cum-boeke skryf:

Ek wil graag ‘n besondere publikasie onder u aandag bring wat ek glo vir die jeug in Suid Afrika nie net baie kan beteken nie, maar hulle ook diep onder die indruk sal bring van God se genade in ‘n wêreld waar die verleiding van dwelms, drank en seksuele losbandigheid aan die deure van hulle harte klop.

Hoe om jou lewe te verwoes voor jy 16 is  deur Johan Smith,  is ‘n boek wat elke jong mens tot nadenke sal stem. Dit sal hulle onder dit indruk bring van die waarhede van die Bybel en die vreugde wat hulle daaruit kan put deur hulle lewe aan Jesus Christus oor te gee. Lees hier meer oor die publikasie.

Ons sal graag hierdie boek teen ‘n afslag van 25% aan u gemeente wil verskaf indien hoeveelhede van 10 en meer bestel.  Die boek is  beskikbaar by alle CUM winkels regoor die land.

Inhoud

 

Bybel-Media Nuusbrief

Broodnodige katalogusse is reeds aan gemeentes gepos

Jeugfokus katalogus 2009

‘n Wye verskeidenheid produkte vir junior en senior kategese, kleuter- en kinderkerk en jeugbyeenkomste. Opwindende nuwe hulpmiddels vir senior en junior jeuggroepe!

Bybel-Media katalogus 2008/2009

Hierdie volkleur katalogus stel Bybel-Media se hulpmiddels met trots aan jou bekend:  Bybelstudieboeke, dagboeke, boeke wat gemik is op gemeentehulp, die huwelik en gesin; daar is ook ’n wye verskeidenheid DVD’s en CD’s, om maar net ’n paar produk-kategorieë op te noem!

Lees in die November-uitgawe van LIG:

Voorblad:  Henny en sy trouvrou, Marissa.

Terwyl die volmaan soos ’n goue kaas aan die hemelruim hang, gesels Hennie Jacobs (7de Laan se “Diederik”) en sy verloofde, Marissa Vosloo, oor toekomsplanne, gedeelde passies en die Anker in hulle verhouding.

Kuier saam by:  Derek van Dam, e.tv se weerman en ons eie STORMJAGTER.

Noot vir Noot se Jaconell Mouton is kaalvoet in haar Porche.

Lees ook:

Ma, jou kilojoule-obsessie kan jou dogter SIEK maak.

My kind moet KOSHUIS toe.

SELFBEHEERSING - jou sleutel tot sukses.

Leer jou kind die krag van GEBED.

Verstaan ’n DROMER.

PAK-ESEL, gooi af jou vrag!

Begin die kerkjaar met die Leesrooster 2009 en Preekstudies 2009

Leesrooster 2009:  Advent 2008 tot Koninkrykstyd 2009      Prys: R50.00

Die Leesrooster bied aan lidmate die geleentheid om die erkende teksrooster
(Revised Common Lectionary: Jaar B) elke week te volg met die oog op persoonlike stiltetyd, huisgodsdiens en groepbyeenkomste. Dit help lidmate om die boodskap van die Bybel oor ’n tydperk van drie jaar in sy groter omvang te lees en te leer ken.

Die Leesrooster bring deur middel van ’n fokusteks eenheid tussen die erediens, huisgodsdiens en groepsgesprekke. Dit moedig lidmate aan om al die feeste, gebruike en gewoontes van die kerkjaar te ervaar.

Preekstudies 2009:   Prys: R150.00

Advent 2008 tot Koninkrykstyd 2009 – Revised Common Lectionary: Jaar B

Bevat 56 volledige preekvoorstelle, responsoriese liturgieë vir doop, nagmaal, begrafnis en vir dankoffertyd.

Inligting, Navrae en Diensverskaffing:

Skakel 0860 26 33 42

*  Of stuur jou bestelling per e-pos na: bestel@bmedia.co.za

*  Of koop direk met jou kredietkaart op die webtuiste: www.bybelmedia.co.za
Groete uit ’n pragtige Boland.

Hans Steyn

Hoof: Bemarking en Fondswerwing

E-pos: hans@bmedia.co.za 

Tel: 021 864 8223

Inhoud

 

Bestelvorm vir Kerkjaarboek 2009 op die web beskikbaar

Gemeentelike saakgelastigdes kan die bestelvorm vir die Kerkjaarboek 2009 op ons webblad vind - www.ngkok.co.za/admin

Neem kennis dat die Kerkjaarboek NIE by die sinodale kantoor bestel word nie, maar by die adres soos op die vorm verskaf. Moet tog nie die sinodale kantoor skakel om te hoor wanneer jou Jaarboek kom nie - die kontakbesonderhede is op die vorm  ;-)

Inhoud

 

Reclaiming Paul : An Emergent Discussion

Hierdie is ‘n bydrae vanaf www.reclaimingpaul.org

De-privatisation

Mike Gorman

There has been a lot of discussion on this blog about the question, “What are we reclaiming Paul from?” It seems to me that there are several important answers to that query, but for now I want to focus on just one (though I think it has wide-ranging implications)—reclaiming Paul from the private sphere.

In much interpretation of Paul there has been a very strong, and sometimes nearly exclusive, emphasis on Paul’s message as one of individual justification or salvation or union with Christ. This privatization of Paul misses at least three key elements of his theology and spirituality.

First, Paul’s understanding of justification is incredibly communal and relational. I am not primarily referring to the argument of the “new perspective” that justification is fundamentally about the inclusion of Gentiles, as Gentiles, in the people of God. Rather, the very idea of justification or salvation in Paul depends on a notion of sin that means breaking covenant with others, as well as with God. The covenantal dysfunctionality described, for example, in Romans 1:18-3:20, involves the breakdown of human relationships as well as direct rebellion against God per se. If justification does not renew and restore human relationships, it does not address the human condition as Paul perceives it. This project of restoration and renewal includes, for Paul, the cessation of violence toward others—the undoing of the human condition reflected in texts like Romans 3:15-17: “‘Their feet are swift to shed blood;  ruin and misery are in their paths, and the way of peace they have not known.’” Few interpreters of Paul have drawn sufficient attention to this aspect of Paul’s theology.

Second, and in a similar vein, when Paul describes new life in Christ, or the fruit of the Sprit, this too is communal and relational. For example, when Paul in Galatians 5 contrasts the “works of the flesh” with the “fruit if the Spirit,” he makes it clear that Spirit-filled living is not merely a matter of personal piety but an ongoing project of reconciliation.

Finally, Paul’s spirituality is thoroughly political. It is about being a new entity (the body of Christ) taking up public space. Nearly every key item in his theological lexicon is a political word, from justification/justice to peace to Lord to ekklesia to parousia.

In the spirit of Paul, we want above all to move forward, not look backward (Philippians 3:13-14), but to do so faithfully requires some reclaiming, and that includes the de-privatization of the apostle.

Twee interessante response van lesers van hierdie artikel op die blog is die volgende:

David Capes:

A few years ago I was leading a masters seminar on Paul. We had just gone through Galatians 3 and I discussed the issues Paul was dealing with including how Gentiles are included in the people of God and how Paul was now (re)reading the Scripture to fashion his new cruciform (thanks, Mike) theology. At the end of that discussion, one of the students said, “You know, I don’t really see what this has to do with me.” I looked at him and said, “Why does it always have to be about you? Is it possible that Paul had someone else in mind when writing these words to the Galatian churches?” This illustrates Mike’s point, I think. I misread Paul if I insist that he always provide a word-on-target to me in my own private, spiritual life. A robust reading of Paul will always be christological and communal.

LG Swanger:

In the late 1970’s, when I went to Drew Theological School and studied Paul’s epistles under the professorship of Lala Kalyan Kumar Dey, we read Krister Stendahl’s seminal essay Paul among Jews and Gentiles. I was introduced to a way of interpreting Paul that transcended the prevailing understandings shaped by the Protestant-Roman Catholic debate (to put it nicely) on the question “How am I to find a gracious God?”

I think it’s the wrong question to ask. I have come to the tentative conclusion that Paul’s understanding of the gospel is closer to Jesus’ understanding of the Kingdom of God than I first supposed. If the kingdom is about community formation under the rule of God, then Paul’s post-resurrection gospel seems to me to be similar in that he seeks to help persons form community under the Lordship of Jesus (as distinct from and superior to the Lordship of Caesar, i.e. political government).

I’m constantly amazed as to how often Paul’s letters, as proxies for his personal presence, continue to serve to help Christians form community under Jesus’ Lordship. I recently gave a sermon series on in my church on Romans: the Church as Mission Strategy. Most of my people never thought of Paul and community formation under Jesus’ Lordship. Paul therefore also tries to answer the first (and twenty-first) century question, “Who is my neighbor?”

With this kind of reading of the Pauline corpus, I can see how the Law functions more as a symbol of ethnic privilege, faith as the great equalizer accessible to all, and boasting in works as antithetical to community formation (and hierarchy).

So I think you all are “right on the money” when you say that Paul needs to be de-privatized. I’m elated that more are thinking about what it means to be an Easter people rather than preoccupied with individualistic belief in Jesus as hell fire insurance.

Inhoud

 

Elke uur van die horlosie het 'n boodskap.

EENUUR sê vir my ek leef net een maal en daarom moet ek die lewe waardeer en my tyd hier op aarde reg gebruik.
TWEE-UUR sê ek het twee ouers wat ek moet eer en liefhê en gehoorsaam.
DRIE-UUR herinner my aan die Drie-enige God wat ek met my hele hart moet dien.
VIERUUR herinner my aan die vier windstreke en dat waar ek ook
al mag gaan ek die Hemel se kompas (die Bybel) nodig het om vir
my rigting aan te dui.
VYFUUR dui op die vyf vingers aan elke hand waarmee ek moet
werk om my brood eerlik te verdien en diensbaar moet wees vir die
Here.
SESUUR sê vir my ek moet my pligte getrou nakom en ses dae van
die week werk.
SEWE-UUR sê vir my dat ek op die sewende dag moet rus en kerk
toe moet gaan.
AGTUUR laat my dink aan die agt siele in Noag se ark wat in die
sondvloed behoue gebly het, en dat ek net so behoue sal bly as ek by
Christus skuiling soek.
NEGE-UUR herinner my aan die nege melaatses wat nie
teruggekom het om die Here te bedank nadat hulle gesond geword
het nie en maan my om dankbaar te wees vir al die goeie dinge wat
ek uit Sy hand ontvang
TIENUUR herinner my aan tien jong meisies waarvan vyf nie
gereed was toe die bruidegom gekom het nie en waarsku my om nie
so dwaas soos hulle te wees nie
ELFUUR herinner my aan so baie mense wat tot elfder uur uitstel
om hulle te bekeer en dan onverwags te sterwe kom. Dit maan my
om altyd gereed te wees om die Here te ontmoet.
TWAALFUUR sê vir my die genadetyd is haas verby. Om
middernag kom die Bruidegom en ek moet sorg dat ek nie agterbly
as Hy Sy kinders kom haal nie.
ELKE TIK VAN DIE HORLOSIE,
ELKE KLOP VAN DIE HART
BIED 'N GELEENTHEID,
GEBRUIK DIT TOT EER VAN DIE HERE

(Dankie aan Ron Reynolds)

Inhoud

 

Groete tot ons weer gesels,

 

Danie Mouton

Sinodale Kommunikasie

Inhoud