Amptelike Nuusblad : NG
Kerk in Oos-Kaapland
OosKaap eNuus
Visie: Een, heilige, algemene Christelike kerk, die
gemeenskap van die heiliges
Jaargang 6 - Nommer 41 - 11 Desember
2008 - www.ngkok.co.za/enuus
Dis hier droog, dis daar nat, die
ekonomie knyp in die Oos-Kaap. En dis Kerstyd
Onderwerpe vir Week van Gebed
beskikbaar.
Nuwe leraars in die Ring van
Burgersdorp
Daniël
Nasionale Mannekonferensie : 20-22 Maart 2009
Nuwe leraarspaar van Canzibe-gemeente
in die Transkei skryf...
Belhar is
'n politieke dokument - en dis goed so
Goedgekeurde fondse vir Ringsprojekte
Advertensie: Pos vir ‘n Persoonlike Assistent, Direkteur Begeleiding
Sinodale kantoor sluit oor die
Kersvakansie
Vir alle Eerstejaars van 2009: “Oerkamp”, Eersterivier, Kareedouw, 2009
Hierdie is die laaste Oos-Kaap eNuus vir 2008. Geseënde Kersfees, ‘n
goeie blaaskansie en voorspoed vir 2009 vir almal toegewens!
Dis hier
droog, dis daar nat, die ekonomie knyp in die Oos-Kaap. En dis Kerstyd
Sommige Oos-Kaaplandse boerderygemeenskappe gaan Kersfees
vanjaar met vreugde tegemoet: dit het goed gereën. In ander distrikte is dit
steeds baie droog. Ons kan die Here dank vir die reën, en bly bid vir die
droogtegeteisterde areas.
Die stand van
die ekonomie het ‘n besliste impak op ons
gemoedstoestand. Die motorbedryf is in ‘n massiewe
afswaaifase, wat gemeenskappe in Uitenhage, Despatch, Port Elizabeth en
Oos-Londen daadwerklik raak. General Motors begin
werknemers skeidingspakkette aanbied. Naas die groot motorvervaardigers is daar
dosyne klein besighede wat almal komponente vir motors vervaardig, en direk
geraak word. Dink ook aan die groot bandvervaardigers. Werkgeleenthede is nie
vanselfsprekend nie en ekonomiese vooruitsigte allesbehalwe rooskleurig.
Dis ook Kersfees.
Ons dink aan God wat die wêreld aangeraak het. Jesus Christus het in hierdie
wêreld aangeland, die Seun van God het in ons strate kom loop, in hierdie
wêreld met sy politieke strominge en sy ekonomiese bedreiginge vir ons aan God
kom voorstel en aan God kom bind.
Hy is ons
troos. Selfs al sou die vyebome nie bot
nie, of is die beeskrale sonder beeste....
Mag julle in
hierdie Kersgety vrede belewe.
Max du Preez het pas sy nuwe boek, Of Tricksters, Tyrants
and Turncoats, in Port Elizabeth kom bekendstel.
Net soos sy vorige boek, Of warriors, lovers and prophets, vertel dit merkwaardige en dikwels onbekende
verhale uit Suid-Afrika se verlede. So ‘n paar van
die opmerkings wat Du Preez by die boekbekendstelling gemaak het, bly my by:
“Ek haal die shame en blame uit die
geskiedvertelling uit”
‘n Baie groot getal -
byna 40,000 eksemplare - van die Warriors-boek het
verkoop. Du Preez skryf dit veral daaraan toe dat hy die geskiedenis vertel
sonder om te probeer blameer of beskaam. Die verlede is wat mense aan mekaar
gedoen het - ons mense, ons voorouers - en ons durf dit nie polities-korrek
manipuleer om mekaar in die hede by te kom nie. Geskiedenis is nie bedoel vir
selfverontskuldiging of beskuldiging nie. Gemeentes kan baie hieroor by Du
Preez leer.
Daar is
tradisioneel baie woede oor die Afrikanergeskiedenis by Max te bespeur. Hy is kwaad vir sy mense, veral omdat hy belieg
is - skryf hy op verskeie plekke - oor die verlede en oor die ware toedrag van
sake in die land. Dit was goed om nou te
sien dat daar oënskynlik heelwat meer rustigheid oor die verlede by hom is.
“Ons het ‘n gemeenskaplike geskiedenisbesef - en ons moet dit vier”
Max sê dit
bemoedig hom dat die besef van ‘n gemeenskaplike
Suid-Afrikaanse geskiedenis sterk groei in Suid-Afrika. Ons het ver gekom op
die pad om uit ‘n gefrsgmenteerde
historiese besef weg te breek, en ‘n gedeelde
historiese bewussyn te skep. Hy was ‘n paar maande
gelede op besoek aan Bosnia-Herzegovina en vertel
hoedat die verskillende bevolkingsgroepe daar byna volledig in apartheid leef. “Hendrik
Verwoerd se droom bewaarheid”, sê hy. Verskillende
weergawes van die jongste geskiedenis word op skole geleer waarin die
verskillende groeperinge mekaar blameer vir alles wat fout is. Die
geskiedskrywing demoniseer die opponente, en spreek
die eie groep van alle blaam vry. Terwyl ons steeds bly werk aan ‘n gemeenskaplike geskiedenisbesef, moet ons die stygende
lyn vier.
Hierdie soort
opmerking het geweldige implikasies vir ons verstaan van die Belhar-Belydenis,
om een voorbeeld te noem.
“Sterk vroue het nog
altyd ‘n beslissende rol in ons geskiedenis gespeel”
Hoewel hy dit nie so bedoel het nie, het ‘n klomp stories oor mense uit ons verlede geblyk die
stories van vroue te wees. Daar is die verhaal van die vroue oorlogsheld Mantatisi, die welvarende Angela van Bengalen,
en van Nonnie de la Rey, eggenote van generaal De la Rey. As die jongklomp wat
die liedjie gemaak het, geweet het van Nonnie, sou hulle gesing het: “Nonnie de
la Rey, sal jy die Boere kom lei”, lag Du Preez. Die geskiedenis leer ons waarderend na vroue
kyk.
“Jy kan jou eie
voorvaders kies”
Mens se voorvaders, by wie jy leer en uit wie sy wysheid
en voorbeeld jy put, of leer wat om te vermy, hoef nie net diegene te wees van
wie jy genealogies afstam nie. Amerikaners beskou almal die Founding Fathers as hulle voorouers. Hoofman
Buthelezi was al woedend vir Du Preez omdat hy Shaka te na sou gekom het, en
het Du Preez uitgetrap omdat hy sy voorvader beswadder. Maar Shaka het nooit
kinders gehad nie (nie eintlik in vroue belanggestel nie, as jy nou sal verstaan
wat Du Preez bedoel). Hy is nie geneties ‘n voorvader
van Buthelezi nie.
Onse Max is
geneties familie van Paul Kruger, en hy kan niks daaraan doen nie. Maar Oom
Paul K is nie sy enigste opsie as voorouer nie. Daarom kies hy ook vir Mantatisi, formidabele Batlokoa
vroueleier. Hy kies Makhanda, die Xhosa-held wat op
Robbeneiland geëindig het. En hy kies Moshoeshoe, die Sotho-koning, miskien een
van die grootste leiers wat Suid-Afrika nog opgelewer het.
Daar het jy
dit.
Ons Sinodale Fotoblad op Flickr
begin nou mooi lewe kry. Die blad kan besigtig word by www.flickr.com/photos/ngkok. Aan
die regterkant van die voorblad is daar “sets” of
stelle foto’s. Dit ontsluit elke keer ‘n groepie
foto’s wat oor ‘n gesamentlike tema handel. Hier is ‘n paar voorbeelde van sulke stelle of mini-albums:
* Xtreme ActVentures - Ringsprojek
van die Ring van Queenstown
* Gesamentlike
nagmaal op Colesberg
* Cradock
Kerkherenigingskonferensie Maart 2007 - kyk hoe Hansie Schutte help boom
plant het
* En nog veel
meer.
Onderwerpe
vir Week van Gebed beskikbaar.
Die onderwerpe vir die Week van Gebed vir 2009 is pas
vrygestel. Klik hier om
dit af te laai. Die onderwerpe sluit aan by Calvyn se leer oor gebed en lewe,
na aanleiding van die 500ste herdenking van Calvyn se geboortejaar in 1509.
Die datumbeplanning vir Voortgesette Bedieningsopleiding,
sinodale vergaderings, ringsitting e.s.m is
gefinaliseer en gepubliseer. Besoek www.ngkok.co.za/datums.
Nuwe
leraars in die Ring van Burgersdorp
Frikkie Greeff, ringskriba laat
weet dat ds John Holtzhausen (beroepbaar) die beroep na die NG Kerk Steynsburg aanvaar
het. Hy is reeds op 9 Desember daar bevestig. Sy intreepreek is op Sondag, 14
Desember.
Ds CS du Plessis van De Aar-Noord het
die beroep na die NG Kerk Lady Grey aanvaar en word
op 24 Januarie bevestig. Hy lewer sy
intreepreek op 25 Januarie.
Baie welkom aan die twee kollegas in
die Oos-Kaap!
Daniël Nasionale Mannekonferensie : 20-22 Maart 2009
Ds Peet Grobbelaar,
tot onlangs van Queenstown-Gemeente, maar deesdae verantwoordelik vir die
mannebediening van die NG Kerk Moreletapark, laat weet dat die Daniël Nasionale
Mannekonferensie van 20-22 Maart 2009 plaasvind. Hierdie konferensie word deur
die NG Kerk Moreletapark aangebied. Laai die konferensiebrosjure en
inskrywingsvorm hier
af.
Nuwe
leraarspaar van Canzibe-gemeente in
die Transkei skryf...
Wikus en Carina van der Walt, tans van die RCA Calvary in Port Elizabeth, vertrek in Januarie na hul nuwe
gemeente, Canzibe, in die Transkei. Hulle is
opgewonde, Canzibe is opgewonde, en die donateurs wat
die VGKSA-leraarspos in stand hou is opgewonde. Ons
is almal dankbaar dat die Here op hierdie manier vir Canzibe
voorsiening maak, veral aangesien dit ‘n ope vraag
was of daar weer ‘n leraar bevestig sou kon word na
die aftrede van ds Willie Stadler. Die van julle wat wonder hoe Wikus lyk, kan
hier loer, of ook hier
klik - en sommer sien die man kan tuinmaak ook ;-)
Só skryf die Van der Walts:
Aan al ons nuwe en ou vriende.
Ons kom die naweek terug van Bloemfontein en Aliwal Noord
met ‘n geweldige bewustheid van GROOT seën en
versterking. Die Here se voorsiening vir die pad Canzibe
toe is net ongelooflik.
Ons trek word op Woensdag 7 Januarie opgelaai. So, ons
sal seker van daardie Do. af oppad wees na Canzibe.
Bid asseblief saam:
Hope
seën van die Prins van Vrede wat vir jou gekom het!
Wikus,
Carina, Lara en Emelia van der Walt
Belhar is 'n politieke dokument -
en dis goed so
Dr André Bartlett van Aasvoëlkop-gemeente skryf in Rapport van
7 Desember 2008:
Van die
dinge wat so gereeld soos klokslag
daaroor gesê word, is dat dit ’n politieke dokument is en daarom, by
implikasie, nie geskik is om as belydenisskrif aanvaar te word nie.
Natuurlik
is Belhar ’n politieke dokument.
Dit het
tot stand gekom teen die agtergrond van die morele krisis wat veroorsaak is
deur ’n politieke stelsel, apartheid. Hierdie stelsel is wêreldwyd deur
Christelike kerke veroordeel as in stryd met die basiese beginsels van die
evangelie van Jesus Christus.
Die morele
aard van hierdie krisis is verdiep deur die feit dat die NG Kerk wat destyds
een van die mees invloedryke kerke in die land was, deur lang jare teologiese
regverdiging vir apartheid verskaf het.
Dit het
die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (waarvan die NG Kerk ’n lidkerk was en
steeds is) en die destydse NG Sendingkerk genoop om in 1982 ’n status confessionis af te kondig. Daarmee is gesê dat apartheid en
die teologiese regverdiging daarvan meer as net ’n gewone politieke kwessie is,
maar van só aard is dat die hart van die evangelie in die spel geplaas is.
’n Status
confessionis (wat letterlik ’n staat van belydenis
beteken) vra onvermydelik dat die kwessie wat ter sprake is, in belydenistaal
verwoord word. En dit is wat die NG Sendingkerk destyds met die Belydenis van
Belhar gedoen het: Hulle het die kern van ’n saak waar die evangelie in die
spel was, onder woorde gebring.
Gegewe
hierdie agtergrond was dit onvermydelik dat die Belydenis van Belhar politiek
van aard sou wees. Dit is egter nie méér politiek as die Bybel self nie.
Enigiemand wat al ooit die boeke Amos, of Hosea, of Jesaja met aandag gelees
het, sal weet dat ’n belangrike deel van die profetiese boodskap van die Bybel
’n uitgesproke protes teen politieke misstande in die samelewing van destyds
was. Ook die boodskap van Jesus het op sleutelpunte ’n duidelike politieke
gerigtheid.
Vir
gereformeerdes was dit nog altyd van groot belang dat daar geen aspek van die
lewe is waarop die lig van God se Woord nie behoort te val nie.
Die
teoloog Abraham Kuyper het hierdie beginsel verwoord deur te sê dat daar geen
duimbreedte van die menslike bestaan is waarvan God nie sê dit is syne nie. Ook
die politiek moet deur gelowige mense beoordeel word aan die hand van die vraag
of dit in ooreenstemming is met die wil van God al dan nie.
In
ooreenstemming met hierdie gereformeerde benadering het die Belydenis van
Belhar die apartheidstelsel geweeg en te lig bevind. So ondraaglik lig dat dit
in belydenistaal veroordeel moes word. Dit het onvermydelik van Belhar ’n
politieke dokument gemaak.
Wat
Belhar nié is nie, is ’n partypolitieke dokument. Dit het nie in dié belydenis
daaroor gegaan om in ’n normale politieke proses die kant van een party teen ’n
ander party te kies en op dié manier partypolitieke punte aan te teken nie. Dit
het juis gegaan oor ’n abnormale politieke situasie waarvan die morele
implikasies so afgryslik was dat om te swyg, niks minder as ongehoorsaamheid
aan die evangelie self sou wees nie.
Dit bring
mens by die stelling wat dikwels gemaak word dat dit in Belhar nie om kernsake
van die evangelie gaan nie – weer eens met die implikasie dat dit om daardie
rede nie aanspraak op die status van ’n belydenis-skrif het nie.
Reeds in
die tyd van die Kerkhervorming in die 16de eeu is die beginsel gevestig dat
sekere sake wat normaalweg as neutrale sake beskou sou word in ’n bepaalde
situasie wanneer die evangelie self in die gedrang kom, nie meer as neutraal
beskou kan word nie, maar as van wesenlike belang.
Dit
beantwoord by voorbaat reeds die vraag of dit in Belhar om hoofsake of bysake
gaan. In die lig van die morele krisis oor apartheid kon sake wat direk daarmee
verband hou, nie meer as bysake beskou word nie.
As daar
na die sake gekyk word wat in Belhar aan die orde kom, raak dit nog soveel
duideliker dat dit om wesenlike sake gaan wat die hart van die evangelie raak.
Dit handel naamlik oor die eenheid van die kerk, oor versoening en oor sosiale
geregtigheid.
Teenoor
die geskeidenheid van die kerk wat een van die gevolge van apartheid was, word
die eenheid van die kerk beskryf as ’n gawe van God én ’n opdrag aan God se
mense. Dit is iets wat deur die Gees bewerk, maar wat ook deur mense nagejaag
en opgebou moet word.
Eenheid
word egter op geen manier in Belhar teenoor verskeidenheid gestel nie. Die
verskeidenheid onder mense word juis beskryf as geleenthede tot wedersydse
diens en verryking binne die een sigbare volk van God.
Teenoor
die onversoenbaarheid van mense. wat een van die uitgangspunte van apartheid
was, word die Bybelse boodskap van versoening beklemtoon. God het nie net reeds
die magte van onversoendheid, haat, bitterheid en vyandskap oorwin nie, maar
het dit ook aan sy mense opgedra om die nuwe lewensmoontlikhede wat hierin
opgesluit lê, in die samelewing en die wêreld te verwesenlik.
Teenoor
die onreg en vyandskap wat deur apartheid veroorsaak is, word God uitgebeeld as
die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring. Weer eens word
daarop gewys dat God se mense Hom hierin moet navolg deur hulle te beywer vir
sosiale geregtigheid en die herstel van vrede tussen mense.
Die groot
waarde van Belhar is dat dit hierdie sake op ’n tydlose manier aanpak. Die
gevolg is dat dit nie net in die 1980’s aktueel was nie, maar ook vandag nog ’n
rigtinggewende funksie kan vervul.
In plaas
daarvan om in tydgebondenheid vas te val het die opstellers daarin geslaag om
deur te dring tot die dieper beginsels onderliggend aan die destydse krisis.
Hulle het verder daarin geslaag om hierdie sake só te formuleer dat dit op
tydlose wyse die kerk in staat kan stel om soortgelyke situasies in die toekoms
te beoordeel.
* André Bartlett is
predikant van die NG Gemeente Aasvoëlkop.
Goedgekeurde
fondse vir Ringsprojekte
Die fondse vir ringsprojekte vir 2009/10 is onlangs
amptelik goedgekeur. ‘n Opsomming van die toekenning
is op ons webblad te vind - besoek www.ngkok.co.za/ringsprojekte/2009. Moenie hierde as die amptelike kennisgewing
beskou nie - dit word deur die Direkteur Administrasie aan Ringskriba’s
gestuur.
Advertensie:
Pos vir ‘n
Persoonlike Assistent, Direkteur Begeleiding
Die Sinode adverteer tans ‘n nuwe
sinodale pos, dié van persoonlike assistent vir die Direkteur Begeleiding.
Aansoeke word tot aan die begin van Januarie 2009 ingewag - lees die advertensie
van die vakature vir volledige besonderhede.
Sinodale
kantoor sluit oor die Kersvakansie
Die Sinodale Kantoor sluit vanjaar op 12 Desember 2008 en
heropen weer op 7 Januarie 2009. ‘n Geseënde Kerstyd
en voorspoed vir 2009 word julle almal toegewens!
Vir
alle Eerstejaars van 2009: “Oerkamp”,
Eersterivier, Kareedouw, 2009
Die Klema Eerstejaarskamp van 22-25 Januarie is ‘n
omvattende studente ervaring waar studente-leiers, tans studente by die NMMU en
ander tersiêre inrigtings, hulle wysheid deel en al die eerstejaars se vrae
antwoord en hulle gemoed gerusstel. Dit is ook ‘n
geleentheid om nuwe vriende, wat moontlik dieselfde rigting studeer, te ontmoet
in ‘n pret, Christelike atmosfeer. Die kamp vind
plaas by Eersterivier, ‘n beeldskone kampterrein naby
Kareedouw, reg by die see. Die kampterrein is van so aard dat ons baie pret
aktiwiteite by die see en in die natuur
Die kamptema
is “Oerkamp” waar ons saam met die eerstejaars graag
al die fasette van kampuslewe en studentelewe wil ontdek en saam met hulle ‘n pad wil loop deur hulle studie-jare om hulle by te staan
en ondersteun asook motiveer en lekker ontspan. Vir meer besonderhede klik op
hierdie skakel: http://www.ngkok.co.za/Kennisgewings/1stejaarkamp2009.pdf
You do know what would have happened if it had been three wise WOMEN
instead of men, don't you?
They would have asked for directions,
arrived on time,
helped deliver the baby,
cleaned the stable,
made a casserole,
and brought disposable diapers as gifts!
(Dankie
Carmie Jolley)
Sinodale Kommunikasie