RSS Feed

Archive for March, 2010

God se beeld in die karretjiemense

2010/03/31 by Danie Mouton 4 Comments »

“Wanneer jy onder die karretjie inkruip, en langs die ma en haar babatjie regskuif, sien jy die beeld van God in die verslete gelaat van ‘n mede-mens”, vertel Estelle Jacobs, projekkoördineerder van die Hantam Gemeenskap-Opvoedingprojek.

“My lewensroeping is om hoop  vir die karretjie-mense en eenvoudige plaaswerkers van die uitgestrekte, harde vlaktes van die Karoo te bring.  Wrede letsels van alkoholmisbruik, fetale alkoholsindroom, dagga, blootstelling aan die elemente, die ingeperkte lewe op of onder ‘n donkiekarretjie, onkunde en die afwesigheid van die vaderfiguur is op gesigte uitgekerf.  Ons skep saam aan ‘n beter toekoms vir die kinders, en om die kinders te bereik, moet jy met die ma, en die gesin, en die gemeenskap in geheel werk”.

Estelle is lidmaat van die NG Kerk Colesberg.  Ons gesels op die oewer van die Oranjerivier, wat breed en rustig vloei na goeie reëns, tydens ‘n gemeentekamp wat oor dissipelskap handel.  Haar passie vir die Here en haar deernis met die plaaswerkers is duidelik sigbaar.  Sy lééf haar roeping.

Die gemeenskapstrust het 20 jaar gelede ontstaan as ‘n opvoedingsprojek vir kinders.  Gou is besef dat mens nie met die kinders alleen kan werk nie.  Boere as werkgewers, die ouers van die kinders, en die gemeenskap moet verander om ‘n ruimte te skep waarin die kinders se talente ontgin kan word, en hulle voorberei kan word vir die lewe.

Karretjiemense around a fire, Northern Cape - Heinrich HJ von Michaelis

“Fetale alkoholsindroom is ‘n geweldige groot sindroom.  Moeders hier dink nie aan die fetus as ‘n ontwikkelende mensie binne-in haar wie se toekoms deur haar optrede beïnvloed word nie.  Ons moet hulle opvoed.  Deur netwerke wat oor ‘n lang tyd gevestig is, word swangerskappe nou by ons kliniek aangemeld, waarna ‘n gesondheidswerker die moeder dadelik gaan besoek en adviseer oor lewensstyl, eetgewoontes en gedrag.  Daar word na die lewensomstandighede gekyk en die moeder word bygestaan om die swangerskap reg te laat verloop.  Dit verg dat mens onder ‘n donkiekarretjie moet gaan sit, en praat oor hoe hierdie ‘n veilige wêreldjie kan wees vir die ongebore kind, en later vir die opgroeiende mensie.”

Kursusse in temas effektiewe ouerskap, die ontwikkeling van ouers as rolmodelle, toesig oor huiswerk van die kinders, begroting, seksualiteit, en MIV/Vigs voorkoming word onder meer aangebied.  Die trust bedryf ook ‘n gemeenskapskool en –kliniek.

“Ek het geleer om God in die aangesig van hierdie mensies raak te sien.  Jesus is as mens gebore ter wille van ons.  Ek volg in sy voetspore en steek self die grense oor na mense wat soveel genade nodig het.  Ek glo ons belê in die kinders van hierdie gemeenskap se toekoms.  Stadig maar seker verander die ouers, en verbeter die lewensomstandighede.  Hierdie mensies is só ontvanklik vir wat ons hulle leer.  Ons betoon soveel liefde, en hulle ook weer.  Elke naweek wat mense nie dronk is nie, is ‘n deurbraak.  Hulle aanvaar dit as ons hulle aanspreek, hulle gryp ons konkrete liefdesdade aan, en hulle verryk ons lewens”.

Ek wil dadelik weet: “Hulle verryk julle lewens?”  “O ja,” borrel Estelle, “dit is mense met ‘n eenvoudige, konkrete geloof wat op die Here self fokus.  Dit is mense wat, met die bietjie wat hulle het, opoffer om ander te help en by te staan.  Daar is deernis, nederigheid en eerlikheid in oormaat.  God word in terme van die natuur as die Vader van almal en alles beleef.  Hulle help jou om jou geloof in God te veranker, nie in idees of teorieë oor God nie.”

Estelle vertel van die swart vrou wat ‘n negejarige seun onder haar vlerk geneem het.  Beide sy ouers is oorlede, en hy ly erg aan fetale alkoholsindroom.  Sy ontwikkelingmoontlikhede is uiters beperk, en emosioneel is hy ‘n babatjie.  “Jy kan jou nie die skeidingsangs indink – op alle vlakke – wat sy lewetjie kenmerk nie.  En hierdie vrou sorg vir hom soos haar eie.  Watter lewensverrykende voorbeeld van liefde en geloof”.

Estelle begeer dat die trust se kundigheid gedupliseer kan word, en dat hulle weer by ander kan leer wat dieselfde doen.

Ek bid dat die Here haar ryklik sal seën met liefde wat breed, diep en wyd soos die Oranje vloei, sy wat deur die liefde van Christus gedring word.

[Hierdie artikel het in Kerkbode van 19 Maart 2010 verskyn – www.kerkbode.co.za]

 

Liturgiese vernuwing is nie…

2010/03/29 by Danie Mouton No Comments »

In ‘n vorige bydrae skryf ek oor die vormende rol van gereelde nagmaalviering en die geestelike transformasie wat dit kan bewerkstellig.  Daarvoor is liturgiese vernuwing nodig.

Wat betekenisvolle liturgiese vernuwing is, moet versigtig omskryf word.

Liturgiese vernuwing is nié…

Wat dit beslis nié is nie:

  • Die inrigting van die erediens volgens mense se kulturele voorkeure.  Dit is erediensvernuwing wat uit behoeftebepalings gebore word.  Te veel gemeentes meen liturgiese vernuwing beteken dat ons bloot die liedere sing waarvan ons hou, of die tipe preke preek waarvan mense meen dat dit hulle sal help.  Natuurlik is hierdie belangrike aspekte wat nie geïgnoreer kan word nie, maar die bevrediging van behoeftes is nog nie hartgrondige geestelike vernuwing nie.
  • ‘n aanvaarding van die spelreëls van die verbruikerskultuur wat bepaal dat die kerk briljante godsdienstige produkte (soos diepgaande emosionele belewinge of uitstekende godsdienstige “produksies”) op die mark moet sit nie.  Dit is in elk geval futiel, want die kerk kan nie met rekenaarspeltjies, die iPod, kommersiële musiekproduksies e.s.m. kompeteer nie;
  • ‘n Onkritiese oorneem van liturgiese elemente of aksente uit ander tradisies wat vreemd staan teenoor ‘n geloofslewe gebore uit die oortuiging dat God die inisiatief neem in ons verlossing, dat God handel in die erediens, en dat ons geroep is om Hom lewenswyd met geloof, dankbaarheid en deelname aan sy missie te dien nie.
  • ‘n Beskaming van lidmate se aanbiddingstyl asof dit outyds en nie progressief genoeg is nie, en om daardie rede afgeskaf moet word;
  • ‘n Stel innoverende gebruike wat van buite of bo op die gemeente afgedwing word;
  • Die ontketen van “worship wars” in die gemeente, ‘n stryd tussen tradisie en vernuwing.

Liturgiese vernuwing hou rekening met die helder Gereformeerde insig dat God ons in die erediens transformeer, deur Woord, sakrament, soos beseël deur die werk van die Heilige Gees.

Transformerende bewegings

Hoe gebeur dit?  Ek kan aan drie transformerende bewegings in die erediens dink:

  1. Ons onthou die gebeure van die evangelie, ons roep God se handele in herinnering wat goeie nuus is en as goeie nuus aan ons oorgedra word;
  2. Ons vier God se teenwoordigheid en aktiwiteit – in die evangelie en in die wêreld waarin ons leef.  Hiermee eien oms die geskiedenis van die evangelie as óns geskiedenis toe;
  3. Ons sien uit, ons antesipeer, die volheid van die tyd waarin God se handelinge hulle einddoel bereik: die nuutmaak van die hele skepping en die lewe in God se heerlike teenwoordigheid op ‘n nuwe aarde onder ‘n nuwe hemel.  Onder die sang, in die hoor van die Skrifboodskap en die sien van die sakramente word die nuwe aarde alreeds hier vir ons ‘n werklikheid.

Kreatiewe liturgiese vernuwing

Hierdie transformerende bewegings moet bewustelik in die erediens ingebou word.  Dit geskied deur die erediens deur ‘n span lidmate, in samewerking met die liturg, te beplan.  Verder is dit ook noodsaaklik dat daar sinvolle deelname van lidmate in die eredens moet wees.  Sien hieroor as voorbeeld my vertelling oor die erediens van die Park Avenue Methodist Church in Minneapolis, Minnesota, VSA.

Na VoorbladNa Inhoudsopgawe

 

Nagmaalviering kán gemeentes vernuwe

2010/03/28 by Danie Mouton 1 Comment »

Wat is die kragbronne in ‘n gemeente wat:

  • die innerlike lewe van die gemeente vernuwe;
  • energie verskaf vir die gemeente se gerigtheid na buite; en
  • blywende geestelike groei ondersteun?

Liturgie, prediking en sakrament is een van die sleutel-kragbronne.  Mooi programme en oproepe tot diens na buite faal dikwels indien die gemeentelike lewe nie innerlik deru die liturgie, erediens, prediking en sakrament, vernuwe word nie.  Nuwe, diep-geïnternaliseerde perspektiewe op wie God is, wie die kerk is, en wat die kerk se roeping is, bemagtig geloofsgemeenskappe om op God se roeping te reageer.  Hiervoor is die vorming deur die erediens nodig.

Met erediensvernuwing of -verdieping word dus nie bloot aanpassings in terme van mense se voorkeure bedoel nie.  Dit gaan nie oor behoeftebepalings nie.  Dit gaan veel dieper.

Ons woon die erediens by om as geloofsgemeenskap bewustelik in God se teenwoordigheid te kom, en daardeur getransformeer te word. Die uitdaging is om werklik God se transformerende handelinge in die erediens raak te sien, te verwag, en daardeur vernuwe te word.  Die Gereformeerde tradisie het ‘n ryk inhoud wanneer dit by erediens, liturgie,  prediking en sakrament kom.  Die Gereformeerde erediens het die krag om ons te verander, sodat ons anders sal begin lewe.

Liturgiese vernuwing is om met wysheid, integriteit en kreatiwiteit – sonder om óf in tradisie vas te val, óf worship wars te ontken – erns te maak met ons Gereformeerde liturgiese erfenis, die diepte daarvan te (her)ontdek, en vanuit God se handele met ons te leer lewe.

Vervolgens gesels ons oor die rol wat die gereelde viering van die nagmaal in die geestelike vernuwing van ‘n gemeente kan speel.

Nagmaal

Die meeste Gereformeerdes is vandag prakties navolgers van Zwingli, vir wie die tekens van brood en wyn bloot simbole van Christus se liggaam en bloed was.  Vir Zwingli het die nagmaal daarom ‘n daad geword waarin ons ons geloof bely.  Zwingli se siening is ‘n rasionele verskraling van die inhoud van die nagmaal.

Dit is nie soos Calvyn die nagmaal verstaan het nie.  Die sakramente is beide dade van God waarin God ons geloof versterk.  Dit is genademiddele, dit bevestig en beseël God se belofte van verlossing in die dood en opstanding van Christus.  Deur die werk van die Gees bevestig die tekens die vrug van Christus se liggaam, wat vir ons geoffer is, in ons lewens.  Ons ontvang dus werklik die liggaam en bloed van Christus, op grond van God se beloftes, deur die geloof wat die Gees in ons werk.

Die ontvangs van Christus se soenoffer vorm ons in die gestalte van die vleesgeworde, gekruisigde en opgestane Here.  Nagmaal het dus alles met ons vorming as dissipels, ons geestelike transformasie, te doen.

Calvyn wou dat die gemeente weekliks nagmaal vier, juis om die vormende karakter daarvan te maksimaliseer.  Hy kon dit nooit in Geneve bewerkstellig nie, omdat die owerhede dit nie wou toelaat nie.

Impak van weeklikse nagmaalviering

Aangesien die erediens ons geestelik transformeer, moet mens vra watter impak die weeklikse viering van die nagmaal op ‘n gemeente se geloofslewe kan hê?  John de Gruchy noem in sy nuwe boek oor Johannes Calvyn* vier aspekte, waarby ek graag nog ‘n vyfde voeg:

  1. Weeklikse nagmaalviering herstel die balans tussen woorde en viering.  Nagmaalviering is die dramatiese voorstelling van die evangelieverhaal.  Nuwe Testamentikus CH Dood stel dit so: “At each Eucharist we are there – we are in the night in which he was betrayed, at Golgotha, before the empty tomb on Easter Day, and in the upper room where he appeared; and we are at the moment of his coming, with angels and archangels and all the company of heaven…”
  2. Die nagmaal help ons fokus op die werklikheid van die inkarnasie.  Die Woord van God het mens geword en ons ons kom woon, sodat Hy ons mens-wees kan herstel.  God het in die vleesgeworde Woord “ja” gesê vir ons mens-wees.  Daarom kan ons nie die geestelike en die vleeslike van mekaar skei, asof net die een vir God belangrik is nie.  Jesus het nie ‘n skyn-liggaam gehad nie, die skepping is vir God belangrik, en ons ontvang heil en verlossing vir skepsel-wees van Christus.  Omdat Christus werklik mens geword het, kan ons nié ‘n boodskap verkondig wat nie ook klere, kos, bemoediging, ondersteuning insluit nie.  Ons het nie ‘n geestelike roeping wat geweld, armoede, misdaad, diskriminasie en immoraliteit kan ignoreer nie.  Ons hele mens-wees is by die evangelie betrokke.  Daar is ‘n direkte verband tussen nagmaal en missie.
  3. Die weeklikse nagmaal herstel die gevoel van die gemeente as ‘n geestelike familie wat rondom ‘n maaltyd vergader om die opgestane Christus en mekaar te ontmoet, om die vrede van verlossing met mekaar te deel, en mekaar te dien.
  4. Wanneer ons die nagmaal reg verstaan, word ons daarvan uitgestuur in diens en missie.  Soos Christus Homself tot in die dood vir ons oorgegee het, is ons geroep om in die liturgie van die lewe onsself in diens van ander te gaan gee.  Die nagmaal is ‘n voorsmaak van die banket wat eendag kom wanneer God alles herstel, ‘n verwagting dat alles heelgemaak sal word, en laat ons werk in die rigting van hierdie herstel – dit leer ons tekens in die hede oprig van die herstel wat aan die kom is.
  5. Die liturgie vorm ons geestelik.  Die nagmaal vorm ons in die gestalte van die Gekruisigde.  Die nagmaal skuif ons identiteit.  Ons word gevorm as mense wat self ons kruis opneem in Sy diens.  Ons word gevorm as mense wat ons skouer plaas onder die nood van die wêreld en onsself as lewende offers vir God en sy missie in die wêreld gee (Rom 12:1-2).

Weerstand teen weeklikse nagmaalviering

Mens kan jou die weerstand teen ‘n weeklikse nagmaalviering indink.

Ons moet onthou dat liturgiese vernuwing ‘n organiese proses is.  Dit kom nie wanneer ons ‘n antieke aantal rituele opdiep, of ‘n stel innovasies van bo af op ‘n gemeente afdwing nie.  Vernuwing kom wanneer leraars saam met lidmate werk en met wysheid vra hoe om in hiérdie omstandighede, binne die kultuur van hiérdie gemeente, in lyn met ons Gereformeerde identiteit, ruimte te maak om God se handelinge in ons lewe, en deur ons lewe, te herken en te vier.

Die vraag is hoe ons nagmaalviering meer sinvol kan inrig, en nuwe, vars gestaltes van koinonia en selfoorgawe daaromheen kan skep.  Nagmaalviering gaan nie verdiep omdat ons die nagmaal beter en langer verduidelik, of beter lesings (preke) daaroor aanbied nie.  Mens kan die nagmaal doodverduidelik.  Gebruik liewer hierdie tyd… om die nagmaal te vier.

De Gruchy skryf* dat die Gereformeerde tradisie ‘n liturgiese integriteit het wat die moeite werd is om te bevestig.  Vir Gereformeerdes is dit in die liturgie primêr God wat in Woord en sakrament handel, en ons wat reageer in geloof, danksegging en missie.  Sou ons God se Woord eenvoudig kon breek, en die nagmaal met dankbaarheid kon vier – en God toelaat om ons daardeur te vernuwe?  Hom vertrou om daardeur met ons te werk, ons te vorm en ons te stuur?

Opsigself is Woordverkondiging onvolledig.  Die Woord het die sakrament van die nagmaal (en doop) nodig.   Deur te veel van Woordverkondiging te verwag (dws sonder die sakrament), oorspan ons die verkondiging, preek te lank, en probeer self te hard om vernuwing op te wek en deur prediking te bewerkstellig.  Voeg nou nog hierby ellelange, omvattende verduidelikings oor die nagmaal.  Mense kom nie in die eerste plek vir die verduideliking (‘n lesing oor die nagmaal) nie, hulle kom om deel te neem aan die nagmaal.  Sou baie van die weerstand nie met verdrag afgebreek kon word as ons korter begin preek en kreatief nagmaal vier nie?

*  De Gruchy, JW 2009. John Calvin. Christian Humanist and Evangelical Reformer. Lux Verbi.BM: Wellington.

>> Lees ook van die Oos-Kaapse predikantekonferensie met John de Gruchy.
>> De Gruchy oor gemeente en tradisie.

Na Voorblad –  Na Inhoudsopgawe

 

Drie dae met John de Gruchy: Woord, Gees, Sakrament en Beeld

2010/03/27 by Danie Mouton No Comments »

Hoe lyk ‘n verstaan van die evangelie wat gemeentes werklik transformeer?  Wat is die teologie, die praktyke, die liturgiese gewoontes, die inhoud van die Woordverkondiging, die Bybelse houdings en gesindhede wat ‘n gemeente nader aan God se beloofde toekoms vir sy kerk skuif?  Wat is die verband tussen ‘n gasvrye, gemeenskapsgerigte (missionale) gemeente en die bediening van liturgie, Woord, sakrament en beeld / kuns?

Vandeesweek het 35 dominees werklik drie transformerende dae met prof John de Gruchy, emeritus-professor in Christelike Studies aan die Universiteit van Kaapstad, en buitengewone professor aan die Universiteit van Stellenbosch, spandeer.

Professor John de Gruchy

Prof John de Gruchy tydens 'n predikante-konferensie in die Oos-KAap

Die sentrale tema van sy voordrag was: The Reformed Pastor as Theologian. So het Calvyn homself gesien: ‘n reformerende pastor wat ‘n teoloog is. (En het ons nuwe dinge oor Calvyn geleer!  Dit is duidelik dat die Calvyn wat ons deur ons studies leer ken het, en die ware Calvyn, twee verskillende mense is, het baie dominees gesê.)

De Gruchy is die skrywer van ‘n nuwe boek oor Calvyn, John Calvin – Christian Humansit and Evangelical Reformer (Lux Verbi.BM 2009).

De Gruchy het dié onderwerp verder uitgewerk deur van drie subtemas gebruik te maak:

  • Woord en Gees
  • Woord en Sakrament
  • Woord en Beeld (Eikon).

Uit sy vertelling van Calvyn se verhaal het duidelik geblyk hoeveel skeefgetrek perspektiewe oor dié man bestaan.  Hy het ‘n merkwaardige invloed wat, vandag nog, in groot dele van die wêreld ‘n impak maak.  In sekere opsigte is selfs die Rooms-Katolieke kerk beslissend deur hom beïnvloed.  ‘n Europa in transisie, onderworpe aan baie veranderings, was die agtergrond van Calvyn se lewe, teologie en bediening.  Hierdieomstandighede verskil nie veel van ons moderne wêreld met sy vele oorgange nie.  Sy erfenis is beide ‘n boek (die Institusie), of boeke, want Calvyn het baie geskryf, en ‘n stad, Geneve.  Die helfte van Geneve se inwoners was vlugtelinge, wat beteken het dat die integrasie en belange van ontwortelde nuwelinge versus gevestigde inwoners ‘n sentrale tema was.  Hoe word ‘n Christelike samelewing onder sulke omstandighede ingerig?  Wat is die rol van die kerk?  Calvyn se lewe en werk bied merkwaardige perspektiewe wat ook vir ons van belang is. read more…

 

Congregation and tradition

2010/03/23 by Danie Mouton No Comments »

As congregations journey towards God’s preferred and promised future, the question must be asked: how do they deal with their tradition? Tradition here in the sense of broader theological tradition, but also in terms of their congregational habits and customs. Various possibilities exist, e.g.

  • Part of our Protestant heritage is to be apprehensive of tradition.  Church tradition, it was feared, might overrule Scripture as the dominant force in the life of the faithful;
  • Modernity shames the past, therefore future possibilities and new developments always seem to be better. Progress is the name of the game.  To be old and traditional is almost to be backward, and to be closed to exciting new possibilities.

Prof John de Gruchy

Against this background I listened attentively at prof John de Gruchy, emeritus-professor in Christian Studies at the University of Cape Town, lecturing today (23 March 2010) in Port Elizabeth at a seminar for pastors.  He spoke at length about tradition.

Tradition, he said, is what is handed down to us; we all stand in a particular tradition.  It points to the Holy Spirit leading us over centuries in the truth.  How do we understand truth?  How do we built on what was given, revealed to and confessed by earlier generations of faithful people?  Our identity and ethos is shaped by our tradition. The ecumenical tradition is what binds all Christians together.

Tradition not only represents the handing down of faithful responses to the Word and the Spirit.  There is also customs and cultural hindrances towards the gospel in our tradition.

Tradition needs to be feared when it boxes us in, when it is hindering new life.  The Charismatic tradition can be seen as a reaction to us boxing the Holy Spirit in.  We will ignore the challenge to our boxing-in at our own peril.

How do you discern where tradition plays which role in the church – life-giving or boxing-in?  Certain indicators helps us, says De Gruchy, mentioning two:

  • When the church is not on a mission as a reconciling community, proclaiming the good news and living in the dynamics of being good news to others;
  • When church-life becomes a closed system, focused on itself, such as the Roman Catholic Church in the 16th century. read more…
 

Ekumeniese gebedsbyeenkoms by Sokkerstadion

2010/03/22 by Danie Mouton 1 Comment »

Vanuit byna alle denominasies het Christene op 22 Maart by die nuwe Wêreldbekersokkerstadion in Nelson Mandelabaai (Port Elizabeth) byeengekom.  Die doel was om ‘n 2 km-lang lewende ketting reg rondom die stadion te span, presies om 16:00, en die seën van die Here op die stadion, die Wêreldbekertoernooi 2010, en die gemeenskap af te bid.

Dit was vir ons as organiseerders ‘n vraag of genoeg gelowiges sou opdaag om die ketting te voltooi.  Wel, dit het toe gebeur!  Dit was lekker om ‘n hele aantal NG Gemeentes verteenwoordig te sien.

Klik op die posseëlbeeld om die volle foto te sien:

Merkwaardig genoeg het almal op hul eie wyse gebid.  Sommige kerkgroepe is duidelik meer aktivisties en luidrugtig as ander!  Tog het Anglikane, NG-lidmate, Charismate, Pentakostaliste, Katolieke, lede van die Salvation Army en ander hand-aan-hand en skouer-aan-skouer gebid.

Die waarde van hierdie soort byeenkoms is ‘n publieke getuienis dat Christene saam verantwoordelikheid neem en belangstel in die gemeenskap.  Gereformeerdes is dikwels afwysend teenoor die diversiteit spiritualiteite by so ‘n byeenkoms.  Dit is gevaarlik en jammerlik.  Enige soort teologie wat Christene publiek uitmekaar hou, is nadelig vir die kerk se getuienis.

[Klik hier om meer foto’s te sien, in ‘n groter formaat. Onthou om op die posseëlformaat te klik om die volle grootte foto te sien.]

Na VoorbladNa Inhoudsopgawe

 

“You are not a gadget”

by Danie Mouton 1 Comment »

Terwyl digitale media, soos Facebook, Twitter en blogging (!) hand oor hand toeneem, moet ons vra hoe dit ons siening van mens-wees beïnvloed.  Die volgende resensie van ‘n belangrike boek het my aandag getrek…

This contribution was written by Rob Merola, and first published on the JesusCreed blog of Scot McKnight.

It is my belief that Jaron Lanier’s book You are Not a Gadget is one of the most important books a serious minded person in the early 21st century can possibly read.  It is so because the basic question it addresses is, “What does it meant to be human?”  Perhaps even more to the point, it raises the question of “How do we appropriately recognize and honor one another as unique persons of depth and substance?”

The digital world and it its representations of persons threatens to diminish, reduce, and flatten us.   And because we increasingly interact with each other through digital mediums instead of face to face, our relationship also are diminished, reduced, and impoverished.  The individual is replaced with the hive. A unique point of view is obscured in a mash up.  A distinct voice is lost in the computational cloud.

As an example of Lanier’s concerns, consider the following paragraph:  “I know quite a few people, mostly young adults but not all, who are proud to say that they have accumulated thousands of friends on Facebook.  Obviously, this statement can only be true if the idea of friendship is reduced.   A real friendship ought to introduce each person to unexpected weirdness in the other.   Each acquaintance is an alien, a well of unexplored  difference in the experience of life that cannot be imagined or accessed in any way but through genuine interaction.  The idea of friendship in database-filtered social networks is certainly reduced from that.”

Could it be that if we are ever going to be fully present in a given moment or to a given person, we are going to have to limit our connectivity?

A couple of Lanier’s suggestions:

  • Write a blog post that took weeks of reflection before you heard the inner voice that need to come out.”
  • If you are twittering, innovate in order to find a way to describe your internal state (my note:  but that would take time and work and reflection!) instead of trivial external events, to avoid the creeping danger of believing that objectively described events define you, as they would a machine.”

There are other questions Lanier asks that I expect aren’t even on most of our radars–but they should be.  Otherwise the answers are going to be decided for us in ways that we may find profoundly disturbing, and it will be too late for us to be able to do much about it.  For instance, there is the whole question of authorship.  Lanier warns of those who consider it their “‘moral imperative’ that all the world’s books would soon effectively become ‘one book’ once they are scanned, searchable, and remixable in the universal computation cloud.”

This is just a tiny snippet of the kinds of substantive issues this book addresses.    Coming from the “father of virtual reality”, a person at the top of his field in the very heart of technological prowess and progress, we ignore this book and the questions it asks at our own peril.

[This is an shortened version, read the complete review here.]

 

Ontvang die toekoms uit God se hand

2010/03/21 by Danie Mouton No Comments »

Sodra gemeentes se voortbestaan onder druk kom, begin hulle fokus op oorlewing.  Hulpbronne word nou belangriker as ooit vantevore.  Die oorheersende vraag word: waar gaan fondse en groei vandaan kom?

Ek werk tans met ‘n hele aantal klein gemeentetjies in verskillende gestuurde vennootskappe, en sien met deernis hoedat oorlewingsvrae en -stryd die toekomsverwagting van hierdie gemeentes oorheers.

Dit is in sulke situasies gewoonlik kontra-produktief om op die gemeente se oorlewing te fokus:

  • Die drang om te oorleef word so sterk dat dit die gemeente se roepingsbesef opslurp. Die vraag is nie meer hoe die gemeente ‘n teken, voorsmaak en instrument van die Koninkryk van God kan wees nie.
  • Oorlewing word ‘n doel opsigself. Dit is ‘n doelwit wat hoogstens ‘n tweede-rangorde vraag kan wees.  ‘n Sekondêre doelwit word dus nou die primêre fokus.
  • Die gemeente loop gevaar om ‘n fondsinsamelingsorganisasie te word. read more…
 

‘n Moederlike bediening

2010/03/20 by Danie Mouton No Comments »

Volgens die Nuwe Testament kan mens die gemeentelike bediening baie betekenisvol in moederlike terme verstaan.  Gemeentes verteenwoordig dikwels ‘n manlik-gedomineerde omgewing.  Daarom is dit des te meer opvallend hoe die Nuwe Testament aan die gemeente as moeder dink:

Een:  Ons moederlike bediening as versorging:

1 Tessalonisense 2:7-8: “Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos ‘n ma wat haar kinders vertroetel.  So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het julle lief gekry.”

1 Korintiërs 3:1-3: “Ek kon nie met julle praat soos met mense wat hulle deur die Gees van God laat lei nie; ek moes praat soos met wêreldse mense, soos met kindertjies in die geloof in Christus.  Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste kos nie, want julle kon dit nog nie verteer nie.  En julle kan dit ook nou nog nie verteer nie, want julle is nog wêreldse mense.  Daar kom jaloesie en twis onder julle voor.  Is dit nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie?” read more…

 

Demografiese skuiwe maak ‘n impak op gemeentes

by Danie Mouton No Comments »

Hoe gemaak as ‘n gemeente baie klein word, met geen tradisionele voedingsbronne meer nie?

Dink aan die klein Lutherse gemeentes in die Grensgebied (in die omgewing van Oos-Londen, Oos-Kaap). Hulle is die geestelike nasate van Duitsers wat 150 jaar gelede hier gevestig is en groot invloed op die streek se ekonomie uitgeoefen het.  Vandag kom daar nie meer Duitsers na hierdie omgewing nie.  Die meeste van hierdie gemeentes besef dat hulle werk het om te doen rondom hul identiteitsverstaan en samestelling.

Dink aan talle NG Gemeentes in sentrale stadsgebiede waar lidmate weggetrek het na die voorstede toe.  Daar is geen sprake dat tradisionele NG lidmate (Afrikaanssprekend, blank, middelklas) weer na hierdie omgewings sal skuif nie.   Sommige van hierdie gemeentes neem merkwaardige inisiatiewe, ander begin noustrop trek en oorweeg om hul deure te sluit.  Talle het dit reeds gedoen.

In die SA demografiese konteks woon daar vandag – ironies genoeg – waarskynlik méér mense in die omgewing van hierdie klein gemeentes as ooit vantevore in hul geskiedenis.  Meer mense, maar minder tradisionele lidmate. read more…