Die massiewe foto van Charles Murray, agter my, domineer die konsistorie. Links staan die pragtige egte silwer nagmaalservies uitgestal (uit die vroeë 19e eeu). Die houtplafon imponeer. Rye foto’s van generasies van bekende predikante is uitgestal in die konsistorie, reg rondom ons, waaronder dié van pa Andrew Murray en seun Charles, saam vir 82 jaar predikante in hierdie gemeente. Hierdie gemeente het goue oomblikke geken.
Ons sit in die imposante gebou van die sesde oudste gemeente van die NG Kerk in Suid-Afrika, die NG Kerk Graaff-Reinet. (Die gebou is gebaseer op die ontwerp van die Salisbury Katedraal in Engeland.) Deur die oop deur sien ek hoe toeriste die kerkgebou, met sy kansel van Burmese Teak, bewonderend waardeer. Terwyl ons gesels, verskyn voor my geestesoog die pragtige kerkgeboue van Aberdeen (hoogste kerktoring in die land), Nieu-Bethesda, Klipplaat, Nuwekerk, Jansenville, selfs Murraysburg – om maar ‘n paar te noem.

Kerkgebou van die NG Kerk Graaff-Reinet
Die dominees van die Ring van Graaff-Reinet is vandag bymekaar. Ons beplan aan ‘n klein-gemeente-konferensie wat oor ‘n paar maande in die ring gehou gaan word.
Die pragtige kerkgeboue getuig van ‘n tyd toe hierdie gemeentes sterk, welvarend en finansieel lewenskragtig was. Vandag gebeur daar steeds besondere goed in die gemeentes, maar in die meeste gevalle is die finansiële krag daarmee heen. Sommige kan nie langer predikante bekostig nie, ander berei hulle voor vir die tyd wanneer hulle hul dominee gaan verloor. Nog ander het reeds voltydse predikante verloor.
Uit die elf gemeentes in die ring het sewe nog predikante, hoewel net 2 nog ten volle volgens sinodale riglyn betaal word.
Die vraag is: hoe vorentoe? Waarom het hierdie ring, wat soveel finansieël sterk gemeentes gehad het, vandag ‘n hele aantal marginale (in terme van finansies en lidmaattal) geloofsgemeenskappe?
In die gesprek word die volgende faktore buite direkte beheer van die gemeentes genoem:
- Die karakter van boerdery het oor die afgelope dekades radikaal verander. Aanvanklik is op baie kleiner eenhede geboer, maar om ekonomies op haalbare skaal te boer verg deesdae groot landboueenhede. Dit bring ontvolking mee.
- Wildsboerdery het baie toegeneem. Wildsplase is groot en veel minder arbeidsintensief as selfs veeboerdery. Dit spel ook ‘n verlies aan lidmate.
- Persone koop plase en bewoon dit slegs gedeeltes van die jaar, of selde. Dit geld veral wildsboerdery.
- Die Addo Nasionale Park se grondgebied is uitgebrei en ontvolk gedeeltes van die ring wat boerdery betref (dink veral aan die area rondom die Darlingtondam).
- Die Spoorweë het aktiwiteite op kleiner dorpies, soos Klipplaat, grootliks beëindig. Die ou stoomtrein-tegnologie het ondersteuningspersoneel op verskeie plekke langs die spoorlyn nodig gehad. Met elektriese of dieseleenhede en rekenaarbeheer vir wissels kan die spoorstelsel sentraal vanuit groot sentra beheer word.
Die krimp in lidmaattalle het egter ook met faktore volkome binne die beheer van gemeentes te doen. Die volgende opmerkings word nie beskamend bedoel nie, maar bloot bedoel om die konseptuele landskap waarbinne baie gemeentes funksioneer te beskryf:
- Waar nuwelinge wel gemeenskappe betree, word hulle nie intensioneel binne gemeentes geïntegreer nie. Daar is ‘n baie lae bewussyn dat die kerk moet uitreik na nuwelinge, hulle gasvry verwelkom en binne die gemeente integreer.
- Die NG Kerk se volkskerk-erfenis laat hom ook geld. Dit is nie vanselfsprekend dat lidmate oor grense sal gaan en persone buite die Afrikanerkring sal verwelkom nie. Dit is nie “ons mense” nie.
- Daar is ‘n onderwaardering van die bydrae wat lidmate tot die effektiewe bediening van gemeentes kan lewer. ’n Oorafhanklikheid van predikante lei daartoe dat gemeentes sonder predikante onnodig stagneer, en net funksioneer wanneer ‘n dominee van buite betrek kan word. Gemeentes ontbeer dus inisiatief en gawes wat in die bestaande lidmaattal beskikbaar is, maar weens ‘n gebrek aan ‘n toepaslike bedieningsmodel onbenut bly.
- Wanneer die finansiële oorlewing van die gemeente die primêre motief raak, word die gemeente gediskonnekteer van God se lewegewende bedoelinge met die geloofsgemeenskap.
Weer eens: hierdie opmerkings is bedoel om die landskap te beskryf, nie om te beskaam nie. Die punt is: as dit die de facto situasie is, wat kan gemeentes doen om hulle selfverstaan en bedieningsmodelle aan te pas? Wie is daar wat die Here na ons gemeentes stuur? Hoe kan ons hulle verwelkom? Hoe moet ons verander om hulle by ons welkom te heet?
Verder: hoe kan ons ‘n Bybelse, inklusiewe kerkbegrip ontwikkel? Hoe sien die Bybel die kerk? Indien die Here die kerk bymekaar roep, voor God se aangesig sentreer, leer en vorm, en die kerk daarna uitstuur, wie behoort aan die kerk? Na wie word ons gestuur? Hoe verwelkom ons hulle?
Wat gaan die rol van die predikant in die ontwikkeling van ‘n Bybelse kerkbegrip wees? Dit is duidelik dat lidmate in die toekoms ‘n groter rol in die bediening in gemeentes moet speel. Hiervoor moet ‘n visie ontwikkel word. In talle gemeentes voel dit na ‘n neerlaag wanneer die gemeente nie langer ‘n dominee kan bekostig nie. Dit is onnodig, maar gemeentes gaan nie groei na ‘n bediening wat die gawes van lidmate ontsluit en benut as die ring, of die uitgaande predikant, nie die visie hiervoor ontwikkel nie.
Hoe krimp gemeentes suksesvol?
In die pynlike proses van krimp, sê die dominees van die ring van Graaff-Reinet vir my, moet gemeentes hulle voorberei op nuwe finansiële realiteite en gereed maak vir lidmaatgedrewe bedieninge.
Terselftertyd moet krimp nie as normaal en vanselfsprekend aanvaar word nie. Die vraag is eerder: hoe transformeer gemeentes suksesvol? Aan wie behoort die toekoms van die gemeente? Wie in die gemeenskap is die geestelike erfgename van hulle wat hierdie geboue opgerig en geloof oor eeue en dekades lewend gehou het? Hoe gaan ons hulle insluit, en onsself transformeer om hulle te kan verwelkom?
Hierdie transformasie van krimpende gemeentes in gemeenskapsgerigte kerke behoort met die volgende rekening te hou:
- ‘n Verantwoorde proses van fasiliterende leierskap waardeur die gemeente so wyd moontlik ingeskakel word in die ontdekking van ‘n nuwe roeping vir ‘n nuwe tyd;
- Die beoefening van korporatiewe geestelike dissiplines wat die gemeente help tot ‘n beskrywing van hul identiteit voor God se aangesig, en in die lig van die Woord;
- ‘n Diep en geestelike konneksie met die gemeenskap, waarin die gemeente vra na wie die Here hulle stuur?
- Roeping is die perspektief van waaruit die gemeente se bestaan, en die gestaltes daarvan, bedink word. Dit verg gebed en afhanklikheid van die Here, waarin die lidmate die gemeente “teruggee” vir die Here en van die Here afbid hoe die gemeente moet voortbestaan;
- Meganiese prosesse wat bloot met rasionele logika rekening hou en die beste opsies vir finansiële oorlewing wil kies, moet vermy word.
Ringe behoort die opsie ter vermy om gemeentes bloot te sluit, omdat hulle nie langer volgens kerkordelike bepalings kan voortbestaan nie. Wanneer mens in terme van roeping dink, kan ‘n gemeente van 20 mense betekenisvol voortbestaan. Toegeruste lidmate en mentorskap van geestelike leiers, soos ringspredikante, is nodig. Byvoorbeeld: in ‘n land soos Turkye, waar die Christelike geloof tans weer stadig maar seker groei, is dit niks snaaks om gemeentes van 8 lidmate te ontmoet nie. Waarom dan nie in Suid-Afrika nie? Ons moet net buite die konvensionele wysheid en bestaande bedieningspraktyke (wat baie geld en groot geboue benodig) dink.
Gemeentes kan suksesvol krimp en transformeer. Hiertoe moet teologies-konseptuele beperkings op wat ‘n gemeente is aangepas word.