Grusame taxi-ongeluk bring die beste in boere na vore
Vier kinders sterf op slag toe die taxi voor ‘n vragmotor beland. Dié tragedie speel af op ’n herfsmiddag in Mei 2009, terwyl die taxi skoolkinders na Elliot, ’n klein dorpie in die Noord-Oos-Kaap, vervoer.
Daar is vyftien kinders in die bussie, waarvan ’n paar ook ernstig beseer word. Die meeste benodig noodbehandeling. ’n Aantal boere uit die omgewing is eerste op die toneel. Hulle spring aan die werk en vervoer die kinders na die hospitaal op Elliot. Dadelik – dieselfde middag – word genoeg geld ingesamel en ambulanse gereël om die erg-beseerdes Oos-Londen toe te neem, honderde kilometer vêr.
Die volgende oggend stig die plaaslike NG gemeente ’n rampfonds ten bate van die slagoffers. Die opbrengs word gebruik om die begrafniskoste van die oorlede kinders te dra, hospitaal- en mediese uitgawes te dek, en nuwe skoolklere te koop vir die beseerdes, meeste van wie net oor ’n enkele stel skoolklere beskik het. Verskeie boere maak onder andere ruim bydraes tot die rampfonds.
Hierdie spontane Christelike liefdesdiens en ondersteuning is kleurblind. In die onbeskryflike smart van ouers wat kinders verloor, of wie se kinders ernstig beseer word, is dit bloot medemens wat medemens bystaan. Niemand sou die uitkoms kon voorsien nie….
Dis nou ’n jaar later. “Wat is die gevolg van di’ hulpvaardigheid in die gemeenskap?” vra ek vandeesweek vir ds Conrad Thomas, plaaslike leraar van Elliot.
“Verstommende gevolge. Daar is ’n dramatiese toename in onderlinge vertroue in die gemeenskap,” antwoord hy. “Die taxi-vereniging op Elliot se houding het radikaal verander teenoor spesifiek die boere-gemeenskap, maar ook die blanke bevolking in die algemeen. Taxi-bestuurders help ons byvoorbeeld nou misdaad bekamp. Wanneer hulle bewus word van persone wat onwettige goedere vervoer, word dit aangemeld. Verskeie taxi-operateurs beskik oor landbougrond en boer ook self. Boere het ingespring en hulle gehelp om die grond om te ploeg en die lande vir die saaityd voor te berei. In die afgelope oestyd het boere ook hul stropers ingestuur om die mielies te help oes.”
Daar is ’n besliste afname in misdaad op Elliot. “Dit staan in skrille kontras met die spanning wat daar ’n paar jaar gelde op Elliot geheers het”, vertel ds Thomas. “Terwyl die Here nie ongelukke stuur nie, het die Here tog hierdie ongeluk gebruik om die situasie op ons dorp om te keer.”
Kyk hier hoe Conrad Thomas vertel wat gebeur het:



