“Kuiergaste van elders luister na die verhale van onderlinge diens in ons gemeenskap, en skud hulle koppe. Die onderlinge samewerking, omgee en diensbaarheid hier by ons klink byna soos ’n sprokie. Maar dit is ’n werklikheid.” Só vertel Pieter Bezuidenhout, ’n jong boer van Elliot, ’n klein dorpie in die skouspelagtige berglandskap van die Noord-Oos-Kaap.
Grusame ongeluk
Ons gesprek begin by die grusame taxi-ongeluk verlede jaar in Pinksterweek. Taxi’s in die Elliot-distrik laai swart plaaskinders op en vervoer hulle na talle plaasskole in die omgewing. Waar ’n grondpad by die teerpad aansluit, beland ’n taxi na skool voor ’n groot vragmotor. Drie kinders sterf op slag. Baie is ernstig beseer.
Pieter was een van die eerste boere uit die omgewing op die toneel. Hy vertel hoe talle boere hulp kom verleen het. Elliot se taxi-vereniging het ook ingespring. Talle taxi’s is na die toneel gestuur. Tussen hulle en die boere is die minder-ernstige beseerdes opgelaai en na die plaaslike hospitaal geneem. ’n Hele aantal ernstig-beseerde kinders is na Oos-Londen gestuur vir behandeling.
Uit Pieter se vertelling ontvou die uitdagings waarvoor klein plattelandse gemeenskappe te staan kom en die besondere maniere waarop hulle dit hanteer.
Die dag na die ongeluk span die boere en die taxi-vereniging saam om die ouers na hul kinders wat in Oos-Londen behandel word, te neem. Elliot is meer as 200 km van Oos-Londen. Die vereniging gee die voertuie gratis, en die boere staan in vir die petrol. Daarna doen hulle dit nog vier keer.
“Soms moes die ouers gaan net om die kinders ’n slag te gaan was,” vertel Pieter. “Volgens die hospitaalpersoneel in Oos-Londen is hulle nie daar om die kinders skoon te kry nie, net om hulle gesond te kry. Elke keer het die gemeenskap kospakkies vir die kinders saamgestuur. Dit gaan maar swaar in ’n staatshospitaal, en ons kon die kleingoed nie aan hulleself oorlaat nie. Onthou dis plaaskinders, hulle ouers het dit nie breed nie.”
Vanweë die taxi-ongeluk word ’n rampfonds deur die plaaslike NG Gemeente gestig. Ds Conrad Thomas vertel dit was op inisiatief van einste Pieter en sy vrou, Chanél.
Weer Pieter: “Daardie eerste aand na die ongeluk staan ek en my vrou tussen die beseerde kinders in die hospitaal op Elliot. Ons sien huilende kinders. Enetjie klou sy stukkende trui vas, verflenter deur die ongeluk, vol bloed en gras. Ander sit met stukkende skoolklere, beskadigde boeke, skoene wat daarmee heen is. Die ontstellende vraag in hul kindergemoed is: ‘Waar gaan ek weer ’n trui kry? Skoene? Boeke? ’n Skooltas?’ Jy kan nie glo dat ’n kind verby sy eie liggaamlike pyn kyk, en huil oor sy materiële verliese nie, maar dit is presies wat gebeur het.”
“Net daar sê Chanél vir my ons het ’n rampfonds nodig waartoe almal in die gemeenskap kan bydra. Hier is nie groot besighede of ander welgestelde mense wat met groot donasies só ’n klip uit die pad kan rol nie. Ons is op mekaar aangewese.”
Die fonds is die volgende dag onder die vaandel van die NG Kerk gestig en mense het wyd skenkings gegee, waaronder ook die plaaslike taxi-vereniging.
Op ’n gemeenskapsvergadering, waarby rolspelers soos boere, die taxi-vereniging en die kerk betrokke was, is besluit wat met die rampfonds gedoen moet word. Deel van die begrafniskoste is daaruit gedek. Verder het die oorlewendes nuwe klere, skoene, tasse en boeke ontvang. Vervoerkoste vir die ouers tussen Elliot en Oos-Londen is ook hieruit gedra.
Die ongeluk het die gemeenskap help verstaan hoe afhanklik almal van mekaar is. Volgens Pieter het die samewerking sedertdien beduidend verhoog.
Waar het die diensbaarheid begin?
Pieter Bezuidenhout het op Elliot as plaasseun grootgeword. Hulle familie boer geslagte reeds in die omgewing. Hy ken die gemeenskap.
Pieter vertel hoe anders dit vroeër was. In die negentigerjare was daar verskeie plaasmoorde in die omgewing. Sy pa het ’n plaas teen die dorp gehad, en wou dit verkoop weens die hoë vlakke van veediefstal.
Die wending het gekom toe grond tien jaar gelede deur die regering aan swartmense toegeken is. Op een plaas boer sewe swart boere saam. Hulle het in hul eerste jaar 30 hektaar mielies geplant, met ’n totale oes van 12 ton mielies. In dié omgewing oes mens minstens 5 ton mielies per hektaar, wat beteken dat hulle opbrengs 12 ton in plaas van 150 ton was.
“Toe kom vra hulle hulp by my. Sou ek hulle kon leer boer? Ek het hulle geleer om grond te bewerk, reg te ploeg, te bemes, en te saai. Vandag is hulle boerdery volledig ’n kontantbedryf. Hierdie seisoen het hulle 50 hektaar mielies kontant geplant, en dit lyk of hulle ’n volle 6 ton per hektaar gaan oes. Implemente is ook al kontant gekoop.
“Hierdie mense het ’n passie vir boerdery en versorg hulle grond behoorlik. Dit was vir my lekker om hulle te help en te sien hoe hulle ontwikkel. Ek noem hulle goeie boere. Hulle herstel hulle grensdrade, hou hul lande skoon, bedryf hulle besigheid ordentlik.
“Op hierdie manier het hulle deel geword van ons boeregemeenskap. Hierdie sewe ouens is ook in die taxi-bedryf. Daarom is die taxi-rank die plek waar baie probleme in ons gemeenskap vandag opgelos word,” verduidelik Pieter.
Sedertdien help meer boere vandag nog met ploeg en oes op swart boere se grond.
Op hierdie manier is ’n klimaat geskep wat sedert die taxi-ongeluk ’n sterk stygende lyn toon.
Uitkomste
Die taxi-bedryf en die boeregemeenskap het mekaar behoorlik as vennote gevind. “As jy so met hierdie mense saamwerk, sien jy oor watter kwaliteite hulle beskik, en watter soort mense hulle inherent is. Dit het veroorsaak dat ons hele gemeenskap uiteindelik soos ’n groot familie geword het,” sê Pieter.
Dit klink goed. Daarom wil ek by Pieter weet hoe hierdie familie saamlewe.
“Wel,” sê hy, “as ons boere wil gaan rugby kyk in Bloemfontein, dan gee die taxi-vereniging vir ons ’n minibus, op die huis. Die voertuig is so skoon jy kan eet van die vloer af. Ons gooi net petrol in en daar gaat ons.”
“Nie een boer sluit ’n skuur as ons die plaas verlaat nie. Daar is nie diefstal nie. Op daardie selfde plaas teen die dorp wat my pa weens diefstalle wou verkoop, het daar verlede jaar net een skaap vermis geraak.
“’n Rukkie gelede het ons agtergekom daar is op groot skaal ’n skaapstelery op een van die plase aan die gang. Boere het die taxi-vereniging gebel en hulle het binne ’n halfuur die hele omgewing se paaie geblokkeer sodat die skuldiges vasgetrek kon word.”
Hoe meer Pieter die voorbeelde opstapel, hoe meer verstom raak ek.
Hy gaan voort. “My ma woon nog saam met ons op die plaas. Wanneer ons nie daar is nie, is dit nie vreemd dat ’n taxi – ongevraagd – kom kyk of alles reg loop met my ma op die plaas nie. Jy kan sien dié mense gee om vir ander.
“Verlede jaar is BA, ’n groot figuur in Elliot en taxi-eienaar, oorlede. Sy begrafnis was werklik ’n gemeenskapsbegrafnis. Uit alle groepe het mense hul hulde kom betoon.
“Onlangs het ons gemeente basaar gehou. Ons is nie ’n ryk gemeenskap nie, maar ons het ’n wonderlike opbrengs gehad. Almal het ietsie gegee. Die taxi-vereniging het mense aangery om by die basaar te kom koop. Vir my was dit nogal vreemd, as kind het ek dit nie geken nie. Vir ons was die basaar altyd die blanke, NG basaar. Die taxi-vereniging help ons om nie teen kleur vas te kyk nie.
“Ons leer baie oor gemeenskapslewe by ons swart vriende. ’n Paar jaar gelede is ’n swart kind se ma by geboorte in die hospitaal oorlede. Daar was nie familie nie. Een van die taxi-eienaars en sy vrou het die kind geneem en maak hom as hulle eie groot. Geen voorwaardes is gestel nie. Jy voel klein as jy dit sien gebeur.”
Ander gemeenskappe?
Elliot se gemeenskapsverhaal is gebore vanuit die hart van God. Dit is ’n beweging van die Gees om ’n betroubare wêreld met genesing, geregtigheid en vreugde te skep.
Daarom hoef Elliot se verhaal nie uniek te wees nie. Wat die verskil maak, is mense met harte vol nederige diensbaarheid, soos Pieter en Chanél. Mense wat die potensiaal vir liefde en sorg oor grense heen van elke stukkie trauma in gemeenskappe raaksien. Mense wat in ander se lewens belê, soos om vaardighede en kennis te deel.
Nederige diens is onweerstaanbaar.