RSS Feed

Archive for May, 2011

Krisis van die tipiese Suid-Afrikaanse Familie

2011/05/25 by Danie Mouton No Comments »

Verreweg die meeste Suid-Afrikaanse kinders word in enkelouer-gesinne groot onder leiding van ’n moeder. Die meeste kinders word ook in huishoudings groot waar die ouers werkloos is. Faktore wat die gesins- en familielewe stempel is armoede, MIV-Vigs, die effekte van trekarbeid, geweld en misdaad, en die die apartheidserfenis van die land.

Talle kinders is wees. Dubbele weeskinders (wat albei ouers verloor het) tel in Sub-Sahara Afrika 9,1 miljoen, waarvan 5,2 miljoen (byna 60%) ten minste een ouers weens MIV-Vigs aan die dood afgestaan het. SA het 859,000 dubbele weeskinders, 2,4 miljoen kinders sonder ’n pa, en 624,000 kinders sonder ’n moeder.

Waarom word soveel meer kinders sonder ’n pa groot? Dit kan met geweld te doen hê (in 2007 was 87% van mense wat geweldadig gesterf het, mans). Verder word heelwat kinders groot sonder dat hulle ooit hul vaders ken.

3,95 miljoen kinders het teen 2008 een of albei ouers verloor, wat ’n toename sedert 2002 verteenwoordig. Weeskinders beleef ’n groter risiko om nie skool te gaan nie, te leef in huishoudings met veel laer voedselsekuriteit, en ly meer aan angs en depressie. Hulle is ook meer blootgestel aan die risiko van MIV-infektering. Hierdie risikofaktore is – bykomend – nóg groter as die enkelouer ’n pa is, eerder as ’n ma. Weduwees versorg hul kinders beter as wewenaars.

Wanneer die moeder van ’n kind van 0-3 jaar in SA sterf, het daardie kind ’n verhoogde risiko om binne ’n jaar ook te sterf. Kinders waarvan die moeder sterf, het ’n verhoogde risiko om nie skool te gaan nie, en voltooi minder jare van opvoeding en onderwys. Minder geld word aan hul opvoeding spandeer in vergelyking met kinders van wie die moeder leef.

Dit is bloot ’n mite dat kindertoelae jong meisies aanmoedig om kinders te hê. Data toon dat geboortes by jong moeders afneem, ten spyte van kindertoelaes.

Hierdie navorsing – en veel meer – is vervat in ’n verslag van die SA Instituut vir Rassevehoudinge wat op ons webblad beskikbaar is – lees dit gerus.

Die kerk en die familie

Die geïdealiseerde prentjie van die kerngesin – pa en ma, boeties en sussies – waarmee kerke graag werk, bestaan nie in die hoofstroom familielewe van Suid-Afrika nie. Tog fokus gemeentes op kerngesinne. Die vraag is dus hoe kerke die werklikhede van die land verreken in hulle bediening.

As gemeentes slegs goed-funksionerende verbondsgesinne in die visier het, en nie fokus op die insluiting van “onvolledige” gesinne in die skep van verbondsgemeenskap nie, mis ons die punt van die evangelie.

Die verslag wys op ’n duidelike behoefte aan ouerlike versorging van kinders. Gemeentes en gelowiges kan ’n geweldige rol speel om vaders en moeders vir kinders in die gemeenskap te wees. Om dit reg te kry, sal gemeentes lidmaat-gesentreerdheid moet afskaf, gemeenskappe betree en daadwerklike vertrouensverhoudings met kinders moet bou. Dit gaan almal iets kos. Vennote in hierdie proses is skole, welsynsorganisasies en agentskappe wat met wetstoepassing te doen het.

“It takes a village to raise a child.” Inderdaad.