RSS Feed

Archive for April, 2012

Die Bybel. Is dit alles waar? (1)

2012/04/04 by Danie Mouton No Comments »

Abraham het alreeds in Genesis 15:8 gevra: “Hoe sal ek weet… Here?”  Meer as ‘n duisend jaar later vra Pontius Pilatus: “Wat is waarheid?”

Wat is waarheid?  Waarop kan mens jou lewe verlaat?  Hierdie vraag is deesdae belangriker as ooit.  In die laat-moderne, of post-moderne, konteks word die menslike soeke na waarheid onder ernstige druk geplaas.  Kan mens die waarheid oor God hoegenaam ken?  Of oor jou mede-mens?  Die kosmos?  Is daar net een waarheid?  Hoe weet ek jou waarheid het enige betekenis vir my?

Die moderne opvatting dat waarheid in logiese proposisies vasgevang kan word, word toenemend bevraagteken.  Mense verloor hul vertroue in blote rasionaliteit.  Waarheid is veel meer as die uitkoms van rasionele denkprosesse.

But is it all true?

But is it all true?

In die lig hiervan het ek Alan Padgett en Patrick Keifert (redakteurs) se “But is it all true? The Bible and the question of truth” (Eerdmans 2006) met groot aandag begin lees.  Nege gespreksgenote, met filosofiese en teologiese agtergrond, lewer inhoudelik ryk bydraes waarin waarheid multi-dimensioneel beskryf word.  Waarheid is nie bloot proposisioneel maar, maar het ook etiese, eksistensiële en estetiese kante.  Waarheid is relasioneel, en bestaan veral ook as ontmoeting in die hier en nou tussen teks, mens en God.

Die waarheid van die Bybel word nie bloot openbaar wanneer die Bybel as objek bestudeer word nie.  Die waarheid van die die Bybel word werklik wanneer die Skrifte as gespreksgenoot in die ontmoeting tussen God, mens en wêreld aan die woord kom.

Ek beplan om meer bydraes oor die boek te skryf.  In hierdie, eerste, bydrae word ‘n kort opsomming gegee van die eerste hoofstuk.  Dit is geskryf deur prof Dennis T. Olson, onder die titel: Truth and Torah: Reflections on Rationality and the Pentateuch.

Olson werk met die aanname dat die Bybel ons  belangrike insigte gee oor die aard van die soeke na waarheid oor God, onsself en ons wêreld.  Hy fokus op die eerste vyf boeke van die Ou Testament, wat bekend staan as die Pentateug.  Sy bydrae bestaan uit die volgende vyf stellings:

1.  Spore van post-moderne uitdagings vir die godsdienstige soeke na waarheid (‘n verstaansraamwerk van suspisie, dekonstruksie, en pluralisme) kom alreeds in die Tuin van Eden en by die Toring van Babel voor.

Die slinkse slang in die tuin van Eden werp suspisie op God se woorde: “Is dit so…”  Die slang vermeng waarheid en onwaarheid om deur suspisie ‘n leuen te skep.  Die hele verhaal van Adam en Eva se rebellie het met die soeke na waarheid te doen.  Die waarheid word reg geken, maar ook skeefgetrek en ontduik.  Van Eden af worstel mense om die waarheid te ken.

Olson interpreteer die gebeure by die toring van Babel ook as ‘n worsteling om die waarheid.

2.  Die primêre Hebreeuse naamwoord in die Pentateug vir “waarheid”(’emet) dui beide op relasionele vertroue as op ‘n meer objektiewe toetsing van die waarheid

Merkwaardig genoeg het waarheid in die Pentateug beide ‘n intense relasionele komponent van vertroue en ook ‘n meer objektiewe, feitelike kant.

Waarheid word dikwels met trou verbind, en verhoudings van waarheid en trou beskryf.   Ervarings van hierdie trou en waarheid word gekoppel aan beloftes daarvan met die oog op die toekoms.

Daar is ook ‘n feitelike basis vir waarheid.  In Deuteronomium moet ondersoeke deur regters gedoen word en die waarheid van die getuienis word getoets.  Daar moet meer as een getuie wees.  Die regters was nie soseer mense wat wette toegepas nie, maar eerder onderhandelaars wat deur arbitrasie harmonie en konsensus in gemeenskappe moes bewerk.  Regters mag ook nie omkoopgeld aanvaar nie, omdat God self nie omgekoop kon word nie en onpartydig was in sy oordele oor mense.

Profesie is ook getoets – enersyds aan die toewyding (waarheid en trou) van die profeet se verhouding met die Here, en tweedens of toekomsprofesie werklik (feitelik) realiseer.

3. In die Pentateug ontvang mense slegs gedeeltelike glimpse van God en die waarheid van God se beloftes

Olson verwys na Abraham wat die sterre as teken vir die belofte van ‘n nageslag en ‘n kind gekry het.  Uiteindelik het hy nooit die land gesien nie, hoewel hy wel die teken van die kind ontvang het.  Moses het diepgaande kontak met God gehad, maar tog kon hy God net van agter sien (Eks. 33).  Mense ken en sien ten dele.

Hoewel mense God nooit ten volle deurgrond nie, maak God God se opdragte duidelik en toeganklik genoeg.  God praat nie net deur Moses nie, maar gee ook opdrag dat die woorde neergeskryf moet word (om die torah te skep).  Beide die torak en God se toekomstige spreke deur ‘n profeet na Moses moet die volk op die regte pad lei.  Nuwe woorde van God word gestabiliseer deur die geskrewe tradisie, wat die onderskeiding van die waarheid aanhelp.

4.  Die Pentateug is oop vir wysheid en waarheid buite sigself

Olson wys op talle voorbeelde van mense buite die kader van die volk van God wie se woorde van wysheid in die lewe van die volk geïntegreer word.  Jetro die Midianiet, Balaam en Melgisedek, die priester van Salem, is almal voorbeelde hiervan.

Die Pentateug se bevestiging dat God die Skepper van alle volke en nasies is, wat verbonde met hulle en die skepping sluit, suggereer dat God waarheid en betroubare verhoudinge met ander vestig wat nie in die Bybel verhaal word nie.  Hagar, die Egiptiese slaaf van Abraham en Sara, en haar seun Ismael, ontvang die belofte dat die Here hulle ‘n groot nasie sal maak.  Die res van hulle verhaal word nie vertel nie, hoewel ons kan aanneem dat God aktief in hulle geskiedenis sou wees.  In Aamos 9:7 sê die Here bv. dat Hy dade van bevryding en verlossing vir ander nasies bewerkstellig het, soos die Etiopiërs en die Filistyne.

Dit is dus moontlik dat wysheid gevind kan word buite die volk, maar dan moet dit deeglik getoets word.  Die doen van die wil van God kan ook bedreig word deur “waarheid” van buite.

5.  Die waarheid oor God, die mens en die wêreld groei oor lane jare van ervaring, stryd, lyding en transformasie binne die konteks van die menslike gemeenskap waarvoor God gekies het

Die ken en die doen van waarheid is iets wat oor jare in feitlik al die sentrale karakters in die Pentateug se lewens gebeur. Dink aan Abraham, Jakobs, Josef en Moses.  Selfs die hele ouer geslag, wat uit Egipte gelei is, sterf eers in die woestyn voordat ‘n nuwe geslag die beloftes van God opnuut toeëien en die beloofde land inbeweeg.

Ten slotte

Daar is inderdaad baie waarmee die Torah moderne soekers na die waarheid kan help.  Ons sien inderdaad nog ‘n raaisel soos deur ‘n dowwe spieël, maar ons vertrou die beloftes van die Een wat dit gegee het.  En ons leef en soek elke dag na die waarheid op grond van hierdie beloftes.