RSS Feed

Archive for the ‘Preke’ Category

Lesse uit die lewe van die vroeë kerk: Toets van geloof

2010/04/13 by Danie Mouton 4 Comments »

Hierdie oordenking is oorspronklik opgeneem vir uitsending op RSG.  Dit is die vyfde in ‘n reeks van vyf wat handel oor lesse wat ons uit die lewe van die vroeë kerk kan leer.

Oordenking 5: In die navolging van Christus word geloof getoets

Vandeesweek gesels ons oor die praktiese navolging van Jesus.  Ons leer vanoggend by die Christene van die eerste eeue hoe ons geloof versterk word wanneer dit getoets word.

Die vroeë Christene was ‘n vervolgde kerk.  So word Procopius, ‘n kerkleier in Palestina, na die plaaslike goewerneur ontbied.  Hy kry opdrag om ‘n offer aan die keiser te bring.  Hy weier en word dadelik onthoof.  Nou word sy kollegas gevange geneem en dieselfde eise word gestel.  Hulle sterf ook, maar bly getrou aan die Here.

In dieselfde tyd word die kerkleier in Antiogië, Romanus, na die brandstapel gestuur.  Nadat hy op die hout vasgemaak is, vra Romanus: “Waar is die vlamme dan?”  Hulle sleep hom terug na die goewerneur, wat besluit om hom eers te martel vir sy arrogansie. Sy tong word onder andere uitgesny voor hy verbrand word.  Die antieke skrywer Eusebius sê: “Romanus het sy marteling met geduld, blydskap en deursettingsvermoë verduur. Hy het duidelik getoon dat die krag van God altyd teenwoordig is om hulle te help wat vir hul godsdiens ly, om hulle stryd te verlig en vir hulle deursettingsvermoë te gee.”

Ons het die afgelope week gesien hoedat die eerste Christene onvoorwaardelik uitgereik, en die samelewing gedien het.  Hulle kon nood verstaan, en dit met die onvervalste, onveranderde evangelie van Jesus Christus aanspreek.  Daarom het die kerk geweldig vinnig gegroei.

Dit skep egter ‘n probleem. Mense kom by wyse van spreke vir die koekies, vir die liefde en versorging, en nie vir Christus nie.  Mense kom vir hulle behoeftes, nie om hulleself te verloën en die Here te dien nie.  Hulle help nie om die Here se roeping vir die kerk uit te voer nie. Hierdie mense verlam die kerk, en is selfsugtig.  Die godsdiens-sosioloog Rodney Stark noem hulle “free-riders”.

Die vroeë kerk het nie die probleem van free-riders gehad nie.  Geloof het opoffering geverg.  Christene wou nie die keiser aanbid nie, en is daarom vervolg.  As jy ‘n Christen geword het, moes jy ander te dien.  Jou mede-gelowiges was van jou afhanklik, en jy van hulle.

Om ‘n kerklidmaat te wees het ‘n hoë toelatingsfooi gehad.  Jy moes selfs met jou lewe betaal.  En ander se laste dra.

1 Petrus 1 vers 7 sê:  “Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.”

Die vroeë Christene daag ons uit om hoë vereistes vir geloof te stel.  Ons sal lewens van toewyding en opoffering móét lei.  En dit van ander verwag.  Hoe kan ons uitstaan vir Jesus?  Hoe moet Christene se lewens anders lyk as die gemiddelde Westerling s’n?  Ons kan nie Christene word en vir die res van ons lewe dieselfde bly nie.

Daar bly natuurlik ook ‘n free-rider in elkeen van ons.  Jesus het ons geleer dat ‘n slaaf nie groter as sy meester is nie.  Die voorbeeld van Jesus is ons maatstaf.  Ons volg Hom na.

Kom ons bid saam.  “Here, help ons om nie ons geloof, getuienis en diens goedkoop te maak nie.  Help ons om U en elkeen wat ons pad kruis met toewyding te dien.  Help ons om uit te staan vir U, selfs al verg dit ‘n prys.  Amen”.

Lees die hele reeks:

1.  Jesus se voorbeeld van praktiese liefdesdiens
2.  Herstelde gesinsverhoudings
3.  Saamgebind tot ‘n liefdevolle eenheid
4.  Christus skep egte gemeenskap tussen mense
5.  In navolging van Jesus word geloof getoets

 

Lesse uit die lewe van drie vroeë kerk: Egte gemeenskap

by Danie Mouton 4 Comments »

Hierdie oordenking is oorspronklik opgeneem vir uitsending op RSG.  Dit is die vierde in ‘n reeks van vyf wat handel oor lesse wat ons uit die lewe van die vroeë kerk kan leer.

Oordenking 4: Christus skep egte gemeenskap tussen mense

Vandeesweek gesels ons oor die praktiese navolging van Jesus.  Ons neem voorbeelde uit die lewe van die eerste Christene, 2,000 jaar gelede, en leer by hulle hoe om Jesus prakties na te volg.  Vanoggend is ons tema:  Christus skep egte gemeenskap tussen mense.

In die eerste eeue het die Christelike geloof veral vinnig in die Romeinse stede gegroei.  Ons kan vandag baie by die eerste Christene leer hoe om kerk en Christen in stede te wees.

Kom ons neem die antieke stad Antiogië, waar Paulus en Barnabas gewerk het, as voorbeeld.  Die lewe in ‘n Romeinse stad was moeilik.  Die bevolkingsdigtheid was geweldig hoog.  Daar was geen rioolsisteem nie.  Water was skaars.  Die gemiddelde persoon was baie vuil.  Openbare baddens en toilette was vir welgestelde mense.  Higiëne was ‘n probleem, en ‘n stad soos Antiogië was vol siektes.  Lewensverwagting by geboorte was slegs 30 jaar.

Romeinse stede was ook altyd vol vreemdelinge.  Omdat mense so jonk gesterf het, moes nuwelinge voortdurend na die stede kom om die bevolking in stand te hou.  Mense wóú kom, want die stede het baie staatsamptenare en soldate gehad. Salarisse is betaal en handel kon dus gedryf word.  Daar was altyd “onlangse” vreemdelinge wat nie deel van die sosiale vesel was nie.  In sulke gemeenskappe is daar altyd hoër voorkomste van roof, geweld en moord.

Die mense het ook uit verskillende etniese agtergronde gekom.  Daar was nie veel liefde vir ander groepe nie.  Etniese verskille en nuwelinge het sosiale integrasie byna onmoontlik gemaak. Daar was nie ‘n gemeenskaplike identiteit en lojaliteit nie.  Romeinse stede was daarom altyd vatbaar vir oproer en openbare geweld.  Niemand het dit na donker op straat gewaag in ‘n plek soos Antiogië nie.

Teen hierdie agtergrond is dit so merkwaardig dat die eerste Christene in Antiogië die grense oorgesteek het, en die evangelie met al die groepe in die stad gedeel het.  Handelinge 11 vers 20 vertel dat daar vlugtelinge in Antiogië aangekom het.  Hierdie vreemdelinge deel dan die evangelie oor alle grense.  Oral kom mense tot geloof.

Iets merkwaardig gebeur in Antiogië.  Mense wat voorheen vyande was, word in Christus vriende, deel van die liggaam van Christus.  Mense wat mekaar vroeër aangeval het, begin mekaar nou versorg, dien en liefhê.  Hulle begin Jesus se voorbeeld van nederige diens navolg.

Die gemeente in Antiogië maak van vyande vriende.  So word die stad ‘n veiliger plek.  In tye van rampe en ellende het mense mekaar begin bystaan.  Misdaadvlakke het gedaal.  Nuwelinge is welkom geheet en deel gemaak van die volk van God.  ‘n Nuwe manier van saamleef in die stad het moontlik geword.

Die eerste Christene daag ons uit oor die manier waarop ons in ons gemeenskappe leef.  Ons geloof is nie net ‘n private binnekamer aangeleentheid nie.  Jesus maak ons verantwoordelik vir die gemeenskap.  Ons moet mense oor grense saambind, sodat ons ‘n impak op die openbare lewe kan hê.

Hoe ons motor bestuur, vreemdelinge behandel, teenoor persone van ander groepe optree, en sorg dra vir mekaar kan ons gemeenskappe ook veiliger plekke maak.

Kom ons bid saam: “Here, help ons om vriende van vreemdelinge te help maak in alles wat ons doen.  Help ons om ‘n veilige omgewing te skep.  Amen”

Lees die hele reeks:

1.  Jesus se voorbeeld van praktiese liefdesdiens
2.  Herstelde gesinsverhoudings
3.  Saamgebind tot ‘n liefdevolle eenheid
4.  Christus skep egte gemeenskap tussen mense
5.  In navolging van Jesus word geloof getoets

 

Lesse uit die lewe van die vroeë kerk: Liefdevolle eenheid

by Danie Mouton 1 Comment »

Hierdie oordenking is oorspronklik opgeneem vir uitsending op RSG.  Dit is die derde in ‘n reeks van vyf wat handel oor lesse wat ons uit die lewe van die vroeë kerk kan leer.

Oordenking 3: Christus bind ons tot ‘n liefdevolle eenheid saam

Vandeesweek gesels ons oor die praktiese navolging van Jesus.  Ons leer vanoggend by die Christene van die eerste eeue hoe Jesus sy volgelinge tot ‘n liefdevolle eenheid saambind.

In die Romeinse Ryk van 2,000 jaar gelede was mense netjies in blokkies ingedeel.  Jy het presies geweet wat jou klas, stand en status was.  Jy was Griek of barbaar, Jood of nie-Jood, besny of onbesny, ryk of arm, slaaf of vry, man of vrou, Romeinse burger of nie-burger.

Menslike lewe het min waarde gehad, spesifiek as jy van ‘n laer klas was.  Christene het dikwels ook aan die kortste end getrek omdat hulle lewensstyl anders was.

‘n Voorbeeld: Om sy jong seuntjie se verjaardag te vier, hou die keiser ‘n byeenkoms in die arena.  As geskenk word die Christene van die dorpie Perpetua vir wilde diere gegooi.  Hulle kry die keuse om hulle geloof af te sweer.  Dan sal hulle lewe.  Maar as hulle dit doen, sê die keiser, gaan hy in elk geval ander mense vir die wilde diere gooi.  Op die ou end kies die Christene van Perpetua die dood. Ter wille van Christus, maar ook ter wille van die lewens van ander wat sou sterf as hulle nie wou nie.  Hierdie soort spele was algemeen. Die gewildste toeskouersport was die verskeur van mense deur wilde diere in die arena.

Die samelewing gekenmerk deur algemene wreedheid en versotheid op die dood.  Mense het nie vir mekaar omgegee nie.  Siekes is op straat uitgesit, aborsie was algemeen en baie vroue is op hierdie manier na hul dood gestuur.  Mans het gedomineer.  Huwelike is gesluit met dogtertjies voordat hulle in puberteit was, en tog is die huwelike dadelik voltrek.

In hierdie samelewing het die Christelike geloof ‘n geweldige impak gemaak.  Alle mense is binne die kerk as belangrik geag.  Jou waarde hang nie af van jou stand, jou volk, jou geboorte of jou rykdom nie.  Kolossense 3 vers 11  “Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaafd, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.

Die vroeë kerk het Christus se voorbeeld nagevolg.  Mense is belangrik, ongeag klas of stand.  Christus het die mensgemaakte skeidsmure tussen mense afgebreek.  Hy bou sy kerk uit ‘n verskeidenheid mense.  Hy leer sy volgelinge om mekaar lief te hê.

Die Christelike geloof was vir mense aantreklik.  Dit het vir mense hul menswaardigheid teruggegee.  Daarom het die kerk so sterk gegroei.  Vroue het in groot getalle Christene geword.  In baie gevalle was hulle die primêre bekeerlinge wat dan hulle mans en kinders na die Here gelei het.  Daar was ‘n sagtheid. ‘n verdraagsaamheid, ‘n onderlinge liefde, omdat God sy kerk liefhet.  Kolossense 3:14: “Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.  Bo alles moet julle mekaar liefhê.  Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.”

Die vroeë Christene daag ons uit om in die Naam van Jesus lief te hê.  Woorde is goedkoop.  Dade tel.

Kom ons bid saam.  “Here, U het ons so hoog geag dat U U lewe vir ons gegee het toe ons nog U vyande was.  Leer ons om prakties lief te hê, oor alle denkbare grense.  Amen.”

Lees die hele reeks:

1.  Jesus se voorbeeld van praktiese liefdesdiens
2.  Herstelde gesinsverhoudings
3.  Saamgebind tot ‘n liefdevolle eenheid
4.  Christus skep egte gemeenskap tussen mense
5.  In navolging van Jesus word geloof getoets

 

Lesse uit die lewe van die vroeë kerk: Herstelde Gesinsverhoudinge

by Danie Mouton 2 Comments »

Hierdie oordenking is oorspronklik opgeneem vir uitsending op RSG.  Dit is die tweede in ‘n reeks van vyf wat handel oor lesse wat ons uit die lewe van die vroeë kerk kan leer.

Oordenking 2: Herstelde gesinsverhoudinge in die Naam van Jesus

Vandeesweek gesels ons oor die praktiese navolging van Jesus.  Ons leer vanoggend by die Christene van die eerste eeue hoe herstelde gesinsverhoudinge in die Naam van Jesus lyk.

In Efesiërs 4 vanaf vers 17 skryf Paulus:  “Moenie langer soos heidene lewe nie.  Lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig”.

Hoe het die mense in die tyd van Paulus en die eerste Christene gelewe?

Die Romeinse gesinslewe was stukkend.  Daar was bitter min respek vir lewe en vir mekaar.

Die vroegste Romeinse wetboek het vaders toegelaat om enige wangeskape seuntjie, of enige dogtertjie, by geboorte dood te maak.  Mense het ‘n kind wat hulle nie wou hê nie doodgewoon buite neergesit om aan blootstelling te sterf of ‘n prooi van roofdiere te word.   Romeinse gesinne het net seuns en gewoonlik net een dogtertjie grootgemaak.

‘n Soldaat met die naam Hilarion skryf in daardie tyd uit Egipte ‘n brief aan sy swanger vrou, Alis. Hy wens haar sterkte toe met haar bevalling. Hy weet natuurlik nie of dit ‘n seuntjie of ‘n dogtertjie gaan wees nie, en sê dan: “Sodra ek betaling kry, stuur ek vir jou geld. As jy geboorte gee voordat ek terug by die huis is, en as dit ‘n seuntjie is, behou hom. As dit ‘n dogtertjie is – raak daarvan ontslae”.

In onlangse opgrawings in die hawestad Askelon is meer as 100 geraamtes van dag-oud babas in ‘n rioolsloot gevind – doodeenvoudig weggegooi en laat sterf.

Die huwelik was ook laag aangeslaan in die Romeinse Ryk.  Verskeie keisers het allerlei maatreëls getref om mans en vroue aan te moedig om te trou.  Spesiale belonings is gegee aan gesinne wat drie of meer kinders grootgemaak het.  Op ‘n stadium moes ongetroude mans en vroue hoër belasting betaal.

Die onsedelikheid en vrylike buite-egtelike verhoudings van die Romeinse Ryk is goed bekend.  Pedofilie het ook algemeen voorgekom.  Aborsie was algemeen toegepas as manier om buite-egtelike swangerskappe te beperk.  Terwyl seep nog nie uitgevind was nie, en mense nie van bakterieë geweet het nie, het die Romeine verskeie aborsie tegnieke toegepas.  Omdat die vrou as minderwaardig gesien is, moes sy ‘n aborsie ondergaan as die man haar beveel het.  40% van vroue wat aborsie ondergaan het, het gesterf.

Die vroeë Christene was anders.  Christus het hulle nuut gemaak en hulle het anders geleef.

Uit Jesus se voorbeeld kan ons sien hoe hoog Hy vroue geag het.  Vroue was nie die besittings was mans nie, en het ‘n belangrike rol in die kerk gespeel.  Kindermoord en aborsie is verwerp.  Lees gerus weer byna al die boeke van die Nuwe Testament om te sien hoe hoog die huwelik geag word.  Mans en vroue word aangemoedig om mekaar liefdevol te dien.  Ouers aanvaar verantwoordelikheid vir die opvoeding van hul kinders om Jesus te dien.  Die Christelike kerk doen moeite om morele mense te vorm.  Christene was nie veroordelend nie, maar gasvry.  Moreel-siek mense is binnegenooi, hulle het die vergifnis en genesing van Jesus ervaar en anders begin lewe.

Ons word uitgedaag om in geneesde gesinsverhoudinge te leef.  Om ander hoër te ag as onsself.

Kom ons bid saam:  “Here, help ons om as gesinne in liefde saam te leef.  Maak ons getuies van u liefde en genesing.  Leer ons dien.  Amen”

Lees die hele reeks:

1.  Jesus se voorbeeld van praktiese liefdesdiens
2.  Herstelde gesinsverhoudings
3.  Saamgebind tot ‘n liefdevolle eenheid
4.  Christus skep egte gemeenskap tussen mense
5.  In navolging van Jesus word geloof getoets

 

Lesse uit die lewe van die vroeë kerk: Praktiese liefdesdiens

by Danie Mouton 3 Comments »

Hierdie oordenking is oorspronklik opgeneem vir uitsending op RSG.  Dit is die eerste in ‘n reeks van vyf wat handel oor lesse wat ons uit die lewe van die vroeë kerk kan leer.

Oordenking 1 : Ons volg Jesus se voorbeeld van praktiese liefdesdiens

Vandeesweek gesels ons oor die praktiese navolging van Jesus.  Ons gaan elke oggend by die Christene van die eerste eeue leer wat dit beteken om ‘n dissipel van Jesus te wees.  Vanoggend is ons tema: Ons volg Jesus se voorbeeld van praktiese liefdesdiens.

Die geloof van die eerste Christene is diep beproef omdat hulle in ‘n vyandige omgewing geleef het.  Die Romeinse Ryk was 2,000 jaar gelede die wêreldryk.  Die Romeine het die Christelike kerk met tye aktief en bloedig vervolg.  Tog het die Kerk dramaties bly groei.  Een van die redes was die praktiese liefdesdiens van die eerste Christene.

In Matteus 25 vers 37 vra Jesus se volgelinge: “Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink?”  Dan antwoord die Koning:  “Vir sover julle dit aan een van die geringstes gedoen het, het julle dit aan My gedoen”.

Die eerste, vervolgde Christene het hierdie woorde van Jesus uitgeleef.

In die jaar 165 nC, tydens die regering van Keiser Marcus Aurelius, het ‘n verwoestende epidemie die hele Romeinse Ryk getref.  Vir 15 jaar het vlaag op vlaag van ‘n dodelike siekte, waarskynlik pokke, elke dorp en stad geteister. Sowat 33% van die bevolking is dood.

Amper ‘n eeu later, in 251 nC, het ‘n dodelike siekte die Ryk weer getref.  Dit was waarskynlik masels, en ‘n derde van die bevolking is weer dood.  Op die hoogtepunt het 5,000 mense per dag in Rome gesterf.

Hoe het die heidense Romeine hierdie krisis hanteer?  Die skrywer Dionusius vertel:  “Sodra iemand siek geword het, het sy familie hom op straat uitgesit sodat die gesondes nie sou aansteek nie.  Dooies is nie begrawe nie, maar soos vullis weggegooi om besmetting te voorkom.”

Thukidides, nog ‘n skrywer, sê:  “Mense het gesterf sonder iemand om na hulle te kyk – in baie huise is almal dood omdat niemand na enige sieke omgesien het nie.

Wat was die eerste Christene se reaksie op die epidemies?

Christene het mekaar daaraan herinner dat Jesus die dood oorwin het.  Ons hoef nie die dood te vrees nie.  Christene kon hul siekes bly versorg, en so Jesus se voorbeeld van liefdesdiens navolg.

Biskop Dionusius beskryf die Christene se optrede in 260 nC as volg: “Die meeste van ons Christen-broers en susters het onbeperkte liefde betoon, hulself nooit gespaar nie en slegs aan ander gedink. Vreesloos het hulle die siekes versorg, hulle behoeftes vervul en Christus aan mekaar bedien. Baie Christene het só siek geword en gesterf. Terwyl ander versorg is, het die versorgers dikwels siek geword en in hulle plek gesterf.

Christene het in hierdie tyd dikwels siek Romeine van die straat af in hul huise ingeneem en versorg.  Mens kan net dink hoe ‘n sterk getuienis hierdie liefdesdiens was.  Daarom het die kerk bly groei.

Ons word vandag uitgedaag om praktiese liefdesdiens aan die geringstes, die siekes en die swakkes, te lewer.  Selfs al hou dit geweldige risiko vir ons in.  Sal jy iemand vashou wat Vigs het?  Só volg ons die voorbeeld van Jesus na.

Kom ons bid saam:  “Here Jesus, stort U liefde deur U Heilige Gees in ons harte uit, sodat ons kan liefhê sonder vrees.  Amen”.

Lees die hele reeks:

1.  Jesus se voorbeeld van praktiese liefdesdiens
2.  Herstelde gesinsverhoudings
3.  Saamgebind tot ‘n liefdevolle eenheid
4.  Christus skep egte gemeenskap tussen mense
5.  In navolging van Jesus word geloof getoets