Lesse uit die lewe van die vroeë kerk: Toets van geloof
Hierdie oordenking is oorspronklik opgeneem vir uitsending op RSG. Dit is die vyfde in ‘n reeks van vyf wat handel oor lesse wat ons uit die lewe van die vroeë kerk kan leer.
Oordenking 5: In die navolging van Christus word geloof getoets
Vandeesweek gesels ons oor die praktiese navolging van Jesus. Ons leer vanoggend by die Christene van die eerste eeue hoe ons geloof versterk word wanneer dit getoets word.
Die vroeë Christene was ‘n vervolgde kerk. So word Procopius, ‘n kerkleier in Palestina, na die plaaslike goewerneur ontbied. Hy kry opdrag om ‘n offer aan die keiser te bring. Hy weier en word dadelik onthoof. Nou word sy kollegas gevange geneem en dieselfde eise word gestel. Hulle sterf ook, maar bly getrou aan die Here.
In dieselfde tyd word die kerkleier in Antiogië, Romanus, na die brandstapel gestuur. Nadat hy op die hout vasgemaak is, vra Romanus: “Waar is die vlamme dan?” Hulle sleep hom terug na die goewerneur, wat besluit om hom eers te martel vir sy arrogansie. Sy tong word onder andere uitgesny voor hy verbrand word. Die antieke skrywer Eusebius sê: “Romanus het sy marteling met geduld, blydskap en deursettingsvermoë verduur. Hy het duidelik getoon dat die krag van God altyd teenwoordig is om hulle te help wat vir hul godsdiens ly, om hulle stryd te verlig en vir hulle deursettingsvermoë te gee.”
Ons het die afgelope week gesien hoedat die eerste Christene onvoorwaardelik uitgereik, en die samelewing gedien het. Hulle kon nood verstaan, en dit met die onvervalste, onveranderde evangelie van Jesus Christus aanspreek. Daarom het die kerk geweldig vinnig gegroei.
Dit skep egter ‘n probleem. Mense kom by wyse van spreke vir die koekies, vir die liefde en versorging, en nie vir Christus nie. Mense kom vir hulle behoeftes, nie om hulleself te verloën en die Here te dien nie. Hulle help nie om die Here se roeping vir die kerk uit te voer nie. Hierdie mense verlam die kerk, en is selfsugtig. Die godsdiens-sosioloog Rodney Stark noem hulle “free-riders”.
Die vroeë kerk het nie die probleem van free-riders gehad nie. Geloof het opoffering geverg. Christene wou nie die keiser aanbid nie, en is daarom vervolg. As jy ‘n Christen geword het, moes jy ander te dien. Jou mede-gelowiges was van jou afhanklik, en jy van hulle.
Om ‘n kerklidmaat te wees het ‘n hoë toelatingsfooi gehad. Jy moes selfs met jou lewe betaal. En ander se laste dra.
1 Petrus 1 vers 7 sê: “Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.”
Die vroeë Christene daag ons uit om hoë vereistes vir geloof te stel. Ons sal lewens van toewyding en opoffering móét lei. En dit van ander verwag. Hoe kan ons uitstaan vir Jesus? Hoe moet Christene se lewens anders lyk as die gemiddelde Westerling s’n? Ons kan nie Christene word en vir die res van ons lewe dieselfde bly nie.
Daar bly natuurlik ook ‘n free-rider in elkeen van ons. Jesus het ons geleer dat ‘n slaaf nie groter as sy meester is nie. Die voorbeeld van Jesus is ons maatstaf. Ons volg Hom na.
Kom ons bid saam. “Here, help ons om nie ons geloof, getuienis en diens goedkoop te maak nie. Help ons om U en elkeen wat ons pad kruis met toewyding te dien. Help ons om uit te staan vir U, selfs al verg dit ‘n prys. Amen”.
Lees die hele reeks:
1. Jesus se voorbeeld van praktiese liefdesdiens
2. Herstelde gesinsverhoudings
3. Saamgebind tot ‘n liefdevolle eenheid
4. Christus skep egte gemeenskap tussen mense
5. In navolging van Jesus word geloof getoets

