RSS Feed

Archive for the ‘Ringe’ Category

King William’s Town hou Vrouedag

2010/08/26 by Danie Mouton No Comments »

Marieta Olivier vertel hieronder hoe vanjaar se Christelike Vrouedag op King William’s Town verloop het.  Vir diegene wat die dorp nie ken nie, dit is die ou koloniale dorpie (met ongelooflike argitektuur) neffens die Oos-KAapse hoofstad, Bisho.  Steve Biko is ‘n boorling van die dorp, en lê hier begrawe.

CHRISTIAN’S WOMAN’S DAY 2010

Many women from around King William’s Town gathered together for the Annual Woman’s Day Celebrations on Saturday 14 August. It was encouraging to see more than 120 ladies meeting together for one purpose and that to glorify God. The Theme Hands that work, Hands that pray being the encouragement to all woman to be working for God.

Every one was handed a healthy packed breakfast on arrival which was part of the ice breaker.The MC for the day was Jenny Wilson. After a warm welcome in three languages (English, Afrikaans and Xhosa) Marieta Olivier reminded the woman of our community what the common goals are for Christian Women’s Day.

1.         To reach out to women of KWT with the message of Jesus.

2.         To foster friendship and community among the Christian women of the town.

3.         To provide a Christian alternative to the political focus on the role of women in our town.

4.         To work together as a non-denominational committee to achieve these goals.

Singing cheerfully as she walked to the microphone Nombulelo Time welcomed all in Xhosa and read from Isiah 6:1-6.

Shelley Lombard, a missionary working at Dumisani Theological Institute, led the praise and worship to God, acknowledging Him as Lord. It was lovely to hear so many women’s voices joining together in the common desire, to praise their God. Reference was made to how we can know what the work of God is. John 6:29 “Jesus answered them, “This is the work of God, that you believe in him whom he has sent.” Following which the prayer was that God captivated each ones’ heart so that we would know the will of God for our lives and that we would live for Him because of what He has done for us. Gal 2:20 “I have been crucified with Christ. It is no longer I who live, but Christ who lives in me. And the life I now live in the flesh I live by faith in the Son of God, who loved me and gave himself for me.” It was a blessing to hear the voices singing this prayer to God as one.

We were enlightened on Sign language by Lumka Nonkelela which was very interesting and fun to participate in. She showed us some basic survival signs. Susan Goosen handed out little papers with a hand drawn on it to give women direction on how and for whom to pray.

Following this Patricia Ihlendfelt who is part of the pastoral team at Bethany Emmanuel Baptist Church, delivered an address based on the theme encouraging all women young and old, rich or poor to be involved in the work for Jesus. We all have different skills and talents, but there is something that we all can do. At the end of her talk, she gave us some ideas of how we could reach out into our communities to help those in need and to share with them, God’s love.

It was a very interesting day, because women of all traditions and cultures joined together to worship their Lord and Saviour.  Many new friendships were established and old friendships re-kindled.  We were very conscious of how precious it is to be part of the family of God. Some fun activities with hands concluded the spritual part of the morning. Tea tables were beautifully set in different themes and every one could enjoy delicious tea treats and socialise to end the day.

With the proceeds of the day, we have bought a large number of Bibles.  This is so that every woman who was there could get one free of charge to give away. We appeal to all that were there and need a bible to present to someone who does not have a Bible of her own to collect one from Dumisani College in Leopold Street.

 

Hemelvaart as publieke dag op Burgersdorp gevier

2010/07/23 by Danie Mouton No Comments »

Die wyse waarop gemeentes toetree tot publieke bediening tel onder een van die mees opwindende ontwikkelinge in ons kerklike bediening.  Hierdie gemeentes is voorlopers, hulle is op die cutting edge.

Net so belangrik is die feit dat hulle dit ekumenies doen.  ‘n Publieke bediening kan nie alleen gedoen word nie.  die liggaam van Christus moet saamspan.  Daarom is dit so belangrik dat denominasionele skeidsmure – met die oog op die missie van God, wat die kerk navolg – verlaag moet word.

‘n Pragtige voorbeeld is oom Blaar Coetzee se vertelling tydens ‘n onlangse padberaad (2010) hoe die hele gemeenskap van Burgersdorp Hemelvaart op 13 Mei 2010 as publieke dag gaan vier. Besighede sluit, met die tema van die dag: Jesus leef, daar is hoop!  Dit is die tweede jaar waarop hulle dit só doen.

[vimeo 11548251]

Lees ook wat die gemeentes van Colesberg, Cradock, Willowmore en Port Alfred in hierdie verband doen.

Die onlangse biddag vir reën by die Kougadam is ook ‘n goeie voorbeeld.  Ons kan baie hieruit leer.

 

Ontwikkel ‘n publieke bediening

2010/07/15 by Danie Mouton 1 Comment »

Geloof is veel meer as ‘n private aangeleentheid.  Jesus is nie net die Koning van ons harte nie, maar die Koning van die heelal.  Die evangelie as woord en daad is goeie nuus vir die hele wêreld.

Ons troetel ‘n makgemaakte evangelie wanneer ons net van die Here verwag om ons innerlike beleweniswêreld en ons ervarings aan te raak.  Die onverdunde evangelie het te doen met die hele wêreld.  Dit is publiek. God se vrede, genesing, geregtigheid en die vreugde wat die Gees gee, is vir die hele lewe.

Daarom is dit so positief wanneer gemeentes begin om ‘n publieke bediening te ontwikkel waarin die Here se hart vir die samelewing sigbaar word.

Hier is ‘n paar voorbeelde hoe gemeentes reg oor die Oos-Kaap by publieke bedieninge betrokke raak:

Port Alfred dien munisipale dienste

Op Port Alfred span afgetrede lidmate, wat oor die nodige kundigheid beskik, kragte saam met die munisipaliteit om gespesialiseerde dienste soos watersuiwering en siviele werke meer effektief te lewer.  Die aanbod aan die munisipaliteit is gebore uit ’n ekumeniese Pinksterreeks waaraan verskeie gemeentes, waaronder die Volle Evangeliekerk, die Katolieke en ander verlede jaar deelgeneem het.  “Die Evangelie het die gelowiges so aangeraak, dat hulle besluit het om op te hou kla en iets te beteken, ” sê ds Riaan Steyn van Port Alfred.  “Verwyte, opposisie, wantroue en konflik is vervang met samewerking tot heil van die gemeenskap.”

[vimeo 11736818]

Gemeentes help die Willowmore-gemeenskap ontwikkel

Op Willowmore het die munisipaliteit die ekumeniese predikante-kring versoek om te help met opvoedkundige gemeenskapsprojekte.  Die gemeentes span nou saam om die gemeenskap te ontwikkel, en hou publieke voorbiddingsgeleenthede in verskillende dele van die gemeenskap.  “Hierdie samewerking verminder ook die verskeurdheid tussen die verskillende kerkgroepe, en gee aan kerke die ervaring dat hulle bruikbaar is in die ontwikkeling van die gemeenskap” vertel ds Aldo Liebenberg van Willowmore.

[vimeo 11737229]

Colesberg los verbruikersboikot op

In Colesberg het die kerke saamgespan om namens die besigheidsektor met die munisipaliteit in gesprek te tree oor ’n verbruikersboikot.  Hierdie gesprek was só vrugbaar, dat ander sake van publieke belang, soos munisipale dienste, ook deel van die gesprek geword het.  Die kerk se bemiddeling het daartoe gelei dat diensverskaffing betekenisvol verbeter het.  Ds Japie Taljaard vertel meer:

[vimeo 11561325]

Cradock voed die gemeenskap met Hollandse hulp

Op Cradock het verskeie gemeentes ekumenies saamgespan om die Vukasebenze-skuiling te skep waarin hulp aan die armstes van die armes verleen word.  Onwetend het hierdie skuiling hulp verleen aan ’n familielid van minister Charles Nqakula.  Op ’n goeie dag, tot almal se stomme verbasing, daag ’n stoet ampsmotors op, en klim die minister uit.  Sy kom bladskud met die skuiling se personeel om dankie te sê vir die hulp wat verleen is.

In hierdie video vertel ds Hansie Schutte hoe Hollanders nou hul gewig op Cradock kom ingooi om die gemeenskap te dien:

[vimeo 11736589]

‘n Kerk wat omgee vir gemarginaliseerde kinders

In Mthatha was die NG Kerk betrokke by die oprigting van die VGK se Sinethemba Kinderhuis.  Ds Willem Botes vertel die burgemeester van die Libode-munisipaliteit het by die opening van Sinethemba gesê sy het “die NG Kerk leer ken as die kerk wat omgee vir die mense.”  Sy het die aanwesiges aangemoedig om dié kerk te voorbeeld te volg.

Lees meer oor Sinethemba.

 

Sinethemba getuig die kerk gee om

by Danie Mouton 1 Comment »

Op ‘n dag sien Felecia Tywantywa ‘n ou vrou huil  omdat sy nie weet wat om met haar kleinkind te maak nie.  Hy is uit die skool gesit, en was nie vir ‘n spesiale skool aanvaarbaar nie.  Die rede: hy is verstandelik gestremd.  Felecia is so hierdeur aangegryp dat sy hierdie kinders bymekaar begin maak en versorg het.  Ander het haar daarmee gehelp.

Hierdie visie, waarop die VGK Decoligny in die Transkei sterk ingekoop het, het gelei tot die oprigting van die Sinethemba Kinderhuis vir verstandelik gestremde kinders.  Die kerk het die tehuis sonder staatshulp gevestig. Die bedryfskoste word ook nie gesubsidieer nie.  Daar word tans nog met die regering oor subsidie onderhandel.

Die kinderhuis huisves tans 72 kinders en beskik oor 8 personeellede.

Felecia se visie is om vir die kinders praktiese opleiding te gee, soos die maak van groentetuine, pottebakkery, naaldwerk en hoenderboerdery.  Houtwerk vir die seuns is nog ‘n ideaal.

Die uitdagings is legio.  Die dogters is meestal mishandel en deur familielede verkrag, en die kinders word nie altyd deur die families versorg nie.  Die regering wil nou ook hê die skool moet fisies-gestremde kinders inneem.  Moontlik sal daar dan subsidie kom.

Daar is ook nog nie lopende water beskikbaar nie.  Water word per vragmotor aangery, en ‘n dienlike pad moet nog gebou word.  Die gebou kort ook heelwat afrondingswerk.  Ordentlike hokke moet vir die varke en hoenders gebou word.

‘n Ander uitdaging is die maandelikse salarisse – al is dit baie min – van die personeel.  Daar moet ook kos, klere en medisyne gekoop word vir die kinders.

Sinethemba is ‘n wonderlike getuienis van die hart van die kerk vir mense.  Dit is bemoedigend dat die NG Kerk Mthatha die VGK Decoligny bystaan met die inrigting en bedryf van die kinderhuis.  Luister hoe ds Willem Botes, leraar van beide die VGK en NGK, vertel oor die werk wat hier gedoen word:

[vimeo 11737009]

 

Gemeentes fokus op jongklomp tydens die skoolvakansie

2010/07/01 by Danie Mouton No Comments »

Terwyl gemeentes soos Ugie en PE-Lorraine die Sokker Wêreldbeker verbeeldingryk aangegryp het, was daar ook gemeentes wat spesifiek tydens die lang winterskoolvakansie op jongmense en kinders gefokus het.

‘n Baie suksesvolle Avontuurweek vir laerskoolkinders is in Port Elizabeth deur PE-Lorraine, PE-Hoogland en Somerstrand aangebied.  Meer as 400 kinders, 80 jong leiers en 30 volwassenes het die week bygewoon.  Dit het van 11 tot 15 Junie plaasgevind.

Meer as 400 kinders en jeugleiers sing geesdriftig saam aan geestelike liedere tydens die Avontuurweek by PE-Hoogland-Gemeente.

Word of Faith, ‘n pentakostalistiese gemeente in Port Elizabeth, het ‘n hele speelpark voor die kerkgebou opgerig waar jongmense kon kom ontspan.  Volgens pastoor Jimmy Crompton is die speelpark met behulp van borgskappe deur Christen-sakemanne ingerig, en het dit die gemeente nie ‘n sent gekos nie.  Hulle het bloot die inisiatief geneem.

Word of Faith Gemeente se speelterrein vir kinders - 'n manier om die lang skoolvakansie om te kry

Twee voorbeelde van die vrug wat gemeentes pluk deur op jongmense te fokus.

 

Volwasse kategese steek grense oor en laat die doopwater spat

2010/06/16 by Danie Mouton 2 Comments »

Eers word vier volwassenes gedoop as deel van belydenisaflegging.  Daarna kom hierdie persone se huweliksmaats na vore, en word hulle kinders ingebring om gedoop te word.

Vier volwassenes en daarna hul vyf kinders word op een dag gedoop.

Hierdie aangrypende seremonie het op 13 Junie 2010 in Port Elizabeth-Noord gemeente afgespeel.  Dit het alles begin met ds Johan Marais wat byna ‘n jaar gelede aangekondig het hy begin ‘n groep met die oog op volwasse kategese.  Twaalf volwassenes meld toe aan, waarvan sewe end-uit deel van die groep gebly het.

Ds Johan Marais doop die seun van Morris Shoco (met die blou baadjie), een van die volwassenes wat pas belydenis van geloof afgelê het en self gedoop is

Geloofwaardigheid weens diens

Waarom meld ‘n groot groep volwassenes vir kategese in ‘n NG Gemeente aan?  Dit het te doen met publieke geloofwaardigheid.  PE-Noord se geloofwaardigheid hou verband met hul betrokkenheid by die omliggende gemeenskap in die sentrale, semi-geïndustrialeerde stadsgebied waar die gemeente geleë is.  Die gemeente bedryf ‘n vroue-bemagtigingsprojek, gee Saterdae ‘n maaltyd aan byna 400 gemarginaliseerde straatlopers, besoek die gevangenes in die nabygeleë gevangenis, reik uit na en gee om vir die hele gemeenskap se kinders. Hulle is ook betrokke by die plaaslike laerskool.

Dit het nie altyd só gegaan nie – daar was tye dat PE-Noord deur diepe waters gegaan het, maar dis juis die diensprojekte wat hulle uit die as laat opstaan het.

Die diens en betrokkenheid by die gemeenskap gee aan die gemeente publieke geloofwaardigheid.  Mense herken Christus in die lewe van die gemeente.

Daarom is meer as 50% van persone wat die aanddienste bywoon nie lidmate van die gemeente in die klassieke sin van die woord nie.  Daarom gee sakemanne en besighede gereeld finansiële steun aan die gemeente se gemeenskapsprojekte.

Persone wat inskakel by die volwasse kategese kom dus nie vir verhelderende teoretiese insigte en toeligting van die kerk se dogma nie – hoe lofwaardig dit ook al mag wees.  Hulle kom omdat hulle Jesus aantreklik vind, en self ook vir Jesus saam met mede-gelowiges wil volg.

Volwasse doop en kinderdoop tesame

Vir my was die aangrypendste aspek van 13 Junie se belydenisaflegging die feit dat die 4 volwassenes wat gedoop is, dadelik daartoe oorgegaan het om – saam met hul lewensmaats – hul kinders te doop.  Nie net indiwidue nie, maar gesinne is aan die Here gebind.

Nege dope op een dag, almal gesinsdope.  Geloof in die lewende teenwoordigheid van die Here in die kerk se bediening het skielik vir ons almal ‘n groter werklikheid geword.

Kerkraadslede van PE-Noord wens nuwe lidmate na volwasse belydenisaflegging geluk. Vier van hulle is gedoop en het toe hul kinders ten doop gebring.

My gebed is dat hierdie toneel toenemend eerder die reël as die uitsondering in ons gemeentes sal wees.

 

Cradock-Noord neem nuwe orrel glansryk in gebruik

2010/06/14 by Danie Mouton 2 Comments »

“‘n Uitgelese groep kunstenaars het saamgespan om die ingebruikneming van Cradock-Noord se nuwe Johannus-orrel ‘n onvergeetlike ervaring te maak,” vertel ds Attie van Wyk, predikant van die gemeente en orrelis in eie reg.

Die konserte het op 4 en 5 Junie plaasgevind.  ‘n Groot hoeveelheid mense van reg oor die land het die konsert van bykans 3 ure bygewoon. Daar was konsertgangers uit die Kaap, Johannesburg, Port Elizabeth, Humansdorp en van die omliggende dorpe soos Adelaide, Graaff-Reinet en Burgersdorp.

Kunstenaars wat deelgeneem het aan die konsert om die ingebruikneming van Cradock-Noord se nuwe kerkorrel te vier. Agter: Bennie Jonker, Geoff van der Voort, Prieur du Plessis. Voor: Melissa Witbooi, Keith Moss, Corné Vollgraaff, Sarah Evans, Iloreez Meyer, Lilian Zeelie, Eon Malan, Dalene Els, Colin Campbell en Attie van Wyk

Op die program was ‘n groot verskeidenheid musiek, soos toccatas, gespeel deur Colin Campbell (Widor en Boëllmann), asook ligter gewyde musiek. Instrumentaliste met trompet en fluit asook strykers en sangers het opgetree.  Daar was ook samesang.

As orreliste het Colin Campbell, Geoff van der Voort, Dalene Els, Eon Malan en Attie van Wyk uitvoerings gelewer. Lilian Zeelie het  fluit gespeel, Keith Moss, Sarah Evans en Melissa Witbooi het as strykers opgetree, met sangers Iloreez Meyer, Prieur du Plessis en Lionel van Zyl. Bennie Jonker en Corné Volgraaff het die trompet bespeel.

Die drie manuale van die NG Kerk Cradock-Noord se nuwe Johannus-orrel - een van die grootste digitale orrels in Afrika.

“Die konserte was nie net ‘n fondsinsamelingpoging nie, maar ook ‘n fees om die skoonheid van musiek te geniet, lof aan die Here te bring, en mekaar se samesyn te geniet.  Dit was ‘n wonderlike ervaring om lidmate skouer aan die wiel te sien sit en saam te werk om van die aande ‘n sukses te maak,” sê Attie. “Mense is verras deur die wonderlike musiek op die platteland.  Ek dink dit was ‘n inspuiting vir die platteland om hierdie konserte te kon beleef.”

Die konserte is elke aand deur sowat 650 mense bygewoon.

Ds Attie van Wyk, predikant van Cradock-Noord en musikant in eie reg

Klik hier om te luister hoe Attie die program en samewerking van die lidmate beskryf.

 

Nuwe lidmate uit die Garcia-woonstelle

2010/06/09 by Danie Mouton No Comments »

Die Garcia sub-ekonomiese munisipale woonstelle is nie die soort plek waar mens graag wil bly nie.  ‘n Hele katologus van sosiaal-maatskaplike probleme, soos gesinsgeweld, verslawing, dwelmhandel, kinderverwaarlosing – en meer – kom hier voor.

Die woonstelblok is geleë in die Cambridge woonbuurt, so ‘n kilometer of wat van die kerkgebou van die NG Kerk Cambridge af.

Ds Sas Swart vertel die verhaal hoe die gemeente by hierdie woonstelblok, en spesifiek die kinders betrokke geraak het.  Hulle doen wonderlike werk om te verseker dat die kinders by die skool kom, in die middae geleentheid het om huiswerk te doen (in die kerksaal) en ook die geleentheid kry om Jesus van Nasaret te leer ken en te volg.

Daar is bitter min romanties aan dié werk.  Maar Jesus dring die gemeente, en daar is vrug op die werk. Ek sal vorentoe hieroor ‘n bydrae op die blog publiseer.

Deel van hierdie vrug is die ouers van hierdie kinders wat kerklik ingeskakel raak en op hulle beurt óf leer om die Here te volg, óf weer die geleentheid kry om betekenisvol by deel van ‘n geloofsgemeenskap te word.

Onlangs, in Mei 2010, het vier volwassenes uit hierdie woonstelblok belydenis van geloof in die Cambridge-gemeente afgelê.

Vier nuwe lidmate vir die NG Kerk Cambridge. Hierdie vier persone het in Mei 2010 belydenis van geloof in die gemeente afgelê as vrug van die gemeente se dienswerk onder kinders van die Garcia sub-ekonomiese munisipale woonstelle. Kloksgewys van bo in die hoek links verskyn Loretta, Willie, Vivian en Grace.

Die briefies wat hulle geskryf het om hul aansoeke om lidmaatskap te motiveer, is van die wonderlikste getuigskrifte wat ‘n gemeente kan kry.

Grace Devereaux skryf:

Let op die woorde: “‘n Kerk wat omgee vir mense.”  Dit is ‘n kerk wat om die regte redes aantreklik is en iets van die Here se hart vertoon.

Loretta Pillay sê die volgende:

Loretta se seun is aan ‘n rolstoel gekluister.  Die kerk se uitreik het hom weer ‘n ruimte gegee waarbinne hy kon sosialieer en waarin hy veilig kan wees.  Wat die kerk vir haar seun gedoen het, het Loretta beweeg om in te skakel.  Sy het dadelik gasvryheid ervaar.

Vivian September se briefie lees só:

Volgens die godsdienssosioloog Rodney Stark sal nuwe bekeerlinge tot ‘n geloof dikwels hul toewyding in terme van die aanvaarding van nuwe leerstellinge verduidelik.  Wat hulle tussen die reëls bedoel, is dat die leer van die kerk deur die hartlike verhoudinge en gasvrye ontvangs gelegitimeer is.

Willie Vorster skryf:

Willie word deel van die gemeente om deel te neem aan die dienswerk en getuienistaak.

Dit is ‘n ervaring om te beleef dat mense om die regte redes deel word van ‘n gemeente.  Cambridge help ons verstaan waaroor kerk-wees gaan.

 

Pinkster met vlae en sokkerballe

2010/06/03 by Danie Mouton 1 Comment »

Gratis rubbersokkerballe elke aand by die deure.  Die vlae van die 32 deelnemende lande teen die mure.  Die voorportaal met sokkerballe versier.  Lidmate met sokkerhempies aan.

Dis nie ’n gesig wat NG-Gemeentes kenmerk nie, maar só het PE-Lorraine vanjaar Pinkster aangebied.  Die sokkertemas het lidmate se verbeelding egter behoorlik aangegryp, vertel Anton Oliphant, predikant van die gemeente.

Lidmate van PE-Lorraine met van die sokkerballetjies wat tydens Pinkster by die deure uitgedeel is

Die oorhoofse tema was die finale eindstryd.  Dit is die stryd wat vir ons met Jesus se hemelvaart begin het, sê Anton, die stryd tussen die lig en die duisternis.  Die aandtemas het aspekte aangeraak soos:

  • Ken jou opponent, sy strategieë en verleiding, en berei jouself voor;
  • Gawes van die Gees. Elke spanlid is ’n belangrike speler en het belangrike gawes en ’n posisie.  Jy het doelskieters en middelveldverdedigers
  • Spangees, die belangrikheid van samewerking en eenheid.  Al lyk die opponente groot dra die spangees jou deur.
  • Lojaliteit aan die span.  Neem eienaarskap vir die span en die wedstryd.  Volg die Afrigter, Jesus!  Erken die Eienaar en Spanbestuurder.
  • Daar is ’n skare getuienis wat jou bemoedig.
  • Wat gebeur as die vyand ’n doel teen jou aanteken?  Moedeloosheid?  Hoe tree gelowiges op in tye van beproewing en moedeloosheid.  Op die projektor is foto’s vertoon van die moedeloosheid onder werklike sokkerspelers wanneer ’n doel teen hulle aangeteken word.
  • Oorwinning deur die Gees.

Die temas is toegelig met tipiese sokkerstrategieë, wat die spel vir lidmate ontsluit het.

Vlae van die 32 deelnemende lande is teen die mure van PE-Lorraine se kerkgebou tydens Pinkster aangebring. Daar is elke aand vir die lande gebid.

Daar is elke aand vir ’n ander deelnemende land gebid.  Informasie oor die politiek, bevolking, demografie is gebruik om gebedstemas (dankie sê en voorbidding) te formuleer.  Operation World se webblad was ook ’n belangrike bron vir inligting.  Só het lidmate die lande leer ken.

Anton vertel dankbaar dat die Pinksterdienste wonderlik bygewoon is. Die kerk was elke aand stampvol.

Die gemeente het selfs die TV-program Morning Live gehaal met hul foto’s en die verhaal van die Pinksterdienste.  Die feit dat ’n NG Kerk soveel aandag aan sokker gee was vir die aanbieders van Morning Live besonder betekenisvol, vertel Anton.  Hulle was verbaas dat die kerk ’n sokkertema kon én wou gebruik.

“Die Here het dit ’n hele ruk gelede op my hart gedruk om die sokkertema te gebruik.  Mens kan sokker gebruik om die koninkryk van die Here te dien.  Ons het altyd hierdie afstand tussen ons as rugby- en swartmense as sokkerondersteuners.  Mens kán en móét hierdie kloof oorbrug”, sê Anton.

“Gaan jy self sokker kyk,” vra ek vir Anton?  “Natuurlik,” sê hy, “ons kaartjies is gekoop!”

 

Huppel en spring, loof en prys die Heer

2010/06/02 by Danie Mouton No Comments »

Die groot aantal kinders en jongmense val my op.  Daar is energie in die lug, afwagting.  Ons word vriendelik by die deur gegroet.  Die kerk is vol.

Die prentjie is nie heeltemal wat ek verwag het om te sien nie.  Ek kom om ’n gemeente te sien wat worstel met oorlewing.  Daar was lank ’n vakature.  Nou kan hulle bloot ’n leraar in ’n kontrakpos bekostig.  Wat ek sien, lyk anders.  Rondom my is lewe en energie, opwinding oor die erediens wat gaan begin.

Agtergrond

Byna twee jaar gelede het hierdie gemeente haar predikantspos weens finansiële redes verloor.  Sedertdien het ’n ouderling waargeneem as die herder, soos die kerkraad hom noem, van die gemeente.  Les Stander, wat as herder optree, is ook gemeentebestuurder.

Sedertdien was daar bemoedigende tekens dat die gemeente numeries begin groei het.  Die basaar het ’n baie groot aantal lidmate gelok wat ingespring en hard gewerk het.  Ander aksies en bedieninge, waaronder die kleingroepe en mannebediening, is geesdriftig ondersteun.  Die geestelike momentum, geskep deur die geestelike bediening van die vorige leraar, het steeds onder die herder se leiding dividende bly oplewer.

Ons praat van Algoapark-Noord gemeente, wat uit eie keuse as ’n Gemeenskapskerk funksioneer.  Algoapark is sosio-ekonomies ’n gebied in Port Elizabeth waar dit baie moeilik is om ’n tradisionele bediening ekonomies-volhoubaar voort te sit.  Die bedieningsmodel van kerkgebou, predikant en pastorie is onbekostigbaar.

Wat leer ons oor nuwe gestaltes van die bediening uit hierdie gemeente se voorbeeld?  Vir die ring is dit moeilik om net te aanvaar dat ’n gemeente onder leiding van ’n ouderling kan voortbestaan.  Wat gebeur met die sakramente?  Is dit reg dat daar ’n gemeentebestuurder (herder) en skriba in diens gehou word, maar daar is nie fondse om ’n predikant te bekostig nie?  Wanneer is bediening legitieme bediening?

Intussen  het Algoapark-Gemeenskapskerk  tot die oortuiging gekom om die polisiekapelaan wat aan die gemeente gekoppel is, Eldré Bester, in ’n kontrakpos te beroep.  Dit is ’n geloofsdaad en word met byna 50% deur middel van ’n ringsprojek befonds.  Die bedoeling is dat haar pos vir twee jaar as ’n ontwikkelingspos gesien moet word om die gemeente na groter lewensvatbaarheid te begelei.

Les was voorheen in die SA Polisiediens en Eldré ’n ervare polisiekapelaan.  Haar eggenoot is ook verbonde aan die SA Polisie.  Het die gemeente se toekoms met ’n besondere bediening aan lede van die polisiediens te doen?  Beide het ’n besondere aanvoeling vir armes en noodlydendes.  Beide wil hul lewe daaraan wy om die genesing van die evangelie in mense se lewens in te weef.

Terug by die erediens

Vandag het ek kom kuier, en is verras met die dinamika.  Dit is duidelik dat die Here ’n lewende, aktiewe werklikheid vir die gemeente is.  Reg aan die begin loop die afkondigings uit in ’n vermelding van wie almal siek is – in die gemeente, maar ook in die groter gemeenskap.  Die herder bid by name vir almal wat siek is, en gee terugvoer oor mense wat intussen genees is.  Nie almal het gesond geword nie, of sal gesond word nie, maar daar is ’n tasbare verwagting dat die Here lewens sal aanraak.

Nou sing die gemeente met behulp van CD-begeleiding.  Ons sing ’n lied uit die Liedboek en ook ander dinamiese geestelike liedere in ’n evangeliese styl.  Daar is ook egte kinderliedjies.  Dis pragtig om te sien hoe die hele gemeente saamsing en saam met die kinders beweeg terwyl die liedjies gesing word.   Daar is geen afsonderlike kinder- of familie-moment nie.  O nee, almal deel geesdriftig in alles wat gebeur.

Dan kom ’n gemeentelike dansgroep, Stic, aan die beurt met treffende beweging wat die woorde van ’n lied wat oor die Here se bystand en genesing in mense se lewens gaan.

Nou volg die preek.  Vandag is Pinksterfees. Die teks is die eerste paragraaf uit Esegiël 47. Die preek handel oor die genesing en herstel wat die Here vanuit sy teenwoordigheid bring.  Ons word opgeroep om aan onsself te dink aan bome wat vrugte van genesing dra vir die mense rondom ons.  Om dit te kan doen, moet ons God se genesing ook vir ons eie lewens omhels.

Die skep van gemeenskap tussen mense

Dit val my op hoe die gemeente dit regkry om gemeenskap tussen mense te skep.  Jy is belangrik, word opreg gegroet by die deure, die herder ken mense opsigtelik by die naam en mense geniet mekaar se teenwoordigheid.  Daar word lekker voor die erediens gesels, en agterna staan groepies en kuier.  ’n Baie belangrike vraag is of mense kom om bloot bestaande gemeenskap in stand te hou, en of nuwelinge ook betrek word.  As ek kyk na die groot getal aanwesiges, is laasgenoemde besig om te gebeur.

Ander menings

Tydens die besoek is ek vergesel deur ’n groep nagraadse teologiese studente.  Hulle kommentaar was positief en bevestigend.  Dit is geen tradisionele Gereformeerde kerk nie, het hulle gesê.  Die wet is nie voorgelees nie, en daar is nie bloot liedboek gesing nie.  Die toonaard was meer evangelikaal, maar ook dit is deel van die NG Kerk se geskiedenis en tradisie.  Verder is daar heelwat simboliek en pragtige kuns in die liturgiese ruimte.  ’n Kruis op lap is uiters kunstig gevul met name van die drie-enige God, op ’n ander opsigtelike plek is ’n groot kruis permanent aangebring.  Die nagmaaltafel is afwesig.  Volgens die studente kan skoonheid selfs verder aangevul word met betekenisvolle simboliek, soos dié van die sakramente.

Veral positief, het die studente gesê, is die afwesigheid van ’n heining.  “Ek het ’n kerk sonder ’n omheining gesien,” was iemand se opmerking.  Die verwagting van God se direkte aanwesigheid en die geloof in God as ’n liefdevolle, handelende Vader, was opvallend en positief.

Moontlike groeipunte?  Dalk kan die gemeente, wat God opsigtelik primêr as Geneser beleef, ook ’n ekologiese sensitiwiteit ontwikkel en God se genesing verstaan as ’n skeppingswye aksie.  Die lewende water uit die tempel in Esegiël 47, die tema van die preek, kan ook gewone, skoon water wees wat lewe aan die omgewing bring.

Steeds by genesing:  mens wonder wat sal ’n sensitiwiteit vir sosiale genesing, sistemiese genesing, in hierdie konteks beteken.  Hoe raak God nie net mense se indiwiduele siekte aan nie, maar die gemeenskap?  Hoe kan hierdie gemeente haarself as ’n sosiaal-maatskaplike genesingsinstrument herverstaan?

Ek weet dat Eldré ’n besondere aanvoeling het vir die armoede in die omgewing, en veral in die omliggende bruin woonbuurte.  Dit sal interessant wees om te sien wat vorentoe gebeur.

Een van die liedere wat ons so lekker saamgesing het kom uit Handelinge 3 waar die verlamde man genees word en dan huppel en spring en die Here loof en prys.  Dit vat die gemeente se roepingsbegeerte uitstekend saam:  huppel en spring, loof en prys die Here.

Luister na ‘n klankopname van die nagraadse studente se gesprek oor Algoapark-Gemeenskapskerk.