RSS Feed

Archive for the ‘Algoa’ Category

Gemeentes fokus op jongklomp tydens die skoolvakansie

2010/07/01 by Danie Mouton No Comments »

Terwyl gemeentes soos Ugie en PE-Lorraine die Sokker Wêreldbeker verbeeldingryk aangegryp het, was daar ook gemeentes wat spesifiek tydens die lang winterskoolvakansie op jongmense en kinders gefokus het.

‘n Baie suksesvolle Avontuurweek vir laerskoolkinders is in Port Elizabeth deur PE-Lorraine, PE-Hoogland en Somerstrand aangebied.  Meer as 400 kinders, 80 jong leiers en 30 volwassenes het die week bygewoon.  Dit het van 11 tot 15 Junie plaasgevind.

Meer as 400 kinders en jeugleiers sing geesdriftig saam aan geestelike liedere tydens die Avontuurweek by PE-Hoogland-Gemeente.

Word of Faith, ‘n pentakostalistiese gemeente in Port Elizabeth, het ‘n hele speelpark voor die kerkgebou opgerig waar jongmense kon kom ontspan.  Volgens pastoor Jimmy Crompton is die speelpark met behulp van borgskappe deur Christen-sakemanne ingerig, en het dit die gemeente nie ‘n sent gekos nie.  Hulle het bloot die inisiatief geneem.

Word of Faith Gemeente se speelterrein vir kinders - 'n manier om die lang skoolvakansie om te kry

Twee voorbeelde van die vrug wat gemeentes pluk deur op jongmense te fokus.

 

Volwasse kategese steek grense oor en laat die doopwater spat

2010/06/16 by Danie Mouton 2 Comments »

Eers word vier volwassenes gedoop as deel van belydenisaflegging.  Daarna kom hierdie persone se huweliksmaats na vore, en word hulle kinders ingebring om gedoop te word.

Vier volwassenes en daarna hul vyf kinders word op een dag gedoop.

Hierdie aangrypende seremonie het op 13 Junie 2010 in Port Elizabeth-Noord gemeente afgespeel.  Dit het alles begin met ds Johan Marais wat byna ‘n jaar gelede aangekondig het hy begin ‘n groep met die oog op volwasse kategese.  Twaalf volwassenes meld toe aan, waarvan sewe end-uit deel van die groep gebly het.

Ds Johan Marais doop die seun van Morris Shoco (met die blou baadjie), een van die volwassenes wat pas belydenis van geloof afgelê het en self gedoop is

Geloofwaardigheid weens diens

Waarom meld ‘n groot groep volwassenes vir kategese in ‘n NG Gemeente aan?  Dit het te doen met publieke geloofwaardigheid.  PE-Noord se geloofwaardigheid hou verband met hul betrokkenheid by die omliggende gemeenskap in die sentrale, semi-geïndustrialeerde stadsgebied waar die gemeente geleë is.  Die gemeente bedryf ‘n vroue-bemagtigingsprojek, gee Saterdae ‘n maaltyd aan byna 400 gemarginaliseerde straatlopers, besoek die gevangenes in die nabygeleë gevangenis, reik uit na en gee om vir die hele gemeenskap se kinders. Hulle is ook betrokke by die plaaslike laerskool.

Dit het nie altyd só gegaan nie – daar was tye dat PE-Noord deur diepe waters gegaan het, maar dis juis die diensprojekte wat hulle uit die as laat opstaan het.

Die diens en betrokkenheid by die gemeenskap gee aan die gemeente publieke geloofwaardigheid.  Mense herken Christus in die lewe van die gemeente.

Daarom is meer as 50% van persone wat die aanddienste bywoon nie lidmate van die gemeente in die klassieke sin van die woord nie.  Daarom gee sakemanne en besighede gereeld finansiële steun aan die gemeente se gemeenskapsprojekte.

Persone wat inskakel by die volwasse kategese kom dus nie vir verhelderende teoretiese insigte en toeligting van die kerk se dogma nie – hoe lofwaardig dit ook al mag wees.  Hulle kom omdat hulle Jesus aantreklik vind, en self ook vir Jesus saam met mede-gelowiges wil volg.

Volwasse doop en kinderdoop tesame

Vir my was die aangrypendste aspek van 13 Junie se belydenisaflegging die feit dat die 4 volwassenes wat gedoop is, dadelik daartoe oorgegaan het om – saam met hul lewensmaats – hul kinders te doop.  Nie net indiwidue nie, maar gesinne is aan die Here gebind.

Nege dope op een dag, almal gesinsdope.  Geloof in die lewende teenwoordigheid van die Here in die kerk se bediening het skielik vir ons almal ‘n groter werklikheid geword.

Kerkraadslede van PE-Noord wens nuwe lidmate na volwasse belydenisaflegging geluk. Vier van hulle is gedoop en het toe hul kinders ten doop gebring.

My gebed is dat hierdie toneel toenemend eerder die reël as die uitsondering in ons gemeentes sal wees.

 

Pinkster met vlae en sokkerballe

2010/06/03 by Danie Mouton 1 Comment »

Gratis rubbersokkerballe elke aand by die deure.  Die vlae van die 32 deelnemende lande teen die mure.  Die voorportaal met sokkerballe versier.  Lidmate met sokkerhempies aan.

Dis nie ’n gesig wat NG-Gemeentes kenmerk nie, maar só het PE-Lorraine vanjaar Pinkster aangebied.  Die sokkertemas het lidmate se verbeelding egter behoorlik aangegryp, vertel Anton Oliphant, predikant van die gemeente.

Lidmate van PE-Lorraine met van die sokkerballetjies wat tydens Pinkster by die deure uitgedeel is

Die oorhoofse tema was die finale eindstryd.  Dit is die stryd wat vir ons met Jesus se hemelvaart begin het, sê Anton, die stryd tussen die lig en die duisternis.  Die aandtemas het aspekte aangeraak soos:

  • Ken jou opponent, sy strategieë en verleiding, en berei jouself voor;
  • Gawes van die Gees. Elke spanlid is ’n belangrike speler en het belangrike gawes en ’n posisie.  Jy het doelskieters en middelveldverdedigers
  • Spangees, die belangrikheid van samewerking en eenheid.  Al lyk die opponente groot dra die spangees jou deur.
  • Lojaliteit aan die span.  Neem eienaarskap vir die span en die wedstryd.  Volg die Afrigter, Jesus!  Erken die Eienaar en Spanbestuurder.
  • Daar is ’n skare getuienis wat jou bemoedig.
  • Wat gebeur as die vyand ’n doel teen jou aanteken?  Moedeloosheid?  Hoe tree gelowiges op in tye van beproewing en moedeloosheid.  Op die projektor is foto’s vertoon van die moedeloosheid onder werklike sokkerspelers wanneer ’n doel teen hulle aangeteken word.
  • Oorwinning deur die Gees.

Die temas is toegelig met tipiese sokkerstrategieë, wat die spel vir lidmate ontsluit het.

Vlae van die 32 deelnemende lande is teen die mure van PE-Lorraine se kerkgebou tydens Pinkster aangebring. Daar is elke aand vir die lande gebid.

Daar is elke aand vir ’n ander deelnemende land gebid.  Informasie oor die politiek, bevolking, demografie is gebruik om gebedstemas (dankie sê en voorbidding) te formuleer.  Operation World se webblad was ook ’n belangrike bron vir inligting.  Só het lidmate die lande leer ken.

Anton vertel dankbaar dat die Pinksterdienste wonderlik bygewoon is. Die kerk was elke aand stampvol.

Die gemeente het selfs die TV-program Morning Live gehaal met hul foto’s en die verhaal van die Pinksterdienste.  Die feit dat ’n NG Kerk soveel aandag aan sokker gee was vir die aanbieders van Morning Live besonder betekenisvol, vertel Anton.  Hulle was verbaas dat die kerk ’n sokkertema kon én wou gebruik.

“Die Here het dit ’n hele ruk gelede op my hart gedruk om die sokkertema te gebruik.  Mens kan sokker gebruik om die koninkryk van die Here te dien.  Ons het altyd hierdie afstand tussen ons as rugby- en swartmense as sokkerondersteuners.  Mens kán en móét hierdie kloof oorbrug”, sê Anton.

“Gaan jy self sokker kyk,” vra ek vir Anton?  “Natuurlik,” sê hy, “ons kaartjies is gekoop!”

 

Huppel en spring, loof en prys die Heer

2010/06/02 by Danie Mouton No Comments »

Die groot aantal kinders en jongmense val my op.  Daar is energie in die lug, afwagting.  Ons word vriendelik by die deur gegroet.  Die kerk is vol.

Die prentjie is nie heeltemal wat ek verwag het om te sien nie.  Ek kom om ’n gemeente te sien wat worstel met oorlewing.  Daar was lank ’n vakature.  Nou kan hulle bloot ’n leraar in ’n kontrakpos bekostig.  Wat ek sien, lyk anders.  Rondom my is lewe en energie, opwinding oor die erediens wat gaan begin.

Agtergrond

Byna twee jaar gelede het hierdie gemeente haar predikantspos weens finansiële redes verloor.  Sedertdien het ’n ouderling waargeneem as die herder, soos die kerkraad hom noem, van die gemeente.  Les Stander, wat as herder optree, is ook gemeentebestuurder.

Sedertdien was daar bemoedigende tekens dat die gemeente numeries begin groei het.  Die basaar het ’n baie groot aantal lidmate gelok wat ingespring en hard gewerk het.  Ander aksies en bedieninge, waaronder die kleingroepe en mannebediening, is geesdriftig ondersteun.  Die geestelike momentum, geskep deur die geestelike bediening van die vorige leraar, het steeds onder die herder se leiding dividende bly oplewer.

Ons praat van Algoapark-Noord gemeente, wat uit eie keuse as ’n Gemeenskapskerk funksioneer.  Algoapark is sosio-ekonomies ’n gebied in Port Elizabeth waar dit baie moeilik is om ’n tradisionele bediening ekonomies-volhoubaar voort te sit.  Die bedieningsmodel van kerkgebou, predikant en pastorie is onbekostigbaar.

Wat leer ons oor nuwe gestaltes van die bediening uit hierdie gemeente se voorbeeld?  Vir die ring is dit moeilik om net te aanvaar dat ’n gemeente onder leiding van ’n ouderling kan voortbestaan.  Wat gebeur met die sakramente?  Is dit reg dat daar ’n gemeentebestuurder (herder) en skriba in diens gehou word, maar daar is nie fondse om ’n predikant te bekostig nie?  Wanneer is bediening legitieme bediening?

Intussen  het Algoapark-Gemeenskapskerk  tot die oortuiging gekom om die polisiekapelaan wat aan die gemeente gekoppel is, Eldré Bester, in ’n kontrakpos te beroep.  Dit is ’n geloofsdaad en word met byna 50% deur middel van ’n ringsprojek befonds.  Die bedoeling is dat haar pos vir twee jaar as ’n ontwikkelingspos gesien moet word om die gemeente na groter lewensvatbaarheid te begelei.

Les was voorheen in die SA Polisiediens en Eldré ’n ervare polisiekapelaan.  Haar eggenoot is ook verbonde aan die SA Polisie.  Het die gemeente se toekoms met ’n besondere bediening aan lede van die polisiediens te doen?  Beide het ’n besondere aanvoeling vir armes en noodlydendes.  Beide wil hul lewe daaraan wy om die genesing van die evangelie in mense se lewens in te weef.

Terug by die erediens

Vandag het ek kom kuier, en is verras met die dinamika.  Dit is duidelik dat die Here ’n lewende, aktiewe werklikheid vir die gemeente is.  Reg aan die begin loop die afkondigings uit in ’n vermelding van wie almal siek is – in die gemeente, maar ook in die groter gemeenskap.  Die herder bid by name vir almal wat siek is, en gee terugvoer oor mense wat intussen genees is.  Nie almal het gesond geword nie, of sal gesond word nie, maar daar is ’n tasbare verwagting dat die Here lewens sal aanraak.

Nou sing die gemeente met behulp van CD-begeleiding.  Ons sing ’n lied uit die Liedboek en ook ander dinamiese geestelike liedere in ’n evangeliese styl.  Daar is ook egte kinderliedjies.  Dis pragtig om te sien hoe die hele gemeente saamsing en saam met die kinders beweeg terwyl die liedjies gesing word.   Daar is geen afsonderlike kinder- of familie-moment nie.  O nee, almal deel geesdriftig in alles wat gebeur.

Dan kom ’n gemeentelike dansgroep, Stic, aan die beurt met treffende beweging wat die woorde van ’n lied wat oor die Here se bystand en genesing in mense se lewens gaan.

Nou volg die preek.  Vandag is Pinksterfees. Die teks is die eerste paragraaf uit Esegiël 47. Die preek handel oor die genesing en herstel wat die Here vanuit sy teenwoordigheid bring.  Ons word opgeroep om aan onsself te dink aan bome wat vrugte van genesing dra vir die mense rondom ons.  Om dit te kan doen, moet ons God se genesing ook vir ons eie lewens omhels.

Die skep van gemeenskap tussen mense

Dit val my op hoe die gemeente dit regkry om gemeenskap tussen mense te skep.  Jy is belangrik, word opreg gegroet by die deure, die herder ken mense opsigtelik by die naam en mense geniet mekaar se teenwoordigheid.  Daar word lekker voor die erediens gesels, en agterna staan groepies en kuier.  ’n Baie belangrike vraag is of mense kom om bloot bestaande gemeenskap in stand te hou, en of nuwelinge ook betrek word.  As ek kyk na die groot getal aanwesiges, is laasgenoemde besig om te gebeur.

Ander menings

Tydens die besoek is ek vergesel deur ’n groep nagraadse teologiese studente.  Hulle kommentaar was positief en bevestigend.  Dit is geen tradisionele Gereformeerde kerk nie, het hulle gesê.  Die wet is nie voorgelees nie, en daar is nie bloot liedboek gesing nie.  Die toonaard was meer evangelikaal, maar ook dit is deel van die NG Kerk se geskiedenis en tradisie.  Verder is daar heelwat simboliek en pragtige kuns in die liturgiese ruimte.  ’n Kruis op lap is uiters kunstig gevul met name van die drie-enige God, op ’n ander opsigtelike plek is ’n groot kruis permanent aangebring.  Die nagmaaltafel is afwesig.  Volgens die studente kan skoonheid selfs verder aangevul word met betekenisvolle simboliek, soos dié van die sakramente.

Veral positief, het die studente gesê, is die afwesigheid van ’n heining.  “Ek het ’n kerk sonder ’n omheining gesien,” was iemand se opmerking.  Die verwagting van God se direkte aanwesigheid en die geloof in God as ’n liefdevolle, handelende Vader, was opvallend en positief.

Moontlike groeipunte?  Dalk kan die gemeente, wat God opsigtelik primêr as Geneser beleef, ook ’n ekologiese sensitiwiteit ontwikkel en God se genesing verstaan as ’n skeppingswye aksie.  Die lewende water uit die tempel in Esegiël 47, die tema van die preek, kan ook gewone, skoon water wees wat lewe aan die omgewing bring.

Steeds by genesing:  mens wonder wat sal ’n sensitiwiteit vir sosiale genesing, sistemiese genesing, in hierdie konteks beteken.  Hoe raak God nie net mense se indiwiduele siekte aan nie, maar die gemeenskap?  Hoe kan hierdie gemeente haarself as ’n sosiaal-maatskaplike genesingsinstrument herverstaan?

Ek weet dat Eldré ’n besondere aanvoeling het vir die armoede in die omgewing, en veral in die omliggende bruin woonbuurte.  Dit sal interessant wees om te sien wat vorentoe gebeur.

Een van die liedere wat ons so lekker saamgesing het kom uit Handelinge 3 waar die verlamde man genees word en dan huppel en spring en die Here loof en prys.  Dit vat die gemeente se roepingsbegeerte uitstekend saam:  huppel en spring, loof en prys die Here.

Luister na ‘n klankopname van die nagraadse studente se gesprek oor Algoapark-Gemeenskapskerk.

 

Demografiese skuiwe maak ‘n impak op gemeentes

2010/03/20 by Danie Mouton No Comments »

Hoe gemaak as ‘n gemeente baie klein word, met geen tradisionele voedingsbronne meer nie?

Dink aan die klein Lutherse gemeentes in die Grensgebied (in die omgewing van Oos-Londen, Oos-Kaap). Hulle is die geestelike nasate van Duitsers wat 150 jaar gelede hier gevestig is en groot invloed op die streek se ekonomie uitgeoefen het.  Vandag kom daar nie meer Duitsers na hierdie omgewing nie.  Die meeste van hierdie gemeentes besef dat hulle werk het om te doen rondom hul identiteitsverstaan en samestelling.

Dink aan talle NG Gemeentes in sentrale stadsgebiede waar lidmate weggetrek het na die voorstede toe.  Daar is geen sprake dat tradisionele NG lidmate (Afrikaanssprekend, blank, middelklas) weer na hierdie omgewings sal skuif nie.   Sommige van hierdie gemeentes neem merkwaardige inisiatiewe, ander begin noustrop trek en oorweeg om hul deure te sluit.  Talle het dit reeds gedoen.

In die SA demografiese konteks woon daar vandag – ironies genoeg – waarskynlik méér mense in die omgewing van hierdie klein gemeentes as ooit vantevore in hul geskiedenis.  Meer mense, maar minder tradisionele lidmate. read more…

 

PE-Noord staan op uit die as

2010/03/18 by Danie Mouton 1 Comment »

Die dae van glorie is lankal verby. PE-Noord, vroeër een van die groot en gerespekteerde NG gemeentes in Port Elizabeth, moes die knie buig voor industrieë en fabrieke. Talle woonhuise is afgebreek en die gelaat van die landskap het onherroeplik verander. Waar kinders vroeër gespeel het, brul swaar vragmotors nou. Waar bure saans ná werk gemoedelik met mekaar staan en gesels het, is daar nou hoë grensmure, parkeerareas, sake-ondernemings en sakebedrywigheid teen die snelheid van lig.

Slegs hier en daar staan nog woonhuise. Pensioenarisse, in wie se gedagtes die aangename herinneringe van die goeie ou dae voortleef, woon daarin.

PE-Noord is een van die gelukkige gemeentes wat oorleef het. Meer as een ander moes die knie buig en hulle deure sluit. Gemeentes soos Sidwell en Noordeinde het alles verloor en ontbind. Baie van hierdie lidmate het by PE-Noord ingeskakel. Hulle wag en wonder wanneer PE-Noord óók sy deure gaan sluit. read more…

 

NG-Familie kuier saam in PE

2010/02/17 by Danie Mouton No Comments »

Half verbaas het mense na die tyd gesê: “Dit was regtig lekker”.

Die toneel was die lekker saamkuier van lidmate en leraars uit die VGK, NGK en RCA op Saterdag, 13 Januarie 2010, by Algoapark-Gemeente in Port Elizabeth.  Die enigste verwagting was dat ons mekaar sou ontmoet en beter sou leer ken.

Die dag het bestaan uit een verteenwoordiger uit elke ring wat oor die ring se samestelling en wel en wee gesels het. Vrae is oor en weer gevra.  Daarna het almal in kleingroepies stories uit die gemeentes vertel, en is die volgende besprekingsvrae gevra:

  • Wat kan ons doen om mekaar op gronfvlak beter te leer ken?
  • Watter sinergie bestaan reeds waarop ons kan voortbou?
  • Wat is nog belangrik?

Voor jy verder lees, kyk hier hoe ons in kleingroepies werk:

Daar word kopstukke gesels in kleingroepe tydens die saamkuier van die Port Elizabethse Familie van NG Kerke

Grondvlak kontak verbreed

Die volgende moontlikhede is onder andere genoem:

  • Gemeentes kan oor en weer, as tweelinge, aan mekaar gekoppel word;
  • Leraars kan onderling sosialeer – lees hoe ds Thabane dit gestel het;
  • Gemeentes kan saam ‘n spesifieke noodlyndende area aanneem met die oog op bediening, bv ‘n plakkerskamp;
  • ‘n Gesamentlike ringsbyeenkoms.

Sinergie

  • ‘n Jeugbyeenkoms vind reeds in diestad plaas, en die hele Familie se jeug word daarheen genooi;
  • Ons leer om, soos ons jongmense, nie langer in terme van kleur en ras te dink nie;
  • Onderlinge vriendskappe tussen gemeentes word versterk en uitgebou.

Wat nog?

  • Ons skep ‘n Teologieskool vir lidmate in Port Elizabeth – met die oog op bedieningstoerusting;
  • Predikers ruil preekhulp uit, of berei saam preke voor;
  • ‘n Soortgelyke byeenkoms word in die tweede semester gehou.

Hoewel dit ‘n sinvolle geleentheid was, is dit ook duidelik dat daar nog baie aan grondvlakverhoudings gewerk sal moet word.  Hieroor was die groep baie realisties.

Meer foto’s kan hier besigtig word.