Die groot aantal kinders en jongmense val my op. Daar is energie in die lug, afwagting. Ons word vriendelik by die deur gegroet. Die kerk is vol.
Die prentjie is nie heeltemal wat ek verwag het om te sien nie. Ek kom om ’n gemeente te sien wat worstel met oorlewing. Daar was lank ’n vakature. Nou kan hulle bloot ’n leraar in ’n kontrakpos bekostig. Wat ek sien, lyk anders. Rondom my is lewe en energie, opwinding oor die erediens wat gaan begin.
Agtergrond
Byna twee jaar gelede het hierdie gemeente haar predikantspos weens finansiële redes verloor. Sedertdien het ’n ouderling waargeneem as die herder, soos die kerkraad hom noem, van die gemeente. Les Stander, wat as herder optree, is ook gemeentebestuurder.
Sedertdien was daar bemoedigende tekens dat die gemeente numeries begin groei het. Die basaar het ’n baie groot aantal lidmate gelok wat ingespring en hard gewerk het. Ander aksies en bedieninge, waaronder die kleingroepe en mannebediening, is geesdriftig ondersteun. Die geestelike momentum, geskep deur die geestelike bediening van die vorige leraar, het steeds onder die herder se leiding dividende bly oplewer.
Ons praat van Algoapark-Noord gemeente, wat uit eie keuse as ’n Gemeenskapskerk funksioneer. Algoapark is sosio-ekonomies ’n gebied in Port Elizabeth waar dit baie moeilik is om ’n tradisionele bediening ekonomies-volhoubaar voort te sit. Die bedieningsmodel van kerkgebou, predikant en pastorie is onbekostigbaar.
Wat leer ons oor nuwe gestaltes van die bediening uit hierdie gemeente se voorbeeld? Vir die ring is dit moeilik om net te aanvaar dat ’n gemeente onder leiding van ’n ouderling kan voortbestaan. Wat gebeur met die sakramente? Is dit reg dat daar ’n gemeentebestuurder (herder) en skriba in diens gehou word, maar daar is nie fondse om ’n predikant te bekostig nie? Wanneer is bediening legitieme bediening?
Intussen het Algoapark-Gemeenskapskerk tot die oortuiging gekom om die polisiekapelaan wat aan die gemeente gekoppel is, Eldré Bester, in ’n kontrakpos te beroep. Dit is ’n geloofsdaad en word met byna 50% deur middel van ’n ringsprojek befonds. Die bedoeling is dat haar pos vir twee jaar as ’n ontwikkelingspos gesien moet word om die gemeente na groter lewensvatbaarheid te begelei.
Les was voorheen in die SA Polisiediens en Eldré ’n ervare polisiekapelaan. Haar eggenoot is ook verbonde aan die SA Polisie. Het die gemeente se toekoms met ’n besondere bediening aan lede van die polisiediens te doen? Beide het ’n besondere aanvoeling vir armes en noodlydendes. Beide wil hul lewe daaraan wy om die genesing van die evangelie in mense se lewens in te weef.
Terug by die erediens
Vandag het ek kom kuier, en is verras met die dinamika. Dit is duidelik dat die Here ’n lewende, aktiewe werklikheid vir die gemeente is. Reg aan die begin loop die afkondigings uit in ’n vermelding van wie almal siek is – in die gemeente, maar ook in die groter gemeenskap. Die herder bid by name vir almal wat siek is, en gee terugvoer oor mense wat intussen genees is. Nie almal het gesond geword nie, of sal gesond word nie, maar daar is ’n tasbare verwagting dat die Here lewens sal aanraak.
Nou sing die gemeente met behulp van CD-begeleiding. Ons sing ’n lied uit die Liedboek en ook ander dinamiese geestelike liedere in ’n evangeliese styl. Daar is ook egte kinderliedjies. Dis pragtig om te sien hoe die hele gemeente saamsing en saam met die kinders beweeg terwyl die liedjies gesing word. Daar is geen afsonderlike kinder- of familie-moment nie. O nee, almal deel geesdriftig in alles wat gebeur.
Dan kom ’n gemeentelike dansgroep, Stic, aan die beurt met treffende beweging wat die woorde van ’n lied wat oor die Here se bystand en genesing in mense se lewens gaan.
Nou volg die preek. Vandag is Pinksterfees. Die teks is die eerste paragraaf uit Esegiël 47. Die preek handel oor die genesing en herstel wat die Here vanuit sy teenwoordigheid bring. Ons word opgeroep om aan onsself te dink aan bome wat vrugte van genesing dra vir die mense rondom ons. Om dit te kan doen, moet ons God se genesing ook vir ons eie lewens omhels.
Die skep van gemeenskap tussen mense
Dit val my op hoe die gemeente dit regkry om gemeenskap tussen mense te skep. Jy is belangrik, word opreg gegroet by die deure, die herder ken mense opsigtelik by die naam en mense geniet mekaar se teenwoordigheid. Daar word lekker voor die erediens gesels, en agterna staan groepies en kuier. ’n Baie belangrike vraag is of mense kom om bloot bestaande gemeenskap in stand te hou, en of nuwelinge ook betrek word. As ek kyk na die groot getal aanwesiges, is laasgenoemde besig om te gebeur.
Ander menings
Tydens die besoek is ek vergesel deur ’n groep nagraadse teologiese studente. Hulle kommentaar was positief en bevestigend. Dit is geen tradisionele Gereformeerde kerk nie, het hulle gesê. Die wet is nie voorgelees nie, en daar is nie bloot liedboek gesing nie. Die toonaard was meer evangelikaal, maar ook dit is deel van die NG Kerk se geskiedenis en tradisie. Verder is daar heelwat simboliek en pragtige kuns in die liturgiese ruimte. ’n Kruis op lap is uiters kunstig gevul met name van die drie-enige God, op ’n ander opsigtelike plek is ’n groot kruis permanent aangebring. Die nagmaaltafel is afwesig. Volgens die studente kan skoonheid selfs verder aangevul word met betekenisvolle simboliek, soos dié van die sakramente.
Veral positief, het die studente gesê, is die afwesigheid van ’n heining. “Ek het ’n kerk sonder ’n omheining gesien,” was iemand se opmerking. Die verwagting van God se direkte aanwesigheid en die geloof in God as ’n liefdevolle, handelende Vader, was opvallend en positief.
Moontlike groeipunte? Dalk kan die gemeente, wat God opsigtelik primêr as Geneser beleef, ook ’n ekologiese sensitiwiteit ontwikkel en God se genesing verstaan as ’n skeppingswye aksie. Die lewende water uit die tempel in Esegiël 47, die tema van die preek, kan ook gewone, skoon water wees wat lewe aan die omgewing bring.
Steeds by genesing: mens wonder wat sal ’n sensitiwiteit vir sosiale genesing, sistemiese genesing, in hierdie konteks beteken. Hoe raak God nie net mense se indiwiduele siekte aan nie, maar die gemeenskap? Hoe kan hierdie gemeente haarself as ’n sosiaal-maatskaplike genesingsinstrument herverstaan?
Ek weet dat Eldré ’n besondere aanvoeling het vir die armoede in die omgewing, en veral in die omliggende bruin woonbuurte. Dit sal interessant wees om te sien wat vorentoe gebeur.
Een van die liedere wat ons so lekker saamgesing het kom uit Handelinge 3 waar die verlamde man genees word en dan huppel en spring en die Here loof en prys. Dit vat die gemeente se roepingsbegeerte uitstekend saam: huppel en spring, loof en prys die Here.
Luister na ‘n klankopname van die nagraadse studente se gesprek oor Algoapark-Gemeenskapskerk.