RSS Feed

Archive for the ‘Cradock’ Category

Ontwikkel ‘n publieke bediening

2010/07/15 by Danie Mouton 1 Comment »

Geloof is veel meer as ‘n private aangeleentheid.  Jesus is nie net die Koning van ons harte nie, maar die Koning van die heelal.  Die evangelie as woord en daad is goeie nuus vir die hele wêreld.

Ons troetel ‘n makgemaakte evangelie wanneer ons net van die Here verwag om ons innerlike beleweniswêreld en ons ervarings aan te raak.  Die onverdunde evangelie het te doen met die hele wêreld.  Dit is publiek. God se vrede, genesing, geregtigheid en die vreugde wat die Gees gee, is vir die hele lewe.

Daarom is dit so positief wanneer gemeentes begin om ‘n publieke bediening te ontwikkel waarin die Here se hart vir die samelewing sigbaar word.

Hier is ‘n paar voorbeelde hoe gemeentes reg oor die Oos-Kaap by publieke bedieninge betrokke raak:

Port Alfred dien munisipale dienste

Op Port Alfred span afgetrede lidmate, wat oor die nodige kundigheid beskik, kragte saam met die munisipaliteit om gespesialiseerde dienste soos watersuiwering en siviele werke meer effektief te lewer.  Die aanbod aan die munisipaliteit is gebore uit ’n ekumeniese Pinksterreeks waaraan verskeie gemeentes, waaronder die Volle Evangeliekerk, die Katolieke en ander verlede jaar deelgeneem het.  “Die Evangelie het die gelowiges so aangeraak, dat hulle besluit het om op te hou kla en iets te beteken, ” sê ds Riaan Steyn van Port Alfred.  “Verwyte, opposisie, wantroue en konflik is vervang met samewerking tot heil van die gemeenskap.”

Gemeentes help die Willowmore-gemeenskap ontwikkel

Op Willowmore het die munisipaliteit die ekumeniese predikante-kring versoek om te help met opvoedkundige gemeenskapsprojekte.  Die gemeentes span nou saam om die gemeenskap te ontwikkel, en hou publieke voorbiddingsgeleenthede in verskillende dele van die gemeenskap.  “Hierdie samewerking verminder ook die verskeurdheid tussen die verskillende kerkgroepe, en gee aan kerke die ervaring dat hulle bruikbaar is in die ontwikkeling van die gemeenskap” vertel ds Aldo Liebenberg van Willowmore.

Colesberg los verbruikersboikot op

In Colesberg het die kerke saamgespan om namens die besigheidsektor met die munisipaliteit in gesprek te tree oor ’n verbruikersboikot.  Hierdie gesprek was só vrugbaar, dat ander sake van publieke belang, soos munisipale dienste, ook deel van die gesprek geword het.  Die kerk se bemiddeling het daartoe gelei dat diensverskaffing betekenisvol verbeter het.  Ds Japie Taljaard vertel meer:

Cradock voed die gemeenskap met Hollandse hulp

Op Cradock het verskeie gemeentes ekumenies saamgespan om die Vukasebenze-skuiling te skep waarin hulp aan die armstes van die armes verleen word.  Onwetend het hierdie skuiling hulp verleen aan ’n familielid van minister Charles Nqakula.  Op ’n goeie dag, tot almal se stomme verbasing, daag ’n stoet ampsmotors op, en klim die minister uit.  Sy kom bladskud met die skuiling se personeel om dankie te sê vir die hulp wat verleen is.

In hierdie video vertel ds Hansie Schutte hoe Hollanders nou hul gewig op Cradock kom ingooi om die gemeenskap te dien:

‘n Kerk wat omgee vir gemarginaliseerde kinders

In Mthatha was die NG Kerk betrokke by die oprigting van die VGK se Sinethemba Kinderhuis.  Ds Willem Botes vertel die burgemeester van die Libode-munisipaliteit het by die opening van Sinethemba gesê sy het “die NG Kerk leer ken as die kerk wat omgee vir die mense.”  Sy het die aanwesiges aangemoedig om dié kerk te voorbeeld te volg.

Lees meer oor Sinethemba.

 

Cradock-Noord neem nuwe orrel glansryk in gebruik

2010/06/14 by Danie Mouton 2 Comments »

“‘n Uitgelese groep kunstenaars het saamgespan om die ingebruikneming van Cradock-Noord se nuwe Johannus-orrel ‘n onvergeetlike ervaring te maak,” vertel ds Attie van Wyk, predikant van die gemeente en orrelis in eie reg.

Die konserte het op 4 en 5 Junie plaasgevind.  ’n Groot hoeveelheid mense van reg oor die land het die konsert van bykans 3 ure bygewoon. Daar was konsertgangers uit die Kaap, Johannesburg, Port Elizabeth, Humansdorp en van die omliggende dorpe soos Adelaide, Graaff-Reinet en Burgersdorp.

Kunstenaars wat deelgeneem het aan die konsert om die ingebruikneming van Cradock-Noord se nuwe kerkorrel te vier. Agter: Bennie Jonker, Geoff van der Voort, Prieur du Plessis. Voor: Melissa Witbooi, Keith Moss, Corné Vollgraaff, Sarah Evans, Iloreez Meyer, Lilian Zeelie, Eon Malan, Dalene Els, Colin Campbell en Attie van Wyk

Op die program was ‘n groot verskeidenheid musiek, soos toccatas, gespeel deur Colin Campbell (Widor en Boëllmann), asook ligter gewyde musiek. Instrumentaliste met trompet en fluit asook strykers en sangers het opgetree.  Daar was ook samesang.

As orreliste het Colin Campbell, Geoff van der Voort, Dalene Els, Eon Malan en Attie van Wyk uitvoerings gelewer. Lilian Zeelie het  fluit gespeel, Keith Moss, Sarah Evans en Melissa Witbooi het as strykers opgetree, met sangers Iloreez Meyer, Prieur du Plessis en Lionel van Zyl. Bennie Jonker en Corné Volgraaff het die trompet bespeel.

Die drie manuale van die NG Kerk Cradock-Noord se nuwe Johannus-orrel - een van die grootste digitale orrels in Afrika.

“Die konserte was nie net ‘n fondsinsamelingpoging nie, maar ook ‘n fees om die skoonheid van musiek te geniet, lof aan die Here te bring, en mekaar se samesyn te geniet.  Dit was ‘n wonderlike ervaring om lidmate skouer aan die wiel te sien sit en saam te werk om van die aande ‘n sukses te maak,” sê Attie. “Mense is verras deur die wonderlike musiek op die platteland.  Ek dink dit was ‘n inspuiting vir die platteland om hierdie konserte te kon beleef.”

Die konserte is elke aand deur sowat 650 mense bygewoon.

Ds Attie van Wyk, predikant van Cradock-Noord en musikant in eie reg

Klik hier om te luister hoe Attie die program en samewerking van die lidmate beskryf.

 

Colesberg hou geseënde gemeentekamp

2010/03/10 by Danie Mouton 1 Comment »

Dit was nou lekker.  Verlede naweek se gemeentekamp saam met die vriendelike, gasvrye mense van Colesberg se NG Gemeente. Martie en ek was genooi om die naweek saam met hulle deur te bring.

Ons het gekamp by die River Destiny Lodge teen die Oranjerivier (of is dit nou die Garieprivier?) wat breed en wyd vloei na die onlangse goeie reën.  Die Lodge is baie naby aan die brug oor die N1.

'n Paar Colesberg-lidmate besig met "Woon in die Woord" tydens die gemeentekamp

Die kamptema was dissipelskap en ons het verskillende tekste volgens die geloofsdissipline van Woon in die Woord gelees.

Die kapasiteit om as dissipel te groei hou verband met

  • Kennis (minimum en nie maksimum kennis nie);
  • Houdings en gesindhede;
  • Vaardighede; en
  • Gewoontes.

Daar was werklik lewendige bespreking oor die naweek waar almal afgerig (ge-”couch”) is oor dissipelskap.  Ons het gewerk aan ons kapasiteit om die Here te volg, en nie net daaroor gepraat nie, maar dit ook op verskillende maniere prakties gedoen.

Dit het my weer getref hoe toegewyd en diensgerig plattelanders kan wees.  En hoe vanselfsprekend dit vir hulle is om oor generasiegrense te gaan in alles wat hulle doen.

Dit was ook lekker om ‘n diepte-onderhoud te voer met Estelle Jacobs, ‘n lidmaat wat by ‘n organisasie werk wat ‘n sistemiese intervensie in die lewens van die karretjie-mense in die omgewing maak.  Ek het ‘n berig hieroor vir Kerkbode geskryf, en sal dit moontlik later op die blog plaas.

Wat vir my ‘n besondere ervaring was, is die groot hoeveelheid kinders en jongmense wat ook die kamp bygewoon het.  Die kinders en jongmense het elk hul eie geestelike baan gehad (gelei deur Wessel Wessels, ‘n tweedejaar teologiese student aan Kovsies en Annetjie van Zyl, ‘n kinderwerker).

Natuurlik het Karoo-gasvryheid en braaivleis die botoon gevoer.  Die rustige en goed-georganiseerde leierskap van ds Japie Taljaard en Lizeth Taljaard (skriba) het bygedra om die naweek die moeite werd te maak om te onthou.

Hier is nog ‘n paar foto’s:

Intense geestelike gesprek oor die Woord

Gesprek oor die Woord is 'n basiese geloofsdissipline vir dissipels

'n Paar jongmense op die gemeentekamp. Wessel Wessels, teologiese student, staan derde van links

Meer foto’s kan hier besigtig word (klik op die duimgrootte-foto’s om die groot prentjie te sien).

 

Nederlanders werk by Vukasebenze-Skuiling in Cradock

2010/02/19 by Danie Mouton No Comments »

Die evangelie het ‘n droom in die harte van Cradock se NG Gemeentes wakker gemaak, vertel prop Riana Erasmus, pastorale jeugwerker van Cradock-Oos.  Dié visie is in 2005 gebore tydens ‘n naweek saam met Engela Ellis en Johan Theron van die Kingfisher Mobiliseringsentrum.  Die onderskeie NG Gemeentes, die ACVV en die Cradockse gemeenskap het hul gawes en tyd gepoel, en vandag is die droom, die Vukasebenze-Skuiling, ‘n Oos-Kaaplandse sinodale projek waar tussen 70 en 80 mense elke weeksdag ‘n bord kos kry.

Personeel van Vukasebenze

Die doel van die skuiling is egter nie net om mense te voed nie, maar om hulle te bemagtig om in Christus ‘n nuwe lewe te begin.  Deur opleidingsprojekte kan mense hulle gawes ontdek en ‘n nuwe lewe ontsluit.  Dit sluit in:

  • Naaldwerk
  • Kookkuns
  • Handvaardigheid
  • Rekenaarvaardigheid
  • Hout- en sweiswerk

Klerebank

In samewerking met die plaaslike Polisieforum en die Departement van Onderwys word ook gepoog om ‘n verskil in die lewe van talle straatkinders te maak.

Pragtige naaldwerk

‘n Groentetuin is begin om uitgawes te help dek.  Nou lê daar elke dag vars groente op die kombuistafel.  Die verkoop van groenteplantjies, tuisgebakte brood, gebruikte klere en die was en pars van die plaaslike gastehuis se linne help verder om uitgawes te dek.

Welige groentetuin

Riana vertel verder:  ”Ons droom hou nooit op nie en die gemeenskap staan telkens verwonderd hoe die Here elke dag voorsien en nuwe deure oopmaak.  So het twee Nederlandse egpare, Dick en Bernike van Mersbergen, en Kees en Greet van Someren, aan die begin van 2010 by die skuiling aangesluit.  Hulle werk kliphard, en gee boonop ook finansiële steun.  Dankie! Julle het ons prakties kom leer wat dit beteken wanneer ons sê: Vukasebenze!  Staan op en werk!”

Twee Nederlandse egpare het aan die begin van 2010 by Vukasebenze kom aansluit.

Vukasebenze en sy mense is ‘n inspirasie!