RSS Feed

Archive for the ‘Graaff-Reinet’ Category

Ontwikkel ‘n publieke bediening

2010/07/15 by Danie Mouton 1 Comment »

Geloof is veel meer as ‘n private aangeleentheid.  Jesus is nie net die Koning van ons harte nie, maar die Koning van die heelal.  Die evangelie as woord en daad is goeie nuus vir die hele wêreld.

Ons troetel ‘n makgemaakte evangelie wanneer ons net van die Here verwag om ons innerlike beleweniswêreld en ons ervarings aan te raak.  Die onverdunde evangelie het te doen met die hele wêreld.  Dit is publiek. God se vrede, genesing, geregtigheid en die vreugde wat die Gees gee, is vir die hele lewe.

Daarom is dit so positief wanneer gemeentes begin om ‘n publieke bediening te ontwikkel waarin die Here se hart vir die samelewing sigbaar word.

Hier is ‘n paar voorbeelde hoe gemeentes reg oor die Oos-Kaap by publieke bedieninge betrokke raak:

Port Alfred dien munisipale dienste

Op Port Alfred span afgetrede lidmate, wat oor die nodige kundigheid beskik, kragte saam met die munisipaliteit om gespesialiseerde dienste soos watersuiwering en siviele werke meer effektief te lewer.  Die aanbod aan die munisipaliteit is gebore uit ’n ekumeniese Pinksterreeks waaraan verskeie gemeentes, waaronder die Volle Evangeliekerk, die Katolieke en ander verlede jaar deelgeneem het.  “Die Evangelie het die gelowiges so aangeraak, dat hulle besluit het om op te hou kla en iets te beteken, ” sê ds Riaan Steyn van Port Alfred.  “Verwyte, opposisie, wantroue en konflik is vervang met samewerking tot heil van die gemeenskap.”

Gemeentes help die Willowmore-gemeenskap ontwikkel

Op Willowmore het die munisipaliteit die ekumeniese predikante-kring versoek om te help met opvoedkundige gemeenskapsprojekte.  Die gemeentes span nou saam om die gemeenskap te ontwikkel, en hou publieke voorbiddingsgeleenthede in verskillende dele van die gemeenskap.  “Hierdie samewerking verminder ook die verskeurdheid tussen die verskillende kerkgroepe, en gee aan kerke die ervaring dat hulle bruikbaar is in die ontwikkeling van die gemeenskap” vertel ds Aldo Liebenberg van Willowmore.

Colesberg los verbruikersboikot op

In Colesberg het die kerke saamgespan om namens die besigheidsektor met die munisipaliteit in gesprek te tree oor ’n verbruikersboikot.  Hierdie gesprek was só vrugbaar, dat ander sake van publieke belang, soos munisipale dienste, ook deel van die gesprek geword het.  Die kerk se bemiddeling het daartoe gelei dat diensverskaffing betekenisvol verbeter het.  Ds Japie Taljaard vertel meer:

Cradock voed die gemeenskap met Hollandse hulp

Op Cradock het verskeie gemeentes ekumenies saamgespan om die Vukasebenze-skuiling te skep waarin hulp aan die armstes van die armes verleen word.  Onwetend het hierdie skuiling hulp verleen aan ’n familielid van minister Charles Nqakula.  Op ’n goeie dag, tot almal se stomme verbasing, daag ’n stoet ampsmotors op, en klim die minister uit.  Sy kom bladskud met die skuiling se personeel om dankie te sê vir die hulp wat verleen is.

In hierdie video vertel ds Hansie Schutte hoe Hollanders nou hul gewig op Cradock kom ingooi om die gemeenskap te dien:

‘n Kerk wat omgee vir gemarginaliseerde kinders

In Mthatha was die NG Kerk betrokke by die oprigting van die VGK se Sinethemba Kinderhuis.  Ds Willem Botes vertel die burgemeester van die Libode-munisipaliteit het by die opening van Sinethemba gesê sy het “die NG Kerk leer ken as die kerk wat omgee vir die mense.”  Sy het die aanwesiges aangemoedig om dié kerk te voorbeeld te volg.

Lees meer oor Sinethemba.

 

Hoe krimp gemeentes suksesvol?

2010/04/21 by Danie Mouton 7 Comments »

Die massiewe foto van Charles Murray, agter my,  domineer die konsistorie.  Links staan die pragtige egte silwer nagmaalservies uitgestal (uit die vroeë 19e eeu).  Die houtplafon imponeer.  Rye foto’s van generasies van bekende predikante is uitgestal in  die konsistorie, reg rondom ons, waaronder dié van pa Andrew Murray en seun Charles, saam vir 82 jaar predikante in hierdie gemeente.  Hierdie gemeente het goue oomblikke geken.

Ons sit in die imposante gebou van die sesde oudste gemeente van die NG Kerk in Suid-Afrika, die NG Kerk Graaff-Reinet.  (Die gebou is gebaseer op die ontwerp van die Salisbury Katedraal in Engeland.) Deur die oop deur sien ek hoe toeriste die kerkgebou, met sy kansel van Burmese Teak, bewonderend waardeer.  Terwyl ons gesels, verskyn voor my geestesoog die pragtige kerkgeboue van Aberdeen (hoogste kerktoring in die land), Nieu-Bethesda, Klipplaat, Nuwekerk, Jansenville, selfs Murraysburg – om maar ‘n paar te noem.

NG Kerk Graaff-Reinet

Kerkgebou van die NG Kerk Graaff-Reinet

Die dominees van die Ring van Graaff-Reinet is vandag bymekaar.  Ons beplan aan ‘n klein-gemeente-konferensie wat oor ‘n paar maande in die ring gehou gaan word.

Die pragtige kerkgeboue getuig van ‘n tyd toe hierdie gemeentes sterk, welvarend en finansieel lewenskragtig was.  Vandag gebeur daar steeds besondere goed in die gemeentes, maar in die meeste gevalle is die finansiële krag daarmee heen.  Sommige kan nie langer predikante bekostig nie, ander berei hulle voor vir die tyd wanneer hulle hul dominee gaan verloor.  Nog ander het reeds voltydse predikante verloor.

Uit die elf gemeentes in die ring het sewe nog predikante, hoewel net 2 nog ten volle volgens sinodale riglyn betaal word.

Die vraag is: hoe vorentoe?  Waarom het hierdie ring, wat soveel finansieël sterk gemeentes gehad het, vandag ‘n hele aantal marginale (in terme van finansies en lidmaattal) geloofsgemeenskappe?

In die gesprek word die volgende faktore buite direkte beheer van die gemeentes genoem:

  • Die karakter van boerdery het oor die afgelope dekades radikaal verander.  Aanvanklik is op baie kleiner eenhede geboer, maar om ekonomies op haalbare skaal te boer verg deesdae groot landboueenhede.  Dit bring ontvolking mee.
  • Wildsboerdery het baie toegeneem.  Wildsplase is groot en veel minder arbeidsintensief as selfs veeboerdery. Dit spel ook ‘n verlies aan lidmate.
  • Persone koop plase en bewoon dit slegs gedeeltes van die jaar, of selde.  Dit geld veral wildsboerdery.
  • Die Addo Nasionale Park se grondgebied is uitgebrei en ontvolk gedeeltes van die ring wat boerdery betref (dink veral aan die area rondom die Darlingtondam).
  • Die Spoorweë het aktiwiteite op kleiner dorpies, soos Klipplaat, grootliks beëindig.  Die ou stoomtrein-tegnologie het ondersteuningspersoneel op verskeie plekke langs die spoorlyn nodig gehad.  Met elektriese of dieseleenhede en rekenaarbeheer vir wissels kan die spoorstelsel sentraal vanuit groot sentra beheer word.

Die krimp in lidmaattalle het egter ook met faktore volkome binne die beheer van gemeentes te doen.  Die volgende opmerkings word nie beskamend bedoel nie, maar bloot bedoel om die konseptuele landskap waarbinne baie gemeentes funksioneer te beskryf:

  • Waar nuwelinge wel gemeenskappe betree, word hulle nie intensioneel binne gemeentes geïntegreer nie.  Daar is ‘n baie lae bewussyn dat die kerk moet uitreik na nuwelinge, hulle gasvry verwelkom en binne die gemeente integreer.
  • Die NG Kerk se volkskerk-erfenis laat hom ook geld.  Dit is nie vanselfsprekend dat lidmate oor grense sal gaan en persone buite die Afrikanerkring sal verwelkom nie.  Dit is nie “ons mense” nie.
  • Daar is ‘n onderwaardering van die bydrae wat lidmate tot die effektiewe bediening van gemeentes kan lewer.  ’n Oorafhanklikheid van predikante lei daartoe dat gemeentes sonder predikante onnodig stagneer, en net funksioneer wanneer ‘n dominee van buite betrek kan word.  Gemeentes ontbeer dus inisiatief en gawes wat in die bestaande lidmaattal beskikbaar is, maar weens ‘n gebrek aan ‘n toepaslike bedieningsmodel onbenut bly.
  • Wanneer die finansiële oorlewing van die gemeente die primêre motief raak, word die gemeente gediskonnekteer van God se lewegewende bedoelinge met die geloofsgemeenskap.

Weer eens:  hierdie opmerkings is bedoel om die landskap te beskryf, nie om te beskaam nie.  Die punt is: as dit die de facto situasie is, wat kan gemeentes doen om hulle selfverstaan en bedieningsmodelle aan te pas?  Wie is daar wat die Here na ons gemeentes stuur?   Hoe kan ons hulle verwelkom?  Hoe moet ons verander om hulle by ons welkom te heet?

Verder:  hoe kan ons ‘n Bybelse, inklusiewe kerkbegrip ontwikkel?  Hoe sien die Bybel die kerk?  Indien die Here die kerk bymekaar roep, voor God se aangesig sentreer, leer en vorm, en die kerk daarna uitstuur, wie behoort aan die kerk?  Na wie word ons gestuur?  Hoe verwelkom ons hulle?

Wat gaan die rol van die predikant in die ontwikkeling van ‘n Bybelse kerkbegrip wees?  Dit is duidelik dat lidmate in die toekoms ‘n groter rol in die bediening in gemeentes moet speel.  Hiervoor moet ‘n visie ontwikkel word.  In talle gemeentes voel dit na ‘n neerlaag wanneer die gemeente nie langer ‘n dominee kan bekostig nie.  Dit is onnodig, maar gemeentes gaan nie groei na ‘n bediening wat die gawes van lidmate ontsluit en benut as die ring, of die uitgaande predikant, nie die visie hiervoor ontwikkel nie.

Hoe krimp gemeentes suksesvol?

In die pynlike proses van krimp, sê die dominees van die ring van Graaff-Reinet vir my, moet gemeentes hulle voorberei op nuwe finansiële realiteite en gereed maak vir lidmaatgedrewe bedieninge.

Terselftertyd moet krimp nie as normaal en vanselfsprekend aanvaar word nie.  Die vraag is eerder: hoe transformeer gemeentes suksesvol?  Aan wie behoort die toekoms van die gemeente?  Wie in die gemeenskap is die geestelike erfgename van hulle wat hierdie geboue opgerig en geloof oor eeue en dekades lewend gehou het?  Hoe gaan ons hulle insluit, en onsself transformeer om hulle te kan verwelkom?

Hierdie transformasie van krimpende gemeentes in gemeenskapsgerigte kerke behoort met die volgende rekening te hou:

  • ‘n Verantwoorde proses van fasiliterende leierskap waardeur die gemeente so wyd moontlik ingeskakel word in die ontdekking van ‘n nuwe roeping vir ‘n nuwe tyd;
  • Die beoefening van korporatiewe geestelike dissiplines wat die gemeente help tot ‘n beskrywing van hul identiteit voor God se aangesig, en in die lig van die Woord;
  • ‘n Diep en geestelike konneksie met die gemeenskap, waarin die gemeente vra na wie die Here hulle stuur?
  • Roeping is die perspektief van waaruit die gemeente se bestaan, en die gestaltes daarvan, bedink word.  Dit verg gebed en afhanklikheid van die Here, waarin die lidmate die gemeente “teruggee” vir die Here en van die Here afbid hoe die gemeente moet voortbestaan;
  • Meganiese prosesse wat bloot met rasionele logika rekening hou en die beste opsies vir finansiële oorlewing wil kies, moet vermy word.

Ringe behoort die opsie ter vermy om gemeentes bloot te sluit, omdat hulle nie langer volgens kerkordelike bepalings kan voortbestaan nie.  Wanneer mens in terme van roeping dink, kan ‘n gemeente van 20 mense betekenisvol voortbestaan. Toegeruste lidmate en mentorskap van geestelike leiers, soos ringspredikante, is nodig.  Byvoorbeeld:  in ‘n land soos Turkye, waar die Christelike geloof tans weer stadig maar seker groei, is dit niks snaaks om gemeentes van 8 lidmate te ontmoet nie.  Waarom dan nie in Suid-Afrika nie?  Ons moet net buite die konvensionele wysheid en bestaande bedieningspraktyke (wat baie geld en groot geboue benodig) dink.

Gemeentes kan suksesvol krimp en transformeer.  Hiertoe moet teologies-konseptuele beperkings op wat ‘n gemeente is aangepas word.