RSS Feed

Archive for the ‘Vorm-A-2009’ Category

Ring van Port Elizabeth – Sentrale temas en vrae vir refleksie

2010/04/29 by Danie Mouton No Comments »

1.      SENTRALE TEMAS IN DIE TERUGVOER

  • Demografiese skuiwe vind plaas, sodat die samestelling van die gemeenskappe verander.
  • Lidmate verouder en kindertalle neem in sommige gemeentes af.  Moedergemeente hou bykans weekliks begrafnis en krimp vinnig. Ook ander gemeentes rapporteer dat die gemiddelde ouderdom styg.
  • Woonbuurte word omskep in besigheidsareas, bv De Duin (gasvryheidsbedryf), ’n nuwe sake-kern (Hoogland) ontstaan, groot, nuwe hotel (Somerstrand), Walmer.
  • Verskeie gemeentes meld dat misdaad en sekuriteit toenemend in woonbuurte verswak, roof neem toe.
  • Jeugbedieninge in ’n aantal kontekste raak maklik multikultureel, bv Kensington en Moedergemeente.
  • Vennote speel ’n belangrike rol, bv tuistes vir bejaardes, Vistarus, Maranatha, die polisieforum, Protea Plek van Veiligheid, Kinderoord MTR Smit, Mothwa Haven, e.s.m.
  • Gemeentes fokus op noodlydendes (Boswerkers), jeug, Xhosasprekendes (Bybelverspreiding), voedselbedieninge (sopkombuis), bejaardes, gevangenes.  Sommige gemeentes noem hier baie spesifieke voorbeelde, terwyl ander meer baie aanduidings gee.
  • Energiepunte is eredienste, gemeentelike bedieninge en programme, kleingroepe, die wyse waarop lidmate God in hul daaglikse lewe ontdek, uitreike en omgee teenoor mense in die omgewing.
  • Gemeentes wat die middestad bedien rapporteer uitdagings rondom prostitusie, dwelmhandel, vinnige verwisselings van inwoners en misdaad.
  • Een gemeente het nie Vorm A voltooi nie.

2.      VRAE AAN RINGSGEMEENTES

  1. Die bediening in die sentrale middestad bied uitdagings wat te groot is vir die betrokke gemeentes in terme van hulpbronne benodig en lidmaattal.  Veral PE-Sentraal is hier ter sprake, maar dink ook aan Moedergemeente.  Watter vennootskappe met die voorstedelike ringsgemeentes, wat oor baie meer bronne beskik, is moontlik?
  2. Waar nuwe besigheidsontwikkelings binne gemeentegrense voorkom, word nuwe gestaltes van bediening nodig.  Wat doen gemeentes om mense in hul werkplekke met die evangelie te bereik?  Watter kundigheid bestaan in hierdie verband en watter vennote kan geïdentifiseer word?
  3. In watter mate het ringsgemeente eienaarskap aanvaar vir ringsprojekte, soos Wêreldsokkerbeker 2010?
  4. Konkrete gemeenskapsuitreike neem toe, bv sopkombuise, evangelisasie onder Nigeriërs, en werkverskaffingsprojekte.  Waarom?  Wat maak dit moontlik?  Wat sou gemeentes by mekaar oor hierdie tema kon leer?
  5. Hoe verstaan ringsgemeentes publieke teologie en wat is binne ons bereik in hierdie verband?
 

Ring van Humansdorp: Sentrale temas en vrae vir refleksie

2010/04/21 by Danie Mouton No Comments »

SENTRALE TEMAS IN DIE TERUGVOER

  • Gemeentes rapporteer ’n invloei van immigrante uit die res van Afrika.  Hulle word as plaaswerkers aangewend.
  • Hoë vlakke van alkohol- en dwelmverslawing kom in gemeenskappe voor, veral onder plaaswerkers.
  • Die droogte het ’n dramatiese ekonomiese impak.
  • Die plaaswerkers is ’n ontwortelde gemeenskap – groot getalle van hulle woon nou nie langer op die plase nie, maar in die dorp, waar hulle en hul kinders meer aan sosiale euwels blootgestel word.
  • Daar is ’n hoë sosiale bewussyn onder ringsgemeentes – verreweg die meeste rapporteer dat hulle gemeenskapsprojekte bedryf.  Vergelyk bv die VALK-projek en plaaswerker-projekte.  Klassegrense word doelbewus oorgesteek, daar is bv projekte om die verhoudinge tussen boere en werkers te versterk.
  • Van die kleiner gemeentes is in ’n oorlewingstryd, terwyl daar ook groot en welvarende gemeentes in die ring bestaan.
  • Verskeie evangelisasieprojekte word geloods.
  • Van die gemeentes rapporteer dat hulle besig is om die gemeenskap oor verskeie grense in hul bediening “in te nooi”, bv ’n gesamentlike biduur vir reën.  Daar is ook ’n bewussyn dat die jeug in die hart van gemeentes ingeskakel moet word.
  • Daar is ’n sterk klem op aksie by die meeste gemeentes, veral rondom barmhartigheid en evange­lisasie.
  • Enkele gemeentes rapporteer besonder geestelike verdieping.  Kuns, musiek, en ’n belewing van die Heilige Gees se werk word genoem.

VRAE AAN RINGSGEMEENTES

  1. Watter vennootskappe moet in die gemeenskappe gevestig word om die werklik vernietigende vlakke van drank- en dwelmmisbruik aan te spreek?  Hoe kan gemeentes, drankwinkels, die SA Polisie, skole, landbouverenigings en munisipaliteite saamwerk?  Wat moet gemeentes leer by verslaafdes ten einde hulle effektief te kan bedien?  En: waarom is verslawing so ’n wesenlike probleem?
  2. Hoe kan vreemdelinge en buitestanders liturgies betrek word?  Praktiese voorbeelde?
  3. Wat is die potensiaal vir xenofobie in plaaslike gemeenskappe?  Hoe kan dit voorkom word – bv deur doelgerigte sosiale integrasie?  Wat is die kerk se bydrae in die skep van ’n kollektiewe sosiale vesel?
  4. Uit die terugvoer blyk duidelik dat enkele gemeentes baie sterk op finansiële oorlewing fokus.  Die Ring doen reeds moeite om te help.  Hoe kan groter gemeentes permanente bestaansekerheid vir kleiner gemeentes help skep?  Finansiële steun, nuwe grense?
  5. In watter mate dra uitreik (bv barmhartigheid en evangelisasie) by om die geloofsidentiteit van gemeentes te verander?  Is dit bloot ’n paar toegewyde lidmate wat uitreik, terwyl die gemeente self onveranderd bly, of het nuwe ervaring van God se werk ’n identiteitskuif tot gevolg?
  6. Verskeie gemeentes het geweldige besige programme.  Wat stel gemeentes as ideaal: baie programme, of in diepte fokus op ’n bepaalde roeping wat met bepaalde groepe of sake te doen het?  Watter rol speel geloofsonderskeiding in hierdie proses?
  7. Hoe kan gemeentes lidmate bemagtig om in die werkplek (bv plaas) ’n geestelike bediening te hê?
 

Ring van PE-Wes: Sentrale temas en vrae vir refleksie

by Danie Mouton No Comments »

SENTRALE TEMAS IN DIE TERUGVOER

  • Gemeentes rapporteer sosiale mobiliteit in woonbuurte,wat uitdagings aan die bediening stel.  Nuwe behuisingseenhede, mense wat verhuis, en die demografiese samestelling van die omgewing verander.  Lidmate beweeg uit en andertaliges en lidmate van ander kerkgenootskappe beweeg in.
  • Lidmate verouder en misdaad neem toe.
  • Die resessie het ’n impak: werkverlies, armoede – ook in gebiede waarheen gemeentes uitreik.
  • Die bewussyn groei dat daar mense buite die kerk is wat met die evangelie bereik moet word – kerk-wees is om na buite getuies te wees.  Verder behoort die model van kerk-wees te verander, dws veel meer gemeenskapsgerig, ’n kerk vir die omgewing wat die omgewing reflekteer.
  • Hulpverlening na buite is in verskeie gemeentes ’n energiepunt.  Ander energiepunte: die groei van die jeugbediening en gemeente-groei deur evangelisasie.  Talle gemeentes leer die omgewing raaksien, en herken God se roeping daarin.
  • Eredienste en geestelike programme is in ringsgemeentes ’n bron van hoop en energie.  Gemeentes wil ook graag onbetrokkenes betrek.
  • Verskeie gemeentes verwys na nuwe of bestaande vennote in hul bedieninge na buite, soos skole, hulpverleningsorganisasies, die gevangenis, die hospitaal, e.s.m.  ’n Gemeente begin ’n diens gerig op Engelsprekende gereformeerdes.
  • •       Die sokkerstadion is reg langs ’n ringsgemeente gebou.

VRAE AAN RINGSGEMEENTES

  1. Die skuif van die gemeentelike kultuur om jongmensvriendelik te wees, is ’n tema wat sterk funksioneer.  Wat kan julle gemeentes by mekaar leer, wat die ring ander gemeentes leer, en wat sou ander gemeentes by julle kon leer?  Wat weet julle dat julle nog moet leer oor die kultuurskuif na jeugvriendelikheid?  Wat moet julle leer waarvan julle nie weet nie?
  2. Wat kan die res van die verband by julle leer oor die Engelse erediens in julle ring?
  3. Verskeie gemeentes is sterk betrokke by gemeenskapsgerigte bedieninge.  Hoe kan julle verseker dat ’n kontekstuele bediening groei in al jul ringsgemeentes?  Hoe sou julle ander stadsgemeentes hiermee kon help?
  4. Die skep van nuwe gemeenskap tussen mense wat tans vreemdelinge is (bv nuwe intrekkers uit alle oorde) is ’n missionale vaardigheid.  Dit verg ook bepaalde houdings en gesindhede, gewoontes en ’n sekere kennisinhoud.  Hoe vaar julle met die skep van hierdie nuwe gemeenskap?  Watter struikelblokke bestaan daar hiervoor in gemeentes en hoe oorkom julle dit?  Wat kan ander gemeentes hieroor van julle leer?
  5. Hoe verseker julle dat betrokkenheid na buite die gemeentelike kultuur skuif?  Hoe oorkom julle die gevaar dat gemeenskapsbetrokkenheid net deur (minder of meer) lidmate gedryf word sonder dat die gemeentelike kultuur daardeur grootskaals skuif?
  6. Wat is julle grootste uitdagings as ring in julle begeleiding van ringsgemeentes?
 

Ring van Sondagsrivier: Sentrale temas en vrae vir refleksie

by Danie Mouton No Comments »

SENTRALE TEMAS IN DIE TERUGVOER

  • Die ekonomiese resessie en droogte maak ’n sterk impak op die lewensgehalte van lidmate.  Mense het werk verloor en besighede maak toe.
  • Psigies het ’n klimaat van negatiwiteit, swartgalligheid en uitsigloosheid ontstaan.
  • Daar was tog nuwe residensiële uitbreiding, en jongmense vloei in van die gemeenskappe in.  Jongmense sluit nie noodwendig by die NG Kerk aan nie.
  • Gemeentes merk op dat hulle teologies gereflekteer het oor die omstandighede deur hoop te help skep, mense materieel by te staan (noodhulp, werkverskaffing), en verhoudingsvorming groot bedieningsprioriteit te gee.  Hier het gemeentes oor grense gegaan na die armstes van die armes, bv met groentetonnels  of betrokkenheid by gemeenskapsklinieke.
  • Energie word geskep deur uitreike, getuienisaksies, betrokkenheid by plaaswerkers, en skole / jongmense.  Gemeentes is ook by die plaaslike VGK betrokke.
  • Gemeentes ondersteun mekaar, bv tov finansies.  Een gemeente het in ’n geweldige krisis beland.
  • Gehoorsaamheid aan die Heilige Gees, egtheid, menslikheid en dissipelskap vind praktiese neerslag.
  • Liturgie en aanbidding, konneksie met God, speel in van die gemeentes ’n sleutelrol.

VRAE AAN RINGSGEMEENTES

  1. Hoe kan gemeentes meer verwelkomend wees teenoor nuwelinge wat gemeenskappe betree, al is hulle nie reeds lidmate nie?  Dink bv aan jongmense.
  2. Verander uitreike na buite die identiteit van gemeente?  Leer lidmate God op ’n nuwe manier sien, skuif hul opvattings oor die identiteit en roeping van die kerk?  Of is dit net ’n paar geesdriftige lidmate wat betrokke is?  Hoe word uitreik oor grense ’n manier om die gemeente innerlik te vernuwe?
  3. Gemeentes rapporteer hoë vlakke van swartgalligheid, en tog gebeur wonderlike goed in die bediening aan die gemeenskap.  Wat is die verband tussen die moeilike ekonomiese tye en die geestelike verdieping wat in gemeentes bespeur word?
  4. Een van die gemeentes meld dat hulle op soek is na ’n metafoor om gemeentelike vernuwing te beliggaam.  Watter rol speel metafore in die geestelike transformasie van gemeentes?  Hoe kan ’n metafoor help om vir mense uitsig op God en betekenisvolle gedragsverandering te bring in ’n tyd van moedeloosheid en swartgalligheid?
  5. Uit sommige van die terugvoer kry mens die indruk dat – hoewel daar betekenisvolle dinge in gemeentes gebeur – almal in die gemeente nie eenstemmig daaroor is nie.  Sommige trek in dié rigting, ander in daardie.  Sommige wil bly ’n tradisionele instandhoudingsbediening bly, ander soek na maatskaplike betrokkenheid en diensbaarheid oor grense.  Watter raad het gemeentes om vir mekaar te gee?  Watter rol speel luister in die deurwerk van hierdie spanninge?
 

Ring van Uitenhage: Sentrale temas en vrae vir refleksie

by Danie Mouton No Comments »

SENTRALE TEMAS IN DIE TERUGVOER

  • Die gemeenskap is direk finansieel afhanklik van die groot nywerhede in die omgewing.  Die motorindustrie is ekonomies baie sensitief en die resessie het dit direk geraak.  In die verslagtydperk was daar groot besorgdheid oor die stand van die ekonomie.
  • Die droogte het ook ’n direkte impak op boerdery gehad.
  • Die gemeenskap raak meer divers, maar gemeenskappe leef in segregasie.
  • Gemeentes rapporteer dat hulle groot getalle bejaarde lidmate het, en dat die gemiddelde ouderdom van lidmate toeneem.  Kindergetalle neem af.
  • Daar is gemeentes wat kleiner word.
  • Daar is baie skole / opleidingsentra in die gemeenskap.
  • Verskeie gemeentes rapporteer dat hulle uitreik na noodlydendes, binne, maar veral buite die gemeente.
  • Daar is ’n bewussyn van God se teenwoordigheid by gemeentes, en een gemeente begin doelbewus geloofsonderskeidend funksioneer.
  • Daar word inisiatief geneem om verskillende geloofsgemeenskappe en hul leiers nader aan mekaar te laat beweeg en onderlinge vertroue te vestig.

VRAE AAN RINGSGEMEENTES

  1. Minstens een van die gemeentes rapporteer ’n visie vir skole en leerders.  Hoe kan gemeentes uitreik na jongmense en die gemeentelike kultuur meer jeugvriendelik maak?  Wat is nodig om jongmense deel van die gemeentelike bediening te maak en hulle in te skakel by bediening aan die gemeente?
  2. Watter strategie kan gemeentes volg om die bediening vanuit geloofsonderskeiding aan te pak?  Of vind julle dat die tradisionele gestruktureerde bediening van die NG Kerk voldoende is?
  3. Die behoefte om onbetrokkenes te help inskakel word genoem.  Hoe kan dit gedoen word?  Sou onbetrokkenes ingeskakel kon word deur hulle te betrek by die uitvoering van die gemeente se roeping?  Hoe word dit gedoen?
  4. Daar is aanduidings dat gemeentes in die resessie doelbewus God se aangesig gesoek het en gevra het hoe die Here in die onsekerheid, swaarkry en pessimisme teenwoordig is.  Wat behoort gemeentes in ’n industriële gemeenskap te doen om meer bewustelik ’n teologie van rentmeesterskap, besit, lyding en swaarkry te ontwikkel?
  5. Verskeie gemeentes noem dat die verskillende gemeenskappe waaruit die dorp se bevolking saamgestel is in afsondering van mekaar leef.  Wat kan gedoen word om dit te deurbreek en ’n gemeenskaplike lotsgebondenheid te vestig?  Waarom meen julle dat dit vir die kerk belangrik is dat gemeenskappe mekaar vind en ’n gemeenskaplike bewussyn en identiteit ontwikkel?  Wat kan dit vir die kerk se roeping beteken?
  6. Wat kan gedoen word om onderlinge verhoudinge, vertroue en samewerking tussen verskillende kerke en die gemeentes in die ring te verbeter?  Watter keuses gaan dit van deelnemende kerke verg?
 

Verstommend wat Ringsverslae kan oplewer

2010/02/04 by Danie Mouton 2 Comments »

Geloofsonderskeiding as praktiese vaardigheid is die primêre, bemagtigende leierskapinset van die NG Kerk in Oos-Kaapland.

In die lig hiervan het ons ons ringsverslagvorm aansienlik gewysig: weg van ‘n blote administratiewe verslag vorm, aansienlik verkort, en – belangrik – met ‘n afdeling van beduidende geloofsonderskeidende vrae vra.

Ons hoop dat hierdie benadering gemeentes en ringe sal help om geloofsonderskeiding deel van hul basiese werkswyse te maak.

Die vrae is as volg

  1. Wat gebeur in die gemeenskap en omgewing?
  2. Watter uitdagings is daar vir die gemeente?
  3. Wat skep energie in die gemeente?
  4. Hoe sien julle God raak in die dinge wat rondom julle gebeur, in julle uitdagings  en in die dinge wat julle opgewonde maak?
  5. Na wie stuur die Here die gemeente?
  6. Wat kan die kerkverband (ander gemeentes, ringe en die sinode) by julle gemeente leer? Van julle ontvang?
  7. Waaroor het julle gemeente nodig om te leer by die kerkverband (ander gemeentes, ringe en die sinode)? Wat benodig julle van die kerkverband?

Verlede jaar is die vorms vir die eerste keer in gebruik geneem.  ‘n Groep predikante het al die antwoorde op bogenoemde vrae in ringsverband gelees, en bymekaar gekom om om ‘n globale prentjie saam te stel oor die dieper geestelike stand van sake (energiepunte, uitdagings en groeipunte) in die sinodale gebied.  Die lens waardeur die antwoorde gelees is, was die vraag na hoe gemeentes God sien, die identiteit van die kerk verstaan, en die roeping van die kerk beskryf.  Ons het ook die agt patrone in missionale gemeentes soos beskryf in die boek Treasures in Clay Jars as lens gebruik.

Bevindinge is aan die begin van Februarie 2010 met die Dagbestuur van die Sinodale Kommissie gedeel en sal aan gemeentes gekommunikeer word.

 

Waarom innoveer sommige gemeentes en ander nie?

by Danie Mouton No Comments »

‘n Groep van ons is pas klaar (Februarie 2010) met die lees van Oos-Kaaplandse gemeentes se antwoorde op die geloofsonderskeidende vrae van Vorm A, die jaarlikse ringsverslagvorm.  In ‘n ander bydrae beskryf ek die inhoud van die vrae.

Toe die groep lesers hul bevindinge met die Sinodale Kommissie se dagbestuur deel, vra een van die lede:  Waarom innoveer sommige gemeentes missionêr, en bly ander in ‘n tradisionele bedieningspatroon staan?

Vinnig maak die gespreksgenote ‘n lysie:

  • Waar gemeentes werklik swaarkry, ontwortel word, of deur diepgaande finansiële krisisse gaan, volg missionêre innovasie dikwels (maar nie noodwendig nie).   Voorbeelde is PE-Noord wat deur die inbeweeg van nywerhede ontwortel is, PE-Sentraal deur die koms van talle Afrikane (van oral oor die kontinent) wat lidmate na woonbuurte laat uitbeweeg.  Die swaarkry maak hierdie gemeentes leerbaar, en bereid om nuwe alternatiewe te oorweeg.
  • Wanneer ontworteling met behoorlike teologiese refleksie verbind word, volg innovasie.  ‘n Nuwe verstaan wie God is, en hoe God se hart vir mense klop; ‘n herontdekking van die kerk se identiteit in Christus; afhanklikheid van die Heilige Gees in besluitneming; ‘n wag op die Here; en ‘n nuwe visie op die kerk se roeping, maak innovasie in die bediening moontlik.
  • Konneksie met die omgewing.  Veral stedelike gemeentes raak baie maklik gediskonnekteer van die konteks.  Veral indien die gemeente oor voldoende hulpbronne beskik (geld, leraars, en lidmate) is dit nie nodig om skeppend en vernuwend te wees nie.

Alle innovasie is nie gelyk nie.  Hier gaan dit oor missionêre of gestuurde innovasie.  Andersinds is innovasie dikwels daarop gerig om die gemeente ‘n beter en meer aangename plek vir bestaande lede te maak.  Bv. ‘n meer liefdevolle, kleingroep-gemeente, maar vir ons wat tans lede is.  Hoe meer gekonnekteer die gemeente met haar konteks is, hoe meer diepgaande, evangelies en missionêr is die innovasie.

Ontworteling kan natuurlik vele ander gestaltes aanneem.  Hierbo is verwys na demografiese en finansiële ontworteling. Daar is nog voorbeelde. Sedert 1994 het ons kerk ekstreme marginalisasie ondergaan.  Ons was in die binnekring, en is uitgeskuif na die rand.  In ‘n sekere sin het marginalisasie alle kerke in die Weste getref, maar is die effek daarvan oor ‘n lang tydperk gevoel.  In Suid-Afirka het dit ons meteens getref.

Sou ons hierdie ontworteling óók as ‘n geskenk uit God se hand kon ontvang?  Disoriëntasie, wat ons – soekend na die Here – op ‘n nuwe plek van oriëntasie kon bring, omdat ons as kerk ‘n duidelike roeping in ons gemeenskap as geskenk uit die Here se hand ontvang het.

‘n Byna noodsaaklike voorwaarde hiervoor is dat gemeentes oor grense gaan, die gemeenskap leer ken, verstaan en liefkry.  En vra:  “Here, hoe wil U ons gemeenskap deur ons aanraak en seën?”