RSS Feed

Tussen die triomferende heiliges van die Grieks-Ortodokse tradisie

2010/05/27 by Danie Mouton 3 Comments »

Dié ding het só begin:  ons gesels oor John Zizioulas, die patriarg van Pergamum en briljante Grieks-ortodokse teoloog,  se siening van die Triniteit.  Nou stap ons deur die deure van die Grieks-Ortodokse Kerk in Port Elizabeth, vasbeslote om meer uit te vind oor die Grieks-Ortodokse tradisie.

Die “ons” is ‘n groep nagraadse studente van die Universiteit van Stellenbosch wat vandeesweek hier by my innie Baai besig is met ‘n module oor die Triniteit.

Nagraadse studente op besoek aan die Grieks-Ortodokse Kerk in Port Elizabeth. Die groep staan voor die ikonestasis. Vlnr Leon Klate, Dolf Loots, Pieter Nel, Leon Cronjé, Dimitri Paizes (gids) en Steve Briggs

Zizioulas fassineer ons.  Hy praat oor God as ‘n sosiale, verhoudingswese.  Daar is diversiteit en wederkerige verhoudinge in God.  Die persone in die Triniteit reik uit na mekaar, het mekaar lief, dien mekaar.  Hulle is in die volle sin van die woord Persone, sê Zizioulas.  ’n “Persoon”  is iets anders as ‘n indiwidu, persoon-wees is ‘n verhoudingsterm.  Mense is indiwidue totdat hulle uitreik na mekaar, oor die grens van die self leef, en in dienende gemeenskap staan met ander.  Persoon-wees word begrond in God, waar die persone in die Triniteit op hierdie manier Persone is.

God is “Being in Communion”, en die kerk – as die kinders van God – word ook geroep om só te lewe, aangesien ons in Christus en deur die werk van die Gees lewe binne die lewe van die Drie-eenheid.

Geïnspireer deur die krag van hierdie Godsbegrip vir die lewe en bediening van die kerk, wil ons as groep meer weet oor die kerklike tradisie waaruit Zizioulas kom.  Vandaar die besoek aan die Grieks-Ortodokse Kerk, waar ons gids, Dimitri Paizes, ons inwag.

Vir die volgende uur beweeg ons tussen die ikone rond, waar heiliges uitgebeeld word.  Die skoonheid en sintuiglike impak van die gebou en die liturgie spreek ons sterk aan.  Gelowiges, die strydende kerk, meng letterlik tydens die erediens, via die ikone, met die triomferende kerk, diegene wat ons vooruitgegaan het en nou by God is.  Hulle lewe word die venster waardeur ons die geestelike realiteit van God, en die koms van sy koninkryk, kan raaksien.

Ons besigtig ook die ikonostasis en die ruimte daaragter, wat in die Ortodokse tradisie die hemel uitbeeld.  Ons hoor meer oor die liturgie en die bediening van dié kerk.  Simboliek is uiters belangrik, en spesiale feeste deur die jaar hou verband met simboliese handelinge wat die evangelie ‘n werklikheid maak.

Uit Dimitri se vertelling spreek deurlopend ‘n sterk bewussyn van die aktiewe teenwoordigheid van God in ons lewens.  Dit word beleef en gevier in die kerk se ryk, aanskoulike liturgiese tradisie.

Luister hier na ‘n klankopname van Dimitri se vertelling.

Aan die einde van ons gesprek is ons verryk huis toe.  Nie een van ons oorweeg om Grieks-Ortodoks te word nie, en ons het ook ernstige kritiese vrae, maar ons dink die tradisie het baie om ons te leer.

Luister hier na die groep se evaluerende gesprek oor die besoek.


related post

 

3 Responses to “Tussen die triomferende heiliges van die Grieks-Ortodokse tradisie”

  1. Evelyn says:

    Ek is al so lank in hierdie melieu. Het sommer gewonder wat julle “ernstige kritiese vrae” sou wees, wat jy noem in die laaste paragraaf?

  2. Danie Mouton says:

    Hallo Evelyn, die groep het veral vrae gehad oor die eerbetoon aan die ikone en die ikoon as raamwerk vir gebed om bv genesing. Daar is van die ikone wat pragtig versier is. Ons gids het verduidelik dit gebeur wanneer daar gebedsverhoring was en mense dan uit dankbaarheid die ikoon versier. Dan was dit vreemd dat net die priester en sy helpers ‘n sekere gedeelte van die kerkgebou mag betree (agter die ikonestasis, wat die hemel simboliseer. Ons het ook gewonder waarom die nagmaal so geslote is – net lidmate van die Grieks-Ortodokse kerk mag daaraan deelneem.

  3. susan says:

    Danie, my opmerkings is seker mosterd na die maal! maar julle vertwyfelinge het my laat voel ek kan dalk help. Ek dink alle kerke het reels, bv. iemand van ‘n ander denominasie, bv. rooms katoliek kan nie in die NG kerk nagmaal gebruik nie? In die Ortodokse Kerk is hierdie reel ook geldig. Dit word ook aanbeveel dat nagmaal slegs gebruik word indien jy reg voorbereid is, bv. na konfessie. Nagmaal is ‘n baie, baie heilige misterie (sakrament) en is volgens die tradisie van die kerk met die grootste ontsag hanteer, van die vroegste tye af. Die probleem wat ons Afrikaners het met die ikone is, myns insiens grootliks as gevolg van ‘n taal probleem. Die woorde “pray toe” word vertaal na “aanbid, in. plaas van die Engelse onderskeid van “worship” en “venerate”.
    Verder, as jy na ‘n foto kyk van jou geliefde, afgestorwe moeder, en dit soen, beteken dit nie dat jy dink die foto is die persoon nie, maar is ‘n uiting van jou liefde aan jou moeder en haar nagedagtenis! Die eerbetoon aan die ikone is niks meer as dit nie, Die eer van die nagedagtenis van die helde van ons geloof, wat gesterf het vir Christus, wat wonderwerke gedoen het of die een of ander inspirasie vir ons nagelaat het. Ons geloofslewe is leeg sonder die kennis van hierdie helde en hulle hantering van die lewe en die probleme van die lewe. Dit is deel van die Ortodokse Kerk se tradiesie en vlgs my, ongelooflik sinvol. So kan ‘n jong soldaat leer van die heiliges wat in die Romeinse leer was, ens.
    Verder, die eksklusiwiteit van die altaar- Dit is ‘n eeu-oue tradisie en ek dink dit het te doen met die feit dat die nagmaal nie ontheilig moet word deur onverskillige besoekers nie, dat die relics van baie van die ou kerkvaders in die altaar van die kerke geberg is ens.

    Groete, Susan

Leave a Reply