RSS Feed

Gevind: ‘n gasvrye koster. Halleluja!

2010/02/13 by Danie Mouton 6 Comments »

“Ons kerkraad het onlangs aangekondig het dat ‘n tweede oggenddiens vir Engelssprekendes in ons gemeente gehou gaan word.  Besorgde lidmate vra my toe of dit nie sleg gaan wees om langer op ‘n Sondag te werk nie.”  Só vertel Truida Oosthuizen, innemende koste van PE-Sherwood gemeente.  Dis Saterdagmôre en ons gesels oor ‘n koppie tee in Algoapark se kerksaal by ‘n NG Kerkfamilie byeenkoms.

Truida Oosthuizen in gesprek tydens die NGK Familiebyeenkoms

“Die hele idee van ‘n Engelse erediens was nogal vreemd vir sommige mense. Wat gebeur nou in ons kerk, verengels ons?  Ons is tog ‘n Afrikaanse kerk?  Miskien was dit ‘n rede waarom mense besorg was dat die langer Sondagwerksure my sleg gaan raak.”  Haar oë verlewendig: “Nooit, sê ek toe, sal dit my verontrief as die evangelie by mense kan uitkom nie.  Dit maak my bly!”

Pas verlede Sondag het PE-Sherwood hul eerste Engelsprekende oggenddiens gehou – om 11:00, ‘n tyd wat tradisionele NG lidmate lankal reeds tuis wil wees om ‘n vuurtjie aan te steek, of die kospotte aan die gang te kry.  En as jy koster is, dan bly jy tot die einde om toe te maak.  Dit kan sekerlik ongerieflik wees.

Truida is duidelik opgewonde:  “Sewentig mense het hierdie eerste diens bygewoon.  Jy moet die verhale hoor: ‘n lidmaat wat met ‘n Engelssprekende vrou getroud is – sy verstaan nie ‘n woord Afirkaans nie – was so opgewonde omdat sy hele gesin vir die eerste keer ‘n betekenisvolle Gereformeerde erediens kon bywoon!  Vroeër het sy vrou maar tuis gebly of met die kleinding in die moederskamer gesit en brei.  Nou is hulle saam in die kerk.  En dis nie die enigste soortgelyke stories nie, daar is nog ander voorbeelde ook.”  Mens kan sien Truida het behae in die effek en die moontlikhede van die Engelse oggenddiens.

Jare al ken ek die wellewende Truida as iemand vir wie die evangelie, en die uitdra daarvan oor alle denkbare grense, baie belangrik is.  By haar vorige gemeente was sy by die getuieniswerkgroep betrokke.  Twee jaar gelede het sy koster by PE-Sherwood geword.  Haar passie is beslis nog dieselfde: die goeie nuus moet uit!

Nou het die grens wat oorgesteek word tot binne-in die kerkgebou gekom waarvan sy die sleutels dra.  Sy sluit die deure oop, sodat die gemeente mense wat vroeër buite was, gasvry kan ontvang – in die Naam van die Here. Dit gee haar vreugde.

Wat ‘n verskil maak dit nie as kosters gasvry is nie.  Kosters is meer as net fisiese sleutelsdraers:  hulle is strategies geplaas om die gasvryheid en openheid van die kerk vir die mense, wat met die evangelie bedien word, te beliggaam.  Soos min ander lidmate kan.

In my gedagtes, net daar met die tee in my hand, lig ek my hoed vir al die gasvrye kosters van die NG Kerk wat ek al leer ken het, mense soos Truida.  Mense wat blymoedig na die tyd skoonmaak waar kinders gemors het, bly omdat kindertjies na Jesus toe kon kom.  Die opoffering om – dikwels op slegte tye – die ondankbare roetinewerk van oop en toesluit uit te voer, sodat die gemeente haar missie kan bereik.

Ek dink aan Toks Smith en Marinda Wolmarans, kosters soos Truida, wat gasvryheid en diens beliggaam – in belang van die boodskap.  Mense wat uitstaan, miskien omdat sommige kosters so anders is: kortgebaker en moeilik, bly as die geboue toegesluit kan bly, omdat die skoonmaak dan minder is.  Knorrig as iemand iets mors.  Ongeduldig met kinders….

Daarom sê ek:  Halleluja vir ‘n gasvrye koster!

 

6 Responses to “Gevind: ‘n gasvrye koster. Halleluja!”

  1. Chris says:

    Dit is die tipe stories wat ons moet hoor in die jaar wat ons as kerk begin Groei oor Grense. Wonderlike nuus!

  2. Lorraine Greyling says:

    Mooi so Truida….. ons is trots op jou. Dankie vir al jou liefde en vriendelikheid. From your English friend…Lorraine

  3. Anne Nel says:

    Ek ken Truida persoonlik omdat ons saam in Nooitgedacht gemeente was. Soos sy haar koster werk vandag met ‘n passie uitleef so leef sy nog altyd haar Christenskap uit. Ons almal is baie lief vir Truida. As jy iets gedoen wil hê vra jy haar. Vra haar ook asb gerus uit oor die storie van die boemelaar toe sy haar vermom het as ‘n boemelaar en watter reaksie sy by medegelowiges gekry het. Dit is iets om met almal te deel.
    Anne Nel
    Elliot gemeente

  4. Annalie de Wet says:

    10 uit 10 vir jou liewe Truida!! Ek se ook halleluja want jy is REGTIG soos hulle jou beskryf! Dit is hoe ek jou leer ken het en altyd sal onthou! Met liefde van Annalie (in Japan)

  5. Truida

    het my in my vorige gemeente met lojaliteit en gasvryheid bedien, sonder haar het ek nie kans gesien nie. Sy is deur die gemeente vertrou, en met daaglikse SMSe het sy my in my bediening “gedirigeer” sodat ek naby aan die kultuur van die gemeente kon leef. Lidmate het vandag ander dissiplines wat hulle help om te cope. Die geestelike leier van die toekoms sal min anders hê om te gee as net hom/haarself. Dankie Truida.

    Ds. Charl Coetzee, Walmer.

  6. Ds Veneto Keyterv says:

    Ek loop hierdie nou eers raak – baie dankie, Danie, vir die getuienis hieroor. Ek wens mense wil sien waaroor dit werklik gaan (soos in hierdie verhaal uitgebeeld)! Meestal is dit nog steeds die beskerming van die dooie tools soos klankapparaat, geboue, ens wat beskerm word en voorrang geniet voor die diens en beskikbaarheid sodat “die kinders na My kan kom”.

Leave a Reply