RSS Feed

Hoe krimp gemeentes suksesvol?

2010/04/21 by Danie Mouton 7 Comments »

Die massiewe foto van Charles Murray, agter my,  domineer die konsistorie.  Links staan die pragtige egte silwer nagmaalservies uitgestal (uit die vroeë 19e eeu).  Die houtplafon imponeer.  Rye foto’s van generasies van bekende predikante is uitgestal in  die konsistorie, reg rondom ons, waaronder dié van pa Andrew Murray en seun Charles, saam vir 82 jaar predikante in hierdie gemeente.  Hierdie gemeente het goue oomblikke geken.

Ons sit in die imposante gebou van die sesde oudste gemeente van die NG Kerk in Suid-Afrika, die NG Kerk Graaff-Reinet.  (Die gebou is gebaseer op die ontwerp van die Salisbury Katedraal in Engeland.) Deur die oop deur sien ek hoe toeriste die kerkgebou, met sy kansel van Burmese Teak, bewonderend waardeer.  Terwyl ons gesels, verskyn voor my geestesoog die pragtige kerkgeboue van Aberdeen (hoogste kerktoring in die land), Nieu-Bethesda, Klipplaat, Nuwekerk, Jansenville, selfs Murraysburg – om maar ‘n paar te noem.

NG Kerk Graaff-Reinet

Kerkgebou van die NG Kerk Graaff-Reinet

Die dominees van die Ring van Graaff-Reinet is vandag bymekaar.  Ons beplan aan ‘n klein-gemeente-konferensie wat oor ‘n paar maande in die ring gehou gaan word.

Die pragtige kerkgeboue getuig van ‘n tyd toe hierdie gemeentes sterk, welvarend en finansieel lewenskragtig was.  Vandag gebeur daar steeds besondere goed in die gemeentes, maar in die meeste gevalle is die finansiële krag daarmee heen.  Sommige kan nie langer predikante bekostig nie, ander berei hulle voor vir die tyd wanneer hulle hul dominee gaan verloor.  Nog ander het reeds voltydse predikante verloor.

Uit die elf gemeentes in die ring het sewe nog predikante, hoewel net 2 nog ten volle volgens sinodale riglyn betaal word.

Die vraag is: hoe vorentoe?  Waarom het hierdie ring, wat soveel finansieël sterk gemeentes gehad het, vandag ‘n hele aantal marginale (in terme van finansies en lidmaattal) geloofsgemeenskappe?

In die gesprek word die volgende faktore buite direkte beheer van die gemeentes genoem:

  • Die karakter van boerdery het oor die afgelope dekades radikaal verander.  Aanvanklik is op baie kleiner eenhede geboer, maar om ekonomies op haalbare skaal te boer verg deesdae groot landboueenhede.  Dit bring ontvolking mee.
  • Wildsboerdery het baie toegeneem.  Wildsplase is groot en veel minder arbeidsintensief as selfs veeboerdery. Dit spel ook ‘n verlies aan lidmate.
  • Persone koop plase en bewoon dit slegs gedeeltes van die jaar, of selde.  Dit geld veral wildsboerdery.
  • Die Addo Nasionale Park se grondgebied is uitgebrei en ontvolk gedeeltes van die ring wat boerdery betref (dink veral aan die area rondom die Darlingtondam).
  • Die Spoorweë het aktiwiteite op kleiner dorpies, soos Klipplaat, grootliks beëindig.  Die ou stoomtrein-tegnologie het ondersteuningspersoneel op verskeie plekke langs die spoorlyn nodig gehad.  Met elektriese of dieseleenhede en rekenaarbeheer vir wissels kan die spoorstelsel sentraal vanuit groot sentra beheer word.

Die krimp in lidmaattalle het egter ook met faktore volkome binne die beheer van gemeentes te doen.  Die volgende opmerkings word nie beskamend bedoel nie, maar bloot bedoel om die konseptuele landskap waarbinne baie gemeentes funksioneer te beskryf:

  • Waar nuwelinge wel gemeenskappe betree, word hulle nie intensioneel binne gemeentes geïntegreer nie.  Daar is ‘n baie lae bewussyn dat die kerk moet uitreik na nuwelinge, hulle gasvry verwelkom en binne die gemeente integreer.
  • Die NG Kerk se volkskerk-erfenis laat hom ook geld.  Dit is nie vanselfsprekend dat lidmate oor grense sal gaan en persone buite die Afrikanerkring sal verwelkom nie.  Dit is nie “ons mense” nie.
  • Daar is ‘n onderwaardering van die bydrae wat lidmate tot die effektiewe bediening van gemeentes kan lewer.  ‘n Oorafhanklikheid van predikante lei daartoe dat gemeentes sonder predikante onnodig stagneer, en net funksioneer wanneer ‘n dominee van buite betrek kan word.  Gemeentes ontbeer dus inisiatief en gawes wat in die bestaande lidmaattal beskikbaar is, maar weens ‘n gebrek aan ‘n toepaslike bedieningsmodel onbenut bly.
  • Wanneer die finansiële oorlewing van die gemeente die primêre motief raak, word die gemeente gediskonnekteer van God se lewegewende bedoelinge met die geloofsgemeenskap.

Weer eens:  hierdie opmerkings is bedoel om die landskap te beskryf, nie om te beskaam nie.  Die punt is: as dit die de facto situasie is, wat kan gemeentes doen om hulle selfverstaan en bedieningsmodelle aan te pas?  Wie is daar wat die Here na ons gemeentes stuur?   Hoe kan ons hulle verwelkom?  Hoe moet ons verander om hulle by ons welkom te heet?

Verder:  hoe kan ons ‘n Bybelse, inklusiewe kerkbegrip ontwikkel?  Hoe sien die Bybel die kerk?  Indien die Here die kerk bymekaar roep, voor God se aangesig sentreer, leer en vorm, en die kerk daarna uitstuur, wie behoort aan die kerk?  Na wie word ons gestuur?  Hoe verwelkom ons hulle?

Wat gaan die rol van die predikant in die ontwikkeling van ‘n Bybelse kerkbegrip wees?  Dit is duidelik dat lidmate in die toekoms ‘n groter rol in die bediening in gemeentes moet speel.  Hiervoor moet ‘n visie ontwikkel word.  In talle gemeentes voel dit na ‘n neerlaag wanneer die gemeente nie langer ‘n dominee kan bekostig nie.  Dit is onnodig, maar gemeentes gaan nie groei na ‘n bediening wat die gawes van lidmate ontsluit en benut as die ring, of die uitgaande predikant, nie die visie hiervoor ontwikkel nie.

Hoe krimp gemeentes suksesvol?

In die pynlike proses van krimp, sê die dominees van die ring van Graaff-Reinet vir my, moet gemeentes hulle voorberei op nuwe finansiële realiteite en gereed maak vir lidmaatgedrewe bedieninge.

Terselftertyd moet krimp nie as normaal en vanselfsprekend aanvaar word nie.  Die vraag is eerder: hoe transformeer gemeentes suksesvol?  Aan wie behoort die toekoms van die gemeente?  Wie in die gemeenskap is die geestelike erfgename van hulle wat hierdie geboue opgerig en geloof oor eeue en dekades lewend gehou het?  Hoe gaan ons hulle insluit, en onsself transformeer om hulle te kan verwelkom?

Hierdie transformasie van krimpende gemeentes in gemeenskapsgerigte kerke behoort met die volgende rekening te hou:

  • ‘n Verantwoorde proses van fasiliterende leierskap waardeur die gemeente so wyd moontlik ingeskakel word in die ontdekking van ‘n nuwe roeping vir ‘n nuwe tyd;
  • Die beoefening van korporatiewe geestelike dissiplines wat die gemeente help tot ‘n beskrywing van hul identiteit voor God se aangesig, en in die lig van die Woord;
  • ‘n Diep en geestelike konneksie met die gemeenskap, waarin die gemeente vra na wie die Here hulle stuur?
  • Roeping is die perspektief van waaruit die gemeente se bestaan, en die gestaltes daarvan, bedink word.  Dit verg gebed en afhanklikheid van die Here, waarin die lidmate die gemeente “teruggee” vir die Here en van die Here afbid hoe die gemeente moet voortbestaan;
  • Meganiese prosesse wat bloot met rasionele logika rekening hou en die beste opsies vir finansiële oorlewing wil kies, moet vermy word.

Ringe behoort die opsie ter vermy om gemeentes bloot te sluit, omdat hulle nie langer volgens kerkordelike bepalings kan voortbestaan nie.  Wanneer mens in terme van roeping dink, kan ‘n gemeente van 20 mense betekenisvol voortbestaan. Toegeruste lidmate en mentorskap van geestelike leiers, soos ringspredikante, is nodig.  Byvoorbeeld:  in ‘n land soos Turkye, waar die Christelike geloof tans weer stadig maar seker groei, is dit niks snaaks om gemeentes van 8 lidmate te ontmoet nie.  Waarom dan nie in Suid-Afrika nie?  Ons moet net buite die konvensionele wysheid en bestaande bedieningspraktyke (wat baie geld en groot geboue benodig) dink.

Gemeentes kan suksesvol krimp en transformeer.  Hiertoe moet teologies-konseptuele beperkings op wat ‘n gemeente is aangepas word.

 

7 Responses to “Hoe krimp gemeentes suksesvol?”

  1. Gert Roberts says:

    Hallo Danie

    Die opskrif van die artikel het my getrek “Hoe krimp gemeentes suksesvol? daar is ‘n soort teenstrydigheid in die opskrif wat jy goed uitbring in die artikel.

    Ek het baie empatie met die gemeentes op die platteland synde dat ek self lank daar bedien het. Ek lees dit ook in jou artikel. Ek sou graag iets wou byvoeg.

    Ek dink die pad vorentoe moet saamgaan met ‘n ontdekking van ‘n nuwe missionere ekklesiologie waarrin daar oor ‘n gemeente gedink word in terme van sy impak en die transformasie van die gemeenskap en nie in terme van getalle, geboue en predikante nie.

    Dit bring soos jy tereg se dat 20 mense ‘n reuse impak kan he. Dan kan die opskrif van die artikel verander na “Hoe impakteer krimpende getalle ‘n gemeenskap suksesvol.

  2. Hi Danie

    Toe ek so vinnig deur jou skrywe lees, bly een ding in my kop vashaak: ons mense is nie gereed daarvoor nie! En hierdie onvoorbereidheid spruit in ‘n groot mate uit ‘n skewe kerkbegrip wat oor jare (dalk selfs eeue) in hulle onderbewussyn ingeprent is. Di eprobleem is: hierdie kerkbegrip skep emosioneel ervaarde verwagtings by ons mense – verwagtings wat hulle opstel vir teleurstelling en moedeloosheid. Sodat hulle uiteindelik net nie kans sien om aanpassings te maak nie. Hulle los dit liewer.

    Daarom lyk dit my tog asof ons na metodes sal moet soek om (in die interim) lidmate en gemeentes te begelei na ‘n nuut ervaarde styl van kerkwees. En hierdie styl sal moet moet insluit dat ons bediening (ook prediking) aan gelowiges moet teruggee, dat ons hulle sal moet help om baie meer uit egte gemeenskap van gelowiges te haal (selfs meer as uit preke), dat hulle sal moet leer om leerervarings te ontwikkel rondom video-preke (soos in die multi kampus gemeentes) en dat ons leiers op ‘n praktiese manier sal moet bemagtig om voor te loop in hierdie proses.

    PS: Ons deur presies dieselfde pad in ‘n voorstedelike gemeente. Sonder dat ons finansies die groot monster is. Daarom het ek al partykeer gedink om te skryf oor of ‘n praatjie te ontwikkel met die titel: “Die enorme mislukking waardeur ek is… en die bevrydende werklikhede wat ek daarin ontdek het!”

  3. Jaco Thom says:

    Hallo Danie
    Ek lees jy skryf Aberdeen se kerktoring is die hoogste in die land. Ek verbeel my ek het iewers gelees dis 50 meter hoog. Toringkerk se toring is 57 meter hoog, so dit maak Toringkerk s’n seker die hoogste?

  4. Danie Mouton says:

    Hi Jaco,
    Ja, ek dink jy is heeltemal reg: Toringkerk se toring is die hoogste. Is daar iewers ‘n bron wat hierdie soort informasie weergee? As ek reg onthou, het Dordrecht se kerk ook ‘n besondere hoë toring. En Rhodes se mense sê weer hulle kerkgebou is die NG Kerkgebou wat die hoogste bo seespieël geleë is.

  5. Ludwich says:

    Jammer, maar ek moet ‘n kommentaar lewer. Het toevallig op hierdie website afgekom.
    Om te kibbel oor watter gebou die hoogste toring het, grens vir my darem baie na aan die verhaal van die toring van Babel. So ‘n wyle gelede het die Heilige Gees my ‘n openbaring gegee oor die impak van die toring van Babel, of dalk beter gestel, die heenwysing daarvan na die kerk.
    Indien iemand belang stel om te lees, sal ek dit met graagte aan stuur.
    Die verwysing in u web blad na die imposante geboue, laat my dadelik dink aan wat Christus vir sy dissipels gesê het in Markus 13:2. Dit was ‘n heenwysing na die terugkering na die Waarheid.
    Dit het tyd geword dat die kerk terugkeer na eerste beginsels, na die suiwere leerstellings van Jesus Christus en Sy apostels, met Hom alleen as Hoof. Kol. 1:18. Dit sal gebeur. Niks kan dit keer. Die bruid moet vlekloos eendag voor haar bruidegom staan.
    Liefde in Christus

  6. Danie Mouton says:

    Ludwich, miskien het jy die oorspronklike inskrywing op my blog misverstaan. Dit wil juis sê die kerk moet fokus op Christus en Christus se taak vir die kerk.

  7. Ludwich says:

    Danie
    In jou tweedelaaste sin sê jy, “Ons moet net buite die konvensionele wysheid en bestaande bedieningspraktyke (wat baie geld en groot geboue benodig) dink.”
    Ek stem met jou 100% saam.
    Ek dink maar net die verwysing na die uiterlike vertoon van kerkgeboue weerspieel nie die innerlike werklikheid van Kol 1:27 nie “God wanted to make known among the Gentiles the glorious wealth of this mystery, which is Christ in you, the hope of glory.
    Ek dink ons is dit eens dat die tyd verby is waar menslike sieninge die ekklesia oorheers. As ek die eerste “kerk” reg verstaan (Handelinge), het dit gegaan oor om mekaar te versorg, op te bou, te vermaan, lief te hê, nie met die hulp van groot strukture wat so afhanklik van finansies is dat dit die sentrum geword het waarom die kerk draai nie, maar Christus alleen.
    Ek bid saam met julle, as deel van die Liggaam van Christus, dat die Kerk al meer verander sal word, om so God se geheime plan, waarvan Paulus praat, tot uitvoer te bring.
    Liefde in Christus

Leave a Reply