RSS Feed

Bemagtigde response op uitdagings

2010/03/01 by Danie Mouton 2 Comments »

In ‘n vorige bydrae het ek geskryf oor die twee noodsaaklike bewegings vir gemeentes wat hulle gestuurde roeping uitvoer:

  • Van onbewustheid na ‘n daadwerklike bewussyn van die omliggende gemeenskap en die gemeente se roeping om die Here se genesing daarin te weef;
  • Van onmag na bemagtigde response – aanvanklik mag die gemeente oorweldig wees deur die nood en geen idee hê wat verwag word of wat om te doen nie.

In hierdie bydrae gebruik ek die insigte van Elize Morkel, gedeel tydens ‘n werkswinkel oor diversiteit in Port Elizabeth, om na te dink oor praktiese maniere waarop gemeentes bemagtig kan word om te reageer op die gestuurde uitdagings in die omliggende gemeenskap.  (Verwys na die oefening aan die einde van hierdie bydrae.)

Wanneer gemeentes die gemeenskap betree, mag lidmate en leiers aanvanklik seker wees hulle weet wat om te doen.  Niemand het sulke blink planne soos die stuurman wat aan wal staan nie.  Hoe dinge in ons eie geledere werk, is gewoonlik nie hoe ander gemeenskappe dink die wêreld steek aanmekaar nie.  Ons teorieë mag vinnig deur die mat val – voor ons weet is ons gekonfronteer met die posisie van bewus maar onmagtigkwadrant 3 soos beskryf in my vorige bydrae.

Hierdie onmag, wat dikwels met aggressie (“as almal net wil saamwerk”) of projeksie (“as die ou spulletjie net wil regkom”) gepaard gaan, vra nou na die ontwikkeling van bemagtigde response.

Redelike hoop

Elize Morkel verwys na die werk van Kaethe Weingarten* waarin sy met die konsep van reasonable hope werk.

Reasonable hope verwys na aksies wat een of meer mense kan neem ten einde sinvol te reageer op harde, bestaande werklikhede om ‘n uitkoms wat hoop gee en binne bereik is, te skep.

Wat redelike hoop nié is nie: Wanneer ons gewoonweg oor hoop praat, dink ons meestal aan die ideale uitkoms wat baie ver buite ons bereik is.  Hierdie soort hoop wil gretig wag op die toekoms,  op die aanbreek van die utopie, en intussen is die tyd wat verloop gevul met afwagting – sal ons ideaal werklikheid word? In hierdie sin is hoop ‘n eienskap van ‘n persoon (“hoopvolle mense”) en verwys na iets wat nou onbereikbaar is.

Redelike hoop fokus op dit wat binne bereik is, dit maak sin uit die hede en reageer op die hede op maniere wat ons voorberei vir die toekoms.  Redelike hoop bou ‘n stellasie uit die hede wat ons voordelig posisioneer met die oog op die toekoms.  Die hede word gevul met werk, met gesamentlike aksie wat sinmaak met wat gebeur en betekenisvol daarop reageer. Daar is geen waarborge van sukses nie, maar tog is daar aksie.

‘n Voorbeeld:  Elize het tydens die werkswinkel verwys na ‘n egpaar op die Kaapse Vlakte wie se kind verdwyn het.  Hulle het ‘n ondersteuningsgroep vir mense in soortgelyke omstandighede begin.  Die groep het bekendheid in die gemeenskap begin verwerf, en ‘n aksieplan uitgewerk.  Sodra ‘n vermiste kind aangemeld word, kontak die SAPS onmiddellik die ondersteuningsgroep, al is dit in die middel van die nag.  Die groep skakel mekaar summier en kom in aksie.  Uit ondervinding weet hulle waar in die gemeenskap om te begin soek (shebeens en ander plekke waar sulke kinders gevind kan word).  Hoe vinniger daar aksie geneem word, hoe groter is die kans dat ‘n verdwene kind weer opgespoor sal word.  Daar is nou talle wonderlike verhale van kinders wat so gevind is, met hul ouers verenig is, slegte omstandighede tuis wat suksesvol hanteer is en gesinsbande wat versterk is.  Hierdie aksie is gebore uit redelike hoop.

Eienskappe van redelike hoop

Die volgende aspekte gee ‘n nog duideliker perspektief:

  1. Redelike hoop is relasioneel.  Dit floreer binne verhoudings en veronderstel ubuntu.  Nie alle verhoudings ondersteun redelike hoop nie, maar dit neem doelbewus aksie om ondersteunende verhoudings op te soek, te stig en te versterk.
  2. Redelike hoop is ‘n praktyk. Ons doen dit saam met ander as ‘n uitdrukking van wie ons wil wees en hoe ons wil optree in die wêreld.  Dit gaan meer oor die gesamentlike mik na ‘n doel as oor die bereik van ‘n doelwit.  Die reis is belangriker as die (ideale) bestemming, hoop is ‘n werkwoord eerder as ‘n selfstandige naamwoord.
  3. Redelike hoop beskou die toekoms as oop, onseker en beïnvloedbaar.  Redelike hoop veg nie teen onsekerheid of ‘n onbekende toekoms nie, maar omarm dit as die beste opsie.  In desperate omstandighede, soos dié van geweld, armoede of siekte, kan ons nie weet wat die toekoms inhou nie.  Juis hier help redelike hoop ons om te werk in die rigting van iets beter as wat ons nou het.
  4. Redelike hoop soek-soek na doelwitte en weë wat daarheen lei.  Ons is geneig om slegs hoopvol te voel as ons ‘n duidelike doel het met ‘n bekende pad waat soontoe lei.   Ons voel hopeloos as die pad vol blokkasies is en die doel onduidelik is.  Redelike hoop doen en dink daaroor na, om dan op nuwe maniere te doen en te dink in ‘n ritme wat soek-soek, doen-doen en dink-dink  vorentoe beweeg.  Doelwitte en weë om daarby uit te kom, kan mekaar vinniger afwissel as wat ons ooit moontlik of wenslik gedink het.   Redelike hoop is nederige hoop, dit troef ideale, dit is tevrede om minder as alles te doen wat nodig is om te verseker dat iets gedoen word.
  5. Redelike hoop akkommodeer twyfel, teenstrydigheid en desperaatheid.  Gewone hoop funksioneer in swart-wit kategorieë,  Redelike hoop opereer in ‘n grys area waar twyfel, teenstrydigheid en desperaatheid dit nie vernietig nie.  Hoop het ‘n konnotasie van suiwerheid, terwyl redelike hoop weet dat die lewe morsig kan wees.

‘n Oefening met redelike hoop as fokus

Die volgende oefening leen ek by Elize Morkel.

Werk in pare aan redelike hoop volgens die volgende riglyne:

Een persoon dink aan ‘n saak / omstandigheid waarvan jy tydens die werksessie meer bewus geword het en wat jou dalk magteloos en oorweldig laat voel  Vertel jou maat daarvan.  Jou maat begin nou met jou ‘n gesprek in die rigting van redelike hoop volgens die volgende riglyne:

  • Wat is dit wat jou maat hoop? (Skryf dit neer.)
  • Reflekteer nou saam oor hoe bereikbaar dit is.
  • Vra wat die volgende hoop sal wees, ‘n bietjie kleiner en miskien meer bereikbaar.
  • Reflekteer op die haalbaarheid van die hoop.
  • Wat is nog ‘n kleiner, meer haalbare hoop?
  • Reflekteer oor die haalbaarheid.
  • Nog kleiner en meer haalbaar, ens ens.
  • Identifiseer ‘n stap wat nou geneem sou kon word in die rigting van dit waarop jy hoop.

Lees gerus ook my artikel oor plons as strategie om die beweging van onbewus na bewus in ‘n gemeente te verhoog.

* Weingarten, Kaethe 2010.  Reasonable hope: Construct, Clinical Applications, and Supports in Family Process, Vol 49, No. 1, 5-25.


related post

 

2 Responses to “Bemagtigde response op uitdagings”

  1. Elize Morkel says:

    Dankie vir ‘n lieflike opsomming, Danie en ook baie nuttige toepassingsmoontlikheid!

  2. [...] van onmagtig na bemagtig, wat belangrike implikasies vir gemeentes het. >> Lees ook hoe bemagtigde response op gemeenskapsuitdagings werk. >> Lees gerus ook hoe die NG Kerk PE-Noord nuwe geestelike [...]

Leave a Reply