‘n Moederlike bediening
Volgens die Nuwe Testament kan mens die gemeentelike bediening baie betekenisvol in moederlike terme verstaan. Gemeentes verteenwoordig dikwels ‘n manlik-gedomineerde omgewing. Daarom is dit des te meer opvallend hoe die Nuwe Testament aan die gemeente as moeder dink:
Een: Ons moederlike bediening as versorging:
1 Tessalonisense 2:7-8: “Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos ‘n ma wat haar kinders vertroetel. So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het julle lief gekry.”
1 Korintiërs 3:1-3: “Ek kon nie met julle praat soos met mense wat hulle deur die Gees van God laat lei nie; ek moes praat soos met wêreldse mense, soos met kindertjies in die geloof in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste kos nie, want julle kon dit nog nie verteer nie. En julle kan dit ook nou nog nie verteer nie, want julle is nog wêreldse mense. Daar kom jaloesie en twis onder julle voor. Is dit nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie?”
Twee: Ons moederlike bediening as geboorte skenk
Galasiërs 4:17-20: “Daardie mense se ywer vir julle is nie met suiwer bedoelings nie. Hulle wil julle van my losmaak sodat julle julle vir hulle saak sal beywer. Om jou vir ‘n goeie saak te beywer, is goed, maar dan moet dit altyd die geval wees en nie net as ek by julle is nie. My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry. Ek wens ek kon nou by julle wees en op ‘n ander toon met julle praat. Ek is werklik besorg oor julle.”
Drie: Ons moederlike bediening beteken om aan kosmiese hergeboorte mee te werk:
Romeine 8:18-25: “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry. Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ‘n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.”
Ons het beide vaderlike en moederlike metafore nodig om reg aan die bediening te laat geskied. Ook van God, praat die Bybel in terme van Vader- en Moeder-metafore. Hierdie ruimer benadering help ons om God se versorging, en die gemeente se deelname daaraan, helderder te sien.
(Hiedie bydrae is geïnspireer deur prof Scot McKnight, met verwysing na prof Beverley Gaventa se uitstekende boek Our Mother Saint Paul.)

