Ontwikkel ‘n publieke bediening
Geloof is veel meer as ‘n private aangeleentheid. Jesus is nie net die Koning van ons harte nie, maar die Koning van die heelal. Die evangelie as woord en daad is goeie nuus vir die hele wêreld.
Ons troetel ‘n makgemaakte evangelie wanneer ons net van die Here verwag om ons innerlike beleweniswêreld en ons ervarings aan te raak. Die onverdunde evangelie het te doen met die hele wêreld. Dit is publiek. God se vrede, genesing, geregtigheid en die vreugde wat die Gees gee, is vir die hele lewe.
Daarom is dit so positief wanneer gemeentes begin om ‘n publieke bediening te ontwikkel waarin die Here se hart vir die samelewing sigbaar word.
Hier is ‘n paar voorbeelde hoe gemeentes reg oor die Oos-Kaap by publieke bedieninge betrokke raak:
Port Alfred dien munisipale dienste
Op Port Alfred span afgetrede lidmate, wat oor die nodige kundigheid beskik, kragte saam met die munisipaliteit om gespesialiseerde dienste soos watersuiwering en siviele werke meer effektief te lewer. Die aanbod aan die munisipaliteit is gebore uit ’n ekumeniese Pinksterreeks waaraan verskeie gemeentes, waaronder die Volle Evangeliekerk, die Katolieke en ander verlede jaar deelgeneem het. “Die Evangelie het die gelowiges so aangeraak, dat hulle besluit het om op te hou kla en iets te beteken, ” sê ds Riaan Steyn van Port Alfred. “Verwyte, opposisie, wantroue en konflik is vervang met samewerking tot heil van die gemeenskap.”
Gemeentes help die Willowmore-gemeenskap ontwikkel
Op Willowmore het die munisipaliteit die ekumeniese predikante-kring versoek om te help met opvoedkundige gemeenskapsprojekte. Die gemeentes span nou saam om die gemeenskap te ontwikkel, en hou publieke voorbiddingsgeleenthede in verskillende dele van die gemeenskap. “Hierdie samewerking verminder ook die verskeurdheid tussen die verskillende kerkgroepe, en gee aan kerke die ervaring dat hulle bruikbaar is in die ontwikkeling van die gemeenskap” vertel ds Aldo Liebenberg van Willowmore.
Colesberg los verbruikersboikot op
In Colesberg het die kerke saamgespan om namens die besigheidsektor met die munisipaliteit in gesprek te tree oor ’n verbruikersboikot. Hierdie gesprek was só vrugbaar, dat ander sake van publieke belang, soos munisipale dienste, ook deel van die gesprek geword het. Die kerk se bemiddeling het daartoe gelei dat diensverskaffing betekenisvol verbeter het. Ds Japie Taljaard vertel meer:
Cradock voed die gemeenskap met Hollandse hulp
Op Cradock het verskeie gemeentes ekumenies saamgespan om die Vukasebenze-skuiling te skep waarin hulp aan die armstes van die armes verleen word. Onwetend het hierdie skuiling hulp verleen aan ’n familielid van minister Charles Nqakula. Op ’n goeie dag, tot almal se stomme verbasing, daag ’n stoet ampsmotors op, en klim die minister uit. Sy kom bladskud met die skuiling se personeel om dankie te sê vir die hulp wat verleen is.
In hierdie video vertel ds Hansie Schutte hoe Hollanders nou hul gewig op Cradock kom ingooi om die gemeenskap te dien:
‘n Kerk wat omgee vir gemarginaliseerde kinders
In Mthatha was die NG Kerk betrokke by die oprigting van die VGK se Sinethemba Kinderhuis. Ds Willem Botes vertel die burgemeester van die Libode-munisipaliteit het by die opening van Sinethemba gesê sy het “die NG Kerk leer ken as die kerk wat omgee vir die mense.” Sy het die aanwesiges aangemoedig om dié kerk te voorbeeld te volg.
Lees meer oor Sinethemba.


[...] ook wat die gemeentes van Colesberg, Cradock, Willowmore en Port Alfred in hierdie verband doen. Die onlangse biddag vir reën by die Kougadam is ook ‘n goeie [...]