RSS Feed

Posts Tagged ‘albanie’

‘n Gemeente wat vir dekades oor grense leef

2010/02/15 by Danie Mouton 1 Comment »

Albanie-Gemeente te Grahamstad is deeglik bewus van die geografiese grense wat hul omgewing verteenwoordig.  Grahamstad lê in Frontier Country waar die beskawings van die Xhosa uit die ooste, en Groot Brittanje en die Nederlande (veeboere) uit die weste in die 18e en 19e eeue skerp gebots het.  Die Visrivier, vir solank ‘n simbool van skeiding, lê in die groter omgewing.  Dit is die wêreld waar Britse settlaars vanaf 1820 gevestig is om as buffer tussen veeboer en Xhosa te dien.

Vir dekades eien Albanie die oorsteek van grense as ‘n integrale kenmerk van die gemeente se bediening. Strauss de Jager, reeds vir 26 jaar predikant op die dorp, vertel:

  • So vroeg soos die 1970′s was daar sterk kontak met die Galvandale wyk van die destydse NGSK op Grahamstad;
  • Gesamentlike eredienste met bruin en swart lidmate kom ook uit hierdie tyd;
  • Vanaf 1990 het bruin mense in groot getalle lidmate van die NG gemeente geword.  Hierdie mense het sosiale kontakte in die swart gemeenskap, wat beteken dat dat swartmense ook lidmate van Albanie geword het.

Die Groot Visrivier in die Albanie-omgewing, lank die oosgrens van die Kaapkolonie en simbool van skeiding en konflik. Albanie-gemeente steek hierdie grense, en ander, oor.

Grahamstad word in twee gedeel deur die Cowie Ditch, ‘n stroompie wat deur die dorp loop, en die tradisionele wit gedeelte skei van die bruin en swart woonbuurte (Rhini).  Anderkant die Cowie Ditch lê die Hooggenoeg-wyk, met sy bruin lidmate, en ook die swart lidmate van die gemeente se woonarea.  Op grond van daardie lidmate se uitnodiging, is Albanie betrokke by ‘n Vigsprojek en ‘n kinderhuis wat hierdie soort grense transendeer.

Ouderling Matroos de Lange, ‘n bruin lidmaat, is ‘n prediker van formaat wat wykseredienste lei, en ook al in die kerk – tot groot seën – gepreek het.

Gedurende 2009 het die kerkraad die gemeente se roeping herbesoek. Die vraag was: “Waar is God besig en waarheen nooi God ons?” “Ons gevolgtrekking,” vertel Strauss, “is dat ons hier is om grense oor te steek”.

Hierdie oorsteek van grense word verstaan in terme van die wesenlike bedieninge van die kerk:

  • Aanbidding:  Steek grense van selfgenoegsaamheid oor, deur in Jesus op God te fokus;
  • Koinonia: Steek grense van vreemdheid en koudheid oor, deur mekaar as familie lief te hê;
  • Toerusting: Steek grense van onkunde en onwilligheid oor, deur toegerus te word tot diens;
  • Uitreik: Steek grense van onverskilligheid oor, deur te gaan na die mense en nood en die mense sonder Christus na wie God ons stuur.