RSS Feed

Posts Tagged ‘gasvry’

Gevind: ‘n gasvrye koster. Halleluja!

2010/02/13 by Danie Mouton 6 Comments »

“Ons kerkraad het onlangs aangekondig het dat ‘n tweede oggenddiens vir Engelssprekendes in ons gemeente gehou gaan word.  Besorgde lidmate vra my toe of dit nie sleg gaan wees om langer op ‘n Sondag te werk nie.”  Só vertel Truida Oosthuizen, innemende koste van PE-Sherwood gemeente.  Dis Saterdagmôre en ons gesels oor ‘n koppie tee in Algoapark se kerksaal by ‘n NG Kerkfamilie byeenkoms.

Truida Oosthuizen in gesprek tydens die NGK Familiebyeenkoms

“Die hele idee van ‘n Engelse erediens was nogal vreemd vir sommige mense. Wat gebeur nou in ons kerk, verengels ons?  Ons is tog ‘n Afrikaanse kerk?  Miskien was dit ‘n rede waarom mense besorg was dat die langer Sondagwerksure my sleg gaan raak.”  Haar oë verlewendig: “Nooit, sê ek toe, sal dit my verontrief as die evangelie by mense kan uitkom nie.  Dit maak my bly!”

Pas verlede Sondag het PE-Sherwood hul eerste Engelsprekende oggenddiens gehou – om 11:00, ‘n tyd wat tradisionele NG lidmate lankal reeds tuis wil wees om ‘n vuurtjie aan te steek, of die kospotte aan die gang te kry.  En as jy koster is, dan bly jy tot die einde om toe te maak.  Dit kan sekerlik ongerieflik wees.

Truida is duidelik opgewonde:  “Sewentig mense het hierdie eerste diens bygewoon.  Jy moet die verhale hoor: ‘n lidmaat wat met ‘n Engelssprekende vrou getroud is – sy verstaan nie ‘n woord Afirkaans nie – was so opgewonde omdat sy hele gesin vir die eerste keer ‘n betekenisvolle Gereformeerde erediens kon bywoon!  Vroeër het sy vrou maar tuis gebly of met die kleinding in die moederskamer gesit en brei.  Nou is hulle saam in die kerk.  En dis nie die enigste soortgelyke stories nie, daar is nog ander voorbeelde ook.”  Mens kan sien Truida het behae in die effek en die moontlikhede van die Engelse oggenddiens.

Jare al ken ek die wellewende Truida as iemand vir wie die evangelie, en die uitdra daarvan oor alle denkbare grense, baie belangrik is.  By haar vorige gemeente was sy by die getuieniswerkgroep betrokke.  Twee jaar gelede het sy koster by PE-Sherwood geword.  Haar passie is beslis nog dieselfde: die goeie nuus moet uit!

Nou het die grens wat oorgesteek word tot binne-in die kerkgebou gekom waarvan sy die sleutels dra.  Sy sluit die deure oop, sodat die gemeente mense wat vroeër buite was, gasvry kan ontvang – in die Naam van die Here. Dit gee haar vreugde.

Wat ‘n verskil maak dit nie as kosters gasvry is nie.  Kosters is meer as net fisiese sleutelsdraers:  hulle is strategies geplaas om die gasvryheid en openheid van die kerk vir die mense, wat met die evangelie bedien word, te beliggaam.  Soos min ander lidmate kan.

In my gedagtes, net daar met die tee in my hand, lig ek my hoed vir al die gasvrye kosters van die NG Kerk wat ek al leer ken het, mense soos Truida.  Mense wat blymoedig na die tyd skoonmaak waar kinders gemors het, bly omdat kindertjies na Jesus toe kon kom.  Die opoffering om – dikwels op slegte tye – die ondankbare roetinewerk van oop en toesluit uit te voer, sodat die gemeente haar missie kan bereik.

Ek dink aan Toks Smith en Marinda Wolmarans, kosters soos Truida, wat gasvryheid en diens beliggaam – in belang van die boodskap.  Mense wat uitstaan, miskien omdat sommige kosters so anders is: kortgebaker en moeilik, bly as die geboue toegesluit kan bly, omdat die skoonmaak dan minder is.  Knorrig as iemand iets mors.  Ongeduldig met kinders….

Daarom sê ek:  Halleluja vir ‘n gasvrye koster!