RSS Feed

Posts Tagged ‘gemeenskap’

God se beeld in die karretjiemense

2010/03/31 by Danie Mouton 4 Comments »

“Wanneer jy onder die karretjie inkruip, en langs die ma en haar babatjie regskuif, sien jy die beeld van God in die verslete gelaat van ‘n mede-mens”, vertel Estelle Jacobs, projekkoördineerder van die Hantam Gemeenskap-Opvoedingprojek.

“My lewensroeping is om hoop  vir die karretjie-mense en eenvoudige plaaswerkers van die uitgestrekte, harde vlaktes van die Karoo te bring.  Wrede letsels van alkoholmisbruik, fetale alkoholsindroom, dagga, blootstelling aan die elemente, die ingeperkte lewe op of onder ‘n donkiekarretjie, onkunde en die afwesigheid van die vaderfiguur is op gesigte uitgekerf.  Ons skep saam aan ‘n beter toekoms vir die kinders, en om die kinders te bereik, moet jy met die ma, en die gesin, en die gemeenskap in geheel werk”.

Estelle is lidmaat van die NG Kerk Colesberg.  Ons gesels op die oewer van die Oranjerivier, wat breed en rustig vloei na goeie reëns, tydens ‘n gemeentekamp wat oor dissipelskap handel.  Haar passie vir die Here en haar deernis met die plaaswerkers is duidelik sigbaar.  Sy lééf haar roeping.

Die gemeenskapstrust het 20 jaar gelede ontstaan as ‘n opvoedingsprojek vir kinders.  Gou is besef dat mens nie met die kinders alleen kan werk nie.  Boere as werkgewers, die ouers van die kinders, en die gemeenskap moet verander om ‘n ruimte te skep waarin die kinders se talente ontgin kan word, en hulle voorberei kan word vir die lewe.

Karretjiemense around a fire, Northern Cape - Heinrich HJ von Michaelis

“Fetale alkoholsindroom is ‘n geweldige groot sindroom.  Moeders hier dink nie aan die fetus as ‘n ontwikkelende mensie binne-in haar wie se toekoms deur haar optrede beïnvloed word nie.  Ons moet hulle opvoed.  Deur netwerke wat oor ‘n lang tyd gevestig is, word swangerskappe nou by ons kliniek aangemeld, waarna ‘n gesondheidswerker die moeder dadelik gaan besoek en adviseer oor lewensstyl, eetgewoontes en gedrag.  Daar word na die lewensomstandighede gekyk en die moeder word bygestaan om die swangerskap reg te laat verloop.  Dit verg dat mens onder ‘n donkiekarretjie moet gaan sit, en praat oor hoe hierdie ‘n veilige wêreldjie kan wees vir die ongebore kind, en later vir die opgroeiende mensie.”

Kursusse in temas effektiewe ouerskap, die ontwikkeling van ouers as rolmodelle, toesig oor huiswerk van die kinders, begroting, seksualiteit, en MIV/Vigs voorkoming word onder meer aangebied.  Die trust bedryf ook ‘n gemeenskapskool en –kliniek.

“Ek het geleer om God in die aangesig van hierdie mensies raak te sien.  Jesus is as mens gebore ter wille van ons.  Ek volg in sy voetspore en steek self die grense oor na mense wat soveel genade nodig het.  Ek glo ons belê in die kinders van hierdie gemeenskap se toekoms.  Stadig maar seker verander die ouers, en verbeter die lewensomstandighede.  Hierdie mensies is só ontvanklik vir wat ons hulle leer.  Ons betoon soveel liefde, en hulle ook weer.  Elke naweek wat mense nie dronk is nie, is ‘n deurbraak.  Hulle aanvaar dit as ons hulle aanspreek, hulle gryp ons konkrete liefdesdade aan, en hulle verryk ons lewens”.

Ek wil dadelik weet: “Hulle verryk julle lewens?”  “O ja,” borrel Estelle, “dit is mense met ‘n eenvoudige, konkrete geloof wat op die Here self fokus.  Dit is mense wat, met die bietjie wat hulle het, opoffer om ander te help en by te staan.  Daar is deernis, nederigheid en eerlikheid in oormaat.  God word in terme van die natuur as die Vader van almal en alles beleef.  Hulle help jou om jou geloof in God te veranker, nie in idees of teorieë oor God nie.”

Estelle vertel van die swart vrou wat ‘n negejarige seun onder haar vlerk geneem het.  Beide sy ouers is oorlede, en hy ly erg aan fetale alkoholsindroom.  Sy ontwikkelingmoontlikhede is uiters beperk, en emosioneel is hy ‘n babatjie.  “Jy kan jou nie die skeidingsangs indink – op alle vlakke – wat sy lewetjie kenmerk nie.  En hierdie vrou sorg vir hom soos haar eie.  Watter lewensverrykende voorbeeld van liefde en geloof”.

Estelle begeer dat die trust se kundigheid gedupliseer kan word, en dat hulle weer by ander kan leer wat dieselfde doen.

Ek bid dat die Here haar ryklik sal seën met liefde wat breed, diep en wyd soos die Oranje vloei, sy wat deur die liefde van Christus gedring word.

[Hierdie artikel het in Kerkbode van 19 Maart 2010 verskyn - www.kerkbode.co.za]