RSS Feed

Posts Tagged ‘liturgie’

Liturgiese vernuwing is nie…

2010/03/29 by Danie Mouton No Comments »

In ‘n vorige bydrae skryf ek oor die vormende rol van gereelde nagmaalviering en die geestelike transformasie wat dit kan bewerkstellig.  Daarvoor is liturgiese vernuwing nodig.

Wat betekenisvolle liturgiese vernuwing is, moet versigtig omskryf word.

Liturgiese vernuwing is nié…

Wat dit beslis nié is nie:

  • Die inrigting van die erediens volgens mense se kulturele voorkeure.  Dit is erediensvernuwing wat uit behoeftebepalings gebore word.  Te veel gemeentes meen liturgiese vernuwing beteken dat ons bloot die liedere sing waarvan ons hou, of die tipe preke preek waarvan mense meen dat dit hulle sal help.  Natuurlik is hierdie belangrike aspekte wat nie geïgnoreer kan word nie, maar die bevrediging van behoeftes is nog nie hartgrondige geestelike vernuwing nie.
  • ‘n aanvaarding van die spelreëls van die verbruikerskultuur wat bepaal dat die kerk briljante godsdienstige produkte (soos diepgaande emosionele belewinge of uitstekende godsdienstige “produksies”) op die mark moet sit nie.  Dit is in elk geval futiel, want die kerk kan nie met rekenaarspeltjies, die iPod, kommersiële musiekproduksies e.s.m. kompeteer nie;
  • ‘n Onkritiese oorneem van liturgiese elemente of aksente uit ander tradisies wat vreemd staan teenoor ‘n geloofslewe gebore uit die oortuiging dat God die inisiatief neem in ons verlossing, dat God handel in die erediens, en dat ons geroep is om Hom lewenswyd met geloof, dankbaarheid en deelname aan sy missie te dien nie.
  • ‘n Beskaming van lidmate se aanbiddingstyl asof dit outyds en nie progressief genoeg is nie, en om daardie rede afgeskaf moet word;
  • ‘n Stel innoverende gebruike wat van buite of bo op die gemeente afgedwing word;
  • Die ontketen van “worship wars” in die gemeente, ‘n stryd tussen tradisie en vernuwing.

Liturgiese vernuwing hou rekening met die helder Gereformeerde insig dat God ons in die erediens transformeer, deur Woord, sakrament, soos beseël deur die werk van die Heilige Gees.

Transformerende bewegings

Hoe gebeur dit?  Ek kan aan drie transformerende bewegings in die erediens dink:

  1. Ons onthou die gebeure van die evangelie, ons roep God se handele in herinnering wat goeie nuus is en as goeie nuus aan ons oorgedra word;
  2. Ons vier God se teenwoordigheid en aktiwiteit – in die evangelie en in die wêreld waarin ons leef.  Hiermee eien oms die geskiedenis van die evangelie as óns geskiedenis toe;
  3. Ons sien uit, ons antesipeer, die volheid van die tyd waarin God se handelinge hulle einddoel bereik: die nuutmaak van die hele skepping en die lewe in God se heerlike teenwoordigheid op ‘n nuwe aarde onder ‘n nuwe hemel.  Onder die sang, in die hoor van die Skrifboodskap en die sien van die sakramente word die nuwe aarde alreeds hier vir ons ‘n werklikheid.

Kreatiewe liturgiese vernuwing

Hierdie transformerende bewegings moet bewustelik in die erediens ingebou word.  Dit geskied deur die erediens deur ‘n span lidmate, in samewerking met die liturg, te beplan.  Verder is dit ook noodsaaklik dat daar sinvolle deelname van lidmate in die eredens moet wees.  Sien hieroor as voorbeeld my vertelling oor die erediens van die Park Avenue Methodist Church in Minneapolis, Minnesota, VSA.

Na VoorbladNa Inhoudsopgawe

 

Nagmaalviering kán gemeentes vernuwe

2010/03/28 by Danie Mouton 1 Comment »

Wat is die kragbronne in ‘n gemeente wat:

  • die innerlike lewe van die gemeente vernuwe;
  • energie verskaf vir die gemeente se gerigtheid na buite; en
  • blywende geestelike groei ondersteun?

Liturgie, prediking en sakrament is een van die sleutel-kragbronne.  Mooi programme en oproepe tot diens na buite faal dikwels indien die gemeentelike lewe nie innerlik deru die liturgie, erediens, prediking en sakrament, vernuwe word nie.  Nuwe, diep-geïnternaliseerde perspektiewe op wie God is, wie die kerk is, en wat die kerk se roeping is, bemagtig geloofsgemeenskappe om op God se roeping te reageer.  Hiervoor is die vorming deur die erediens nodig.

Met erediensvernuwing of -verdieping word dus nie bloot aanpassings in terme van mense se voorkeure bedoel nie.  Dit gaan nie oor behoeftebepalings nie.  Dit gaan veel dieper.

Ons woon die erediens by om as geloofsgemeenskap bewustelik in God se teenwoordigheid te kom, en daardeur getransformeer te word. Die uitdaging is om werklik God se transformerende handelinge in die erediens raak te sien, te verwag, en daardeur vernuwe te word.  Die Gereformeerde tradisie het ‘n ryk inhoud wanneer dit by erediens, liturgie,  prediking en sakrament kom.  Die Gereformeerde erediens het die krag om ons te verander, sodat ons anders sal begin lewe.

Liturgiese vernuwing is om met wysheid, integriteit en kreatiwiteit – sonder om óf in tradisie vas te val, óf worship wars te ontken – erns te maak met ons Gereformeerde liturgiese erfenis, die diepte daarvan te (her)ontdek, en vanuit God se handele met ons te leer lewe.

Vervolgens gesels ons oor die rol wat die gereelde viering van die nagmaal in die geestelike vernuwing van ‘n gemeente kan speel.

Nagmaal

Die meeste Gereformeerdes is vandag prakties navolgers van Zwingli, vir wie die tekens van brood en wyn bloot simbole van Christus se liggaam en bloed was.  Vir Zwingli het die nagmaal daarom ‘n daad geword waarin ons ons geloof bely.  Zwingli se siening is ‘n rasionele verskraling van die inhoud van die nagmaal.

Dit is nie soos Calvyn die nagmaal verstaan het nie.  Die sakramente is beide dade van God waarin God ons geloof versterk.  Dit is genademiddele, dit bevestig en beseël God se belofte van verlossing in die dood en opstanding van Christus.  Deur die werk van die Gees bevestig die tekens die vrug van Christus se liggaam, wat vir ons geoffer is, in ons lewens.  Ons ontvang dus werklik die liggaam en bloed van Christus, op grond van God se beloftes, deur die geloof wat die Gees in ons werk.

Die ontvangs van Christus se soenoffer vorm ons in die gestalte van die vleesgeworde, gekruisigde en opgestane Here.  Nagmaal het dus alles met ons vorming as dissipels, ons geestelike transformasie, te doen.

Calvyn wou dat die gemeente weekliks nagmaal vier, juis om die vormende karakter daarvan te maksimaliseer.  Hy kon dit nooit in Geneve bewerkstellig nie, omdat die owerhede dit nie wou toelaat nie.

Impak van weeklikse nagmaalviering

Aangesien die erediens ons geestelik transformeer, moet mens vra watter impak die weeklikse viering van die nagmaal op ‘n gemeente se geloofslewe kan hê?  John de Gruchy noem in sy nuwe boek oor Johannes Calvyn* vier aspekte, waarby ek graag nog ‘n vyfde voeg:

  1. Weeklikse nagmaalviering herstel die balans tussen woorde en viering.  Nagmaalviering is die dramatiese voorstelling van die evangelieverhaal.  Nuwe Testamentikus CH Dood stel dit so: “At each Eucharist we are there – we are in the night in which he was betrayed, at Golgotha, before the empty tomb on Easter Day, and in the upper room where he appeared; and we are at the moment of his coming, with angels and archangels and all the company of heaven…”
  2. Die nagmaal help ons fokus op die werklikheid van die inkarnasie.  Die Woord van God het mens geword en ons ons kom woon, sodat Hy ons mens-wees kan herstel.  God het in die vleesgeworde Woord “ja” gesê vir ons mens-wees.  Daarom kan ons nie die geestelike en die vleeslike van mekaar skei, asof net die een vir God belangrik is nie.  Jesus het nie ‘n skyn-liggaam gehad nie, die skepping is vir God belangrik, en ons ontvang heil en verlossing vir skepsel-wees van Christus.  Omdat Christus werklik mens geword het, kan ons nié ‘n boodskap verkondig wat nie ook klere, kos, bemoediging, ondersteuning insluit nie.  Ons het nie ‘n geestelike roeping wat geweld, armoede, misdaad, diskriminasie en immoraliteit kan ignoreer nie.  Ons hele mens-wees is by die evangelie betrokke.  Daar is ‘n direkte verband tussen nagmaal en missie.
  3. Die weeklikse nagmaal herstel die gevoel van die gemeente as ‘n geestelike familie wat rondom ‘n maaltyd vergader om die opgestane Christus en mekaar te ontmoet, om die vrede van verlossing met mekaar te deel, en mekaar te dien.
  4. Wanneer ons die nagmaal reg verstaan, word ons daarvan uitgestuur in diens en missie.  Soos Christus Homself tot in die dood vir ons oorgegee het, is ons geroep om in die liturgie van die lewe onsself in diens van ander te gaan gee.  Die nagmaal is ‘n voorsmaak van die banket wat eendag kom wanneer God alles herstel, ‘n verwagting dat alles heelgemaak sal word, en laat ons werk in die rigting van hierdie herstel – dit leer ons tekens in die hede oprig van die herstel wat aan die kom is.
  5. Die liturgie vorm ons geestelik.  Die nagmaal vorm ons in die gestalte van die Gekruisigde.  Die nagmaal skuif ons identiteit.  Ons word gevorm as mense wat self ons kruis opneem in Sy diens.  Ons word gevorm as mense wat ons skouer plaas onder die nood van die wêreld en onsself as lewende offers vir God en sy missie in die wêreld gee (Rom 12:1-2).

Weerstand teen weeklikse nagmaalviering

Mens kan jou die weerstand teen ‘n weeklikse nagmaalviering indink.

Ons moet onthou dat liturgiese vernuwing ‘n organiese proses is.  Dit kom nie wanneer ons ‘n antieke aantal rituele opdiep, of ‘n stel innovasies van bo af op ‘n gemeente afdwing nie.  Vernuwing kom wanneer leraars saam met lidmate werk en met wysheid vra hoe om in hiérdie omstandighede, binne die kultuur van hiérdie gemeente, in lyn met ons Gereformeerde identiteit, ruimte te maak om God se handelinge in ons lewe, en deur ons lewe, te herken en te vier.

Die vraag is hoe ons nagmaalviering meer sinvol kan inrig, en nuwe, vars gestaltes van koinonia en selfoorgawe daaromheen kan skep.  Nagmaalviering gaan nie verdiep omdat ons die nagmaal beter en langer verduidelik, of beter lesings (preke) daaroor aanbied nie.  Mens kan die nagmaal doodverduidelik.  Gebruik liewer hierdie tyd… om die nagmaal te vier.

De Gruchy skryf* dat die Gereformeerde tradisie ‘n liturgiese integriteit het wat die moeite werd is om te bevestig.  Vir Gereformeerdes is dit in die liturgie primêr God wat in Woord en sakrament handel, en ons wat reageer in geloof, danksegging en missie.  Sou ons God se Woord eenvoudig kon breek, en die nagmaal met dankbaarheid kon vier – en God toelaat om ons daardeur te vernuwe?  Hom vertrou om daardeur met ons te werk, ons te vorm en ons te stuur?

Opsigself is Woordverkondiging onvolledig.  Die Woord het die sakrament van die nagmaal (en doop) nodig.   Deur te veel van Woordverkondiging te verwag (dws sonder die sakrament), oorspan ons die verkondiging, preek te lank, en probeer self te hard om vernuwing op te wek en deur prediking te bewerkstellig.  Voeg nou nog hierby ellelange, omvattende verduidelikings oor die nagmaal.  Mense kom nie in die eerste plek vir die verduideliking (‘n lesing oor die nagmaal) nie, hulle kom om deel te neem aan die nagmaal.  Sou baie van die weerstand nie met verdrag afgebreek kon word as ons korter begin preek en kreatief nagmaal vier nie?

*  De Gruchy, JW 2009. John Calvin. Christian Humanist and Evangelical Reformer. Lux Verbi.BM: Wellington.

>> Lees ook van die Oos-Kaapse predikantekonferensie met John de Gruchy.
>> De Gruchy oor gemeente en tradisie.

Na Voorblad –  Na Inhoudsopgawe