RSS Feed

Posts Tagged ‘nagmaal’

Nagmaalviering kán gemeentes vernuwe

2010/03/28 by Danie Mouton 1 Comment »

Wat is die kragbronne in ‘n gemeente wat:

  • die innerlike lewe van die gemeente vernuwe;
  • energie verskaf vir die gemeente se gerigtheid na buite; en
  • blywende geestelike groei ondersteun?

Liturgie, prediking en sakrament is een van die sleutel-kragbronne.  Mooi programme en oproepe tot diens na buite faal dikwels indien die gemeentelike lewe nie innerlik deru die liturgie, erediens, prediking en sakrament, vernuwe word nie.  Nuwe, diep-geïnternaliseerde perspektiewe op wie God is, wie die kerk is, en wat die kerk se roeping is, bemagtig geloofsgemeenskappe om op God se roeping te reageer.  Hiervoor is die vorming deur die erediens nodig.

Met erediensvernuwing of -verdieping word dus nie bloot aanpassings in terme van mense se voorkeure bedoel nie.  Dit gaan nie oor behoeftebepalings nie.  Dit gaan veel dieper.

Ons woon die erediens by om as geloofsgemeenskap bewustelik in God se teenwoordigheid te kom, en daardeur getransformeer te word. Die uitdaging is om werklik God se transformerende handelinge in die erediens raak te sien, te verwag, en daardeur vernuwe te word.  Die Gereformeerde tradisie het ‘n ryk inhoud wanneer dit by erediens, liturgie,  prediking en sakrament kom.  Die Gereformeerde erediens het die krag om ons te verander, sodat ons anders sal begin lewe.

Liturgiese vernuwing is om met wysheid, integriteit en kreatiwiteit – sonder om óf in tradisie vas te val, óf worship wars te ontken – erns te maak met ons Gereformeerde liturgiese erfenis, die diepte daarvan te (her)ontdek, en vanuit God se handele met ons te leer lewe.

Vervolgens gesels ons oor die rol wat die gereelde viering van die nagmaal in die geestelike vernuwing van ‘n gemeente kan speel.

Nagmaal

Die meeste Gereformeerdes is vandag prakties navolgers van Zwingli, vir wie die tekens van brood en wyn bloot simbole van Christus se liggaam en bloed was.  Vir Zwingli het die nagmaal daarom ‘n daad geword waarin ons ons geloof bely.  Zwingli se siening is ‘n rasionele verskraling van die inhoud van die nagmaal.

Dit is nie soos Calvyn die nagmaal verstaan het nie.  Die sakramente is beide dade van God waarin God ons geloof versterk.  Dit is genademiddele, dit bevestig en beseël God se belofte van verlossing in die dood en opstanding van Christus.  Deur die werk van die Gees bevestig die tekens die vrug van Christus se liggaam, wat vir ons geoffer is, in ons lewens.  Ons ontvang dus werklik die liggaam en bloed van Christus, op grond van God se beloftes, deur die geloof wat die Gees in ons werk.

Die ontvangs van Christus se soenoffer vorm ons in die gestalte van die vleesgeworde, gekruisigde en opgestane Here.  Nagmaal het dus alles met ons vorming as dissipels, ons geestelike transformasie, te doen.

Calvyn wou dat die gemeente weekliks nagmaal vier, juis om die vormende karakter daarvan te maksimaliseer.  Hy kon dit nooit in Geneve bewerkstellig nie, omdat die owerhede dit nie wou toelaat nie.

Impak van weeklikse nagmaalviering

Aangesien die erediens ons geestelik transformeer, moet mens vra watter impak die weeklikse viering van die nagmaal op ‘n gemeente se geloofslewe kan hê?  John de Gruchy noem in sy nuwe boek oor Johannes Calvyn* vier aspekte, waarby ek graag nog ‘n vyfde voeg:

  1. Weeklikse nagmaalviering herstel die balans tussen woorde en viering.  Nagmaalviering is die dramatiese voorstelling van die evangelieverhaal.  Nuwe Testamentikus CH Dood stel dit so: “At each Eucharist we are there – we are in the night in which he was betrayed, at Golgotha, before the empty tomb on Easter Day, and in the upper room where he appeared; and we are at the moment of his coming, with angels and archangels and all the company of heaven…”
  2. Die nagmaal help ons fokus op die werklikheid van die inkarnasie.  Die Woord van God het mens geword en ons ons kom woon, sodat Hy ons mens-wees kan herstel.  God het in die vleesgeworde Woord “ja” gesê vir ons mens-wees.  Daarom kan ons nie die geestelike en die vleeslike van mekaar skei, asof net die een vir God belangrik is nie.  Jesus het nie ‘n skyn-liggaam gehad nie, die skepping is vir God belangrik, en ons ontvang heil en verlossing vir skepsel-wees van Christus.  Omdat Christus werklik mens geword het, kan ons nié ‘n boodskap verkondig wat nie ook klere, kos, bemoediging, ondersteuning insluit nie.  Ons het nie ‘n geestelike roeping wat geweld, armoede, misdaad, diskriminasie en immoraliteit kan ignoreer nie.  Ons hele mens-wees is by die evangelie betrokke.  Daar is ‘n direkte verband tussen nagmaal en missie.
  3. Die weeklikse nagmaal herstel die gevoel van die gemeente as ‘n geestelike familie wat rondom ‘n maaltyd vergader om die opgestane Christus en mekaar te ontmoet, om die vrede van verlossing met mekaar te deel, en mekaar te dien.
  4. Wanneer ons die nagmaal reg verstaan, word ons daarvan uitgestuur in diens en missie.  Soos Christus Homself tot in die dood vir ons oorgegee het, is ons geroep om in die liturgie van die lewe onsself in diens van ander te gaan gee.  Die nagmaal is ‘n voorsmaak van die banket wat eendag kom wanneer God alles herstel, ‘n verwagting dat alles heelgemaak sal word, en laat ons werk in die rigting van hierdie herstel – dit leer ons tekens in die hede oprig van die herstel wat aan die kom is.
  5. Die liturgie vorm ons geestelik.  Die nagmaal vorm ons in die gestalte van die Gekruisigde.  Die nagmaal skuif ons identiteit.  Ons word gevorm as mense wat self ons kruis opneem in Sy diens.  Ons word gevorm as mense wat ons skouer plaas onder die nood van die wêreld en onsself as lewende offers vir God en sy missie in die wêreld gee (Rom 12:1-2).

Weerstand teen weeklikse nagmaalviering

Mens kan jou die weerstand teen ‘n weeklikse nagmaalviering indink.

Ons moet onthou dat liturgiese vernuwing ‘n organiese proses is.  Dit kom nie wanneer ons ‘n antieke aantal rituele opdiep, of ‘n stel innovasies van bo af op ‘n gemeente afdwing nie.  Vernuwing kom wanneer leraars saam met lidmate werk en met wysheid vra hoe om in hiérdie omstandighede, binne die kultuur van hiérdie gemeente, in lyn met ons Gereformeerde identiteit, ruimte te maak om God se handelinge in ons lewe, en deur ons lewe, te herken en te vier.

Die vraag is hoe ons nagmaalviering meer sinvol kan inrig, en nuwe, vars gestaltes van koinonia en selfoorgawe daaromheen kan skep.  Nagmaalviering gaan nie verdiep omdat ons die nagmaal beter en langer verduidelik, of beter lesings (preke) daaroor aanbied nie.  Mens kan die nagmaal doodverduidelik.  Gebruik liewer hierdie tyd… om die nagmaal te vier.

De Gruchy skryf* dat die Gereformeerde tradisie ‘n liturgiese integriteit het wat die moeite werd is om te bevestig.  Vir Gereformeerdes is dit in die liturgie primêr God wat in Woord en sakrament handel, en ons wat reageer in geloof, danksegging en missie.  Sou ons God se Woord eenvoudig kon breek, en die nagmaal met dankbaarheid kon vier – en God toelaat om ons daardeur te vernuwe?  Hom vertrou om daardeur met ons te werk, ons te vorm en ons te stuur?

Opsigself is Woordverkondiging onvolledig.  Die Woord het die sakrament van die nagmaal (en doop) nodig.   Deur te veel van Woordverkondiging te verwag (dws sonder die sakrament), oorspan ons die verkondiging, preek te lank, en probeer self te hard om vernuwing op te wek en deur prediking te bewerkstellig.  Voeg nou nog hierby ellelange, omvattende verduidelikings oor die nagmaal.  Mense kom nie in die eerste plek vir die verduideliking (‘n lesing oor die nagmaal) nie, hulle kom om deel te neem aan die nagmaal.  Sou baie van die weerstand nie met verdrag afgebreek kon word as ons korter begin preek en kreatief nagmaal vier nie?

*  De Gruchy, JW 2009. John Calvin. Christian Humanist and Evangelical Reformer. Lux Verbi.BM: Wellington.

>> Lees ook van die Oos-Kaapse predikantekonferensie met John de Gruchy.
>> De Gruchy oor gemeente en tradisie.

Na Voorblad –  Na Inhoudsopgawe

 

Drie dae met John de Gruchy: Woord, Gees, Sakrament en Beeld

2010/03/27 by Danie Mouton No Comments »

Hoe lyk ‘n verstaan van die evangelie wat gemeentes werklik transformeer?  Wat is die teologie, die praktyke, die liturgiese gewoontes, die inhoud van die Woordverkondiging, die Bybelse houdings en gesindhede wat ‘n gemeente nader aan God se beloofde toekoms vir sy kerk skuif?  Wat is die verband tussen ‘n gasvrye, gemeenskapsgerigte (missionale) gemeente en die bediening van liturgie, Woord, sakrament en beeld / kuns?

Vandeesweek het 35 dominees werklik drie transformerende dae met prof John de Gruchy, emeritus-professor in Christelike Studies aan die Universiteit van Kaapstad, en buitengewone professor aan die Universiteit van Stellenbosch, spandeer.

Professor John de Gruchy

Prof John de Gruchy tydens 'n predikante-konferensie in die Oos-KAap

Die sentrale tema van sy voordrag was: The Reformed Pastor as Theologian. So het Calvyn homself gesien: ‘n reformerende pastor wat ‘n teoloog is. (En het ons nuwe dinge oor Calvyn geleer!  Dit is duidelik dat die Calvyn wat ons deur ons studies leer ken het, en die ware Calvyn, twee verskillende mense is, het baie dominees gesê.)

De Gruchy is die skrywer van ‘n nuwe boek oor Calvyn, John Calvin – Christian Humansit and Evangelical Reformer (Lux Verbi.BM 2009).

De Gruchy het dié onderwerp verder uitgewerk deur van drie subtemas gebruik te maak:

  • Woord en Gees
  • Woord en Sakrament
  • Woord en Beeld (Eikon).

Uit sy vertelling van Calvyn se verhaal het duidelik geblyk hoeveel skeefgetrek perspektiewe oor dié man bestaan.  Hy het ‘n merkwaardige invloed wat, vandag nog, in groot dele van die wêreld ‘n impak maak.  In sekere opsigte is selfs die Rooms-Katolieke kerk beslissend deur hom beïnvloed.  ‘n Europa in transisie, onderworpe aan baie veranderings, was die agtergrond van Calvyn se lewe, teologie en bediening.  Hierdieomstandighede verskil nie veel van ons moderne wêreld met sy vele oorgange nie.  Sy erfenis is beide ‘n boek (die Institusie), of boeke, want Calvyn het baie geskryf, en ‘n stad, Geneve.  Die helfte van Geneve se inwoners was vlugtelinge, wat beteken het dat die integrasie en belange van ontwortelde nuwelinge versus gevestigde inwoners ‘n sentrale tema was.  Hoe word ‘n Christelike samelewing onder sulke omstandighede ingerig?  Wat is die rol van die kerk?  Calvyn se lewe en werk bied merkwaardige perspektiewe wat ook vir ons van belang is. read more…