Drie dae met John de Gruchy: Woord, Gees, Sakrament en Beeld
Hoe lyk ‘n verstaan van die evangelie wat gemeentes werklik transformeer? Wat is die teologie, die praktyke, die liturgiese gewoontes, die inhoud van die Woordverkondiging, die Bybelse houdings en gesindhede wat ‘n gemeente nader aan God se beloofde toekoms vir sy kerk skuif? Wat is die verband tussen ‘n gasvrye, gemeenskapsgerigte (missionale) gemeente en die bediening van liturgie, Woord, sakrament en beeld / kuns?
Vandeesweek het 35 dominees werklik drie transformerende dae met prof John de Gruchy, emeritus-professor in Christelike Studies aan die Universiteit van Kaapstad, en buitengewone professor aan die Universiteit van Stellenbosch, spandeer.
Die sentrale tema van sy voordrag was: The Reformed Pastor as Theologian. So het Calvyn homself gesien: ‘n reformerende pastor wat ‘n teoloog is. (En het ons nuwe dinge oor Calvyn geleer! Dit is duidelik dat die Calvyn wat ons deur ons studies leer ken het, en die ware Calvyn, twee verskillende mense is, het baie dominees gesê.)
De Gruchy is die skrywer van ‘n nuwe boek oor Calvyn, John Calvin – Christian Humansit and Evangelical Reformer (Lux Verbi.BM 2009).
De Gruchy het dié onderwerp verder uitgewerk deur van drie subtemas gebruik te maak:
- Woord en Gees
- Woord en Sakrament
- Woord en Beeld (Eikon).
Uit sy vertelling van Calvyn se verhaal het duidelik geblyk hoeveel skeefgetrek perspektiewe oor dié man bestaan. Hy het ‘n merkwaardige invloed wat, vandag nog, in groot dele van die wêreld ‘n impak maak. In sekere opsigte is selfs die Rooms-Katolieke kerk beslissend deur hom beïnvloed. ’n Europa in transisie, onderworpe aan baie veranderings, was die agtergrond van Calvyn se lewe, teologie en bediening. Hierdieomstandighede verskil nie veel van ons moderne wêreld met sy vele oorgange nie. Sy erfenis is beide ‘n boek (die Institusie), of boeke, want Calvyn het baie geskryf, en ‘n stad, Geneve. Die helfte van Geneve se inwoners was vlugtelinge, wat beteken het dat die integrasie en belange van ontwortelde nuwelinge versus gevestigde inwoners ‘n sentrale tema was. Hoe word ‘n Christelike samelewing onder sulke omstandighede ingerig? Wat is die rol van die kerk? Calvyn se lewe en werk bied merkwaardige perspektiewe wat ook vir ons van belang is. read more…




