RSS Feed

Posts Tagged ‘voorkeure’

Liturgiese vernuwing is nie…

2010/03/29 by Danie Mouton No Comments »

In ‘n vorige bydrae skryf ek oor die vormende rol van gereelde nagmaalviering en die geestelike transformasie wat dit kan bewerkstellig.  Daarvoor is liturgiese vernuwing nodig.

Wat betekenisvolle liturgiese vernuwing is, moet versigtig omskryf word.

Liturgiese vernuwing is nié…

Wat dit beslis nié is nie:

  • Die inrigting van die erediens volgens mense se kulturele voorkeure.  Dit is erediensvernuwing wat uit behoeftebepalings gebore word.  Te veel gemeentes meen liturgiese vernuwing beteken dat ons bloot die liedere sing waarvan ons hou, of die tipe preke preek waarvan mense meen dat dit hulle sal help.  Natuurlik is hierdie belangrike aspekte wat nie geïgnoreer kan word nie, maar die bevrediging van behoeftes is nog nie hartgrondige geestelike vernuwing nie.
  • ‘n aanvaarding van die spelreëls van die verbruikerskultuur wat bepaal dat die kerk briljante godsdienstige produkte (soos diepgaande emosionele belewinge of uitstekende godsdienstige “produksies”) op die mark moet sit nie.  Dit is in elk geval futiel, want die kerk kan nie met rekenaarspeltjies, die iPod, kommersiële musiekproduksies e.s.m. kompeteer nie;
  • ‘n Onkritiese oorneem van liturgiese elemente of aksente uit ander tradisies wat vreemd staan teenoor ‘n geloofslewe gebore uit die oortuiging dat God die inisiatief neem in ons verlossing, dat God handel in die erediens, en dat ons geroep is om Hom lewenswyd met geloof, dankbaarheid en deelname aan sy missie te dien nie.
  • ‘n Beskaming van lidmate se aanbiddingstyl asof dit outyds en nie progressief genoeg is nie, en om daardie rede afgeskaf moet word;
  • ‘n Stel innoverende gebruike wat van buite of bo op die gemeente afgedwing word;
  • Die ontketen van “worship wars” in die gemeente, ‘n stryd tussen tradisie en vernuwing.

Liturgiese vernuwing hou rekening met die helder Gereformeerde insig dat God ons in die erediens transformeer, deur Woord, sakrament, soos beseël deur die werk van die Heilige Gees.

Transformerende bewegings

Hoe gebeur dit?  Ek kan aan drie transformerende bewegings in die erediens dink:

  1. Ons onthou die gebeure van die evangelie, ons roep God se handele in herinnering wat goeie nuus is en as goeie nuus aan ons oorgedra word;
  2. Ons vier God se teenwoordigheid en aktiwiteit – in die evangelie en in die wêreld waarin ons leef.  Hiermee eien oms die geskiedenis van die evangelie as óns geskiedenis toe;
  3. Ons sien uit, ons antesipeer, die volheid van die tyd waarin God se handelinge hulle einddoel bereik: die nuutmaak van die hele skepping en die lewe in God se heerlike teenwoordigheid op ‘n nuwe aarde onder ‘n nuwe hemel.  Onder die sang, in die hoor van die Skrifboodskap en die sien van die sakramente word die nuwe aarde alreeds hier vir ons ‘n werklikheid.

Kreatiewe liturgiese vernuwing

Hierdie transformerende bewegings moet bewustelik in die erediens ingebou word.  Dit geskied deur die erediens deur ‘n span lidmate, in samewerking met die liturg, te beplan.  Verder is dit ook noodsaaklik dat daar sinvolle deelname van lidmate in die eredens moet wees.  Sien hieroor as voorbeeld my vertelling oor die erediens van die Park Avenue Methodist Church in Minneapolis, Minnesota, VSA.

Na VoorbladNa Inhoudsopgawe