Jaargang 21 - Nommer 12 - 26 Mei 2023
Beste leser,

In hierdie uitgawe:

  • Aandrang op politieke oplossing vir onstabiele koalisies in Nelson Mandela Baai
  • Die mooi getuienis oor die slaggatkoning van Oos-Londen
  • "When church stops working" - wat staan ons te doen?
  • Biddag vir Ekologie: Fokus op 4 Junie op Christene se ekologiese verantwoordelikheid: preekskets en liturgie
  • Vakature: Predikantspos by die Bybelgenootskap in die Baai

Thandile Mdlungu, slaggatkoning van Oos-Londen

In 'n onlangse artikel in Vrye Weekblad vertel Anneliese Burgess die verhaal van die eensame figuur van 'n man in 'n glimbaadjie wat slaggate regmaak op 'n verrinneweerde stuk pad naby Oos-Londen:

'n Enkele figuur met 'n skopgraaf en 'n geskeurde glimbaadjie. Op pad terug van die skool af sien ek wat hy aan die doen is. Hy het 'n klein waentjie vol klippe en grond wat hy na die slaggate karwei. Dit het gereën, en hier by ons in die buurt begin die padoppervlak ná selfs die geringste reënbui opbreek. Die mense het maar daarmee vrede gemaak, soos met byna alles wat 'n bekwame staat andersins sou gedoen het.

Hy heet Thandile Mdlungu. Anneliese wil weet waarom hy die slaggate regmaak?

“Ek loop elke oggend na hierdie kruising toe vir werk en ek het gesien hoe die mense sukkel met die slaggate ná die reën," vertel hy my.

“So ek het gedink, ek kan help. Ek is 'n kind van Jesus, en Jesus is goed vir my. So ek wil goed wees vir ander mense. Ek weet hoe om slaggate reg te maak, en dit is iets wat mense nodig het."

Watse werk doen hy?

“O, ek werk hier by die kruising. Het jy my nog nie hier gesien nie? Ek tel die vullis of verbrand dit. Ek probeer die plek netjies hou."

Lees die merkwaardige verhaal van en onderhoud met hierdie held, 'n voorbeeld vir ons almal wat iemand wat dien en help.

ANC en DA moet saamwerk in die Baai

Dapper oplossing gevra vir onstabiele, ontwrigtende, vrugtelose koalisies

Dit is tyd dat die ANC en DA mekaar in Nelson Mandela Baai vind en 'n stabiele regering vorm. Politici moet ophou om tyd en hulpbronne op wisselende en steierende koalisies in die metropool te vermors, en doen wat die kiesers van hulle verwag.

Beide die ANC en DA het in 2021 48 setels in 'n raad van 120 lede losgeslaan. Dit is binne hierdie partye se bereik om 'n stabiele koalisie te vorm.

Só sê die Nelson Mandela Baai Koalisie van Burgerlike Organisasies (waarvan die ekumeniese kerk deel vorm) in 'n mediaverklaring gerig aan die munisipale raad. Die verklaring volg op verskeie mosies van wantroue wat teen die huidige burgemeester en ander rolspelers ingedien is en na verwagting op 'n raadsvergadering op 26 Mei 2023 bespreek sal word.

Die mosies van wantroue volg nadat van die kleiner partye in die regerende koalisie hul steun na 'n nuwe formasie geskuif het. Hierdie patroon - nuwe koalisies wat skaars op dreef kom voordat 'n stok in die wiel gesteek word, duur al sedert 2016 voort.

Die burgerlike samelewing het nou genoeg gehad.

Klik hier om die volle verklaring te lees.

Tim Keller (72) oorlede

'n Reuseverlies vir geloofsgemeenskappe wat fokus op die evangelie en kerkplanting

Timothy Keller (72), invloedryke New Yorkse Presbiteriaanse stadspredikant, gewilde skrywer en medestigter van The Gospel Coalition is op 19 Mei 2023 oorlede

Mens kan die evangelie, volgens Tim Keller, as volg saamvat: "We are more sinful and flawed in ourselves than we ever dared believe, yet at the very same time we are more loved and accepted in Jesus Christ than we ever dared hope.”

Keller het die Redeemer Presbyterian Church saam met sy eggenote, Kathy, in 1989 in Manhattan gestig, tradisioneel 'n sterk materialistiese omgewing, harde grond vir die evangelie. Destyds was 'n white flight weens stygende misdaad en geweld in Manhattan aan die gang. Hierdie gemeente het die geestelike tuiste vir duisende jongmense geword wat hulle verbind het aan hoop, sin en 'n grondige proses van dissipelskap.

Uit hierdie Gereformeerd-evangeliese bediening het die City-to-City kerkplantingsnetwerk gegroei. Keller was medestigter van The Gospel Coalition en ook die skrywer van verskeie topverkoper boeke oor God, die evangeliese en die Christelike lewe.

Vir Keller was die kernprobleem van die menslike kondisie sonde, waarmee hy nie bloot seks, dwelms of steel bedoel het nie. Mense is stukkend, en hulle weet dit. Mense skep ook afgode vir hulself waarin hul hul diepste sekerheid vasbind. Dit is ongelooflik bevrydend om te beleef dat aanvaarding, liefde, 'n tuiskoms, by Jesus moontlik is.

Keller het 'n beduidende mediaprofiel ontwikkel wat sy lewe en bydrae beliggaam:

  • Hier is 'n kort huldigingsvideo vir Keller van The Gospel Coalition.
  • Keller was 'n produktiewe skrywer en bekende spreker. ThinQ het 'n stel kort video's van sy optredes beskikbaar gestel.
  • Lees gerus hoe Christianity Today Keller se lewe toelig. CT het ook 'n versameling van invloedryke aanlyn artikels uit sy pen gepubliseer.
  • Kyk hier hoe Keller sy bekende boek oor die uitdaging om te glo, The Reason for God, Nr 7 op die New York Times topverkoperlys, in 'n Google Talk toelig.
  • Die stigtingsdokument van The Gospel Coalition kom hoofsaaklik uit Keller se pen, en gee 'n goeie aanduiding van sy vermoë om hedendaagse kultuur te lees en teologies sin te maak van mense se soeke na sin.
  • Tim Keller is in 2020 met Pankreaskanker gediagnoseer. Keller het vertel hoe hierdie konfrontasie met sy sterflikheid sy gebedslewe verander het.
Keller het in 2017 die nuus gehaal toe die Princeton Teologiese seminarium 'n prys wat dit Keller toegeken het, teruggetrek het. Sy teologiese posisie het oor omstrede sake het te konserwatief geblyk te wees. Keller het nietemin voortgegaan en die rede by Princeton gaan lewer waarmee hy die prys in ontvangs sou neem.

Nuwe publikasie

'n Beter oplossing vir die regte probleem

Uit die pen van die bekende Andrew Root en Blair Bertrand kom 'n nuwe publikasie, When Church Stops Working, wat voorstel dat ons vermeende oplossings vir die uitdagings van gemeentes - beter programme, hoër prestasie, meer aktiwiteite en groter aantrekkingskrag - eintlik die probleem is. Of bloot 'n simptoom van die eintlike probleem.

Die rede? Ons krisis is The Secular Age (ook die titel van Charles Taylor se belangrike publikasie) en ons probleemoplossings met metodes wat eie aan die secular age se metodes en sieninge is. Dit werk net nie nie.

Die pad wat die kerk moet loop lê in 'n ander rigting. Hierdie rigting is belangrike nuus vir moedelose predikante en kerkmense.

Scot McKnight se resensie van When Church Stops Working som die publikasie kernagtig op. Hy skryf onder meer:

The authors are correct when they say this: “our attention has been almost completely on the crisis of decline. But the crisis we should be focused on – the crisis that is the heart of the church and not a tumor – is a crisis we can never escape and still be the Church of Jesus Christ. This crisis is weird, even mystical. It's the kind of crisis that doesn't ask us to do more, to hurry and to have as a way of stabilizing ourselves.” No, they argue, “The real crisis is encountering a living God who is God.”

Again, return to waiting to understand what they are calling the church today to be and to do: “This waiting even sends the church into the world to wait with the world for God's action to save the world. This crisis gives life.”

Lees die volledige resensie (en oorweeg om die publikasie aan te koop - dis goeie leesstof).

Preekskets en liturgiese voorstelle

Biddag vir Ekologie : Sondag, 4 Junie 2023

Alan Paton, die gevierde skrywer en filosoof, het gesê: “Die grond is heilig. Dit kom immers van die Skepper self. Onderhou dit. Beskerm dit. Sorg daarvoor, want dit onderhou die mens, beskerm die mens, sorg vir die mens. Vernietig die grond, en jy vernietig die mens.” Dié aanhaling en talle gedeeltes in die Bybel maak dit duidelik dat die welsyn van die skepping en die welsyn van die mensdom onskeibaar is. Hoe mense leef, het ʼn direkte impak op die skepping en wat met die skepping gebeur.

Om hieroor na te dink, word die eerste Sondag in Junie elke jaar as Biddag vir die Ekologie ingeruim. Vanjaar val dit op Sondag 4 Junie. Klik hier vir besondere liturgiese- en preekvoorstelle deur ds Fouché de Wet en ds Fay van Eeden. Mens kan ook oor ons ekologiese verantwoordelikheid nadink met behulp van Nataniël se besondere lied Sy’s al wat ons het. (Met dank aan Vrydagnuus)

Laaste kans om in te skryf vir die GROOT Predikante-byeenkoms

Alle Oos-Kaaplandse predikante en diensleraars word aangemoedig om die Groot Predikantebyeenkoms by te woon. Dit vind van 6-8 Junie 2023 by die Willows Konferensiesentrum en Vakansieoord digby Port Elizabeth plaas.

Prof Marius Nel en dr Tiesie de Coning kom inspirerende en verruimende insette maak. Die klem val op kuier, geestelike groei en selfsorg vir predikante. VBO-punte word toegeken.

KLIK HIER om in te skryf. Hier is meer inligting.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 26 Mei 2023.

Die verhaal van 90-jaar van die Bybel in Afrikaans

Maak gerus nou reeds planne om 90 jaar van die Bybel in Afrikaans op Bybelsondag, 27 Augustus, te vier. Hieronder is die verhaal grafies saamgevat:
Hier is die volgrootte weergawe van bogenoemde grafika.

Pastorale Beradingskursus

Mede-afhanklikheid en emosionele gebrokenheid – pastorale perspektiewe

Dinsdag 20 Junie 2023 – Zoom aanbieding Prof Wentzel Coetzer

Oor die tema van mede-afhanklikheid is daar oor die algemeen reeds baie geskryf, maar in hierdie kursus word daar veral ook gefokus op die pastorale implikasies. Iemand wat ʼn besondere bydrae gelewer het rakende ʼn duidelike definiëring van hierdie tema is Pia Mellony. Die bekende John Bradshaw (2007:9) beskryf haar bydrae soos volg:

“Pia’s work has become the core model in treating addictions of all kinds and the core of codependence they rest upon. She has personally led hundreds, probably thousands, of people suffering from codependency into recovery and wholeness.”

Daar word in besonder gefokus op Mellony se boek, Facing codependence. What it is, where it comes from, and how it sabotages our lives (2003). Nog ʼn belangrike bron is die boek, Love is a choice. The groundbreaking book on recovery for codependent relationships, deur Hemfelt, R., Minirth, F. & Meier, P. (2003). Hierdie boek beskryf die tien-fase genesingsmodel vir mede-afhanklikheid soos toegepas binne die Meier Klinieke in die VSA. Paul Meier en Frank Minirth is waarskynlik die twee mees bekende Christen psigiaters in die VSA (Minirth reeds oorlede). In hierdie model word die voorgestelde riglyne telkens gekoppel aan beginsels vanuit die Skrif.

Die inhoud van bovermelde twee belangrike bronne word dan verder aangevul met stof vanuit verskeie ander bronne. In die aanbieding word daar besonder gefokus op die aspek van emosionele gebrokenheid wat in talle medeafhanklikes se lewens reeds ʼn aanvang geneem het tydens die kinderjare. Hierdie agtergrond het hulle gevolglik kwesbaar gemaak vir die tipiese karakteristieke van mede-afhanklikheid tydens hul volwasse jare. Kwessies wat verder ook aan die orde kom, is medeafhanklike geestelike leiers, mede-afhanklike tendense binne sommige kerke/gemeentes, en ook die rol van toksiese godsdiens rakende mede-afhanklikheid. Ten slotte word ʼn aantal spesifieke pastorale elemente geïdentifiseer met dan toepaslike riglyne vir die begeleiding van slagoffers.

Datum: Dinsdag 20 Junie 2023 – sluit in sleutelnotas.
Tyd: 09.00 – 13.00
Akkreditering: 5x VBO punte – CPSC punte – ook AFM PCD akkreditasie
Koste: R250 pp (egpare: R400)
Handboek te koop (opsioneel): R150 (plus R100 koerier koste) Navrae: 0836600409 of e-pos: wentzelc@gmail.com
Om te bespreek: U kan op hierdie skakel klik vir registrasie.

Kermis by PE-Heideveld, 2 Junie

Lorraine hou kermis op 3 Junie

NG gemeente Ugie loot 'n bees uit (jy kan jou vrieskas vol maak)

Opleiding as Brugpredikant

Die verwisseling van ’n predikante in gemeentes kan hierdie gemeentes in ’n tyd van onsekerheid laat. Die pad vorentoe is onseker totdat ’n nuwe permanente bediening weer in plek is.

Hierdie kursus poog om brugpredikante op te lei vir die fasilitering tydens hierdie oorgang periode, tot voordeel van die gemeente.

Die volgende kursus word vanaf 31 Julie tot 4 Augustus 2023 aangebied en dan weer van 30 Oktober tot 2 November 2023. Die kursusleier is Prof Malan Nel.

Vir die geleentheid kan 70 VBO krediete verdien word. Kursus koste is R2800 (BTW ingesluit. Dit word aangebied by die NG Kerk Stellastraat in Pretoria

Vir navrae kan Irene Thomas gekontak word by: 012 420 4952 of epos:irene.thomas@up.ac.za

Vakature: Predikantspos by Bybelgenootskap in Gqeberha

Die Bybelgenootskap adverteer tans 'n predikantspos as Streeksverhoudingspanleier, die nuwe benaming vir die pos wat ds Ben Fourie vroeër en ds Hein Barnard tans beklee. Klik hier om die posbekendstelling te lees. Opskud. Die sluitingsdatum is 2 Junie 2023.

Leraars beweeg

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars.
facebook twitter