Grens.Pos
Jaargang 18 - Nommer 20 - 26 Junie 2020 - Koninkrykstyd
Beste Skriba,
GlassWater
Sondag, 21 Junie is die vierde Sondag in Koninkrykstyd.
Uit die Leesrooster: "Wie aan een van hierdie geringstes net 'n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry." (Matt 10:42)

In hierdie uitgawe

  • 2020 is hard. En die tsunami kom nou. Lees hoe Stephan Joubert ons troos met die wete dat elke jaar hard is, maar dat God elke dag met sy teenwoordigheid vul
  • Hoe bedien PE-Lorraine gemeente digitaal? Vandag leer ons by hulle.
  • PE-Sonheuwels het 'n heerlike inry-erediens gehou. Die gemeente is geesdriftig oor die ervaring en gaan dit weer en weer doen.
  • Waaroor gaan die tema wat baie mense warm onder die kraag het - #BlackLivesMatter. Dit is tog #AllLivesMatter, is dit nie?
  • VBO met ds Deon Loots oor die Enneagram

Goeie nuus, Stephan Joubert

"Ek wens dit was 2019"

Ek wens dit was 2019 sê iemand. “Regtig? Hoekom?” wonder ek. Het almal vergeet van laasjaar se misdaad, grondgevegte, armoede en wat nog alles? Is Prediker 7:10 nie meer waar nie? Dit sê dat ons moenie sê die ou dae was beter as nou nie. Dan voeg hy by dat dit nie wysheid is om agteruit te leef in die rigting van die verlede nie. Ware woorde.

Soos wat ek aldag vir myself sê: die verlede is ook net goed solank onsself nie daar hoef te leef nie. Ja, tye is hard, maar dit is altyd hard. Gaan jy terug na 2019 toe, dan sal jy in amper elke koerantberig, Facebook plasing en gesprek hoor van al die moeilikheid. O ja, dieselfde geld van 2019, 1918, 1818, 1618, 1518… Regdeur die eeue verklaar mense nog altyd hulle eie omstandighede tot die moeilikste ooit.

Nou ja, 2020 is hard. Die korona-virus beïnvloed ons elkeen se lewens op wie weet hoeveel slegte maniere. Maar die keuse is ons s’n of ons die tyd net gaan omwens, en of ons saam met Paulus in 2 Korintiërs 6 gaan sê dat vandag die Here se dag is en dit vul met sy teenwoordigheid.

Die sosiale mallemeule begin nou in alle erns

Gordel vas vir Covid-19, dit kom

Tot nou toe was meeste aksies gefokus op voorbereiding vir die ernstige impak van Covid-19. Ons het maskers leer dra, gewoond geraak aan sosiale afstand, nuwe digitale patrone van kommunikasie gevestig en geleer hoe om veilig eredienste onder inperking aan te bied.

Die groot aanhef kom nou. In die Oos-Kaapse stede en groter plattelandse sentra is die staatshospitale reeds onder ernstige druk. Dieselfde geld die privaat hospitale. Die nuwe Volkswagen veldhospitaal open op 1 Julie en sal welkome verligting aan mediese dienste bied.

Dieselfde geld ook van die ander provinsies, en selfs Kaapstad.

Sover bekend het die eerste NG predikant, ds Paul Barnard van Helderberg-gemeente in Somerset-Wes, Covid-19 positief getoets en gaan nou vir 14 dae in afsondering. Hy het dit publiek op sy Facebookblad aangekondig.

Talle families het 'n lid of meer wat Covid-19 positief is, of het reeds 'n geliefde weens hierdie siekte aan die dood afgestaan.

Dit is nou tyd om kalm en verantwoordelik te bly. Meeste mense getuig dat hulle self emosioneel op 'n mallemeule is. Die een dag gaan dit goed, die volgende dag sukkel dit. Mens voel jy ken jouself nie meer nie, en jy kan self nie altyd voorspel hoe jy in situasies gaan optree nie. Daarom hanteer ons mekaar geduldig en gee mekaar spasie.

Geloof en die versekering dat ons in God se hande is, is nou belangrik. Net so selfondersoek, bekering, afsluiting van onafgehandelde sake en 'n daaglikse nuwe begin met God. Ons lewens is in God se hande, terwyl ons in alle opsigte verantwoordelik optree ter wille van diegene rondom ons.

Gemeentes leer by mekaar

PE-Lorraine se aanlynbediening

pelorraine
Grens.Pos fokus graag op gemeentes se ontwikkelende aanlynbedienings, sodat leraars en gemeentes by mekaar kan leer. Terwyl ons in 'n onlangse Grens.Pos aandag aan Graaff-Reinet se bediening gegee het, kuier ons vandag by Port Elizabeth-Lorraine-gemeente. Ons het gesels met ds Mynhardt van Zyl en ds Barbara-Mari Jacobs.

Hulle vertel dat digitale bediening is deurlopende leer-ervaring is. Die span moet dus deurlopend nadink oor die impak van die bediening. Sedert inperking in Maart begin het, is die bediening reeds aangepas en sal vorentoe ook nuwe gestaltes aanneem. So is boodskappe op weeksdae vervang met 'n weeklikse koffiedrink met die leraars en Psalm-oordenkings wat kerkraadslede digitaal aanbied.

Die ritme van PE-Lorraine se aanlynbediening is eenvoudig gestruktureer. Dit bestaan uit 'n weeklikse verkondigingsmoment op Sondae ('n boodskap wat Sondae vanaf 08:00 aanlyn beskikbaar is), die weeklikse koffie saam met die leraars en die psalm-oordenkings. Dan is daar ook weeklikse aanbiedings vir Lorraine Kids.
Barbara-Mari Jacobs
Ds Barbara-Mari Jacobs praat met die Lorraine Kids, saam met Grompie, oor Jesus Christus. Klik hier om te sien hoe sy dit doen.
Mynhardt van Zyl
Ds Mynhardt van Zyl lei 'n aanlyn-erediens vanuit Lorraine se kerkgebou. Klik hier om hom in aksie te sien.

Die gemeente plaas weekliks 'n erediens op Facebook en Youtube, en drink virtueel saam koffie op weeksdae. Dan lewer gemeenteleiers oor Psalm-oordenkings waar hulle die betekenis van 'n Psalm uitlig.
Die koffiedrink is 'n vaste afspraak op Woensdae om 09:00. Die leraars ontmoet op Zoom en stroom die gesprek direk na Facebook. 'n Gas vorm altyd deel van die gesprek. Rondom koffie word daar oor temas gesels soos verlies, vreugde, temperament, konflik, trauma of vroegste herinneringe aan kerk. Die gas se inset verteenwoordig die tema waaroor geestelike gesels word. 'n Voorbeeld: iemand getuig oor groot verlies en dit word in verband gebring met die kollektiewe verlies wat ons tans in Covid-19 ervaar. Op 'n ander dag gaan die gesprek weer oor vreugde en hoe dit moontlik is om in hierdie dae vreugde te beleef.

Mense luister makliker na 'n gesprek as na nog 'n boodskap, vertel Barbara-Mari en Mynhardt. Die gesprek lok ook interaksie uit. Sommige luisteraars sal 'n plasing op Facebook doen, terwyl ander die dominee agterna op Whatsapp kontak. Hulle sal dinge sê soos: "Ek verstaan nou wat my man beleef", of "Ek het nou woorde vir my eie ervaring".
koffiedrink
PE-Lorraine se leraars besig met koffiedrink, Woensdae om 09:00. Hulle is, van bo links, kloksgewys, Mynhardt van Pletzen, Gerhard Loubser, Riëtte Gerber en links onder Barbara-Mari Jacobs. Die gesprek word op Zoom gevoer en direk na Facebook gestroom. Enige betaalde Zoom-rekening kan direk na Facebook of Youtube stroom. Persone wat saam koffiedrink op Facebook kan ook deur kommentaar aan die gesprek deelneem.
Die leraars vertel ook hoe hulle hulself beter leer ken het sedert die aanlynbediening op dreef gekom het. Vir Barbara-Mari werk die lewendige stroom van 'n boodskap baie beter as vooraf-opnames, Sy fokus beter en beleef verhoogde kapasiteit om eg in die moment te kommunikeer. Mynhardt verkies weer om sy boodskappe in die kerk op te neem. Hy staan graag en kommunikeer so gemaklik met die virtuele gehoor.

Die gemeente se bediening word baie goed ontvang, veral as mens kyk na die hoeveelheid persone wat daaraan deelneem en daarna kyk.

Kinder- en jeugbediening is belangrik. Daar word kommunikasie gemik op kinders en jongmense ontwikkel. Die mentor van kinders en jongmense geskied deur Whatsapp.

Die gemeente voorsien ook dat aanlyn-bediening gekom het om te bly. Hulle gaan nou belê in verhoogde kapasiteit om digitaal te bly bedien.

PE-Sonheuwels hou heerlike inry-erediens

Ds Deon van Staden van PE-Sonheuwels vertel hoe ontroerend, heerlik en opbouend verlede Sondag se inry-erediens vir lidmate van PE-Sonheuwels was.

Die gemeente het al die bure vooraf laat weet hulle gaan op Sondag, 21 Junie, so bietjie "raas". Begrip is gevra. Natuurlik het hulle nie regtig geraas nie, bloot luidsprekers gebruik om die klank oor die parkeerterrein te versprei, en die bure was vol begrip.

Terwyl opbouende geestelike musiek gespeel het, het die motors aangekom. Daarna het die erediens gevolg. 'n Motor was die preekstoel. "As Jesus 'n boot kon gebruik, kan 'n dominee seker 'n kar gebruik," sê die gemeente.

Die opgeleide span het die nodige Covid-regulasies wat pas by 'n geleentheid soos hierdie gevolg.

Klik hieronder vir 'n video-opname van die geleentheid. Ds Deon van Staden lei die erediens:
sonheuwels

Scot McKnight : A Church called Tov

Oorkom die toksiese kultuur van jou gemeente

'n Nuwe publikasie van Nuwe Testamentikus, dr Scot McKnight, verskyn eersdaags, met die titel "A church called Tov". "Tov" is die Hebreeuse woord vir "goed". Die term is 'n versamelnaam vir alles wat, wel, goed en Christelik aan 'n gemeente se saam-wees is. Leierskap het 'n beslissende invloed hierop.

In die publikasie skryf McKnight oor gemeentes met 'n toksiese, afbrekende kultuur, narsistiese leiers en afbrekende gewoontes. Hy kontrasteer dit met 'n beskrywing van gemeentes met 'n kultuur van goedheid en opbouende saam-wees.

Hoofstuk 1 van die boek kan tans gratis afgelaai word - klik hier. Die volledige boek verskyn later vanjaar.

#BlackLivesMatter #AllLivesMatter

Waaroor gaan die kabaal? (Dit is nie een nie)

Een van die vrae wat mense dikwels vra, met groot eerlikheid, is waaroor die "kabaal" van #BlackLivesMatter gaan. Is dit nie liewer 'n geval van #AllLivesMatter nie? Die tema is genoeg om baie mense warm onder die kraag te maak.

Tinus van Zyl, predikant by Durbanville Moedergemeente, het gaan kers opsteek by
Wilhelm Verwoerd en Nadine Bowers-Du Toit waaroor #BlackLivesMatter gaan. Dit maak 'n baie interessante gesprek, wat help om te verstaan waaroor dit gaan. Klik hieronder om na die insiggewende gesprek te kyk.
blacklives

Gender-based violence

Stream #WeAreDyingHere Stage Production

Gender-based violence has unfortunately once again become a topical conversation with stories on gender-based violence emerging at an alarming rate. The Beyers Naudé Centre for Public Theology has announced that there will be a screening of the pre-recorded performance of #WeAreDyingHere online from 22 June - 6 July.

This thought-provoking stage production shares the responses of three women to the prevalence of the violent culture of harassment, abuse, rape and femicide in South Africa and around the world.
Click on the following link to get more information on the streaming platform and to buy tickets that can be used to view the performance any time within the two-week period. Watch the trailer here. (Met dank aan VrydagNuus)
wearedyinghere

DinkJeug Podsending

dinkjeug
Grendeltyd is en was ‘n uitdaging vir almal. Daarom dink DinkJeug dat dit baie belangrik is dat die grendeltyd ge-"debrief" of ontlont word by kinders en tieners. Vir enige ervaring, positief, negatief of om 'n geloofsvormende belewenis te wees, is dit belangrik om introspeksie te doen en daaroor te gesels.

Lees of luister gerus na hulle jongste potgooi hier vir wenke hoe jy so 'n gesprek kan fasiliteer. (Met dank aan Vrydagnuus)

Zoom-aanbieding

VBO: Die Enneagram met Deon Loots

Die Enneagram is 'n kragtige instrument vir dieper kennis van jouself en dit wat jou motiveer in die lewe. Dit bring ons tot ʼn dieper besef van ons lewenswyse op die oomblik, en help ons ontdek wat nodig is vir groei in ons volwassenheid as mense. Dit beskryf verskillende persoonlikheidstipes, maar bevat (anders as ander soortgelyke instrumente), 'n innerlike dinamika wat op verandering van gedrag gerig is.
Die instrument bied meer as net interessante inligting oor jouself. Dit nooi ons uit om ons kompulsiewe gedragspatrone in die oë te kyk en om te leer om dit te laat gaan. Dit maak ons bewus van gedragspatrone, waarvan ons heel dikwels onbewus is, sodat ons insig kan kry in ons manier van optree. Die doel van die Enneagram is dus om ons uit te nooi om keuses te maak wat tot groter vryheid in ons menswees kan lei.

Deon Loots bied die materiaal aan as hulpmiddel op die reis van dissipelskap. Daarom ook 'n kragtige hulpmiddel op jou geestelike reis en -groei.

Wanneer: 16 - 19 Julie

Donderdagaand 18:30 - 21:30.
Vrydagaand: 18:30 - 21:30
Saterdag: 08:30 - 19:30 (met genoeg onderbrekings vir etes)
Sondag: 08:30 - 16:30

Aanbieder: Deon Loots.

Stel belang?
Vra inskrywingsvorm aan by: dissipel@gmail.com

VBO: Excelsus se VBO-jaarprogram vir 2020

ExcelsusLogo
Klik hier om Excelsus, die VBO-sentrum aan die Universiteit van Pretoria, se 2020-jaarprogram vir VBO af te laai. Danksy Covid-19 vind die meeste opleiding aanlyn plaas, en is dus maklik toeganklik en bekostigbaar.

facebook twitter