Jaargang 21 - Nommer 14 - 23 Junie 2023
Beste leser,

In hierdie uitgawe:

  • Die SA-ekonomie vanuit gemeentes se perspektief - prof Jannie Rossouw
  • Klankopnames van voordragte by Groot Predikante-konferensie is beskikbaar
  • "Geagte president, ons moordkoers laat ons land na 'n oorlogsone lyk", sê kerke
  • Zondo-verslag: Draai die skroewe op die regering aan, vra SA Raad van Kerke
  • Leraars beweeg

Vredesending na Oekraïne en Rusland

Kerk vra Ramaphosa om ook na verslegtende situasie in SA te kyk

Ons is vol deernis oor die Oekraïne, maar plaaslik het die politieke proses Suid-Afrikaners gefaal soos uit die moordkoers blyk, herinner kerke pres. Ramaphosa, hier afgeneem by 'n kranslegging vir Oekraïniese oorlogslagoffers

Dr Gustav Claassen, Algemene Sekretaris, som kerke se boodskap oor die oorlog in die Oekraïne op, maar vertel ook dat kerke die regering aandring om ook na die verslegtende situasie, waaronder die hoë moordkoers, in die RSA te kyk. In ons eie land sterf mense asof hulle in 'n oorlogsone is.

Hy vertel aan Kerkbode:

Aartsbiskop Thabo Makgoba het egter in sy nuutste verklaring, waarskynlik met die besoek van president Cyril Ramaphosa en sy afvaardiging aan die Oekraïne en Rusland, die aandag wat die tragedie in die Oekraïne kry, gebruik om die fokus op die verslegtende situasie in Suid-Afrika te plaas.

Makgoba vra die vraag: “Terwyl ons oor Oekraïne dink en bid, is daar kritici wat vra: Wat gebeur in SA? Dit is ’n geregverdigde vraag want,” sê hy, “politiek het Suid-Afrika gefaal”.

Dieselfde riglyne moet geld vir die Oekraïne as vir Suid-Afrika, waar meer as 27 000 mense vermoor is vanaf April 2022 tot Maart 2023, of 45 per 100 000 mense. Dit kom neer op nie minder nie as 75 mense per dag regoor Suid-Afrika.

Lees die volledige skrywe.

SA Raad van Kerke

Dis 'n jaar na die Zondo-verslag. Wat is daaraan gedoen? Baie min. Wat nou?

Veel groter dringendheid is nodig met die implementering van die aanbevelings in die Zondo-verslag oor staatskaping. Dit is afgryslik dat so min bereik is om die aanbevelings van 'n sleutelverslag wat die land byna 'n biljoen rand gekos het. Daar is ook min inligting beskikbaar oor wat wel bereik is.

So sê die SA Raad van Kerke (SARK) in 'n media-verklaring van 22 Junie 2023 wat saamval met die datum waarop die Zondo-verslag verlede jaar uitgereik is. Die NG Kerk is 'n lidkerk van SARK.

SARK roep die publiek op om eienaarskap van die stryd teen korrupsie te neem, en om die Zondo-verslag as belangrike wapen in hierdie stryd op te neem. Die verslag het praktiese aanbevelings gemaak om wanbestuur van openbare fondse te verhoed, aankoopprosesse van korrupsie te vrywaar, die aanstigters van korrupsie uit te sorteer, om eerlike amptenare te beskerm en so ook fluitjieblasers. Die publieke aandrang dat hierdie maatreëls sigbaar geïmplementeer word moenie laat vaar word nie.

Die feit dat geen van die ernstige wandade wat Zondo uitwys, nog vervolg is nie. Volgens die Valke is nog net die vervolging van twee relatief junior amptenare afgehandel. Dit is onaanvaarbaar.

Voorts wag ons nog op wetgewing wat fluitjieblasers beskerm. Fluitjieblasers plaas dikwels hul lewens op die spel. Hul regte word beskryf in 'n beleidsdokument van die Verenigde Volke ("Article 32(2) of the United Nations Convention Against Corruption").

SARK beplan 'n publieke aanlyn seminaar oor fluitjieblasers wat op 5 Julie 2023 op Facebook gestroom al word, @OfficialSACC.

Lees gerus die volledige media-verklaring.

Klankopnames en Powerpoints

Uitstekende voordragte tydens Groot Predikantekonferensie beskikbaar

Die klankopnames van die voordragte deur prof Marius Nel en dr Tiesie de Coning tydens die pasafgelope predikante-konferensie by Willows is beskikbaar. Prof Nel het oor die nuutste Jesusnavorsing gesels en dr De Coning oor selfsorg vir predikante.

Dit is insette van besondere hoë waarde.

Klik hier om toegang tot die klankopnames te verkry. Die powerpoints wat prof Nel gebruik het, is ook aanlyn beskikbaar - klik hier,
Prof Marius Nel afgeneem tydens die predikante-konferensie met 'n paar van sy oud-studente, vlnr voor: Bianca Marais, Stephan Naudé, agter: Micaela Wahl, Tijane Pieterse, Marius Nel, Ruan Nieuwenhuizen en Robert-John de Kock.

Prof Jannie Rossouw

Die Suid-Afrikaanse ekonomie vanuit gemeentes se perspektief

Prof Jannie Rossouw, ekonoom, sentrale bankier, besoekende professor aan Wits se Besigheidskool en NG lidmaat skryf oor die impak van die ekonomie op die NG Kerk. Hier is 'n uittreksel uit sy inset:

Die Suid-Afrikaanse ekonomie strompel tans deur ‘n langdurige ekonomiese insinking, wat reeds in Desember 2013 begin het. Tipiese middelklaslidmate van die NG Kerk is gevolglik onder toenemende ekonomiese en finansiële druk. Hierdie ekonomiese en finansiële druk bring weer gemeentes se finansies in gedrang. Lidmate besuinig op alle uitgawes, wat gemeentelike bydraes insluit. Gemeentes het bates, maar oënskynlik hoofsaaklik in die vorm van geboue. Ongelukkig kan geboue nie inkrementeel verkoop word soos finansiële bates nie. Gemeentes moet dus noukeurig hul inkomstes, uitgawes en bates oorweeg.

Gemeentes en lidmate ly onder die ekonomiese wanbestuur van die regering. Die ontwrigting van beurtkrag is net een voorbeeld van hierdie wanbestuur. Ongelukkig gaan Suid-Afrika nie groot nuwe investering en gevolglik versnelde ekonomiese groei sien terwyl die land onder beurtkrag ly nie.

Die ekonomiese en gepaardgaande maatskaplike nood is hoog in Suid-Afrika. Die regering is te blameer vir die ekonomiese krisis wat Suid-Afrika in die gesig staar. ‘n Onbevoegde en korrupte ANC-regering het Suid-Afrika op die pad van die huidige (en voortslepende) krisis gelei. Dit is onredelik om te verwag dat die ANC sal verander terwyl die party aan bewind is. Die geleentheid vir selfverryking is eenvoudig te groot.

Ekonomiese verandering sal dus op ander wyses bereik moet word. Die burgerlike samelewing en geloofsgemeenskap sal die regering moet uitdaag om in die ekonomiese en finansiële belange van Suid-Afrikaners op te tree, eerder as vir eie selfsugtige selfverryking.

Lees sy volledige, insiggewende meningstuk.

Sjopp en Sjerrie by King William's Town

Vakature: Predikantspos (onbepaalde termyn) Blouwaterbaai Familiekerk

Blouwaterbaai Familiekerk is 'n liefdesgemeenskap wat vir Jesus dissipels maak. As gestuurde gemeente is dit ons fokus om die evangelie van Jesus se liefde aan al die mense in en om ons gemeenskap te bring. Ons is tans 40 doop- en 272 belydende lidmate. Blouwaterbaai is 'n voorstad van die vriendelike Gqeberha (Port-Elizabeth).

Klik hier om die posbekendstelling te lees. Die sluitingsdatum is 21 Julie 2023.

Vakature: Inrigtingshoof Huis Van der Horst Tehuis vir Bejaardes op Aliwal-Noord

Huis van der Horst adverteer tans die pos van inrigstingshoof en -bestuurder. Klik hier vir die posbekendstelling. Die sluitingsdatum is 21 Julie 2023.

Word opgelei as Veritas-fasiliteerder by PE-Wes Kerk op Pad

Hierdie aanbieding strek oor 4 dae (4 tot 7 Julie 2023) en word deur dr Chris van Wyk van Veritas Kollege aangebied. Hier is meer inligting, waaronder die koste van die opleiding. Skryf in deur e-pos te stuur aan kerkoppad@gmail.com.

Word opgelei om die gemeenskap geestelik te dien - word 'n "kapelaan"

Hierdie opleiding strek oor vier dae (26-30 Julie 2023) en word aangebied deur dr Willie du Toit. Hier is meer inligting, waaronder die koste aan die opleiding verbonde. Skryf in deur e-pos te stuur aan kerkoppad@gmail.com.

Opleiding as Brugpredikant

Die verwisseling van ’n predikante in gemeentes kan hierdie gemeentes in ’n tyd van onsekerheid laat. Die pad vorentoe is onseker totdat ’n nuwe permanente bediening weer in plek is.

Hierdie kursus poog om brugpredikante op te lei vir die fasilitering tydens hierdie oorgang periode, tot voordeel van die gemeente.

Die volgende kursus word vanaf 31 Julie tot 4 Augustus 2023 aangebied en dan weer van 30 Oktober tot 2 November 2023. Die kursusleier is Prof Malan Nel.

Vir die geleentheid kan 70 VBO krediete verdien word. Kursus koste is R2800 (BTW ingesluit. Dit word aangebied by die NG Kerk Stellastraat in Pretoria

Vir navrae kan Irene Thomas gekontak word by: 012 420 4952 of epos:irene.thomas@up.ac.za

Leraars beweeg

Ds Jan Grobbelaar van die NG gemeente Cradock-Oos is beroep na Patmos-gemeente in Gqeberha.

Dr Jaco Barnard van Garsfontein-gemeente het die beroep na Despatch-Eendrag aangeneem

Prop. Tijané Pieterse het die beroep na Lorraine Gemeente aanvaar en word bevestig op Sondag, 2 Julie by die oggenddiens om 09:00. Sy is reeds vanaf 1 Junie 2023 in diens van die gemeente.

Ds Rethie van Niekerk ontvang op 25 Junie 2023 demissie by Blouwaterbaai Familiekerk.

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars.
facebook twitter