Grens.Pos
Jaargang 18 - Nommer 22 - 30 Julie 2020 - Koninkrykstyd
Beste leser,
jacob-wrestle
Sondag, 2 Julie is die negende Sondag in Koninkrykstyd.
Die teks uit die Leesrooster handel oor Jakob wat in die nag by Pniel met 'n engel van God worstel voordat hy die volgende dag sy vervreemde broer Esau ontmoet. Hy ontvang 'n nuwe naam en identiteit van die Here. Daarmee bevestig God sy belofte van trou aan Jakob en sy verbond met Israel.

In hierdie uitgawe

  • Terwyl die ANC ernstig onder skoot kom vir ritse gruwelike verbrekings van Covid-19-beperkings tydens Andrew Mlangeni se begrafnis, moes predikante in Port Elizabeth by die polisie hoor inhegtenisneming sal volg as meer as 50 mense op 'n kerkterrein in motors vir 'n erediens bymekaarkom.
  • Ons leer daagliks nuwe dinge oor Covid-19, belangrike dinge om te weet vir die voorkoming daarvan en vir die versorging van persone wat daaraan ly.
  • Watter geestelike lesse leer ons in 'n tyd soos hierdie? Wat beleef lidmate en leraars?
  • Hoe werk die nuwe wet op die beskerming van persoonlike inligting en wat beteken dit vir gemeentes?
  • Vrouemaand breek eersdaags aan. Daar is daaglikse oordenkings dwarsdeur Augustusmaand beskikbaar.
  • Die nuwe Direkte Afrikaanse Bybelvertaling word later vanjaar bekendgestel. Medewerkers vertel meer oor die benadering en agtergrond tot hierdie vertaling.
  • Daar is hulp vir mense wat op moedverloor se vlakte is.

Polisie moniteer kerke oor Covid-19 regulasies

Eredienste in parkeerterreine in Port Elizabeth ook beperk tot 50 persone

Polisie in Nelson Mandelabaai het aangekondig hulle moniteer gemeentes se inry-eredienste om seker te maak dit voldoen aan Covid-19 regulasies. Wetgewing bepaal eredienste word tot 50 persone beperk en dit geld ook inry-eredienste, het polisiewoordvoerder kol. Priscilla Naidu aan Algoa FM gesê. "Vyftig persone beteken nie 50 motors nie, maar 50 individue," aldus Naidu.

Terwyl Nelson Mandelabaai een van die korona-brandpunte is, het die polisie 'n beroep gedoen op geloofsgebaseerde organisasies om aan die reëls te voldoen.

Predikante het hierdie reëling met ongeloof begroet. Dit is verby belaglik, het 'n leraar aan Grens.Pos gesê. "Niemand verlaat hul motors nie, ons open nie die kerkgebou, selfs die toilette nie, hou die erediens kort en almal bring hulle eie wyn en brood vir nagmaal. Hoe kan dit 'n risiko wees?".
inry-erediens
Die toneel tydens 'n inry-erediens by 'n gemeente in Port Elizabeth. Volgens die SA Polisiediens hou so 'n byeenkoms 'n groot risiko vir korona-verspreiding in wanneer meer as 50 individue in die motors teenwoordig is.

Drakoniese regulasies skep moderne verskroeide aarde

Staat maak inbreuk op godsdiensregte en verwoes lewens

Crompton
Pastoor Jimmy Crompton van Word of Faith praat oor verwikkelinge
In 'n brief aan die SA Polisiediens skryf Word of Faith Christian Centre in Port Elizabeth dat sommige van die inperkingsmaatreëls irrasioneel en diskriminerend is. Via hul prokureurs sê die kerk die polisie maak inbreuk op godsdiens- en bewegingsregte, berig The Herald.

Hierdie standpunt is in verskeie plasings op die gemeente se Facebookbladsy herhaal.

Die brief vergelyk 'n kerk se parkeerterrein met 'n parkeerarea van 'n winkelsentrum. Die een word beperk, die ander nie. Casino's mag 50% van hul spasies benut, sy gemeente slegs 5%, sê pastoor Jimmy Crompton van Word of Faith.

In antwoord op hierdie skrywe het die SA Polisiediens laat weet hulle moniteer eredienste en sal enigeen aankla wat die beperking van 50-persone oortree. Ook in motors op die parkeerterreine van kerke.

Professor in kerkreg sê regte word vertrap


In sy gereelde rubriek in Kerkbode vergelyk prof Johan van der Merwe, professor in kerkreg by Tukkies, die huidige Covid-19-regulasies met die optrede van die Britse magte onder Milner en Kitchener tydens die Suid-Afrikaanse oorlog van 1899- 1902. Plase is afgebrand en mense se manier van lewe verwoes. "Wat op die oomblik onder leiding van die ANC-regering in Suid-Afrika aan die gebeur is, is niks anders as 'n nuwe vorm van verskroeide aarde nie," sê hy.

Volgens Van der Merwe is die inperking van eredienste ook 'n voorbeeld van hierdie verskroeide aarde beleid. Slegs 50 mense word in reuse kerkgeboue toegelaat, terwyl bywoning in casino's deur die oppervlak van die ruimte bepaal word. Aanbidding en saamwees gaan in hierdie vlamme op. Kerke moet hulle stem dik maak, skryf hy.

Mediese kennis oor Covid-19 neem vinnig toe

Hoewel Covid-19 as siekte nie verander het nie, neem die mediese insig oor die siekte self en die verspreiding daarvan met rasse skrede toe. Dit is belangrik om op hoogte hiervan te bly, want dit help om dit te vermy, maar ook om gepaste aksie te neem wanneer jy of 'n geliefde dit kry.

Toe die eerste Covid-19 geval op 5 Maart 2020 in SA aangemeld is, het ons die volgende nege dinge nog nie so helder oor Covid-19 verstaan nie:
  • Die virus kan in die lug rondhang en sweef in mikroskopiese eenhede wat as "aerosols" bekendstaan, en mense verder as twee meter infekteer, veral in toe, bedompige areas sonder ventilasie. Vermy daarom skares, hou jou afstand, dra jou masker wanneer jy jou huis verlaat en was jou hande.
  • Gesigmaskers is absoluut noodsaaklik om die verspreiding van die virus te bekamp
  • Covid-19 affekteer die hele liggaam, nie net die longe nie. Aan die begin is koors, hoes en kortasem as die primêre simptome gesien. Dit het vinnig duidelik geword dat die siekte veel meer sisteme in die liggaam aantas en lei tot naarheid en diarree, duiseligheid en verwarring (tas die brein aan), bloedklonte, hartaanvalle en ander orgaanversaking (soos nierskade).
  • Kinders en jonger volwassenes is ook aan risiko blootgestel. Hoewel die sterftekoers dramaties toeneem by persone bo 55, veroorsaak dit ook beroerte en inflammatoriese siektes by kinders en jong volwassenes.
  • Die virus ignoreer seisoene, dalk versprei dit bloot vinniger wanneer mense in koue maande meer binnenshuis is, maar daar is ook in warm maande uitbrake regoor die wêreld.
  • Covid-19 is veel dodeliker as tradisionele griep en verkoue - hierdie les is veral bedoel vir stompsinnige politici oor die wêreld heen wat Covid-19 as net nog 'n griep afgeskryf het.
  • Die virus gaan nie op sy eie verdwyn nie. Blote "lockdowns" los nie die probleem op nie, dit koop net tyd vir voorbereiding. Reg oor die wêreld - ook in die grote VSA - word politici daarvan beskuldig dat hulle die ruimte wat lockdowns skep om gesondheidsisteme voor te berei, verkwis het.
  • Mense versprei die virus sonder dat hulle dit weet. Hulle het Covid-19, vertoon nie simptome nie, en word dan super-verspreiders daarvan. 'n Klein fraksie mense veroorsaak die meeste infeksies. Dit is soos die een vonkie wat die hele bos aan die brand steek.
  • Dit lyk of ons suksesvolle immunisasie sal ontwikkel. Talle produkte word tans ontwikkel en getoets, maar veral drie afsonderlike groepe - in China, by die Oxford-universiteit en in die VSA - het belowende eerste toetslopies agter die rug. Elkeen van die toetse het 'n immuunrespons uitgelok en het geblyk veilig te wees. 'n Inentingsmiddel hoef net 50% effektief te wees om bemarkbaar te wees.
Hierdie is 'n opsomming van 'n artikel deur Robert Roy Britt wat op medium.com verskyn het. Lees die artikel hier.

Hoe maak Christene sin van Covid-19?

Lesse geleer in donker tye

Lesse geleer uit donker tye
Uitenhage-Noord se leraars, Tobie van Schoor en Chris Weyers, het 'n gesprek met die gemeente begin oor die tema: "Lesse geleer in donker tye". In verskillende bydraes op Youtube bring hulle God, geloof, belewing en ons omstandighede in interaksie met lidmate se insette met mekaar in verband. Klik op die skakel hierbo om die eerste bydrae in die reeks te sien. Die ander bydraes is ook op hul Youtube-kanaal.

Bekende skrywer vertel

"Wat ek in grendeltyd geleer het"

Bekende skrywer en teoloog, ds Jaco Thom, vertel op sy blog hy het in grendeltyd geleer om nie op prinse te vertrou nie, maar ook dat hy sosiale kontak bitter nodig het. Die drakoniese inperkingsmaatreëls maak nie altyd vir hom sin nie, en dit kom voor of die regering 'n verskuilde agenda het. Baie geloofwaardigheid is ingeboet. Die Bybel is reg: moenie op prinse vertrou nie.

Wat die inperking doen, is om te onderstreep hoe nodig hy mense het, skryf Thom. "Ons is sosiale mense wat mekaar nodig het. Dit is die ubuntu-beginsel: ’n mens is ’n mens deur sy medemens. Sonder ander sukkel jy. Daarom is ek baie jammer en besorg oor mense wat alleen woon."

"... wat ek moet noem, is dat die Here vir my goed is, nie net in tye van voorspoed nie, maar ook in tye van swaarkry. Dis nie iets wat ek nou eers geleer het nie, maar iets wat nou weer vir my baie beteken. Ons aanbid 'n wonderlike Here!"

Vir hom het dit verder duidelik geword hoe barmhartig gelowiges en ook lidmate van die NG Kerk is. "Die derde ding wat ek geleer het, is dat ons mense ’n oop hand vir ander het. Daar is haas nie ’n gemeente wat nie een of ander hulpskema het nie, om kos en ander benodigdhede aan dié in nood uit te deel. Ek onthou daar was ’n tyd toe lidmate gewillig was om by te dra as die hulp aan 'ons mense' gaan. Ek prys die Here dat ons in dié opsig groot treë gegee het om meer mense raak te sien en te help. En ek dank die Here vir elkeen wat ’n oop hand het – boere, salaristrekkers, selfs pensioentrekkers."

Lees die volledige artikel hier.

Gemeentes moet ook aan die Popi-wet voldoen

Leer meer oor nuwe wetgewing wat persoonlike inligting beskerm

popia
Die sg Popi-wet (Protection of Personal Information ACT - POPIA) wat reeds vir jare in die pyplyn, het op 1 Julie 2020 amptelik in werking getree. Organisasies het tot 30 Junie 2021 om in alle opsigte aan die wetgewing te voldoen.

Daar rus nou formele verantwoordelikheid op gemeentes om die inligting van persone waaroor hulle beskik verantwoordelik en volgens bepaalde reëls te hanteer.

Hier is uitstekende infografika wat die Popi-wet toelig, met skakels na verskillende webinare wat aanlyn gevolg kan word sodat gemeentes toegerus kan wees om die wet toe te pas.

Insette wat die moeite werd is

Forming a goodness culture in churches that resist abuses of power and promotes healing

Op 'n onlangse eKerk-seminaar het prof Scot McKnight vertel hoe 'n toksiese kultuur in gemeentes lyk, en hoe dit kontrasteer met "goedheid" volgens die Bybel. God het alles "goed" gemaak, en die Bybel roep ons op honderde plekke op om ook so goed te wees. Tog het nie net baie mense nie, maar ook sisteme (soos gemeentes) vasgeval in 'n kultuur wat blinde lojaliteit aan die sisteem, narsisisme, leuenagtigheid en misbruik van mag standaardpraktyk maak. McKnight skryf tans 'n boek oor hierdie tema saam met sy dogter wat lank lidmaat van Willow Creek was waar die senior pastor weens teistering en magsmisbruik in die moeilikheid beland het. Die boek is eers in Oktober beskikbaar, maar intussen kan jy hier en hier iets meer lees daaroor.

Oor diep neerslagtigheid

ENGO, Vrystaatse Ondersteuningsdienste, het 'n pamflet publiseer wat oor diep neerslagtigheid handel. Daarmee word nie kliniese depressie bedoel nie, maar daardie tye van ons lewe waar ons op moedverloor se vlakte is. oorweldig, oorwerk, teleurgesteld en hartseer oor verkeerde keuses in ons lewe. Dit handel oor seisoene in ons lewe wanneer ons met emosies van verlatenheid en bedreiging onder die besembos is, soos Elia. Dit handel vir tye in ons lewe waar ons net uitgeput is. Klik hier. (Dank aan Vrypos, Vrystaatse nuusbrief)

Die kollig op geestesgesondheid

'n Inligtingstuk deur Alexander Forbes help met bewusmaking oor geestesgesondheid en die impak daarvan op gesinne en die gemeenskap - lees hier. (Dank aan Vrypos, Vrystaatse nuusbrief)

New publication: Engaging the Fourth Industrial Revolution

Die publikasies Engaging the Fourth Industrial Revolution, Perspectives from theology, philosophy and education, geredigeer deur prof Jan-Albert van den Berg, is nou gratis beskikbaar en kan aanlyn afgelaai word. Klik hier. Deon Kitching van die Blou Platform het op 27 Mei 2020 'n onderhoud met prof Van den Berg gevoer wat hier as podsending beskikbaar is.

Seeking Allah, Finding Jesus

allah-jesus
How do you share the gospel with someone of a different faith? It can be challenging if you don’t know much about that person’s religion—the culture that accompanies it, its religious doctrines, or its differences from Christianity.

In the series Seeking Allah, Finding Jesus, explore the Islamic faith to help understand how to love your Muslim neighbors and share the love of God with them. Author and former Muslim Nabeel Qureshi dives into apologetics and evangelism to evaluate Muslim culture, common Muslim objections to Christianity, and Islam’s core doctrines.

I hope that in watching this series, you can find ways to connect with your Muslim friends and share the good news of the gospel with them from a place of love.

Daaglikse oordenking ter viering van Vrouemaand

vrouemaand
Annelet Slazus laat weet: Kom neem deel aan die reeks oordenkings "Leef as God se geliefde" ter viering van vrouemaand in Augustus. Daar is elke weeksdag 'n kort videoboodskap beskikbaar op die YouTube kanaal: Leef as geliefdes van God. Klik hierbo vir die skakel.

Nuwe Publikasies deur Bybel-Media

Bybel-Media is tans besig om kategeseprodukte te hersien, met die eerste katalogus vir voorskoolse kategese wat vandeesweek bekendgestel is.

bm2
-
bm1
-
bm3
-
Steytlerville

Bybelgenootskap

Virtuele stap of hardloop vir Bybels

Ds Ben Fourie van die Bybelgenootskap laat weet die Bybelgenootskap hou op 22- 23 Augustus 'n virtuele stap/hardloop vir Bybels hou. Alhoewel die inskrywingsvorm net drawwers en stappers noem, kan fietsryers ook hier inskryf. Versoek asseblief u gemeentelede om hiervoor in te skryf. Hulle kan 5/10/21/42 km stap of draf. Die inskrywingsgelde gaan vir die 2 miljoen Bybelprojek.

Die skakel is: https://www.modernathlete.co.za/run-walk-for-hope-race/

Moedig asb. u gemeentelede aan om vir Bybels te stap. Hulle kan self op enige plek in die wêreld ʼn roete naby hul huis stap en dit op die webtuiste registreer. ʼn Wonderlike, maklike manier om deel te neem.

DinkJeug Webinaar

Kreatiewe planne vir kategese in die "tussentyd"

Grendeltyd het kategese (soos ons dit ken) opgeskort en dit mag dalk nog ‘n paar maande so voortduur. Intussen het 'n hele aantal gemeentes met kreatiewe idees na vore gekom soos inry-eredienste, blitsbesoeke, ouertoerusting en interaktiewe aanlynbyeenkomste.

Kom luister na stories van gemeentes wat buite die boks dink om aan te hou om geloof te vorm en kry ‘n plan vir kinder- en tienerbediening in jou konteks vir die “tussen-tyd” waarin ons tans verkeer.

Inskrywings is gratis, maar plekke vir die Zoom webinaar is beperk - so registreer asseblief vroegtydig hier. Predikante kan vyf VBO punte verdien.
dinkjeug

VBO: Excelsus se Lentekonferensie vanjaar volledig aanlyn

Roetekaart: Van wond tot verwondering

Lentekonferensie2020
Die konferensie begin Maandag 14 September en eindig Vrydag 18 September. Excelsus is nog besig om al die reëlings te finaliseer en sal die brosjure en skakel na die aanlyn-inskrywingsvorm stuur sodra dit gereed is. Dagboek asseblief nou al hierdie datum. Rig navrae aan die e-pos adres soos hierbo verskaf.

VBO: Verlies tydens Covid-19

Die Covid-19-pandemie het lidmate op verskeie vlakke geraak en almal ervaar een of ander vorm van emosionele verlies. Die uitgerekte grendeltyd, die onsekerheid oor die toekoms, verlies aan inkomste, groter wordende werksloosheid in gemeenskappe, skole se aanpassings met nuwe regulasies en nog baie meer, het bygedra tot mense se ervarings van spanning en verlies.

Hierdie is die eerste van ‘n reeks van drie webinare. Communitas nooi lidmate en predikante uit om te kom luister na ’n paneel wat in hulle daaglikse werk met lidmate, kollegas en werknemers hiermee moet omgaan.

Deelname is gratis, maar skryf asseblief so gou moontlik in, aangesien daar ‘n beperking in getalle is vir die Zoom webinaar. Predikante kan vyf VBO punte.

Klik hier om te registeer. Meer inligting hieronder.
communitas

VBO: Brugbediening

Hierdie vlagskipkursus word aangebied deur die Sentrum vir Kontekstuele Bediening by die Universiteit van Pretoria.
Datum: Week 1: 09-12 November 2020; Week 2: 22-25 Februarie 2021
Doel: Verandering van predikant in ’n gemeente laat so ’n gemeente in ’n tyd van onsekerheid. Die pad vorentoe is onseker totdat ’n nuwe permanente bediening weer in plek is. Hierdie kursus poog om brugpredikante op te lei vir die fasilitering tydens hierdie oorgangsperiode, en tot voordeel van die gemeente.
Kursusleier: Prof. Malan Nel
Kursuskoste: R2500 (vat inkl)
Plek: Universiteit van Pretoria
Kursus punte : 70
Kontak: Hesmarie Bosman, 012 420 4952 of e-pos: Hesmarie.Bosman@up.ac.za
(André Bartlett Hoof: Excelsus - Sentrum vir Voortgesette Bedieningsontwikkeling)

VBO: Teologiese Konferensie oor die 2020 Afrikaanse Bybelvertaling aanlyn beskikbaar

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika stel op 29 November vanjaar die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans bekend.

In 'n virtuele teologiese konferensie wat op Youtube beskikbaar is, bespreek lede van die vertaalspan, onder leiding van prof Bernard Combrink, die uitdagings en interessanthede rondom hierdie vertaling. Deelnemers sluit proff Bernard Combrink, Christo van der Merwe, Jacobus Naudé, Jorrie Jordaan en Ernst Kotzé in.

Hier is die Youtube-skakel na die konferensie.

Persone wat na die hele video kyk kan laat weet - ons gee vir jou 5 VBO-punte daarvoor.

Ds Gerrie van Dyk van Bloemfontein skryf die volgende toeligting oor hierdie konferensie: Omdat sprekers dit self moes opneem met die toerusting waaroor hulle beskik, verskil die onderskeie opnames. Dit beïnvloed geensins die inhoudelike kwaliteit van die konferensie nie!

Daar is reeds 'n aantal vrae en antwoorde op die webwerf beskikbaar: www.bybeldirektevertaling.co.za.
Laai gerus ook die boekie "Die Bybel - Hoop vir almal!" op die Bybelgenootskap se webwerf af: www.bybelgenootskap.co.za.

Byvoorbaat ‘n groot dankie aan prof Bernard Combrink wat die hele vertalingsproses gefasiliteer het en al die betrokke sprekers op Zoom gereël het vir die aanlynkonferensie.

VBO: Verstaan die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans

vertaal
Wil jy graag meer weet oor die vertalingsmetode agter die Direkte Vertaling van die Bybel in
Afrikaans wat in 2020 verskyn?

Die Departement Hebreeus aan die UV het ‘n semesterkursus in Moderne Bybelvertaling op derdejaarsvlak ontwikkel om jou nuuskierigheid te bevredig. Enige persoon met minstens Hebreeus 2 kan inskryf, al het jy dit 30 jaar gelede gedoen en al is jou Hebreeus verroes.

Die kursus word virtueel aangebied (ZOOM). Jy kan dus in jou eie studeerkamer voor jou rekenaar sit en deelneem. Jou klasmaats, die dosent en die Powerpoint sal op jou skerm wys. En hulle sal jou en al jou vrae hoor!

Julle gaan praat oor die invloed van nuwe ontdekkings in die grammatika, literatuur en kultuur op die 2020-vertaling, asook die rol wat ideologie hierin speel. Trouens, verskillende vertalings word uit hierdie hoek vergelyk. En nog baie meer. Die kursus is so prakties dat dit vir jou Bybelstudie en preekmateriaal in die hand sal gee.

Koste is ongeveer R5 515.00 (RSA) en R7 625 (ander SADEC-lande)

Sluitingsdatum vir aansoeke – gedurende Julie 2020.

Jy sal as geleentheidstudent moet registreer, Prof Cynthia Miller-Naudé - millercl@ufs.ac.za
of 071 670 1629, Departementshoof van Hebreeus, sal jou hiermee help. Kontak haar so gou as
moontlik.

‘n Volledige inligtingspamflet is beskikbaar by:
Prof Jacobus Naudé - naudej@ufs.ac.za of 078 458 9982.

VBO: Excelsus se VBO-jaarprogram vir 2020

ExcelsusLogo
Klik hier om Excelsus, die VBO-sentrum aan die Universiteit van Pretoria, se 2020-jaarprogram vir VBO af te laai. Danksy Covid-19 vind die meeste opleiding aanlyn plaas, en is dus maklik toeganklik en bekostigbaar.

boublokke2
KLIK HIER OM TE SKENK
facebook twitter