|
|
|
Jaargang 21 - Nommer 8 - 21 April 2023
|
|
|
|
|
|
In hierdie uitgawe:
- Inskrywings is oop vir die Groot Predikantebyeenkoms - skryf nou in
- Gemeentes opgeroep tot gebed vir gesinne
- Verskeie VBO-geleenthede en heerlike kuier-kanse
- Leraars beweeg
|
|
|
|
|
|
Inskrywings vir die Groot Predikante-byeenkoms open
|
|
|
|
Alle Oos-Kaaplandse predikante en diensleraars word aangemoedig om die Groot Predikantebyeenkoms by te woon. Dit vind van 6-8 Junie 2023 by die Willows Konferensiesentrum en Vakansieoord digby Port Elizabeth plaas.
|
Die doel is om samesyn en vriendskap bevorder, dus mekaar beter leer ken, geestelik versterk word, lekker ontspan en bewus word wat die Here vir ons as 'n groep op die hart druk.
|
Dit sal ook wonderlik wees om na Covid net weer 'n slag as vriende bymekaar te kuier. Natuurlik ook om nuwe vriende te maak. Die klem val op onderlinge bemoediging.
|
Etes, verversings en verblyf is ingesluit by die koste van R400 vir die drie dae. Ons vra wel dat Ringe die reiskoste dra.
Tydens ons dagprogram gaan prof Marius Nel van Stellenbosch insette maak oor sy nuwe publikasie, Ons Wil Jesus Sien (met dr Coenie Burger as medeskrywer). Dr Laetitia de Coning kom prakties oor selfsorg vir predikante met ons werk.
|
Daar is geen formele aandprogram nie, wel aandete, sodat predikante lekker kan saamkuier. Stap, visvang en selfs swem (vir die dapperes) is moontlik. Ons bly in selfsorgeenhede.
|
Etes, verversings en verblyf is ingesluit by die koste van R400 vir die drie dae. Dit is prakties verniet. Die Sinode dra verreweg die grootste deel van die koste. Ons vra wel dat Ringe die reiskoste dra.
|
Inskrywings en meer besonderhede:
|
KLIK HIER om in te skryf. Die sluitingsdatum is 24 Mei 2023.
|
|
|
|
|
Die engele in ons lewens
Ek wil nooit weer ‘n engel wees nie. In die Sondagskoolkersopvoerings was die kinders wat skaam was, of nie kon mooi toneelspeel nie, altyd gekies om engele te wees. Of herders. Jy het net daar op die verhoog gestaan en mooi lyk met ’n wit laken om jou gedrapeer en ’n stralekrans van bloudraad en blinkertjies op jou kop.
|
Ek was selfs in skoolkonserte ’n klip gewees. Toe moes ek net stilsit en sjarrap. Dit laat my dink aan die seuntjie wat gekies is om die herbergier in die kersverhaal te wees. Hy moes net ’n paar woorde sê as Josef en Maria aan die deur klop: Hier is ongelukkig nie plek nie. Maar die aand, met die volgepakte saal wat kyk na hierdie hartseer toneel uit die kersverhaal, gaan hy toe sommer aan op eie inisiatief en sê vir Josef en Maria: “Maar kom in vir ‘n lekker dop!”
|
In die regte wêreld is daar baie engele om ons. Hulle het nie wit lakens om hulle gedrapeer nie, en lyk soos gewone mense, oud, jonk, man, vrou, plooie, hoe ook al. Maar oral waar hulle gaan, raak hulle mense se lewens diep. Met hulle woorde, hulle deernis, hulle sagtheid, hulle voorbeeld.
|
In Trichardt was daar tannie A, mees getroue bywoner van eredienste. Altyd so ernstig, opreg en uit die hart gelowig. Sy het met haar geel karretjie gery tot sy amper negentig was. Almal het geweet dat hulle maar moet aftrek as tannie A aankom, want sy het oral, altyd, ryvoorrang gehad. Want daar was maar insidente. Die paneelkloppers op die dorp het haar karretjie gereeld na insidente teen geringe kostes van sy plooie gestryk. Ek meen die laaste keer wat sy haar kar bestuur het, was pas nadat sy dit teruggekry het van ‘n bakwerkherstel af. Om haar dankbaarheid te wys, bak sy toe vir die eienaar ‘n sjokoladekoek, en op pad om dit na sy besigheid toe te vat, ry sy in die paneelkloppers se bakkie vas. Ek kry nou nog trane in my oë as ek die geboë figuurtjie onthou wat daarna, vooroor gebuk deur baie jare, kerk toe geloop het met haar Bybel onder die arm vir Bybelstudie. Gelukkig was daar vinnig ‘n span wat haar op en af vervoer het.
|
Die engele om my en jou. Kyk mooi uit vir hulle. In jou straat, die pompjoggie by die vulstasie, die vrou agter die winkelkasregister. Ons is nie hier om op die verhoog van die lewe te staan met ’n wit laken om ons soos ‘n Sondagskoolkonsert nie, maar om vir mekaar om te gee, sag te wees, deernis te hê. Luister! Hoor jy dit? Om jou is die gefladder van duisende engelvlerke.
|
Oorgeneem uit Noord-Kaapland e-Nuus
|
|
|
|
|
Stephan Joubert: Die kerk van die toekoms
Prof Stephan Joubert het op 6 en 7 Maart 2023 'n reeks meesterlike voordragte oor die kerk van die toekoms op Upington gehou. Dit is nou op Sinode Noord-Kaapland se Youtube-kanaal beskikbaar. Klik hier om daarna te kyk.
|
|
|
|
|
VBO: Inter-generasionele bediening: Hoe om kinders in hulle wêreld te bereik
"Dit het ons gemeente se bediening onherroeplik verander en bevry," sê 'n dominee na 'n inleidende sessie verlede jaar in Oktober met die Petra Kollege se opleiding rondom geïntegreerde bediening wat kinders insluit. "Skielik voel dit vir my of ons gemeente weer 'n toekoms, en 'n pad na daardie toekoms het".
|
Nou neem ons hierdie toerusting 'n stappie verder. Die Petra Kollege kom in Meimaand leraars en lidmate toerus om op hulle vlak met kinders kontak te maak en hulle deel van die gemeente se bediening te maak. Die kursus staan bekend as "Betree die wêreld van die kind"
|
Kinders het 'n besondere plek in Jesus se hart. Hoe het Hy hulle wêreld betree en verhoudinge met kinders gebou?
|
Die kursus word deur die bekende Petra Kollege aangebied en strek oor vier dae (8-11 Mei 2023). Dit word by die NG Gemeente De Duin in La Rocherylaan, Humewood, aangebied.
|
|
|
|
|
Kursus in Brugbediening en die maak van 'n Gemeentediagnose
Excelsus bring die volgende twee kursusse onder leraars se aandag:
|
Brugbedieningskursus 2023
Die twee weke van die kursus is:
|
Week 1: 31 Julie - 4 Augustus 2023
|
Week 2: 13 - 16 November 2023
|
Die kursus word weer in Pretoria aangebied.
|
Navrae kan direk aan Prof Malan Nel gerig word by malannelup@gmail.com.
|
Werkswinkel: Begeleiers van ‘n Gemeentediagnose
Die Werkswinkel hak weer aan by Week 1 van die Brugbedieningskursus.
|
|
|
|
|
Aanlyn-VBO: Hoe vorm ons gemeenskap in ons gemeentes?
Die hart van ons Christelik-Gereformeerde kerkbeskouing is dat die kerk en gemeente ‘n gemeenskap van gelowiges is wat op sy beurt deur God geroep word om in die gemeenskap waar ons ons bevind ‘n positiewe verskil te maak. In hierdie module word daar gekyk na hoe ons gemeenskap na binne en na buite kan vorm en versterk. Klik hier vir meer inligting en 'n skakel na die insrkywingsvorm
|
|
|
|
|
Dameskring roep gemeentes op om om te bid vir gesinne: 14 Mei 2023
Die Dameskring hou 'n nasionale biddag op 14 Mei vir gesinne, en nooi gemeentes om daaraan deel te neem. Die versoek is dat daar gebid word vir eie gesinne, die heling van gebroke gesinne, die herstel van gesinswaardes en die beskerming van die huwelik.
|
|
|
|
|
Hoogland Gemeente hou KKenK (Koor- Kos- en Kuierfees)
Die Koor- Kos- en Kuierfees vind op 4 en 5 Mei 2023 plaas.
|
|
|
|
|
|
|
Frank Opperman met sy eenmansvertoning, Ek wens ... Ek wens ..., kom Baai toe
|
|
|
|
Kaartjies is te koop op hierdie Webtickets skakel, of by Pick ‘n Pay “MoneyMarket” toonbanke.
|
Kontak Elizna by die Patmos Kerkkantoor 0832589860 vir navrae.
|
|
|
"My melk kook oor" - op 22 April met Marinda Engelbrecht by Lorraine Gemeente
|
|
|
|
|
NG Gemeentes Sondagsrivier (Kirkwood) en Sondagsrivier-Suid (Sunlands): Leraarspos
Termynbepaalde leraarspos: drie jaar kontrakperiode (verwagting is om na voltydse leraarspos om te skakel). Sluitingsdatum: 7 Mei 2023.
|
Beide gemeentes is geleë in die pragtige Sondagsriviervallei waar daar hoofsaaklik met sitrus geboer word. Die gemeentes is ongeveer 25 kilometer van mekaar geleë.
|
Die leraar se standplaas sal by Sunlands wees waar daar ’n ruim pastorie as huisvesting aangebied word. Die leraar sal vir die volledige bediening, soos vervat in Artikel 9 van die Kerkorde, in Sunlands verantwoordelik wees. Daar is ook sekere bedieningsterreine, onder andere die skoolgaande jeug en jong volwassenes, pastoraat, sowel as sommige eredienste in Kirkwood wat spesifiek die leraar se verantwoordelikheid sal wees. Lees die posbekendstelling.
|
|
|
|
|
Leraars beweeg
Ds Danie Nel van Uitenhage-Oos emeriteer op 31 Mei 2023. Hy neem op Vrydag, 26 Mei, afskeid van die gemeente wanneer sy akte van demissie ook deur die ring aan hom oorhandig sal word.
|
Prop Niel Müller is op 16 April 2023 as mede-leraar te Aliwal-Noord Gemeente deur ds Dewald Vermaak georden. Daarna het ds Muller sy intreepreek gelewer.
|
Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars.
|
|
|
|
|
|