Jaargang 23 - Nommer 36 - 21 November 2025
Beste leser,
TEKEN IN op Grens.Pos

In hierdie uitgawe:

  • Dobbel groei aanlyn, dikwels onwettig, en kos die SA-ekonomie (en jou kerk se inkomstestroom) triljoene
  • Die NG Kerk gee om - vir noodlydendes, en sit daad by die woord
  • SAAMkoms vir alle leraars in Augustus 2026
  • Vakatures
  • Leraars beweeg

Die ontstellende groei van dobbel - dikwels aanlyn - Suid-Afrika

Slimfone en vrye internettoegang is deels verantwoordelik vir die onrusbarende groei in aanlyn dobbel in SA

Die dobbelbedryf in Suid-Afrika het in 2024/25 ’n rekordomset van R1,5 triljoen behaal, met aanlynweddenskappe wat nou verreweg die grootste deel van die mark uitmaak. Sowat 60% van alle dobbelinkomste kom reeds uit digitale platforms – ’n verskuiwing wat tydens die Covid-19-pandemie versnel het. Die sektor dra sterk tot die ekonomie by met miljarde rande in belasting en duisende direkte en indirekte werksgeleenthede. In die laaste paar jaar het dobbel met 550% gegroei ter waarde van 17% van die bruto nasionale produk.

Kommer neem toe oor die skerp styging in probleemdobbelary (verslawing), wat tans na raming 31% van spelers raak en groot sosio-ekonomiese koste in gemeenskappe meebring. Tot 60% van dobbel in SA vind aanlyn plaas. Die winsgewendheid van casino's daal.

Boonop vind - buite die amptelike raamwerk - groeiende dobbel op die swartmark plaas. Na beraming vind tot 27% van dobbel tans buite die wettige raamwerk plaas en word nie in amptelike syfers weerspieël nie.

Waarom aanlyn dobbel in SA so dramaties toeneem

Die redes vir die dramatiese toename in aanlyn dobbel lê diep in hoe mense leef, werk en ontspanning kies.

Die eerste groot dryfveer is gerief. Aanlyn casino’s bring die hele dobbelervaring na jou huis toe – sonder die behoefte om te reis, aantrek of jou skedule aan te pas by ’n kasino se openingstye. Vir baie mense is dit aantreklik om vroegoggend of laatnag vir ’n paar minute te kan speel sonder enige moeite of publieke blootstelling. Jy kan letterlik van enige plek dobbel, solank jy ’n toestel en ’n internetverbinding het – of dit nou tydens ’n sakevlug of vanuit jou sitkamer is.

Die tweede groot faktor is die ongekende groei in slimfoonbesit en mobiele internetgebruik. Suid-Afrika het tans meer aktiewe slimfone as inwoners, en byna driekwart van die bevolking het internettoegang. Dit beteken dat miljoene mense onmiddellik toegang het tot aanlyndobbelplatforms. Omdat mobiele dobbel wêreldwyd die meeste inkomste in die bedryf genereer en teen ’n vinnige pas groei, is dit geen verrassing dat Suid-Afrika hierdie internasionale tendens volg nie.

Daarby kom aggressiewe digitale bemarking. Dobbelmaatskappye benut elke moontlike kanaal – van sosiale media tot aanlynvideo’s en selfs openbare ruimtes – om nuwe gebruikers te bereik. Promosies, gratis speelsessies en ooglopende advertensieveldtogte sorg dat mense voortdurend aan die bestaan van hierdie platforms herinner word. Baie van die maatskappye gebruik ook beïnvloeders en bekendes om hul handelsmerke meer sigbaar te maak, ’n strategie wat veral op jong verbruikers groot indruk maak.

’n Verdere rede vir die indrukwekkende groei is die sportbedryf. Wedmaatskappye is toenemend sigbaar deur groot borgskappe in sokker, krieket en ander gewilde sportsoorte. Omdat sport reeds ’n massiewe aanhang het, gee hierdie borgskappe dobbelplatforms toegang tot ’n wye, lojale en sportbehepte gehoor.

Wanneer al hierdie faktore saamwerk – gerief, tegnologie, aggressiewe bemarking en sportborgskappe – skep dit ’n omgewing waar aanlyndobbel vinnig uitbrei. Alles dui daarop dat hierdie groei nie binnekort gaan afneem nie, en dat Suid-Afrika se aanlyndobbelmark in die komende jare waarskynlik een van die groot wêreldspelers sal word.

Lees meer oor die onderwerp deur hier of hier te klik.

'n Kerk wat omgee

NG Kerk versterk rampfonds en kerklik-maatskaplike dienslewering

Kerklik-maatskaplike dienste, soos die Christelike Maatskaplike Raad in die Oos-Kaap, baat by die NG Kerk se bykomende finansiële steun - eintlik is dit die kliënte, soos brose kinders, wat baat.
Tydens die pasafgelope Algemene Sinodale Moderamen (ASM) het die NG Kerk haar enorme plaaslike betrokkenheid by nood versterk. Dit lê spesifiek op twee vlakke:

Steun aan kerklike maatskaplike dienste
’n Nuwe verbintenis fokus op sterker steun aan plaaslike maatskaplike dienste. Oor die volgende drie jaar – 2025 tot 2027 – word ’n jaarlikse bedrag van R1,5 miljoen beskikbaar gestel aan die kerklike organisasies wat by die Kerklike Maatskaplike Diensteraad (KMDR) geregistreer is. Hierdie organisasies, soos die Christelike-Maatskaplike Raad in die Oos-Kaap, identifiseer daagliks nood in gemeenskappe en bied professionele hulp aan kinders, gesinne, mense met gestremdhede en ander kwesbare groepe.

Met die toekenning wil die kerk verseker dat maatskaplike werkers en diensorganisasies genoegsame middele het om vinnig en prakties op dringende behoeftes te reageer en mense in nood met waardigheid te ondersteun. Die KMDR is ’n landwye netwerk van kerklike diensorganisasies en funksioneer as ’n onafhanklike nie-winsgewende struktuur wat ontwikkelingsdienste aan alle mense bied, ongeag agtergrond of oortuiging.

Die skep van ’n vergrote rampsfonds
Benewens die steun aan maatskaplike dienste het die kerk ook haar vermoë versterk om op noodsituasies te reageer. Die bestaande rampsfonds is vergroot tot R4 miljoen, sodat die samestellende sinodes (waaronder Oos-Kaapland) hulp kan aanvra wanneer rampe of onverwagte krisisse plaaslik toeslaan. Die doel is om vinniger ondersteuning beskikbaar te stel wanneer gemeenskappe deur oorstromings, brande, droogtes of ander noodtoestande geraak word.

Geseën om te seën
Hierdie besluit volg op verskeie situasies van uiterste nood waarin die kerk reeds steun moes verleen, onder meer ’n skenking vroeër vanjaar aan mense wat deur geweld en konflik getref is. Die vergrote fonds word moontlik gemaak deur beter-as-verwagte opbrengste uit die kerk se beleggings, wat nou doelbewus aangewend word om gemeenskappe in moeilike tye by te staan.

Algemene Sinodale Moderamen

Wat gebeur wanneer kerkleiers bymekaar is?

Die bestuur van die Algemene Sinode staan bekend as die Algemene Sinodale Moderamen (ASM). Dit bestaan uit vyf lede uit elkeen van die nege samestellende sinodes. Dit is net reg so, want die Algemene Sinode is die eiendom van die nege sinodes, waaronder Oos-Kaapland.

Die jongste vergadering van die ASM het van 11-13 November 2025 te Emseni naby die OR Tambo-lughawe plaasgevind.

Die vergadering is op die onderskeiding van God se wil gefokus en soek na 'n heilsame weg vorentoe vir die kerk. Talentvolle digitale storieverteller DJ Muller het 'n aantal afgevaardigdes gevra wat by dié vergadering gebeur en hoe hulle dit beleef. Dit gee mens baie goeie insig in die doel en aard van so 'n gesprek - klik hier om na die diverse, kort insette te kyk en luister.

5 vrae aan Maartje van der Westhuizen

Sáám vir bemoediging, herverbinding en nuwe hoop

In Augustus 2026 kry predikante en diensleraars van die NG Kerk die kans om 'n slag saam te kom vir ’n unieke saamtrek – die eerste in meer as twee dekades.

In ’n onderhoud met Kerkbode verduidelik ds Maartje van der Westhuizen hoe hierdie byeenkoms bedoel is as ’n ruimte van herverbinding, bemoediging en nuwe hoop. Sy vertel waarom Goudini vir die saamtrek gekies is, watter elemente so ’n week werklik betekenisvol maak, en wat die organiseerders doen om dit vir alle predikante 'n onvergeetlike ervaring te maak. Daar is selfs voorsiening vir tot 800 leraars, met bekostigbaarheid en goeie programontwerp as sleutelprioriteite. Uiteindelik hoop die span dat die saamtrek ’n diep geestelike en verhoudingsbou-impak op die NG Kerk sal hê.

Lees die volledige berig.

EE-opleiding: Egte geloof vir Gen Z

Bybel-Media se produkte vir 2026, en jaarverslag

BYBEL-MEDIA SE 2026-KATALOGUS
Bybel-Media se katalogus met produkte vir 2026 is nou beskikbaar! Laai dit gratis af en blaai daardeur vir alles wat jy op jou geloofspad nodig het. Die katalogus vertel jou meer van ons geloofsvormende produkte wat jou lewe en die lewe van jou gemeente en geloofsgemeenskap kan verryk en verander. Klik hier vir die katalogus.

BYBEL-MEDIA SE JAARVERSLAG: SIEN DIE IMPAK
Ons deel met groot dankbaarheid ons nuutste jaarverslag met jou. Dié afgelope finansiële jaar kon ons talle splinternuwe projekte aanpak en nog meer mense en doelwitte as ooit tevore bereik. Sonder jou sou ons dit egter nie kon regkry nie. Van publikasies, bediening, tydskrifte en koerante wat lig in ’n donker wêreld instuur tot Bybelprodukte en hulpbronne wat ondersteuning bied aan predikante, gemeentes en lidmate – alles was moontlik danksy jou bydrae.Klik hier vir die jaarverslag.

Pragtige Kerskonsert in die Veremarksaal - 30 November

Die Veremark-orrelvereniging bied sy jaarlikse groot Kerskonsert aan in die Veremarksentrum op Sondag 30 November 2025 om 15:00 ten bate van liefdadigheid.
Vier orreliste, Ciska Range, Albert Troskie, Romano Jonathan en Justin Stone, speel feestelike kersmusiek, insluitende die Christmas Celebration van Jonathan Scott op die indrukwekkende Veremark-orrel.

Drie kore – die Cantando@Algoa, die Arbitrio-mannekoor en die kamerkoor, Creed, sal lieflike kersliedere sing. Cantando, o.l.v. Marilise van Rooyen se program sluit in die feestelike Hosanna! Geseënd is Hy wat kom van Gregor en Hosianna! Son of David van Vogler. Die Arbitrio-mannekoor o.l.v. Elbé Coetzee, sing drie werke, insluitende Leonard Cohen se geliefde Halleluja!

Die briljante sopraan, Naomi Grobbelaar, wat onlangs in Port Elizabeth gevestig het, maak haar debuut met die geliefde He shall feed his flock van Handel en O, for the Wings of a Dove van Mendelssohn.

Amore Musicae, ’n fluitensemble o.l.v. Erna Cloete, bestaan uit ses fluite, en speel ’n keurspel van kersmusiek, terwyl die bekende klavier- en orrelduo, Erika Bothma en Albert Troskie twee kersduette sal uitvoer.

Baie spesiaal sal wees die optrede van Muzukidz - ’n junior strykersensemble met 19 jong violiste. Hulle speel ’n keurspel van kersliedere sal ook die gehoor begelei in die sing van Stille Nag.

Toegang is R50. Vir pensioenarisse is dit slegs R40 en vir kinders R20.
Geen voorafbespreking. Kaartjies by die deur. Veilige parkering voor die Stadsaal. Die konsert sal ongeveer 75 minute duur.
Navrae: (Prof) Albert Troskie 082 726 9595

Vir alle Graad 7's, te Lekkeroord

Skoolverwisselingskamp, Oos-Londen (8-11 Desember)

Alle Graad 7's van gemeentes regoor die Oos-Kaap word genooi na 'n kamp wat die belangrike oorgang na die Hoërskool vier. Gemeentes wat graag ook ’n leier uit hul gemeente saam met hul kinders wil stuur, is baie welkom om dit te doen. Die kamp vind van 8-11 Desember plaas.

Lekkeroord is wonderlik geleë, digby een van die mooiste strande in ons provinsie.

Besonderhede oor die kamp is op die kamp se webblad beskikbaar - klik hier. Ds Larry van der Walt, organiseerder, sal gemeentes met bemarkingsmateriaal vir die geleentheid help. Die registrasievorms is ook op die webtuiste beskikbaar. Graad 7’s se ouers kan hulle ook help om aanlyn te registreer. Die koste vir die kamp is R950 en sluit alle etes en verblyf in. Daar sal T-hemde en keppies op bestelling beskikbaar wees.

Rig navrae aan ds Larry van der Walt - klik hier om e-pos te stuur..

Feesmark by Heideveld - 28, 29 November

Kersmark op Grahamstad - 26-29 November

Kersmark te NGK Joubertina (27-29 November)

Kerklike Feesdae en Vakansiedae

Die kerklike fees- en vakansiedae vir 2026 is nou op ons webblad beskikbaar. Klik hier om dit af te laai.

Vakature: Stutterheim Verenigde Gemeente : Voltydse Predikantspos

Stutterheim Verenigde Gemeente is saamgestel uit die plaaslike NG en Presbiteriaanse gemeentes. Die gemeente is op soek na 'n voltydse leraar wat sal tuis voel in ’n plattelandse omgewing waar persoonlike kontak hoog geag word, leierskap kan bied wat ons help om beide ons eenheid te versterk en om uit te reik na nuwe lidmate (veral jong werkendes en families), met deernis en sensitiwiteit ’n diverse gemeenskap kan bedien: jonk en oud, Afrikaans, Engels, afgetredenes, boere, besigheidsmense, staatsamptenare, nuwe intrekkers, en kan voortbou op die wonderlike eenheidsbande wat reeds hier gesmee is.

Klik hier om die posbekendstelling te lees.
Die sluitingsdatum is 20 Januarie 2026.

Vakature: NG Kerk Albanie: Predikantspos

Die NG Gemeente Albanie soek ’n dinamiese, lewenslustige leraar om ons geloofsfamilie te lei en saam met ons te groei in diensbaarheid en geloof. Ons leraar moet ons gemeente se kernwaardes Woordverkondiging, koinonia en diensbaarheid versterk en uitbou.

Klik hier om die posbeskrywings te lees.
Die sluitingsdatum is 30 November 2025

NG Kerk Buffelsrivier (Oos-Londen): Predikantspos

Buffelsrivier is ’n voorstedelike gemeente in Oos-Londen. Dit het ’n lidmaattal van 226 belydende lidmate en 31 dooplidmate. Die geloofsgemeenskap bestaan uit ’n diverse groep mense wat bejaarde afgetredenes en jong werkendes insluit.

Klik hier om die posbekendstelling te lees.
Die sluitingsdatum is 1 Desember 2025.

Vakature Bybelgenootskap: Hoof- uitvoerende beampte

Die BSSA (Bybelgenootskap van Suid-Afrika) nooi toegewyde en geskikte kandidate uit om aansoek te doen vir hierdie strategiese posisie, wat verantwoordelik sal wees vir die organisasie se hoof uitvoerende funksie. Die posbekleër sal verantwoordelik wees vir leierskap, strategiese leiding / rigting, bestuur, goeie korporatiewe beheer en die oorhoofse koördinering van alle bedryfsaktiwiteite. Die HUB sal op die direksie dien, asook op alle relevante streekskomitees.

Klik hier om die posbekendstelling te lees.

Verjaarsdae in November

Baie geluk aan die volgende predikante en diensleraars wat in November verjaar:

5 November – ds Daniël de Kock, NG Gemeente Alexandria
9 November - ds André Lötter, Bybelgnootskap
10 November – ds Marnico Wessels, NG Gemeente Paterson
13 November – ds Armand Crous, NG Gemeente Port Elizabeth-Lorraine
14 November – ds Bianca Marais, NG Gemeente Blouwaterbaai Familiekerk
17 November – ds Sunell Ribbens, NG Gemeente Port Elizabeth-Hoogland

Indien ons 'n verjaarsdag miskyk, laat ons asb weet. Ons stel dit graag reg.

Leraars beskikbaar vir preekbeurte

(Hierdie is 'n dinamiese lys wat voortdurend aangepas word)

Die volgende predikante en diensleraars (meestal deeltydse leraars en/of emeriti) is beskikbaar om aflospreekbeurte waar te neem:

Gqeberha (Port Elizabeth)
Coetzee, ds Jan - 072 320 2844
Crous, ds Armand - 082 659 2616, armandcrous@gmail.com
Loots, ds Deon - 084 855 3444, dissipel@gmail.com
Lötter, ds André - 084 371 3882, dslotter1@gmail.com
Oliphant, dr Anton - 084 516 7109
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van der Merwe, dr Carel - 082 821 7600, clvdm1@gmail.com
Van Rooyen, ds Johan - 082 564 6764
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Vosloo, ds Johan - 083 320 8427, jvosloo51@gmail.com
Weyers, prop Chris - 081 270 4240, cjweyers1203@gmail.com
Wiid, dr Willem - 071 866 0771, wiidwillem@gmail.com

Jeffreysbaai en omgewing
Kampman, ds Jan - 082 657 2375
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van der Merwe, ds Jos - 082 923 3167
Van Niekerk, ds Komatie - 082 455 0359
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Van Wyk, ds Johan - 082 536 2068
Vosloo, ds Johan - 083 320 8427, jvosloo51@gmail.com

Kariega (Uitenhage)
Stümke, ds Christo - 073 462 1660
Swart, ds Sas - 082 552 3175, sas.swart1948@gmail.com
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Vosloo, ds Johan - 083 320 8427, jvosloo51@gmail.com

Port Alfred en omgewing
Barnard, ds Hein - 083 456 0853, heinbarnard@lantic.net (ook beskikbaar vir Ring van Albanie en Oos-Londen)
Van Velden, ds Enslin - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com

Aflos (oral) vir korter of langer periodes
Ds Enslin van Velden - 083 955 7327, enslin.vanvelden@gmail.com
Ds Pieter van Zyl - 073 225 8466, vanpzyl@gmail.com

Predikante wat graag op bogenoemde lys geplaas wil word, kan 'n e-pos met hul besonderhede stuur aan danie@ngkok.co.za
Beskikbaar om die Enneagram en retraites aan te bied

Ds Deon Loots maak die Baai nou weer sy tuiste en is beskikbaar om die Enneagram of retraites in gemeentes of ringe aan te bied (084 855 3444, dissipel@gmail.com).

Leraars beweeg

Ds Christo van Staden het die beroep na die NGK Middelburg-Karoo aanvaar. Hy aanvaar diens op 1 Januarie 2026 en word op 18 Januarie in die amp bevestig.

Ds Riaan Vlok is as predikant na die NG Gemeente Tarkastad beroep.

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars. Hier is meer inligting hoe amptelike kennisgewings werk wanneer leraars beweeg.
facebook twitter