Grens.Pos
Jaargang 18 - Nommer 32 - 3 Desember 2020 - Koninkrykstyd
Beste [subscriber:firstname | default:leser],

In hierdie uitgawe

  • Wat maak ons met Kersfees?
  • Bly verantwoordelik en geduldig en tree met Covid-wysheid op
  • Hier is goeie bronne vir kinder- en jeugbediening
  • Maclear en Parkheuwel hou basaar (en jy kan telefonies aan 'n veeveiling op Maclear deelneem)
  • Die storie met Hoof- en kleinletters in die nuwe Afrikaanse 2020-Bybelvertaling

Geseënde Kersfees aan alle Grens.Pos lesers

kersfees1
Grens.Pos wens alle lesers 'n geseënde Kersfees, 'n heerlike rustyd en gesondheid toe. Ons het 'n moeilike jaar agter die rug. Vasbyt!

Bly verantwoordelik

Infektering styg skerp onder jongeres

Heraldlive berig jonger persone vul hospitale meer en meer weens Covid-19 komplikasies. Die bron is syfers verskaf deur Oos-Kaapse Life Healthcare-hospitale. Dié groep sê jonger persone is ook meer geneig om die eerste Covid-19 simptome te ignoreer, wat dan tot ernstige komplikasies lei omdat dit nie behandel word nie.

Die verslapping van inperkingsmaatreëls, Covid-uitputting en negering van die erns van die situasie veroorsaak dat mense hul "normale" lewe hervat. Somer breek aan, die strande lok en kuierplekke is gewild. Mense wil nie meer Covid hoor, dink en veiligheidsmaatreëls toepas nie. Gevolglik is hulle kwesbaar vir infektering, sê die hospitaalgroep.

Die hele streek van Mosselbaai in die Weste tot Mthatha in die Ooste rapporteer 'n skerp toename in die infeksiekoers, met die stede Port Elizabeth en Oos-Londen as die twee brandpunte. Toerisme en die vakansiestemming speel dus ook 'n rol.

Dr Charl van Loggerenberg van Life Healthcare verwerp die bewering dat 'n tweede stam van die virus, waarvoor veral jongmense kwesbaar is, nou in omloop is. Die rede vir stygende infektering bly steeds menslike gedrag.

Volgens Van Loggerenberg moet enigeen met Covid-verwante simptome, hoe lig ook al, hul geneesheer kontak. Moenie die simptome bloot probeer verduur nie, maar skakel eerder jou geneesheer en win advies telefonies in. Hierdie telefoonoproep kan die verskil tussen spoedige beterskap en 'n hospitaalbed (wat iemand anders kon versorg) beteken. Hoe gouer jy jou simptome reg hanteer, hoe vinniger sal dit beter gaan.

Wyse woorde van ds Jaco Thom

Wat maak ons met Kersfees?

Kersfees
Die bekende skrywer en blogger ds Jaco Thom van Petrusburg skryf:

Ek het verlede week ’n blog geskryf oor Kersfeesgebruike en waar dit vandaan kom. In reaksie hierop het ek navrae gekry oor die moderne neiging om nie meer Kersfees te vier nie, omdat dit aanvanklik nie ’n Christelike fees was nie.

Ek moet eerlik wees. Dit is vir my baie vreemd dat mense nou, ná 2000 jaar en ‘n eeue-oue Kersfeestradisie, skielik ongemaklik raak oor Kersfees. Hoekom nou? Is dit nie maar net ‘n geval van iemand wat die klok hoor lui het en nou is die hele kerk verkeerd nie?
  • Hoekom vier ons Kersfees?
  • Behoort ons Kersfees te vier, of moet ons dit liewer los?
  • Is dit nie eintlik ’n heidense fees wat die kerk oorgeneem het nie?
  • Waar in die Bybel staan dit dat Jesus op 25 Desember gebore is?
Dit is alles vrae wat deesdae gevra word, ook deur opregte gelowiges wat erns maak met die wil van God in hulle lewe. Daarom is daar mense wat in die lig van al hierdie vrae meen dat Kersfees liewer nie deel van ons kalender moet uitmaak nie.

Hier is my antwoord. Ek hoop dit help jou om jou eie standpunt hieroor te formuleer.
Oor die datum van Kersfees is die antwoord maklik. Ons weet nie op watter dag Jesus gebore is nie, maar dis baie onwaarskynlik dat dit op 25 Desember was. Dit was waarskynlik eerder in die Europese lente (Maart of April), want keiser Augustus sou nie so ’n groot sensus in die middel van die winter gehou het nie.

Ons weet ook dat die datum (25 Desember) doelbewus gekies is as teenvoeter vir die heidense fees van die terugkerende son (wintersonstilstand) wat destyds gevier is met al die heidense gebruike daaraan verbonde. Mettertyd het Kersfees inderdaad die heidense fees in Europa vervang en talle van die goeie gebruike van die feestyd oorgeneem.

Dit hoef nie Kersfees as Christelike fees te diskwalifiseer nie. Ons het ook ánder gebruike uit die heidendom oorgeneem, bv. die kerkklok wat ’n Chinese herkoms het en gelui is om die bose geeste af te weer. Wie dink verbind vandag ’n kerkklok met Chinese bygeloof? Wie dink nog daaraan as die kerkklok lui?
Die eintlike vraag wat ek en jy moet vra oor Kersfees, is:

∙ Is Jesus Koning in jou lewe?
∙ Is dit belangrik dat ons sy geboorte herdenk, al is dit dan op ’n arbitrêre datum soos 25 Desember?
∙ Dink jy aan die voor-Christelike heidense Europese feeste as jy vandag oor Kersfees dink?
∙ Maak die agtergrond van die fees regtig vandag ’n verskil aan hoe ons oor Christus se geboorte dink?

Moenie Kersfees weggooi nie! Vul dié besondere dag eerder opnuut met die viering van die koms van ons Verlosser na die wêreld. Dis mos iets om oor fees te vier!

Hoop vir Kinders

Kinderopleiding vir 2021 op video beskikbaar

eeiii
EE-III se gewilde Hoop vir Kinders opleiding is vanaf 2021 ook op video beskikbaar, spesifiek in die lig van Covid-19 en die implikasies daarvan vir skole en kerke.

Die eerste videopakket vir Voorskoolse tot preprimêre groepe is reeds beskikbaar vir gebruik by skole en kerke.

EE III se kwartaalverslag vertel van hierdie en wonderlike ander inisiatiewe. Klik gerus hier om dit te lees. Kontak ds Cobus Fourie vir meer inligting by wcjfourie@gmail.com.

DinkJeug

Heerlike bronne vir bediening aan kinders en jongmense

dinkjeug
DinkJeug deel liturgie, materiaal, resensies en hulpbronne sodat gemeentes bemagtig word om met jongmense te werk.
As jy met kinders, tieners en naskoolse jeug werk, is DinkJeug se webblad net die plek om bronne te deel en saam te dink oor geloofsvorming.

DinkJeug deel liturgie, materiaal, resensies, hulpbronne en verhale van bedienaars in jeug en familie bediening met ander bedienaars.

"Ons glo kinders en familie is vir God belangrik en daarom is dit vir ons belangrik om te deel hoe God op verskillende, kreatiewe, unieke manier in verskillende, kreatiewe, unieke gemeentes en gemeenskappe werk."

Prof Gerrit Smit van die APK aan die woord

Hoofletters, kleinletters en die 2020-Bybelvertaling in Afrikaans

Die uitstekende nuwe 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans is pas bekendgestel. Een van die kenmerke is dat dit in twee weergawes beskikbaar is: die sg. hoofletter- en kleinletter-uitgawes. Wat is hier aan die gang en behoort die vertaling vanweë hierdie kwessie bevraagteken te word?

Wat sê 'n Bybelvertaler wat ten nouste aan die vertalingsproses deelgeneem het, en 'n voorstander van die Hoofletterweergawe is? Aan die woord is prof Gerrit Smit van die Dept Nuwe Testament van die Afrikaanse Protestantse Kerk Akademie.

Smit skryf oor die rede waarom tekste uit die Ou Testament wat 'n Messiaanse toepassing het nie met hoofletters geskryf word nie:

Die argumente daaragter wissel, maar kom hoofsaaklik daarop neer dat dié wat dit voorstaan meen dat die verwysings in die Ou Testament na die Messias binne Joodse verwagting verstaan moet word wat ‘n aardse messias verwag het wat die Joodse volk van hulle oorheersers sou bevry en sy koninkryk in Jerusalem vestig, en nie binne die eerste konteks na Jesus Christus verwys nie, hoewel hulle erken dat dit in die lig van die Nuwe Testament op Christus van toepassing gemaak kan word – vandaar die voetnotas in die vertaling wat die Nuwe-Testamentiese toepassing meld.

Hy vervolg:

Aangesien ek een van die vertalers van die 2020 Bybelvertaling was en ook een van die medewerkers aan die "hooflettervertaling" sedert die AP Kerk die versoek aan die Bybelgenootskap gerig het vir 'n hoofletter-uitgawe van die Bybel, kan ek getuig dat die Bybelgenootskap met erns en opregtheid geluister het na ons besware en nooit voorgeskryf het watter tekste as heenwysings na Christus verstaan moet word en watter nie, maar ons die ruimte gegee het om ons oortuiging dat Christus in die Ou Testament teenwoordig is, te handhaaf in die 2020 Afrikaanse Bybelvertaling met hoofletters. Daar is dus geen sprake daarvan dat die hoofletter-uitgawe van die 2020 Afrikaanse Bybelvertaling as ‘n “kompromie” beskou kan word nie, maar as Woord van God met volle erkenning aan Christus se besondere plek in die Messiaanse verwagtinge van die Ou Testament.

Smit vra dat almal op hoogte van die feite moet kom en nie die vertalingsprojek verdag moet maak nie. Lees sy volledige skrywe hier.

Bie telefonies op super veeveiling

Maclear hou basaar op steroïede

maclear1
Die NG Kerk Maclear hou DV op Saterdag 5 November basaar.

Wat die basaar uniek maak is dat enigeen landwyd kan inskakel en telefonies bie op 'n super slagding (foto's hieronder). Net die ding om jou vleistande oor die Kersseisoen te paai.

Verversings is reeds vanaf 09:00 te koop, met die amptelike opening om 10:30. Vleis sal dan reeds te koop wees. Daar is ook 'n pretdraf en kinder-aktiwiteite.

Covid-reëlings geld. Onthou asb jou masker en sommer jou eie botteltjie handreiniger.

Bie telefonies op hierdie bees tydens Maclear se veeveiling

Die veeveiling tydens Maclear se basaar begin om 13:30. Mense kan bie deur een van die volgende nommers te skakel:
  • Piet Britz: +27 79 597 5143
    Doon Naudé: +27 82 402 7955
    Willem Nel: ‎+27 79 488 3397
    Inus Thompson: +27 79 597 5143
maclear2

Parkheuwel hou inry-basaar

INRY-BASAAR_5 Des

PE-Heideveld hou Kersmark, 4 - 11 Desember

Dundeeweg, Rowallanpark

4 Desember 15h00
5 Desember, 7 – 10 Desember 09h00 tot 12h00
11 Desember 09h00 tot 18h00

Meer dae, langer ure en ons volg alle protokolle. Vele bekostigbare geskenke en kersversierings sal te koop wees.

Geen wegneem etes. Daar sal wel pasteie, beskuit, gebak, koeldrank en konfyt by die stalletjiehouers wees.
Bestellings vir pasteie kan ook vooraf by die kantoor geplaas word (tot Woensdag 2 Desember)
Sien jou daar. Kom met jou masker.

Vir meer inligting skakel die kantoor 041-3712435

Brenda van Rooyen

Jaarboek bestelvorm beskikbaar

jaarboek-bestelvorm
Klik hier vir die bestelvorm.

Vakature

Leraarspos by die NG Gemeente PE-Lorraine

Lorraine Gemeente streef daarna om liefde te leef tot eer van God. Die bedieningsfokus van die gemeente lê by dissipelskap en geestelike groei van alle lidmate, verhoudings bou tot 'n gesonde gemeenskap, sowel as 'n diep bewustheid dat ons geseën word om ander te seën.

Lorraine Gemeente is geleë in 'n vooruitstrewende en groeiende woonbuurt van Port Elizabeth. Die gemeente bestaan uit 1996 belydende lidmate en 673 dooplidmate. Die gemeente word deur drie voltydse leraars bedien, waarvan een aan die einde van Januarie 2021 die gemeente verlaat.

Klik hier om die posbekendstelling te lees.
facebook twitter