Jaargang 21 - Nommer 18 - 11 Augustus 2023
Beste leser,

In hierdie uitgawe:

  • Wat met donasies van Oos-Kaaplandse gemeentes in Oekraïne vermag is
  • Kerkorreliste hou konferensie oor aanlyn eredienste en gebruik van instrumente met die orrel
  • Gemeentes opgeroep tot Dag van Verootmoediging op 13 Augustus
  • Leraars beweeg

Nelis Janse van Rensburg:

Agtergrond oor die Dag van Verootmoediging - Sondag, 13 Augustus 2023


Die NG Kerk het Sondag, 13 Augustus 2023, as Dag van Verootmoediging uitgeroep. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen skryf hieroor:

Ons beleef in hierdie tyd landswyd en wêreldwyd verskillende vorme van ontwrigting. Dit verskil van plek tot plek. In óns lande is werkloosheid, armoede, dienslewering, infrastruktuur, energie, polisiëring en vervolging, geweld, misdaad, korrupsie, verwaarlosing van kinders, lae skoolprestasie, agterdog, wantroue, leuens, uitbuiting, vrees, sleutelwoorde in mense se beskrywing van hulle ongemak met die plek en tyd waarin ons ons bevind.

‘n Mens vra onwillekeurig hoe ‘n kerk in so ‘n konteks behoort te reageer. Die Dagbestuur en sinodale leiers van die tien samestellende sinodes van die Algemene Sinode was dit eens dat verootmoediging beslis ‘n kernelement moet wees van ons reaksie. Dit beteken dat ons nederig voor die Here sal buig en bid om die Here se hulp en leiding. Dit beteken ook dat ons selfondersoek sal doen na ons eie aandeel aan die gebrokenheid en verwondheid van ons wêreld. Dit vra om ‘n belydenis. Maar dit beteken ook dat ons opnuut duidelikheid sal kry oor ons roeping. Die Here wil immers elke gelowige en elke gemeente gebruik in Sy diens, om heel te maak, om wonde te verbind, om agente te wees van ‘n nuwe wêreld wat Sy heerskappy erken en die aanbrekende Koninkryk in ontvangs neem.

Ons gebed is dat Sondag vir die NG Kerk ‘n dag sal wees van stil word voor die Here, van diep Gods- en selfbewussyn, en van ‘n nuwe vertroue op die Here as ons Leidsman. Mag ons dan met nuwe oorgawe en vertroue handelaars van God se hoop en toekoms wees. Laat ons saam voorbidding doen vir die genesing van ons lande, vir vrede, vir die komende verkiesingstyd, vir diegene wat swaarkry en ly, vir die leiers van ons land…

Daar word Sondagmiddag om 15:00 op die NG Kerk Stellastraat in Pretoria se YouTube Live-kanaal ‘n verootmoedigingsdiens uitgesaai wat deur die dagbestuur van die Algemene Sinode Moderamen gelei word. Maak dit asseblief in gemeenteblaaie bekend.

Gemeentes se hulp aan Oekraïniese kerke raak lewens diep

Die kos op die borde van hierdie Oekraïniese oorlogslagoffers is deur donasies van Oos-Kaaplandse gemeentes moontlik gemaak

Gemeentes uit Oos-Kaapland het ruim bygedra om hulp aan oorlogslaggoffers in die Oekraïne te verleen deur van plaaslike Oekraïniese gemeentelike leierskap gebruik te maak. Die inisiatief is deur die sinodale kantoor en Ring van Sondagsrivier koördineer.

Ons het volledig verslag oor die aanwending van die jongste fondse ontvang (lees dit gerus), wat as volg begin:

Dear Ds Danie, Ds Arrie and your respective church leaderships and church members. On behalf of all the people you have helped we want to thank for standing with us in this difficult time. Thank you for prayer, encouragement, and financial help.

If I can just add that, I want to thank you for entrusting me with your funds. These people and churches we helped, I have relationships with, and I trust them explicitly. Even if I gave them funds and specified for their personal needs I know they always put others needs before themselves.

Keith, die projekkoördineerder in Oekraïne, skryf dikwels op Whatsapp hoe groot die worsteling is om mense geestelik in so 'n situasie te bedien:

Yes we can say the best option is to evacuate. Well not so easy. Most of the folk are elderly, some are invalids, some are bedridden. What waits ahead? Yes people help and are very kind but the trauma of the unknown and moving is too terrible for some of them to even consider. In these communities they really care for each other, and they know each others needs.

It is again one of these situations when I feel my heart can "burst" from hearing and seeing such pain and suffering. Again it is not one or two people but literally a few hundred. Again to say I will pray seems so empty.

Geld is onder meer vir die volgende gebruik:
  • Voeding
  • Uitreike na jongmense en gemeentes
  • Pastorale besoeke aan geteisterde gemeenskappe
  • Verkondiging van die evangelie en getuienis oor Jesus Christus.
Die meegaande verslag rapporteer slegs oor die laaste van drie bedrae wat oorbetaal is, tw R24,770. Voorheen is reeds R165,200 oorbetaal, wat die totaal op R188,970.47 te staan bring.
'n Kerklike uitreikspan vervoer noodvoorrade in Oekraïne

Referate van Calvin Institute se konferensie oor liturgie en aanbidding aanlyn beskikbaar

Die jaarlikse konferensie van die Calvin Institute for Christian Worship is 'n ervaring soos min. Dit is op die vernuwing van die erediens en liturgie gerig. Die volledige stel referate by die 2023-simposium is nou aanlyn beskikbaar. Klik hier om daarna te kyk.

SA Raad van Kerke veroordeel taxigeweld in Kaapstad

Terwyl Kaapstad en omstreke die afgelope paar dae geteister word deur geweldadige taxiprotes en die dooiepunt tussen die plaaslike regering en Santaco, die nasionale taxivereniging steeds voortduur, doen die SA Raad van Kerke (SARK) 'n beroep op alle betrokkenes om met mekaar in gesprek te tree. Geweld, die verwoesting van eiendom en infrastruktuur, die stroop van bates en bloedvergieting moet ook gestaak word.

SARK wys daarop dat die krisis die armes die ergste raak. Dit is hulle wat van openbare vervoer afhanklik is om 'n inkomste te verdien. Die verklaring loof ook die pogings van kerke en burgerlike organisasies om die verhardende dooiepunt tussen die stadsowerhede en Santaco op te los. Lees die verklaring.

Kerkorreliste hou konferensie

Leraars, orreliste en belangstellendes word uitgenooi na SAKOV se konferensie op 19 Augustus 2023 in die Baai.

Me Hanlie Young, orrelis van Hoogland NG kerk doen 'n aanbieding oor hoe om aanlyn eredienste suksesvol aan te bied, soos hul reeds in hul gemeente doen. Sedert Covid het menigte dienste aanlyn dienste bly aanbied as deel van hul bedieninge. Daar is soveel mense wat as gevolg van gesondheidsprobleme nie meer eredienste kan bywoon nie en die aanlyn opsie bied hul groot waarde.

Prof Albert Troskie gaan die gebruik van menigte instrumente saam die orrel bespreek en demonstreer. Daar word ook samesang by hierdie byeenkoms gedoen en sluit Liedboek, Vonkk en Flam liedere in.

VBO oor Trauma: Pastorale begeleiding en heling na trauma-ervarings

In hierdie aanlyn-kursus word daar gefokus op die pastorale begeleidingsproses tot heling en herstel na traumatiese ervarings soos plaasmoorde, motorkapings, aanranding, verkragting, bankrowe, geweldsmisdaad, ens.

Die kursus word op Zoom deur prof Wentzel Coetzer aangebied.

Talle praktiese voor- beelde sal bespreek word aan die hand van aspekte soos die volgende:
- Wat gebeur wanneer ʼn persoon trauma beleef?
- Post-traumatiese stresversteuring
- Die noue verband tussen liggaam, gees en emosies
- Faktore wat die genesingsproses kan bevorder
- Hoe bid ons saam met ʼn getraumatiseerde persoon?
- Die sin-vraag na trauma
- ʼn Pastorale model vir die begeleiding van trauma slagoffers
- Toegerus om toekomstige trauma te hanteer

Meer inligting en die INSKRYWINGSVORM is hier beskikbaar.

VBO: Jaarlikse Lentekonferensie by Tukkies

Die Lentekonferensie word van 19-21 September in persoon by Universiteitsoord en die Universiteit van Pretoria aangebied.
Die brosjure en die program vir die konferensie is beskikbaar op Excelsus se webblad. Gebruik die brosjure om jou keuses op die aanlyn inskrywingsvorm te maak.

Om in te skryf, volg asseblief hierdie skakel.

Vir enige navrae kontak Rika by excelsus@up.ac.za

Vakature: Predikantspos by NGK Grasvoëlkop

Die kerkraad van Grasvoëlkop-gemeente in die Baai nooi biddend gelegitimeerde leraars van die NG Kerk (of studente wat in November 2023 gelegitimeer word) uit om aansoek te doen vir 'n opwindende pos.

Sluitingsdatum: 29 September 2023

Grasvoëlkop-gemeente bestaan uit 119 belydende en 21 dooplidmate. Ons is 'n omgee-gemeente, na binne en buite, wat 'n hoë premie op goeie verhoudinge, versorging en ondersteuning plaas.
Die gemeente is in Gqeberha (Port Elizabeth) geleë. Lees die volledige posbekendstelling. Die sluitingsdatum is 29 September 2023.

Vakature: Predikantspos by gekombineerde gemeentes Algoapark en Sydenham

Die gemeentes van Algoapark en Sydenham in Gqeberha (Port Elizabeth) het 'n formele bedieningsooreenkoms gesluit om gesamentlik een predikant te beroep. Die gemeentes nooi gelegitimeerdes van die NG Kerk (ook studente wat eers in November 2023 gelegitimeer word) uit om aansoek te doen vir 'n termynpos van drie jaar.

Die twee gemeentes lê weerskante van die N2, maar word deur 'n hoofroete aan mekaar verbind. Algoapark is 'n voorstedelike gemeente met goeie skole. Die woonbuurte van Sydenham word afgewissel met besighede, nywerhede, studentehuise en 'n laer- en hoërskool digby die kerkgebou. Daar is verskeie tuistes vir bejaardes. Lees die posbekendstelling. Die sluitingsdatum is 8 September 2023.

Vakature: Predikantspos by NGK PE-Heideveld

Heideveld gemeente is geleë aan die Westelike kant van Gqeberha aanliggend aan die N2 hoofweg na Kaapstad. Na 40 jaar is ons ʼn hegte familie met gevestigde waardes en ʼn eie styl van bediening. Ons visie stempel ons gemeente en word daagliks uitgeleef deur nederige dade van diens aan mekaar en in ons gemeenskap. Ons besef dat ons van hieruit op die drumpel van ʼn nuwe toekoms staan. Nuwe mense trek voortdurend in ons woonbuurtes in en groot sake-ontwikkelinge word in ons aanliggende omgewing voorsien. Daarom is ons oop vir innovasie, groei en vernuwing. Lees die posbekendstelling. Die sluitingsdatum is 1 September 2023 om 12:00.

Vakature: Predikantspos (onbepaalde termyn) Blouwaterbaai Familiekerk

Blouwaterbaai Familiekerk is 'n liefdesgemeenskap wat vir Jesus dissipels maak. As gestuurde gemeente is dit ons fokus om die evangelie van Jesus se liefde aan al die mense in en om ons gemeenskap te bring. Ons is tans 40 doop- en 272 belydende lidmate. Blouwaterbaai is 'n voorstad van die vriendelike Gqeberha (Port-Elizabeth).

Klik hier om die posbekendstelling te lees. Die sluitingsdatum is 11 Augustus 2023.

Vakature: Algemene Sekretaris van die Algemene Sinode

Gelegitimeerde predikante van die NG Kerk word genooi om aansoek te doen vir die pos van Algemene Sekretaris. Hier is die posbekendstelling. Die sluitingsdatum is 1 September 2023.

Vakature: Predikantspos by Sunwardpark, Boksburg

Sunwardpark Gemeenskapskerk beskryf hulself soos volg: "Ons is ’n gemeente wat graag ’n verskil wil wees in die gemeenskap en in die lewens van gelowiges. Ons is lief vir die Here en alle mense. Ons is bereid om uitdagings te trotseer en innoverend te wees. Ons is ’n gemaklike, informele gemeente sonder titels."

Die gemeente het 'n pos vir medeleraar beskikbaar. Die sluitingsdatum is 29 September 2023 om 12:00. Lees die posbekendstelling.

Leraars beweeg


Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars.
facebook twitter