Jaargang 22 - Nommer 2 - 26 Januarie 2024
Beste leser,

In hierdie uitgawe:

  • Bybelgenootskap hou uitverkoping
  • LogosHope besoek Oos-Kaapse hawens - 'n besoek werd
  • Vakatures vir predikantsposte (verskeie)
  • Leraars beweeg

Grootste drywende Christelike boekwinkel en bedieningsentrum eersdaags in die Oos-Kaap

'n Besoek aan die LogosHope is altyd 'n ervaring van formaat. Skryf die datum hieronder in jou dagboek. Kaartjies om die skip te besoek, beide in die Baai en Oos-Londen.

Middelburg-Karoo gemeente benodig 'n prediker oor Paasnaweek

Ds Anthonie Welmann skryf:

NG Middelburg, Oos Kaap, is op soek na ‘n predikant om Paasvrydag 29 Maart, se erediens met nagmaal waar te neem, en/of Paassondag 31 Maart, se erediens waar te neem. Kostes sal gedra word.
Kontak : Anthonie 0828198392.

Hier is jou kans om Paasnaweek in een van die mooiste Karoolandskappe deur te bring.

Bybelgenootskap

Spesiale aanbiedinge (voor) prysverhoging

Daar is minder as ‘n week oor voordat die Bybelgenootskap se jaarlikse prysverhoging in werking tree op 1 Februarie 2024.

Daar is ook so bietjie goeie nuus. ‘n Groot uitverkoping op ons Engelse GNT Uitreikbybel (Sagteband) wat nou teen R81,95 beskikbaar is. Dit is ‘n massiewe besparing van 45%.

Daar is ook nog steeds die spesiale aanbieding op 2020 Afrikaans Medium grootte Hardeband Bybels vir R79,00.

Altwee hierdie spesiale aanbieding is egter net tot 31 Januarie 2024 beskikbaar, so bestel u voorraad vandag nog.

Ons sien daarna uit om vanjaar weer saam met u hande te vat in ons werk om die Woord van God vir die mense te bring.

Kontak persoon is Brian Ngxokolo (Verkoopsverteenwoordiger)
e salesec@biblesociety.co.za
t +27 41 364 1138 / c +27 78 166 9046

Senior predikante en uitvoerende leiers

Leierskapseminaar vir senior uitvoerende kerklike ampsdraers

Toerusting vir leier- en senior predikante, asook senior uitvoerende kerklike personeel skop mens nie agter elke bos uit nie. Dikwels voel predikante en ander gemeenteleiers nie bemagtig vir die bestuursleiding wat van hulle verwag word nie. Waar dit ontbreek, sukkel gemeentes.

Prof Jurgens Hendriks, een van die eerste vaandeldraers vir missionale gemeentes en dryfkrag agter die NG Kerk betrokkenheid regoor Afrika by teologiese opleiding sedert die 1990's, vertel van presies so 'n geleentheid wat eersdaags aangebied word.

Dit is 'n ekumeniese byeenkoms. Lees meer en word oortuig van die waarde wat dit vir jou het.

Aanlyn VBO

Ontmoeting met die heiliges

Die afgelope tyd is daar wêreldwyd ’n toenemende belangstelling in die sogenaamde “heiliges” van die vroeë kerk en Middeleeue. Hulle was individue wat ’n diep-persoonlike en direkte ervaring van God gesoek het en dikwels meer waarde aan persoonlike ervaring as aan formele teologiese leerstellings geheg het.
Dr. Lisel Joubert, verbonde aan die Departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie van die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch, het verlede jaar met ’n aanbieding oor Hildegard von Bingen (video) ons aandag op dié groep Christene gevestig. Op Vrydag 25 Januarie begin sy die 2024-reeks, Ontmoeting met die Heiliges (grafika onder), wat begin met ’n aanbieding oor Benediktus van Nursia.

Klik op die grafika hierbo om gratis op quicket in te skryf vir hierdie besondere aanlyn geleenthede.

PE-Noord soek hulp met herstel van 'n kerktoring se horlosie en kerkklok

Ds Micaela Wahl sê die horlosie in die kerktoring werk nie meer nie, en die kerkklok lui ook nie reg nie.

Wie beskik oor die nodige kennis en vaardigheid en kan help met die hestelwerk? Of weet jy van iemand wat kan help?

Kontak die kerkkantoor by 041 451 8221, of die voorsitter Rockey Lamastra by 061 583 6838, of ds Micaela Wahl by 060 9755 105, of die koster, Etienne Kommer by 078 741 5474.

Geloofsreis vir predikante in 2024 aangebied

Ds Gys van Schoor en sy vrou, Thea, (voorheen van Somerstrand- en Durbanville-gemeentes) van die Sentrum van Geloofsvorming (Greyton) het al meer as 300 predikante landswyd op die geloofsreis begelei. Hulle is ook genooi om dit in 2024 vir predikante in Namibië aan te bid.
Van die onderwerpe waaraan daar aandag gegee word is:
-Die herontdekking van Jesus en sy Koninkryksevangelie.
-Is jou "doing" besig om jou "being" te verlam?
-Emosioneel gesonde spiritualiteit.
-Hoe ontwikkel jy 'n langasem vir die bediening?
-Dissipelskap as geloofsvormende reis.
-Om met groter vryheid te leef.
-Hoe vind karaktertransformasie plaas?
-en ander.

Vele predikante vra hiervoor. Die lang gekoesterde ideaal word in 2024 werklikheid wanneer ds Gys van Schoor van die Sentrum vir geloofsvorming die geestelike reis vir predikante in die Oos-Kaap kom aanbied. Predikante word aangemoedig om in te skakel.

Predikante wat hierby ingeskakel het getuig met lof van die impak daarvan op hulle lewe.

Die reis duur oor drie jaar, met twee retraites per jaar. Teken solank die datums aan: Retraite 1: 18-21 Maart 2024 en Retraite 2, 21-24 Oktober 2024.

Die koste beloop R1,850 per retraite, maar daar is 'n 50% subsidie beskikbaar vir predikante wat betyds inskakel.

Klik hier vir meer inligting, en voltooi die inskrywingsvorm as jy belangstel.

Aanlyn VBO met prof Wentzel Coetzer

Impak van oorgeërfde familietrauma - pastorale perspektiewe

'n Aanlyn Pastorale Beradingskursus deur prof Wentzel Coetzer met die titel: Pastorale begeleiding rakende die impak van oorgeërfde familietrauma (Generasiebagasie)

Die problematiek rondom Generasie Bagasie (intergenerasie trauma) hou verband met die feit dat ouers dikwels deur intense trauma gaan sonder die nodige hulp en begeleiding. Dit kan 'n proses wees wat oor jare strek en die kinders en kleinkinders wat dan binne so 'n familie opgroei, word uiteindelik op talle wyses geraak deur die impak van hierdie onverwerkte trauma – onder andere ouerlike vaardighede wat in die slag bly. Indien sodanige trauma nie hanteer word nie dan toon die navorsing dat dit as't ware 'n 'pakkie pyn' word wat onbewustelik aan kinders en kleinkinders 'oorhandig' word – dit kan weer lei tot probleme op emosionele, geestelike of fisiese terreine. Vanuit die navorsing blyk dat 'n geneagram 'n handige hulpmiddel kan wees ten einde te probeer vasstel hoeveel onverwerkte pyn en trauma binne 'n sekere familie aanwesig mag wees – hoe gesond of hoe sieklik die algemene milieu dus was waarbinne ʼn spesifieke individu gebore was.

Dinsdag 20 Februarie 2024 – Zoom aanbieding. Klik hier vir meer inligting en die inskrywingsvorm.

Vakature Leraarspos: NGK Grasvoëlkop (permanent, deeltyds)

Grasvoëlkop-gemeente bestaan uit 119 belydende en 21 dooplidmate. Ons is 'n omgee-gemeente, na binne en buite, wat 'n hoë premie op goeie verhoudinge, versorging en ondersteuning plaas.
Die gemeente is in Gqeberha (Port Elizabeth) geleë.

Ons leraar help ons geestelik groei, bind ons saam en gaan ons voor in die dien van die Here, van mekaar en in uitreik na die groter gemeenskap. Hy of sy het 'n lewende verhouding met die Here, kan leiding neem, pas goeie selfbestuur toe, is 'n spanwerker en werk ook saam met kollegas in die ring.
Ons gemeente plaas die fokus op jong ouers en gesinne wat ons graag by ons bediening wil betrek.

Die sluitingsdatum is 23 Februarie 2024. Klik hier vir die posbekendstelling.

Vakature Leraarspos: NGK Steynsburg

Aansoeke word ingewag vir die leraarspos by die NG gemeente van Steynsburg vir 'n termyn van drie jaar. Sou omstandighede dit toelaat, kan die termyn verleng word.

Steynsburg is in die Noordoos-Kaap geleë, tussen 70 en 120 km vanaf Cradock, Middelburg, Burgersdorp en Aliwal Noord. Die gemeente bestaan uit 97 belydende en 20 dooplidmate en vier in 2024 sy 150ste bestaansjaar. Ons het ook 'n tuiste vir bejaardes met sowat 60 inwoners van verskillende denominasies.
Ons is 'n stabiele landbougemeenskap, hoofsaaklik veeboerdery, maar danksy die Oranje-Visrivierskema ook besproeiingsboerdery. Die naaste goeie skole is te Cradock, Burgersdorp en Middelburg. Groot sentra soos Port Elizabeth, Oos-Londen en Bloemfontein is 300 tot 350 km ver.

Slutingsdatum: 31 Januarie 2024. Lees die volle posbeskrywing.

Vakature: Voltydse leraar Uitenhage

Moedergemeente Uitenhage beskik oor ‘n pos vir ‘n predikant van die NG Kerk. Naas die vaardighede om uitvoering aan Artikel 9 te gee, sal dit ‘n aanbeveling wees as die leraar ook oor bestuursvaardighede beskik.
Die gemeente bestaan uit 120 belydende lidmate en ‘n klein groep doop- lidmate. Die gemeente besit oor twee geboue, bestaande uit woonstel- eenhede en sakegeboue: Huis Senburg en Pro Ecclesia.
Bestuurservaring en -kundigheid sal as aanbeveling dien.

Die sluitingsdatum is 23 Februarie 2024. Lees die volledige posbekendstelling.

Leraars beweeg

Ds André Lötter ontvang op 28 Januarie 2024 demissie by die NG gemeente Despatch-Eendrag

Ds Luanè McLachlan word op 4 Februarie 2024 by die NG gemeente Gamtoosvalei bevestig deur ds Anton Ferreira.

Ds Roné Vosloo van Kathu word op 28 Januarie 2024 om 09:00 by PE-Heideveld bevestig.

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars.
facebook twitter