|
|
|
Jaargang 22 - Nommer 3 - 2 Februarie 2024
|
|
|
|
|
|
In hierdie uitgawe:
- Hoopgewende inisiatiewe en uitstekende leierskap
- Alzheimers en demensie: Hoe help ek my familielid?
- Aanlyn VBO-program vir leraars nuut in die bediening
- Leraars beweeg
|
|
|
|
|
|
Nelson Mandela Baai Sakekamer
Daadwerklike aksie skep nuwe, hoopvolle werklikhede
|
|
|
|
"Vervaardigers steier onder beurtkrag. Daarom het die Sakekamer 'n rooster van vrywillige beurtkrag onderhandel waarvolgens kwalifiserende vervaardigers vrywillig een dag per week toevoer van elektrisiteit prysgee, maar die res van die week ononderbroke krag het. Dit maak oorlewing vir vervaardigers moontlik."
|
Aan die woord is Denise van Huyssteen, uitvoerende hoof van die Nelson Mandelabaai Sakekamer wat die sakesektor in die stad oor die afgelope byna drie jaar soos 'n vars briesie op nuwe weë begelei.
|
Omstandighede in die land is chaoties, met Covid wat in vele opsigte die vonk by die kruitvat was, maar Van Huyssteen rits die een na die ander voorbeeld af hoe besighede begin saamstaan en vennootskappe sluit wat oorlewing en selfs florering moontlik maak.
|
Die Sakekamer se uitgesproke doel is om werkgeleenthede te behou en nuwe besigheid na die stad te lok. Bedreigings word in geleenthede omskep. Een voorbeeld: Die noodsaak om die koolstofvoetspoor te verklein skep vir hierdie stad, met die laagste gemiddelde windspoed van al die SA kusstede, maar die mees konstante windenergie besondere geleenthede.
|
Denise beklemtoon hoe belangrik die openheid vir vennootskappe ("clusters"), selfs in die besigheidsektor met sakeopponente, waar die groep werk in terme van gemeenskaplike belange. Verder is is 'n positiewe houding wesenlik. Waar mense negatief is, word hulle so oorweldig dat daar energie oor is om iets reg te kry nie.
|
Waar mense besef niemand anders gaan dinge vir hulle doen nie, en nie bly wag dat iemand anders iets regkry nie, kan iets gebeur. Vandaar die klem op vennootskappe en samewerking in "clusters". Sy vertel dat die Perseverance-"cluster" bv. met die nasionale tesourie oor bepaalde toegewings wat die sakeklimaat verbeter, onderhandel.
|
Volgens Denise is hierdie sakekamer se benadering uniek in die land. Sy vertel hoe gefrustreerd 'n ander metro se uitvoerende hoof net gister met haar was oor sy nie wil saamkla nie (hy het die foon in haar oor neergesit).
|
Een van die interessantse nuwe moontlikhede is die vervaardiging van groen ammoniak in die Coega Nywerheidsone wat 20,000 werkgeleenthede kan skep. Verder kan hierdie inisiatief 'n oormaat elektrisiteit op bepaalde tye in 'n 24-uur siklus lewer wat beurtkrag in die stad kan verlaag.
|
Kerkmense, self vuisvoos en geneig tot kla, was verras. "Hierdie is verstommende goeie nuus, die beste nuus sedert die evangelie", laat val een nadat ons met groeiende hoop na Denise geluister het.
|
Klik op die skakel om te hoor wat Denise gesê het oor "Business activism in response to the radically changed environment".
|
Hier is so 'n paar van Denise se wenke vir positiewe denke wat verandering aanhelp:
|
|
|
|
|
|
Nioma Venter vanaf 1 Februarie nuwe algemene sekretaris van die Algemene Sinode
|
|
|
|
Dr. Nioma Venter is in Oktober 2023 aangewys as die opvolger van dr. Gustav Claassen as Algemene Sekretaris van die Algemene Sinode. Sy neem op 1 Februarie 2024 hierdie tuig in die kantoor van die Algemene Sinode in Hatfield, Pretoria op.
|
“Die geleenthede wat oor my pad gekom het, is te veel om te noem,” sê Venter “Voeg hierby die voorreg van kollegas met wie ek kon saamwerk as vriende, geesgenote, vertrouelinge en ook mentors.” Buiten die vormende effek van haar werk as predikant in sinodale diens (PSD vir Diaconia) van die Wes-Kaap was daar ook haar rol in leierskap in twee streeksinodes en tussen 2019-2023 in die Algemene Sinode wat bygedra het tot haar ontwikkeling. Alles ter voorbereiding vir die nuwe verantwoordelikhede wat op haar skouers sal rus.
|
“Ek troos myself daaraan dat die nabye kollegiale bande wat gesmee is, blywend van aard is. In dié opsig laat ek niks agter nie, maar verbreed bloot die terrein van my diensbaarheid aan God en aan die kerk.”
|
LEES OOK: Anti-rassisme: ‘Kerk is die plek waar ons mense aan die hand moet vat en sê elke mens is waardig en volmaak gemaak in God se oë’
|
Nioma het in 2008 haar Lisensiaat in Teologie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Haar beroepspad het egter as maatskaplike werker, alumni van die Hugenote Kollege (1988-1991), begin. Oortuig van ’n roeping, maar met ’n kerk wat nog nie gereed was vir vroue in die amp as leraar nie, het sy eers vir 16 jaar as maatskaplike werker in die veld van alkohol- en middelmisbruik gewerk. Haar bediening as leraar het in die NG Gemeente Prieska begin (2008-2012), waarna sy na die Moedergemeente Worcester (2013-2017) beroep is. In Februarie 2017 begin sy as PSD vir Diaconia werk. In haar tyd by Diaconia doen sy ook navorsing oor die potensiaal van samewerking tussen die kerk en kerk-eie maatskaplike diensorganisasies. Die resultaat is ’n Phd aan die Universiteit Pretoria (2023).
|
Tussen die lyne van hierdie lewensverhaal, lê die getuienis van roeping, identiteit, deursettingsvermoë en baanbreker-wees vir die diakonaat, maar veral ook vir vroue en leierskap in die kerk. “My lewe en my werk is in God se hande. Soms voel ek oorweldig, maar die Here wat ons (my) roep, is getrou,” getuig sy. “Ek aanvaar die verantwoordelikheid van die nuwe posisie, bloot omdat ek oortuig is van my roeping en daarom van God se teenwoordigheid wat vooruit gaan.”
|
Nioma se skuif Pretoria toe beteken dat haar en Leon Venter se twee kinders, Nickus (25) en Esté (20), asook haar bejaarde moeder in die Wes-Kaap agterbly. Die skuif kom met persoonlike opoffering en ons bid haar en haar gesin die Here se vrede en seën toe.
|
(Met dank aan Vrydagnuus)
|
|
|
|
|
Alzheimers en Demensie: Hoe help ek my familielid?
In hierdie gesprek tussen ds DJ Muller en Madelein Duvenhage van ADASA vertel Madelein hoe om persone gediagnoseer met Alzheimers en demensie te ondersteun. Hoe hanteer ons mense wat aan hierdie siektes ly? Watter rol speel geloof vir persone wat hiermee gediagnoseer is?
|
Die gesprek is deel van 'n nuwe reeks podsendings van die Wes-Kaapse Sinode. Soek vir "Kaapkerk" op jou gunsteling platform vir podsending (bv Spotify, Google Podcasts of Apple Podcasts).
|
|
|
|
|
Sit gerus sonpanele op jou dak - jy help die land
In 'n onlangse artikel skryf Moneyweb dat sonpanele op die dak beurtkragvlakke deur die dag aansienlik laer hou as wat ons lot sou wees indien ons slegs op Eskom aangewese was.
|
Dit is duidelik dat Eskom in sy beplanning met die sonbonus rekening hou. Daarom is beplande beurtkrag deur die dag laer. Windkrag lewer natuurlik ook 'n bydrae.
|
Volgens beskikbare syfers het die privaatsektor (meestal besighede maar ook huishoudings) reeds 4,500 MW se opwekkingsvermoë in die vorm van son- en windkrag geïnstalleer. Koeberg wek 1,800 MW op, wat 'n aanduiding van die enorme swaai weg van die sentrale kragverskaffer is.
|
Sit dus gerus die sonpanele op jou dak (en die kerk s'n). Jy dien die land.
|
|
|
|
|
|
Aanlyn VBO
Excelsus se VBO-program vir leraars nuut in die bediening
Excelsus (die Sentrum vir Bedieningsontwikkeling aan die Fakulteit Teologie by UP) bied ‘n program Nuut in die Bediening (Sertifikaatkursus in Bedieningsontwikkeling) spesiaal gerig op predikante in die beginfase (1-5 jaar) van hulle bediening aan.
|
Dit is ‘n kursus wat bedoel is om predikante in dié fase te help om op ‘n dieper en meer grondige vlak georiënteer te word ten opsigte van hulle bediening. Dit vorm ook deel van die verpligte drie jaar voortgesette bedieningsontwikkeling vir predikante en proponente wat pas gelegitimeer is.
|
Die kursus word in die formaat van nege blokke (van 3 dae elk) oor die loop van drie jaar aangebied. Persone wat inskryf, verbind hulle verkieslik vir die volle drie jaar van die kursus en woon 3 kontaksessies per jaar by. Indien jy nie op dié stadium vir die volle drie jaar kan verbind nie, kan jy afsonderlik vir enkel modules inskryf.
|
Ons probeer die koste so laag as moontlik hou en vra R 120-00 per module. Betaling geskied per module, maar kan ook per jaar betaal word (dws R 360-00). Vir proponente en predikante in deeltydse poste word die kursus teen ‘n spesiale verminderde koste van R 95-00 per module aangebied (R 285-00 per jaar). Persone wat die volle kursus voltooi, verwerf 270 VBO-punte (dws 90 punte per jaar). Vir 2024 is die beplanning dat die kursus volledig aanlyn aangebied word.
|
Die drie modules wat in 2024 aangebied word, is die volgende: • 6-8 Februarie Hoe word ‘n gemeente missionaal? • 4-6 Junie Hoe hanteer ons moeilike pastorale situasies? • 8 - 10 Oktober Hoe hanteer ons jeugwerk?
|
Indien jy belangstel om deel van die kursus te wees, kan jy vir Rika van Rensburg kontak by excelsus@up.ac.za of jy kan die aanlyn inskrywingsvorm voltooi deur op hierdie skakel te klik.
|
|
|
|
|
|
|
Geloofsreis vir predikante in 2024 aangebied
|
|
|
|
Ds Gys van Schoor en sy vrou, Thea, (voorheen van Somerstrand- en Durbanville-gemeentes) van die Sentrum van Geloofsvorming (Greyton) het al meer as 300 predikante landswyd op die geloofsreis begelei. Hulle is ook genooi om dit in 2024 vir predikante in Namibië aan te bid. Van die onderwerpe waaraan daar aandag gegee word is: -Die herontdekking van Jesus en sy Koninkryksevangelie. -Is jou "doing" besig om jou "being" te verlam? -Emosioneel gesonde spiritualiteit. -Hoe ontwikkel jy 'n langasem vir die bediening? -Dissipelskap as geloofsvormende reis. -Om met groter vryheid te leef. -Hoe vind karaktertransformasie plaas?
|
Vele predikante vra hiervoor. Die lang gekoesterde ideaal word in 2024 werklikheid wanneer ds Gys van Schoor van die Sentrum vir geloofsvorming die geestelike reis vir predikante in die Oos-Kaap kom aanbied. Predikante word aangemoedig om in te skakel.
|
Predikante wat hierby ingeskakel het getuig met lof van die impak daarvan op hulle lewe.
|
Die reis duur oor drie jaar, met twee retraites per jaar. Teken solank die datums aan: Retraite 1: 18-21 Maart 2024 en Retraite 2, 21-24 Oktober 2024.
|
Die koste beloop R1,850 per retraite, maar daar is 'n 50% subsidie beskikbaar vir predikante wat betyds inskakel.
|
|
|
|
|
Aanlyn VBO met prof Wentzel Coetzer
Impak van oorgeërfde familietrauma - pastorale perspektiewe
'n Aanlyn Pastorale Beradingskursus deur prof Wentzel Coetzer met die titel: Pastorale begeleiding rakende die impak van oorgeërfde familietrauma (Generasiebagasie)
|
Die problematiek rondom Generasie Bagasie (intergenerasie trauma) hou verband met die feit dat ouers dikwels deur intense trauma gaan sonder die nodige hulp en begeleiding. Dit kan 'n proses wees wat oor jare strek en die kinders en kleinkinders wat dan binne so 'n familie opgroei, word uiteindelik op talle wyses geraak deur die impak van hierdie onverwerkte trauma – onder andere ouerlike vaardighede wat in die slag bly. Indien sodanige trauma nie hanteer word nie dan toon die navorsing dat dit as't ware 'n 'pakkie pyn' word wat onbewustelik aan kinders en kleinkinders 'oorhandig' word – dit kan weer lei tot probleme op emosionele, geestelike of fisiese terreine. Vanuit die navorsing blyk dat 'n geneagram 'n handige hulpmiddel kan wees ten einde te probeer vasstel hoeveel onverwerkte pyn en trauma binne 'n sekere familie aanwesig mag wees – hoe gesond of hoe sieklik die algemene milieu dus was waarbinne ʼn spesifieke individu gebore was.
|
|
|
|
|
Vakature Leraarspos: NGK Grasvoëlkop (permanent, deeltyds)
Grasvoëlkop-gemeente bestaan uit 119 belydende en 21 dooplidmate. Ons is 'n omgee-gemeente, na binne en buite, wat 'n hoë premie op goeie verhoudinge, versorging en ondersteuning plaas. Die gemeente is in Gqeberha (Port Elizabeth) geleë.
|
Ons leraar help ons geestelik groei, bind ons saam en gaan ons voor in die dien van die Here, van mekaar en in uitreik na die groter gemeenskap. Hy of sy het 'n lewende verhouding met die Here, kan leiding neem, pas goeie selfbestuur toe, is 'n spanwerker en werk ook saam met kollegas in die ring. Ons gemeente plaas die fokus op jong ouers en gesinne wat ons graag by ons bediening wil betrek.
|
Die sluitingsdatum is 23 Februarie 2024. Klik hier vir die posbekendstelling.
|
|
|
|
|
Vakature: Voltydse leraar Uitenhage
Moedergemeente Uitenhage beskik oor ‘n pos vir ‘n predikant van die NG Kerk. Naas die vaardighede om uitvoering aan Artikel 9 te gee, sal dit ‘n aanbeveling wees as die leraar ook oor bestuursvaardighede beskik. Die gemeente bestaan uit 120 belydende lidmate en ‘n klein groep doop- lidmate. Die gemeente besit oor twee geboue, bestaande uit woonstel- eenhede en sakegeboue: Huis Senburg en Pro Ecclesia. Bestuurservaring en -kundigheid sal as aanbeveling dien.
|
|
|
|
|
Leraars beweeg
Ds Luanè McLachlan word op 4 Februarie 2024 by die NG gemeente Gamtoosvalei bevestig deur ds Anton Ferreira.
|
Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars.
|
|
|
|
|
|