Grens.Pos
Jaargang 19 - Nommer 10 - 9 April 2021 - Paastyd
Beste Danie,

In hierdie uitgawe

  • "Fathers Matter", 'n opwindende program met uitstekende materiaal is een van die fokusse van vanjaar se padberade
  • Drie nuwe Oos-Kapenaars is pas as diensleraars gelegitimeer. Wat is diensleraars, die nuwe amp in die NG Kerk? Leer ook een van hulle van naderby ken.
  • Die Pinksterreeks vir 2021 is pas bekendgestel. Laai dit af.
  • Verskeie VBO-kursusse word bekendgestel.
  • Waarom neem mense toenemend afskeid van die kerk? Hier is 'n uitstekende analise oor die VSA met lesse vir ons.

Drie nuwe Oos-Kaapse Diensleraars te Stellenbosch gelegitimeer

diensleraars
Diensleraars Hessie van der Walt, Rion van Niekerk en Lisa Schmidt by hul legitimasie in Stellenbosch

Op 29 Maart 2021 is 'n tweede groep diensleraars vir toegespitste bediening in die NG Kerk deur die kuratorium te Stellenbosch gelegitimeer. Drie van hierdie groep is Oos-Kapenaars wat nou proponente is en dus as diensleraars beroep kan word. Hulle is (hierbo v.l.n.r.) Hessie van der Walt van Jeffreysbaai, Rion van Niekerk van Port Elizabeth en Lisa Schmidt van Dordrecht.

Maar wat is diensleraars?

In 2019 het die Algemene Sinode besluite geneem wat ampte in die kerk verbreed het. In die toekoms sal daar naas leraars, nou ook diensleraars gelegitimeer en georden word. Hierdie leraars se opleiding het almal ’n spesifiek fokus en daarom word hulle toegelaat tot die bediening met ’n toegespitse bedieningsfokus. Diens­­leraars sal in gemeentes en gemeenskappe diens lewer wat ooreenstem met die fokusareas van hulle opleiding. Die areas van bedieningsfokus is byvoorbeeld Jeug en familiebediening; Geloofs­begeleiding; Berading; Gemeenskapsbediening. Dié proponente is nou beroepbaar na gemeentes om in dié bedienings­areas as diensleraars georden en bevestig te word.

Opvallend in die groep van diensleraars is dat die meeste van hierdie proponente reeds vir ’n aantal jare in gemeentes van die kerk betrokke is, maar sonder ampsbevoegdheid. Vir baie van hulle was dit ’n lang pad tot legitimasie omdat die kerk nie vroeër ruimte gebied het vir hierdie bedieninge binne die ampstruktuur van die kerk nie.

Verskeie familielede en vriende wat oor jare die proponente ondersteun het, het die legitimeringsdiens op 29 Maart onderhewig aan Covid-beperkings bygewoon. “Dit is alleen omdat ek ’n baie sterk roeping van God ontvang het, dat ek hierdie lang pad kon stap,” het baie van die proponente in gesprekke aan die kuratorium verduidelik. Almal wat die diens bygewoon het, was diep geraak deur die besonderse mylpaal wat dit vir hierdie proponente en ook vir die kerk is.

Hierdie proponente verkry nou die bevoegdheid om te preek en die sakramente te bedien en sal as dominees deel wees van die kerkrade van die gemeente, en deel van die gemeente se afvaardiging na die ring en sinode.

#pasgelegitimeer

Ontmoet Lisa Schmidt, proponent-diensleraar

Lisa Schmidt en haar man Gert en hul dogter Elria
Lisa Schmidt, pas gelegitimeerde diensleraar, haar man Gert en hul dogtertjie.
Lisa Schmidt is op 29 Maart 2021 deur die Kuratorium op Stellenbosch as diensleraar gelegitimeer (lees hier oor wat ‘n diensleraar is). Ons het vir Lisa ‘n paar vrae gevra om haar beter te leer ken.

Vertel ons meer van jouself. Waar kom jy vandaan en hoe het jou lewenspad tot hier geloop?

Ek is gebore in Oos-Londen op 6 Junie 1991. Ek het grootgeword in Molteno, Oos-Kaap en het ook daar skoolgegaan tot graad 5. Van daar af is ek koshuis toe en het verder skoolgegaan by Hangklip, Queenstown en het ook daar gematrikuleer (2009).

In Mei 2015 behaal ek my BTh (Unisa) en het ook verdere studies aan NWU gedoen: Grieks 1 en Grieks 2. Ek het dit voltooi en geslaag in 2018. Daarna het ek verdere opleiding gedoen deur Hugenote Kollege om ‘n Kerlike Diploma te verwerf in preek- en erediensleiding-vaardigheid. Ek het dit voltooi in Februarie 2021 en word as diensleraar gelegitimeer op 29 Maart 2021.

Ek is ‘n persoon wat nog altyd met mense wou werk en het dit goedgevind om my roeping in die bedieningsveld uit te leef. Lees verder.

(Grens.Pos het dieselfde vrae aan Hessie en Rion gestel en plaas dit sodra ons dit ontvang.)

Padberade fokus op "Fathers Matter" en onderlinge ondersteuning

fatherhood
Gemeentes word versoek om hul predikante, kantoorpersoneel, opvoedkundiges, maatskaplike werkers en jeugbedienaars, kategete en ander bedieningsleiers by vanjaar se padberade te laat inskakel.

'n Belangrike inset handel oor Fathers Matter, die uitgebreide program van Heartlines wat op die verantwoordelike rol van vaders in die huwelik, gesin en familie fokus. Ds Seth Naicker, 'n VGK-leraar en Heartlines medewerker, gaan 'n bruikbare inset maak waarmee gemeentes verder kan werk. Die bedoeling is nie om patriargie of fundamentalisme te koester nie, ook nie om aktivisties te wees nie.

"Fathers matter" word ontwikkel op grond van goeie navorsing (klik hier) en word as volg gemotiveer:

In South Africa, the majority of children grow up in homes without fathers. The nuclear family, as defined by Western culture (mom, dad and children), is not the norm. Unemployment is prevalent and the ability to earn money is often limited. Men are expected to provide financially despite their employment status and women are seen as the primary caregivers. Many men are often absent within the home and in caregiving roles. This is because they either do not live in the same house as their children (physical absence) or they are unable to be involved or engaged in their day-to-day routines and experiences (emotional absence) — or both. As a result, the reality for a large number of South African children is one of father absence.

A lack of positive and active presence of men in their lives puts children at risk. Global literature highlights that children who grow up without such fathers or father-figures are at an increased risk of becoming victims or perpetrators of violence, mental illness, substance abuse, teenage pregnancy and poor educational and economic outcomes. It’s important to note, however, that this is a risk, not a foregone conclusion. It’s also not to say that the role of single mothers is appreciated any less.

Kyk gerus ook na die bekendstellingsvideo en rigtinggewende insette.

Tydraamwerk
Die byeenkoms begin om 09:00 en Naicker sal sy inset teen 09:30 lewer. Onderwysers en ander is welkom om vir hierdie deel van die gesprek in te skakel en kan daarna weer uit die aanlynbyeenkoms vertrek. Die padberade sluit om 12:00 af.

Dan sal ons ook aandag aan mekaar en ons verhale, die gebeure en wedervaringe van gemeentes en die bediening gee.

Teken solank die datum waarop jou ring aan die beurt kom aan, en kommunikeer die datum met die kerkraad en bedieningsleiers in jul gemeente:

Maandag, 19 April 2021 (09:00 - 12:00)
Ringe van Algoa, Uitenhage en Cradock

Dinsdag, 20 April 2021 (09:00 - 12:00)
Ringe van Burgersdorp, Port Elizabeth en Sondagsrivier

Woensdag, 21 April 2021 (09:00 - 12:00)
Ringe van Humansdorp, Graaff-Reinet en Oos-Londen

Vrydag, 23 April 2021 (09:00 - 12:00)
Ringe van Albanie, Port Elizabeth-Wes en Dordrecht

Godsdienstige affiliasie neem sterk af

Waarom groei die "Nones" so sterk?

nones
Byna 25% van alle Noord-Amerikaners is nou "Nones", d.w.s persone wat geen godsdienstige affiliasie het nie.

Die "Nones" groei dramaties. In 1972 het slegs 5% van Amerikaners op sensusnavrae aangedui hulle behoort nie aan 'n kerk nie. Teen 2018 het hierdie syfer tot 23,7% gegroei, wat beteken die Nones is nou net so groot soos die evangeliese Protestante en die Rooms Katolieke. Binne die volgende dekade sal die "geen godsdiens"-groep die grootste religieuse groepering in die VSA wees.

In sy boek The Nones, Where they came from, Who they are and Where they are going skryf Ryan Burge besonder insiggewend oor hierdie groep. Hy beklemtoon dat dit 'n komplekse sosiale verskynsel is. Op die vraag waarom die groep so sterk groei kan daar volgens hom verskeie antwoorde gegee word.
Wat die verskynsel so kompleks maak, is die werklikheid van sosiaal aanvaarbare vooroordeel. Solank die meeste mense kerklike geaffilieer is, maak diegene wat die kerk verlaat nie 'n ophef daarvan nie. Hulle hou dit stil, maar verdwyn nietemin in die stilte.

Van die prominente redes wat Burge beskryf:

Eerstens sekularisasie. Volgens hierdie aanname is meer welvarende en meer geleerde mense minder geneig om kerk toe te gaan. Die data in die VSA ondersteun egter nie hierdie verklaring nie. Dieselfde geld waarskynlik in Suid-Afrika. Maar dalk is die verskynsel nou besig om te versnel en verklaar dit daarom die toename in Nones.

Tweedens, die internet. As dit sosiaal aanvaarbaar is om 'n Christelik en kerklik verbonde te wees, en mense daarom hul godsdienstige koudheid wil verberg, help die internet mense (wat andersyds sou sukkel om iewers in te pas) om allerlei sosiale tuistes vind. Die ongelowige en nie-kerklike vind meer ongelowiges en nie-kerklikes, wat dit makliker maak om 'n None te wees.

Derdens, 'n afname in sosiale konneksie. Die sosioloog Robert Putnam skryf in sy boek Bowling Alone dat mense oor die algemeen minder sosiaal konnekteer en oor minder sosiale kapitaal beskik. Die gebrek aan egter sosiale konneksie word deur die TV, die internet en sosiale media vervang. Burge is egter krities oor hierdie aanname en argumenteer dat die data dit nie sterk ondersteun nie.

Vierdens: verlies van vertroue in godsdienstige gesagstrukture. Skandes soos seksuele misbruik deur Katolieke priesters en die morele slaggate wat ander prominente godsdienstiges van tyd tot tyd tref, ondermyn die geloofwaardigheid van godsdienstige gesagstrukture. Burge sê dit word nie sterk deur data ondersteun nie, en "werk daarom as argument net tot by 'n sekere punt". Dit mag egter een stukkie van die legkaart wees.

Vyfdens veroorsaak skuiwe in gesin- en familiestrukture besliste aanpassings in kerklike affiliasie. Persone wat nie getroud is, en nie kinders het nie, is twee keer so geneig om godsdienstig onverbonde te wees as iemand wat beide getroud en 'n ouer is.

Sesdens is politieke verbondenheid moontlik 'n faktor in die VSA. Van Amerikaanse evangeliese Christene is 80% lede van die Grand Old Party. Burge sê: "devout Protestant Christians are Republicans, with very few exceptions." Kan dit wees dat Protestantse lidmate wat nie hierdie politieke patroon ondersteun nie, meer geneig sal wees om afstand van die kerk te neem? Volgens Burge word Protestante se kerklike affiliasie meer deur hulle politiek beïnvloed as deur hulle geloofsoortuigings. Dis 'n skoot koue water op Protestantse identiteitvorming in die VSA.

Burge kom tot die volgende gevolgtrekking:

If I were to have to point to a few factors, I think that secularization, politics, and the internet are the major causal factors that have given rise to the nones. While secularization might have put the pieces in place for America’s disaffiliation, I think what accelerated the shift were changes in politics, fueled in no small part by the introduction of the internet. It doesn't take a huge causal leap to believe that as the loudest and most numerous voices in Protestant Christianity became more theologically and politically conservative, that drove off a lot of moderates.

In Suid-Afrika sal die lyne tussen godsdiens en politiek straks anders lê. Nogtans is dit belangrik om van Burge se werk kennis te neem. Die aanname is immers: die verstaan waarom die Nones groei kerke kan help om sinvol en effektief daarop te reageer, en sodoende die uitvloei te beperk.

Pinksterreeks 2021 beskikbaar

Die Heilige Gees maak heel en nuut

pinkster
fokus van die 2021 Pinksterreeks is op die heling van ons gebroke werklikheid te midde van die Covid-19 Die pandemie en die baie ander uitdagings wat ons land tans in die gesig staar. Daar is ’n donkerte aan die tyd waarin ons leef, en ons smag na lig, na heling, na lewe.

Hierdie ontwrigtende tyd roep allerlei vrae en temas op: vrae oor God se teenwoordigheid / afwesigheid / versluiering in hierdie tyd; die mens se verlange na hoop / troos / betekenis; die heelmaak van verhoudinge; die heelmaak van die kerk, die heelmaak van die natuur; die heelmaak van waarheid; die heelmaak van gemeenskappe; die heelmaak van geloof, ensovoorts.

Hierdie heel- en nuut maak is veral die werk van die Heilige Gees, as derde Persoon in die Drie Eenheid. Verskillende fasette van die Gees se werksaamhede word hier belig.

Die reeks is vanjaar uitgewerk deur leraars van die NG Kerk, VGKSA en NGKA verbonde aan die Departemente “Praktiese en Missionale Teologie” en “Historiese en Konstruktiewe Teologie” van die Fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit van die Vrystaat. Die temas van hierdie reeks is die volgende:
  1. Hemelvaart en die aardse werk van die Gees (Die Gees van Christus) [Dr. Eugene Baron]
  2. Hoekom is die Gees gestuur? (Identiteit en kernwerksaamheid van die Gees) [Dr. Eugene Fortuin]
  3. Die Gees help ons om te glo (open ons oë en harte – “unveiling”) [Dr. Andries Hoffman]
  4. Die Gees lei ons in die hele waarheid (kennis, onderskeiding) [Dr. Lyzette Hoffman]
  5. Die Gees vertroos en genees (individue en gemeenskappe) [Dr. Juanita Meyer]
  6. Die Gees bou, bemagtig en lei die kerk [Prof. Kobus Schoeman]
  7. Die Gees herstel en herskep die natuur (ekologie) [Prof. Jan-Albert van den Berg]
  8. Die Gees help ons bid (aanbidding en voorbidding) [Dr. Suzanne van der Merwe]
  9. Die Gees skep gemeenskap met God en mekaar (eenheid, versoening) [Prof. Pieter Verster]
  10. Die Gees roep en stuur ons na die wêreld – met hoop [Dr. Wessel Wessels]
Die reeks word geborg, versorg en versprei deur die Christelike Lektuurfonds. Klik hier om dit af te laai.
(Eddie Orsmond en Gideon van der Watt: CLF Publikasies)

Wet op die beskerming van persoonlike inligting

POPIA-Handleiding vir gemeentes beskikbaar

Die argivaris en aktuaris het opdrag gekry om 'n handleiding saam te stel oor die hantering van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, die sogenaamde POPI-ACT (Protection of Personal Information Act, daarom kortweg bekend as POPIA).

Die eerste uitgawe van die Handleiding vir gebruik deur kerkkantore is nou op ons sinode se webblad beskikbaar in PDF of MS Word-formaat (laasgenoemde is handig by die kopieer en voltooi van tabelle).

Hierdie is die eerste uitgawe van die handleiding vir gemeentes / kerkkantore. Gebruik dit asb. as werkdokument en lewer kommentaar of rig navrae aan die argivaris, dr Andrew Kok (argief@kaapkerk.co.za).

Neem ook kennis: Die regulasies bepaal dat elke gemeente voor einde Maart 2021 'n inligtingsbeampte by die Inligtingsreguleerder moet registreer. Ons het kennis gekry dat die proses tans uitgestel is. Sodra ons 'n finale datum het, sal ons dit aan u kommunikeer. Moet dus nie nou die gemeente se inligtingsbeampte probeer registreer nie.

VBO: Kursusse beskikbaar by Calvin Institute for Christian Worship

cicw1
cicw2
Nota: Indien jy van hierdie kursusse voltooi het, stuur 'n e-pos aan sinode@ngkok.co.za om te versoek dat ons vir jou VBO-punte laai.

Drie VBO-kursusse van Excelsus in April

12 - 14 April (Aanlyn per Zoom)
Sertifikaat in Bedieningsvernuwing : Module 3
Wie is God?
Dr Andries Kritzinger
Sluitingsdatum: 8 April

13 - 14 April (NG Stellastraat)
Opleiding van Begeleiers van 'n Bedieningsdiagnose in gemeentes
Prof Malan Nel
Sluitingsdatum: 8 April

20 - 21 April (Aanlyn per Zoom)
Kom ons lees die Ou Testamentiese profete.
Dr André Bartlett
Sluitingsdatum: 15 April

Indien jy nog nie ingeskryf het nie en graag deel wil wees van hierdie werkswinkels, besoek asseblief Excelsus se webblad www.excelsus.org.za om aanlyn aan te skryf.

Vir navrae kontak asseblief vir Rika by excelsus.org.za

Vakature vir leraar: NG gemeente Burgersdorp

Burgersdorp-gemeente het volgens die posbekendstelling vanaf 1 September 2021 'n vakante leraarspos. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 30 April 2021 en diensaanvaarding geskied "so gou as prakties moontlik na suksesvolle onderhandelinge". Klik hier vir die posbekendstelling.

Vakature: Rekeningkundige beampte, Algemene Sinode, Pretoria

Dr Lourens Bosman laat weet: Die Algemene Sinode beskik oor 'n halfdag posisie vir 'n rekeningkundige beampte. Twee jaar toepaslike rekeningkundige ondervinding sowel as kerklike ondervinding sal gunstig oorweeg word. Die geskikte kandidaat moet in staat wees om sy/haar eie werk te beplan, te organiseer en te implementeer. Goeie interpersoonlike vaardighede is 'n vereiste. Sluitingsdatum vir aansoeke is 20 April. Klik hier vir volle posbeskrywing.

Leraars beweeg

Ds Enslin van Velden is op 7 April 2021 as brugleraar na Somerset-Oos beroep.

Ds Heinrich Carstens (van Overkruin-gemeente) is op Paassondag, 4 April 2021, as mede-leraar in PE-Lorraine bevestig.

Kerkkantore word herinner om die sinodale kantoor in kennis te stel oor die beweging van leraars.
facebook twitter