Jaargang 22 - Nommer 7 - 1 Maart 2024
Beste leser,

In hierdie uitgawe:

  • Regsadvies: Opskorting van kerkverband is 'n wanvoorstelling en het geen regskrag nie
  • Hoop is 'n werkwoord - plaasmoord op ouers motiveer geneeshere te Barkly-Oos
  • Luister: Jan Lubbe en Anton Knoetze in gesprek oor die "ongemaklikheid" in die kerk
  • Christelik-Maatskaplike Raad vra dringend steun by gemeentes
  • Leraars beweeg

Barkly-Oos Hospitaal word (na plaasmoord) een van die beste landelike hospitale

Dr Christina de Villiers van Barkly-Oos (Foto: Kerkbode)
In 2013 het dr Christina de Villiers beide haar ouers in 'n gewelddadige plaasaanval op die familieplaas in Barkly-Oos verloor. Dit het beide haarself en haar man, dr Johan Olivier, laat wonder of hulle hul mediese loopbane op Barkly-Oos moet voorsit. Die dorpie is egter ver van die naaste groot staatshospitaal, het sy besef, wat beteken plaaslike mediese dienste is werklik belangrik - ook vir die groot aantal toeriste wat die pragtige gebied met sy wintersneeuval besoek.

Die gemeenskap se ondersteuning van die egpaar en goeie samewerking met Nokonwaba Yekani-Mati, superintendent van die Cloete-Joubert Provinsiale Hospitaal in Barkly-Oos, het die egpaar laat besluit om te bly. Daarby het hulle die dorp gehelp om hierdie hospitaal te omskep in een van die beste landelike hospitale.

Hierdie verhaal is verlede week by Landbouweekblad se Oplossings vir die Platteland-Beraad te Bothaville vertel. Lees die verhaal.

Landbouweekblad het 'n webblad geskep waarop tale en talle wonderlike, leersame verhale vertel hoe gewone mense op die platteland oplossingsgedrewe aksies begin neem het. Besoek gerus hierdie blad.

"Hoop is 'n werkwoord" skryf Anneliese Burgess in 'n uitstekende berig in Vrye Weekblad oor die Bothaville-Beraad.

Advies van senior advokate

Akte van Opskorting van kerkverband het geen waarde of regsgelding

In opdrag van die Algemene Sinode is regsadvies van twee onafhanklike senior advokate ingewin oor gemeentes wat 'n akte van opskorting van kerkverband uitreik en daarmee meen hulle het die band met die Algemene Sinode en breër NG Kerk (sinode en ring) opgesê, maar steeds as 'n NG gemeente kan voortbestaan. Dit volg onder meer nadat Tafelberg-gemeente die verband met die NG Kerk opgesê het.

Die Algemene Taakspan Regte (ATR) het die advies ingewin van adv Paul Farlam SC in Kaapstad en adv (dr) Ben Stoop SC in Pretoria. Dit is op 28 Februarie 2024 aan die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) voorgelê.

Die doel met die advies is om regsekerheid te skep, sodat die kerk weet ons volg ons eie reëls (die kerkorde) op 'n korrekte manier. In die advies word die volgende vrae beantwoord:
  • het 'n gemeente die bevoegdheid/mandaat/reg om die verband met die kerk op te skort?
  • het 'n gemeente die bevoegdheid/mandaat/reg om uit algemene sinodale verband te tree?
  • op watter wyse kan uittrede uit die kerkverband geskied ?
  • wat is die gevolge vir 'n gemeente wat uittree uit die kerkverband?
Uit die advies blyk dat opskorting van die kerkverband nie kerkordelik of gemeenregtelik moontlik is nie. Die kerkorde maak nie daarvoor voorsiening dat 'n kerkraad of enige ander kerkvergadering die bevoegdheid het om enige artikel van die Kerkorde op te skort of te verander nie. Dit hoort slegs tot die bevoegdheid van die Algemene Sinode ter vergadering. 'n Sleutelbegrip is die wyse waarop die Universitas-beginsel in die reg funksioneer.

"In die gemene reg is dit geyk dat partye nie 'n kontrak eensydig kan opskort nie. 'n Gemeente kan dus vanuit 'n gemeenregtelike hoek nie eensydig besluit om die verband met die kerkverband op te skort nie." 'n Eensydige poging om 'n kontrak te kanselleer, hef nie die kontrak op nie. Enige so 'n bewering is misleidend.

'n Kerkraad het dus nie die bevoegdheid om die kerkverband op te skort nie, aangesien dit op die verbreking van die onderlinge kontrak van die gemeentes onderling neerkom. Opskorting het geen regskrag nie.

Terwyl gemeentes nie kerkregtelik uit die kerkverband kan tree nie, is dit uit gemeenregtelike perspektief langs 'n moeisame weg wel moontlik indien AL die lidmate eenparig instem. Hiervoor sal 'n gemeentevergadering nie voldoende wees het, het dr Bertus Celliers, voorsitter van die ATR, aan die ASM gesê. 'n Kerkraad kan nie so 'n besluit neem nie.

Klik hier om die volledige regsmening soos deur die Algemene Taakspan Regte voorgelê, te lees.

Lees ook die verklaring van die Algemene Sinodale Moderamen in die volgende berig net hieronder.

Regsadvies oor opskort van kerkverband

Verklaring van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM)

LEIDING EN ADVIES VAN DIE ASM OOR DIE POSISIE VAN GEMEENTES WAT DIE KERKVERBAND OPSKORT

29 Februarie 2024

Die ASM het via die ATR regsadvies ingewin oor die kerkordelike posisie van gemeentes wat uit kerkverband wil tree of besluite neem oor die “opskorting van kerkverband”. Hierdie regsadvies is verkry van senior regslui wat die vraagstuk vanuit 'n gemeenregtelike sowel as kerkordelike perspektief beoordeel het.

1. Die advies is bedoel om sinodes, ringe, kerkrade en lidmate te help om die volgende vrae te beantwoord:
1.1 het 'n gemeente die bevoegdheid/mandaat/reg om die verband met die kerk op te skort?
1.2 het 'n gemeente die bevoegdheid/mandaat/reg om uit algemene sinodale verband te tree?
1.3 op watter wyse kan uittrede uit die kerkverband geskied ?
1.4 wat is die gevolge vir 'n gemeente wat uittree uit die kerkverband?

2. Die ASM bevestig die volgende op advies van die ATR:
2.1 Die “Akte van Opskorting” het geen regskrag en kan beskou word as 'n nulliteit of kerkordelike/juridiese kortsluiting wat gewoon onwettig en misleidend is.
2.2 'n gemeente wat volhard met die narratief dat hulle die kerkverband opskort, doen dit met die wete dat hulle steeds verantwoordelik bly vir al die verantwoordelikhede en verpligting wat hulle teenoor die kerkverband het en steeds gebind is aan die Kerkorde en kerklike besluite.
2.3 'n wegbreekgroep wat volhard met die narratief dat hulle die kerkverband opskort en terselfdertyd hulleself beskou as 'n onafhanklike gemeente doen dit met die wete dat hulle hulleself buite die NG Kerkverband plaas en dus die NG Kerkverband verlaat en nie meer die naam NG Kerk mag gebruik nie. Dit beteken ook onder andere die verlies van eiendom, bevoegdheid, lidmaatskap ens.

3. BESLUIT
Die ASM:
3.1 Versoek sinodes om die volledige dokument (advies van die ATR aan die ASM) te gebruik om ringe, kerkrade en lidmate volledig in te lig oor die kerkregtelike en gemeenregtelike posisie van gemeentes en lidmate wat wil uittree of die verband wil opskort.
3.2 Versoek sinodes om ringe, kerkrade en lidmate deur middel van hulle eie sinodale kommunikasie kanale in te lig dat die opskorting van die kerkverband 'n wanvoorstelling is en dat dit geen regskrag het nie en dat gemeentes steeds hulle verantwoordelikhede ten opsigte van die kerkverband moet nakom.
3.3 Versoek sinodes, ringe en kerkrade om lidmate te verwittig dat die “opskorting van die kerkverband” ongeldig is en dus nié hulle lidmaatskap van 'n gemeente van die NG Kerk in gedrang bring nie.
3.4 Versoek sinodes om ringe aan te moedig en te ondersteun om die orde te herstel in gemeentes waar hierdie opskorting van die kerkverband deur 'n kerkraad onregmatig geskied het.

Podsending:

Jan Lubbe (Algemene Sinode) en Anton Knoetze (Koinonia Sinode) in gesprek

Ds Jannie Pelser het 'n verhelderende gesprek tussen ds Jan Lubbe, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, en dr Anton Knoetze, voorsitter van die sg. Koinonia Sinode, op Radiokansel gelei. Dit bring belangrike perspektief op die dikwels ongemaklike verhouding tussen dié twee liggame. Klik hier om daarna te luister en deel die skakel ook met ander.

Die gesprek bied broodnodige verheldering oor die hantering van die ongemak in die kerk.

Oos-Kaapse Christelike Maatskaplike Raad vra gemeentes vir steun en deurkollektes

Ds Christo Stümke, voorsitter van die Christelike Maatskaplike Raad in die Oos-Kaap, rig 'n par versoeke aan gemeentes. Dit gaan om steun wat dringend benodig word om hul werksaamhede voort te sit. Hy skryf onder meer:

CMR Oos-Kaap bestaan uit 11 kantore in die Oos Kaap. Ons dienste is spesifiek gerig op Kinderbeskerming en die bemagtiging van gemeenskappe tov die welsyn van kinders en die ontwikkeling van ouers. Die afgelope 80 jaar het CMR in die Oos-Kaap ontwikkel met ‘n rykdom van goed ontwikkelde programme en vaartbelynde dienste. Die meegaande profiel, voorsien meer spesifieke inligting tov die dienste wat gelewer word.

Die voortbestaan van ons kantore word tans ernstig bedreig aangesien die befondsing deur die Staat oor jare heen, onveranderd bly en die bedryfskostes toeneem. Tog ervaar ons ‘n drastiese vermeerdering in die nood binne die gemeenskappe wat bedien moet word.

Daarom vra die CMR van gemeentes:
  • Om ernstig saam te bid vir CMR se toekoms en voortbestaan.
  • Om iewers betrokke te raak by finansiële voortbestaan.
  • Om kollektes op te neem vir CMR Oos-Kaap al beskik u gemeenskap nie oor ‘n kantoor in u onmiddellike omgewing nie, want dit gaan oor die nood in die Oos-Kaap.
  • Om u lidmate aan te moedig om betrokke te raak by praktiese hulpverlening, bv. voedselhulp, die diens /instandhouding van motors/toerusting/geboue, regsadvies, en sielkundige dienste.
Lees asseblief die volledige skrywe.

Ds Jos van der Merwe beskikbaar vir optrede in gemeentes

Ds Jos van der Merwe, pas afgetree by Gamstoosvallei-gemeente, maak 'n aanbod. Hy skryf:

Sommer net 'n versoekie indien moontlik: Ek en my vrou wil graag nog bietjie waarde toevoeg waar moontlik. Ek preek nog gereeld en my vrou begelei gereeld (orrel of ander instrumente). Indien daar gemeentes is in die Baai of omgewing is wat leraars en orreliste (begeleiers) nodig het vir 'n Erediens, kan hulle ons gerus skakel by 0829233167. Ons is so gerat dat ons selfs ons eie klank en klavier kan saambring waar dit nodig is. Retha was my hele bediening orrelis van die gemeentes waar ek was en sy is nog een van die min opgeleide orreliste (B-Mus met Orrel III) tans. Sy kan begelei!

Geleefde wysheid by PE-Hoogland - oor gesonde eetgewoontes

Aanlyn VBO

Kreatiewe werkswinkel oor die viering van Paastyd

By hierdie aanlyn werkswinkel o.l.v. dr André Bartlett word daar saam gedink en saam gewerk aan die viering van:Paasfees, die Sondae in Paastyd, Hemelvaart en Pinkster. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 8 Maart 2023. Hier is volledige besonderhede waaronder die skakel na die inskrywingsvorm.

Leraars beweeg

Ds Wouter O'Kennedy van Despatch-Noord het op 25 Februarie 2024 sy akte van emeritaat by die Ring van Sondagsrivier ontvang.

Ds Gerhard van Tonder van Hanover is na Steynsburg beroep. Hy het die beroep aanvaar en word op 24 Maart 2024 in die amp deur ds Corné Slabbert van Cradock bevestig.

Ds Riaan van der Mescht tree weens gesondheidsoorwegings uit die bediening by Nahoon-gemeente. Sy laaste werksdag is 29 Februarie 2024.

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars.
facebook twitter