|
|
|
Jaargang 21 - Nommer 28 - 24 November 2023
|
|
|
|
|
|
In hierdie uitgawe:
- 'n Welwillende weg rondom die selfdegeslagbesluite in Oos-Kaapland gesoek
- Belangrik: Lees die Herderlike Brief van Algemene Sinode 2023
- Ds Gys van Schoor bied 'n besondere geloofsreis vir predikante vanaf 2024 aan
- Leraars beweeg
|
|
|
|
|
|
Algemene Sinode reik herderlike brief aan lidmate en gemeentes uit
|
|
|
|
As daar ‘n eerste blywende indruk van die afgelope Algemene Sinode was, dan is dit dít: Dat die NG Kerk in Suider-Afrika haarself nederig tot God wóu wend, soekend na ‘n weg vorentoe in ons lande en getrou aan die roeping wat ons van Hóm ontvang. Die belangrikste besluit in Birchwood was daarom dié een oor ons verbintenis aan die Woord van God:
|
|
|
“Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem… Ons bely dat God Homself in die algemeen bekendmaak in die Skepping en onderhouding van alle dinge, en in die besonder in sy heilige en Goddelike Woord, die Bybel… So lees ons die geskrewe Woord van God in verbondenheid aan Christus, die Woord wat mens geword het en lewe; en deur die Heilige Gees wat in ons hart getuig dat hierdie Woord opnuut in al die gestaltes daarvan inderdaad van God is.”
|
|
In hierdie gees het die Algemene Sinode Sondagaand staande met die Geloofsbelydenis van Nicea begin en Vrydagmiddag met die Apostoliese Geloofsbelydenis afgesluit – dít is wie ons as NG Kerke is. Ons belydenis is nie net ‘n tradisie of oriënteringspunt nie, maar ‘n getuienis uit ons harte. Dít was die tweede belangrike besluit van die vergadering:
|
|
|
“In sake ons geloofsbelydenis aangaande God as Skepper, Christus as ons Verlosser en die Heilige Gees as ons Trooster, verstaan ons as Sinode dit in die gees en strekking van hoe die belydenisskrifte uit die tyd van die Reformasie dit uitlê en dit in ons gereformeerde tradisie vertolk en in ons eredienste verkondig word.”
|
|
Só skryf ds Jan Lubbe, moderator van die jongste Algemene Sinode, in die herderlike brief wat vandeesweek aan leraars en gemeentes gestuur word. Lees gerus die volledige skrywe wat 'n goeie oorsig oor die agttiende vergadering van die algemene sinode gee.
|
|
|
Selfdegeslagbesluit: 'n Welwillende weg vir Oos-Kaapland gevra
Die Sinodale Kommissie van Sinode Oos-Kaapland (SK) het tydens sy jaarvergadering indringend gesprek oor die jongste Algemene Sinode en spesifiek die selfdegeslagbesluit van 2023 gevoer.
|
Kennis is geneem dat Artikel 32 met 'n tweede paragraaf uitgebrei word, om as volg te lui:
|
|
|
"32.1 Die Sinode word saamgestel uit afgevaardigdes van gemeentes wat geografies 'n eenheid vorm en maklik vergader. Die groepering kan deur die Algemene Sinode / Algemene Sinodale Moderamen gewysig word op versoek van en met goedkeuring van die betrokke sinode(s) / sinodale kommissie(s). "32.2 Gemeentes wat by 'n ander sinode wil inskakel, doen aansoek by beide sinode(s) / sinodale kommissie(s) (vgl. voetnoot 1 wat dit oorweeg aan die hand van prosedures soos deur die Algemene Sinode / Algemene Sinodale Moderamen in oorleg met die Algemene Taakspan Regte vasgestel). Indien beide die betrokke sinodes / sinodale kommissies die aansoek goedkeur, word dit aan die Algemene Sinode / Algemene Sinodale Moderamen voorgelê vir goedkeuring."
|
|
Dit sal dus uiteindelik vir gemeentes moontlik wees om by die samestellende sinode van hulle keuse aan te sluit. Dit kan gebeur sodra die Algemene Sinodale Moderamen in oorleg met die tien samestellende sinodes die nodige prosedures hiervoor geformuleer het.
|
In die lig van die nuwe moontlikhede het die SK eenparig die volgende besluit geneem:
|
1. Die SK verbind haar aan die ondersteunende pastorale begeleiding van gemeentes wat daarvoor vra; 2. Die SK ondersoek modelle wat 'n welwillende weg vorentoe moontlik maak vir gemeentes wat die verband met die Sinode Oos-Kaapland en hul ring wil opsê. Die SK-Dagbestuur gee hieroor terugvoer aan die SK. 3. Die SK berei 'n aanbeveling voor aan die volgende Oos-Kaaplandse sinodale vergadering van 2025 rondom die 2023-besluit.
|
Daar is nog heelwat uitklaring wat nodig is en prosesse wat gefinaliseer moet word. Gemeentes word amptelik op hoogte gehou van vordering met die proses.
|
|
|
Oorsig oor die breë werksaamhede van die NG Kerk
|
|
|
|
Tydens die onlangse Algemene Sinode is 'n video vertoon wat 'n kort, pakkende oorsig oor die werksaamhede van die NG Kerk oor 'n breë front gee. Klik op die skakel hierbo om daarna te kyk
|
|
|
|
|
Algemene Sinode en misverstande oor gesamentlike aanbidding
Een van die misverstande wat voortleef na Algemene Sinode 2023 is dat die NG Kerk gesamentlike aanbidding met ander godsdienste "goedgekeur" het of "aanmoedig". Dit is nie waar nie.
|
Een van die aspekte waaroor onder meer gesels is, is aanbidding in publieke ruimtes, soos die opening van bv. 'n munisipale vergadering waar verteenwoordigers van anders godsdienste teenwoordig is. Hoe tree Christene dan op. (Dit laat mens dink aan die situasie in Hand. 17 waar Paulus te midde van heidense godsdienste op die Areopagus sy Christelike getuienis gelewer het.)
|
Wat die Algemene Sinode wel besluit het:
|
|
|
Die AS neem ons belydenis van die Drie-Enige God as vertrekpunt en verwerp alle vorme van sinkretisme. Voortspruitend hieruit kan ’n gespreksgids deur ATLAS en die Taakspan vir evangelisasie ontwikkel word wat vir Christene konkrete leiding gee in hulle omgang met mense van ander gelowe, ook in publieke ruimtes. Die AS versoek dat hierdie gespreksgids voorgelê word aan die AS in sitting 2027. Die AS versoek ATLAS om ’n werkgroep aan te wys om ’n ondersoek te doen oor die kenmerke, oortuigings en behoeftes van mense wat hulleself nie met enige godsdiensgroepering assosieer nie met verslagdoening aan die AS van 2027.
|
|
|
|
Gewilde vormende geloofsreis vir predikante kom Oos-Kaap toe
|
|
|
|
Ds Gys van Schoor en sy vrou, Thea, (voorheen van Somerstrand- en Durbanville-gemeentes) van die Sentrum van Geloofsvorming (Greyton) het al meer as 300 predikante landswyd op die geloofsreis begelei. Hulle is ook genooi om dit in 2024 vir predikante in Namibië aan te bid. Van die onderwerpe waaraan daar aandag gegee word is: -Die herontdekking van Jesus en sy Koninkryksevangelie. -Is jou "doing" besig om jou "being" te verlam? -Emosioneel gesonde spiritualiteit. -Hoe ontwikkel jy 'n langasem vir die bediening? -Dissipelskap as geloofsvormende reis. -Om met groter vryheid te leef. -Hoe vind karaktertransformasie plaas?
|
Vele predikante vra hiervoor. Die lang gekoesterde ideaal word in 2024 werklikheid wanneer ds Gys van Schoor van die Sentrum vir geloofsvorming die geestelike reis vir predikante in die Oos-Kaap kom aanbied. Predikante word aangemoedig om in te skakel.
|
Predikante wat hierby ingeskakel het getuig met lof van die impak daarvan op hulle lewe.
|
Die reis duur oor drie jaar, met twee retraites per jaar. Teken solank die datums aan: Retraite 1: 18-21 Maart 2024 en Retraite 2, 21-24 Oktober 2024.
|
Die koste beloop R1,850 per retraite, maar daar is 'n 50% subsidie beskikbaar vir predikante wat betyds inskakel.
|
|
|
|
|
|
|
Gesoek: 'n Leraar om Pinkster in 2024 by Ugie en Maclear te kom hou
Die gemeentes van Ugie en Maclear word gesamentlik bedien. Die kerkrade is op soek na 'n leraar om Pinkster in 2024 by die gemeentes te kom hou. Verblyf en etes word voorsien. Pinkster sal ook, indien moontlik ietwat vroeër in die jaar gehou word.
|
Belangstellende leraars kan Chrisjan Kotze by 0845121808 of Patricia Schmidt by 0824108998, kontak.
|
|
|
|
|
Kerklike feesdae en vakansiedae vir 2024
Klik hier vir 'n lysie van 2024 se kerklike fees- en vakansiedae, met skoolkwartale daarby.
|
|
|
|
|
|
|
"Lang tafel" vir versoeningsdag in die Baai
|
|
16 Desember. Versoeningsdag. ’n #TydVirTafels in ons verdeelde land. ’n Tafel skep ’n ideale ruimte vir saamwees, stories vertel en gedeelde lewensstories.
|
Op Versoeningsdag laas jaar het ons in die food court van Baywest Mall bymekaar gekom en ’n klomp tafels teenmekaar geskuif om ’n langtafel te vorm. Oor pizzas en koeldrank het swart, wit en bruin stories met mekaar gedeel, ’n feestelike viering van ons diverse ervarings.
|
Kom deel weer op Versoeningsdag in hierdie geleentheid deur ’n vriend van ’n ander kultuur te nooi om saam ’n pizza te breek en te kuier. Sien jou op Saterdag, 16 Desember om 11:30.
|
|
|
|
|
VBO: Gesprekke oor die eerste 1,000 dae van 'n kind se lewe - en die kerk
90% van die brein se ontwikkeling vind plaas vóór die ouderdom van 5 jaar. Die vraag is egter, hoe dra die kerk by tot hierdie belangrike tydperk in kinders en ouers se lewe? Richard Lundie van Sikunye en commongood.org.za gaan saam met ons hieroor dink en droom. Temas is onder andere: "The Church & Early Life" and "How to be an First Thousand Days-friendly church".
|
Die baie praktiese gesprekke vind plaas oor 2 oggende:
|
• Dinsdag 28 November 09:30-12:30 • Woensdag 29 November 09:30-12:30
|
Dit vind by die Sinodale Kantoor (Bybelhuis, Cotsworldlaan 31) plaas, en bywoning is gratis. Laat weet gerus vir ds Toit Wessels teen 24 November, indien jy dit wil bywoon - toit@ngkraggakamma.co.za / 084 240 2916
|
|
|
|
|
Aanlyn VBO met prof Wentzel Coetzer
Impak van oorgeërfde familietrauma - pastorale perspektiewe
'n Aanlyn Pastorale Beradingskursus deur prof Wentzel Coetzer met die titel: Pastorale begeleiding rakende die impak van oorgeërfde familietrauma (Generasiebagasie)
|
Die problematiek rondom Generasie Bagasie (intergenerasie trauma) hou verband met die feit dat ouers dikwels deur intense trauma gaan sonder die nodige hulp en begeleiding. Dit kan 'n proses wees wat oor jare strek en die kinders en kleinkinders wat dan binne so 'n familie opgroei, word uiteindelik op talle wyses geraak deur die impak van hierdie onverwerkte trauma – onder andere ouerlike vaardighede wat in die slag bly. Indien sodanige trauma nie hanteer word nie dan toon die navorsing dat dit as't ware 'n 'pakkie pyn' word wat onbewustelik aan kinders en kleinkinders 'oorhandig' word – dit kan weer lei tot probleme op emosionele, geestelike of fisiese terreine. Vanuit die navorsing blyk dat 'n geneagram 'n handige hulpmiddel kan wees ten einde te probeer vasstel hoeveel onverwerkte pyn en trauma binne 'n sekere familie aanwesig mag wees – hoe gesond of hoe sieklik die algemene milieu dus was waarbinne ʼn spesifieke individu gebore was.
|
|
|
|
|
Vakature: Voltydse leraar Uitenhage
Moedergemeente Uitenhage beskik oor ‘n uitdagende pos vir ‘n predikant van die NG Kerk wat beide oor pastorale en bewese bestuursvaardighede beskik.
|
Die gemeente bestaan uit 120 belydende lidmate en ‘n klein groep doop-lidmate. Die gemeente besit ook twee geboue, bestaande uit woonstel-eenhede en sakegeboue: Huis Senburg en Pro Ecclesia. Naas die pastorale versorging van lidmate, is die leraar ook verantwoordelik vir die oorhoofse bestuur van die eiendom in oorleg met die beheerrade. Pligte bestaan dus uit Artikel 9 tesame met ‘n bestuursrol.
|
|
|
|
|
Vakature vir 'n voltydse leraar: NGK Jansenville
Jansenville-gemeente is in die Noorsveld geleë, 180 km vanaf Gqeberha (Port Elizabeth) en 85 km van Graaff-Reinet. Die gemeente bestaan uit ongeveer 250 belydende en 30 dooplidmate wat in drie plaaswyke en vyf dorpswyke woon. Boerdery vorm die kern van ekonomiese aktiwiteit en Jansenville is ‘n sleutelpunt van die werêldwye bokhaar-(“mohair”) bedryf. Verskeie groot en klein sakeondernemings is die werk- verskaffers wat in die meeste verbruikerbehoeftes voorsien. Jansenville is ‘n skoon dorpie op die wal van die Sondagsrivier. Die netjiese klein hospitaal het ‘n dokter, ‘n apteker en radiografis. In die gemeente is ‘n tehuis vir bejaardes, laer-/hoërskool en kleuterskool.
|
Die gemeente stel 'n voltydse leraarspos vir 'n vaste termyn bekend. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 15 Januarie 2024. Klik hier vir die posbekendstelling.
|
|
|
|
|
Leraars beweeg
Ds Luané McLachlan van Murraysburg het die beroep na Gamtoosvallei-gemeente aanvaar en word op Sondag 4 Februarie 2024 in die gemeente verwelkom.
|
Prop. Bianca Marais word op 3 Desember te Blouwaterbaai Familiekerk bevestig.
|
Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars.
|
|
|
|
|