Jaargang 22 - Nommer 13 - 3 Mei 2024
Beste leser,
TEKEN IN op Grens.Pos

In hierdie uitgawe:

  • Liturgiese riglyne vir Sondag, 5 Mei: Gebed vir die verkiesing aan die hand van Psalm 46
  • Padberade skep energie
  • Aanlyn VBO: Wat gebeur in die konteks van die NG Kerk?
  • Leraars beweeg

Padberade bring leiers bymekaar en fokus op God se teenwoordigheid by ons

Padberaad op Cradock, een van vier wat van 21 tot 24 April regdeur die sinode gehou is

Hoe is God deur elkeen van ons in die wêreld teenwoordig en hoe seën God onsself en sy kerk deur die passie en gawes wat God in ons uitstort? Hierdie was 'n sentrale tema waar leiers uit gemeentes, leraars ingesluit, tydens die pas afgelope padberade gesels het. Ons het diep na mekaar geluister en ons stories met mekaar gedeel. 'n Wonderlike mosaïek van verskillende gawes, roepingsverhale, energiepunte en fokusse met God wat alles tot opbou van sy kerk harmonieer het na vore gekom.

Aan die hand van Eugene Peterson se insette oor die belangrikheid van plek en konteks, en die toekoms (eskatologie) wat God vir ons weggelê het, kon ons bediening oriënteer. Die doel was om opnuut energie in God se aanwesigheid by ons, en God se rigting met ons te vind.

Die vier padberade is deur meer as 200 persone bygewoon. Dit beteken daar was meer lidmaatleiers as predikante teenwoordig. Deur die jare het ons geleer om dit te beleef as 'n helder teken van gesonde leierskap in gemeentes.
Ons het vir mekaar gebid tydens elke padberaad

Liturgiese riglyne vir 5 Mei: Dag van gebed vir die verkiesing

Die NG Kerk neem saam met ander Christelike kerke op 5 Mei deel aan 'n dag van gebed vir die verkiesing. Vandeesweek is liturgiese riglyne vir die geleentheid bekendgestel. Klik hier om dit af te laai.

Maak asb. erns met die geleentheid. Dit is 'n belangrike verkiesing. Lees ook in 'n berig hieronder wat die SA Katolieke Biskopperaad oor die verkiesing sê.

Kinderbeskerming: Die kerk se stem maak 'n gewigtige verskil

Meimaand is Kinderbeskermingsmaand. Die fokus op kinderbeskerming en verbandhoudende temas is ’n ideale geleentheid vir die kerk om saam met ons kerk-eie maatskaplike diensorganisasies, ’n profetiese stem te laat hoor oor hierdie saak wat ons weet ’n brandende kwessie in ons samelewing is. Wat sal die kerk sê oor kinderbeskerming?

Die ideaal is dat ’n sinodale streek en maatskaplike diensteraad in gesprek hieroor tree. Kwessies soos kindermishandeling, kinderhandel en kuberveiligheid, selfmoordgedrag onder kinders, trauma by kinders, en andere, is temas waaroor die kerk sonder enige twyfel iets te sê behoort te hê, al is dit net om ons ondersteuning te betuig met maatskaplike diensorganisasies wat hiermee werk. Gesamentlike persverklarings en publieke getuienis in hierdie tyd sal baie verder tref as wanneer partye dit op hul eie doen tydens kinderbeskermingsmaand. Oorweeg ’n gesamentlike inisiatief in die verband.

Daar is ’n unieke geleentheid wat deur die maatskaplike diensorganisasie Tutela in die Hoëveld Sinode in Kempton Park gereël word vir 1 Junie 2024. Die temas wat hierbo as voorbeelde genoem word, word by hierdie konferensie in diepte bespreek. Kundiges lei die gesprekke. Predikante kan 6 VBO-punte vir bywoning verdien. Besprekings voor 10 Mei 2024 beteken ’n R200 besparing op die registrasiefooi wat andersins R700 is. Versprei die uitnodiging asseblief - klik hier om dit af te laai.

Notule en besluiteregister van die Algemene Sinode 2023 gepubliseer

Die "Handelinge" van enige kerkvergadering sluit die notule, besluiteregister en enige dokumente wat tydens die vergadering hanteer is wat nie in die Sakelys opgeneem was nie, in. Die Handelinge van die Algemene Sinode van Oktober 2023 is pas gepubliseer. Klik hier om dit af te laai.

Die vergadering het plaasgevind in terme van die Agenda. Laai gerus die agenda en die addendum tot die agenda af.

2024-Election

New candidates, New ballots, Old worries

Inligting en riglyne van die SA Katolieke Biskopperaad:

On 29 May South Africans will vote in what is increasingly being regarded as the most significant national and provincial elections since the first democratic vote in 1994. By definition, all truly free and fair elections are important – they are the key means whereby the people choose who will govern on their behalf – but there are various reasons for assessing these elections as more weighty and consequential than most of the previous six have been.

For one thing, there is an ‘end of era’ feeling about them. For the first time, the question regarding the governing African National Congress is not what the size of its outright national majority will be, but whether it will be able to retain a majority at all.

This Briefing Paper will deal with issues surrounding independent candidates, the three ballot system, and concerns about violence and the undermining of the Electoral Commission. Read further.

Elders gesien

  • Taxi's het verskeie hoofroetes in die Oos-Kaap op 2 Mei 2024 blokkeer in protes teen die Provinsiale Onderwysdepartement se versuim om vir die vervoer van skoliere te betaal. Oos-Londen en omstreke het die swaarste onder die blokkasies deurgeloop. Van die operateurs sê hulle loop gevaar dat hul voertuie deur die bank teruggeneem word, berig Daily Maverick.
  • Ntando Nokama van Mdantsane is een van 9 Suid-Afrikaners wat aan 'n rolstoel tenniskampioenskap in Turkye gaan deelneem. Hy het in 2016 begin tennis speel en sê sy gebrek is geen hindernis om 'n vervulde lewe te kan lei nie. Dit is ook sy boodskap aan ander gestremde jongmense (Daily Dispatch).
  • Sazini Mojapelo, uitvoerende hoof van die Fonds vir Respons teen Geslagsgebaseerde Geweld (GBVF - Gender Based Violence and Femicide) sê Suid-Afrika het betekenisvolle vordering met die bemagtiging van vroue sedert die 1995 Beijing-verklaring van die Verenigde Nasies behaal. Hierdie verklaring bied 'n raamwerk met teikens wat teen 2030 behaal moet word. Monitering van beleid om vroue te bemagtig - eerder as die beleid self - is 'n uitdaging in ons land. Verder is daar 'n lang pad om te loop rondom die ekonomiese impak van vroue en die bekamping van geslagsgebaseerde armoede.

Somerset-Oos verkoop skaaplam, afgelewer in die Baai

Plaas jou bestelling, aflewering geskied op 5 Junie 2024 by die Bybelhuis in die Baai.

PE-Hoogland hou Kos- en Kuierfees op 3 Mei

Die gemeente se adres is Isobellaan 1, Charlo

Burgersdorp neem herboude orrel feestelik in gebruik

Burgersdorp-gemeente se kerk en orrel is ernstig deur 'n brand in Covid-tyd beskadig. Nou is die kerk herstel en die orrel pragtig herbou. Die gemeente neem dit feestelik op 11 Mei in gebruik.

Aanlyn seminaar

Kundiges lewer insette oor die konteks van die NG Kerk

Klik hier om meer inligting te bekom en ook vir die skakel na die aanlyn registrasievorm. Koste beloop R250 per persoon.

Dokumentêr en paneelbespreking

Grond, land en vordering met grondregte

'n Publieke vertoning van 'n dokumentêr oor grondonteiening word op 9 Mei 2024 by die Joy to the Nations-kerk op die hoek van Heughweg en 9e laan, Walmer, Nelson Mandelabaai gehou. Na die tyd gesels 'n paneel oor die vordering met die herstel van grondregte. Die paneel sluit dr Gustav Claassen, pas uitgetrede algemene sekretaris van die Algemene Sinode in. Die byeenkoms begin 18.00. Almal is welkom.

VBO: Hoe reageer jul gemeente tydens 'n ramp?

Wêreldwyd is daar aanduidings dat ons meer en meer rampe begin beleef. Dit hou verband met weer, water, wind en vuur. Dit het ook 'n impak op menslike rampe en ons beleef ook toenemend rampe deur die mens veroorsaak. Suid-Afrika word nie gespaar nie.

'n Ramp kan relatief klein (hanteerbaar deur 'n plaaslike netwerk), groter (hanteerbaar deur 'n streeksnetwerk) of nasionaal (waarvoor 'n nasionale intervensie nodig is) wees.

Leraars en lidmate word genooi om opleiding vir die vestiging van so 'n netwerk in Port Elizabeth te kom deurloop. Die opleiding vind van 4-5 Junie 2024 by die Bybelhuis plaas, en word gelei deur die ervare Lester Sedras van die RESPOND-Netwerk. Klik hier om in te skryf.

RESPOND is 'n vennoot ook van ander kerke en interkerklike liggame soos die SA Raad van Kerke en die The Evangelical Alliance SA, vennote met die wie die NG Kerk ook in ander opsigte saamwerk.
Julle kan 'n glimps van RESPOND se benadering kry by https://www.warehouse.org.za/respond-coalition/

Werkswinkel met Jaco Strydom: Maak 'n verskil

Vakature: NG Gemeente Dordrecht

Die NG Gemeente Dordrecht is `n plattelandse gemeente, geleë tussen die Stormberge in die Oos-Kaap.
Die gemeente is gestig in 1857 en bestaan tans uit 180 belydende lidmate en 50 dooplidmate. Hierdie vakature is `n driejaar-termyn voltydse leraarspos, hernubaar na 3 jaar. Die gemeente resorteer binne die Ring van Dordrecht en Sinode Oos-Kaapland.
Klik hier om die posbekendstelling te lees.
Sluitingsdatum: 25 Mei 2024

Leraars beweeg

Prop Hessie van der Watt, gelegitimeerde diensleraar, is na die NG gemeente Jeffreysbaai beroep.

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars.
facebook twitter