Jaargang 22 - Nommer 14 - 10 Mei 2024
Beste leser,
TEKEN IN op Grens.Pos

In hierdie uitgawe:

  • 'n Gebed vir moedersdag
  • Is bloed dikker as water? 'n Dominee vertel oor die pyn van infertiliteit
  • Pastorale beradingskursus: trauma in die kinderjare binne die konteks van verslawing
  • Leraars beweeg

Piet en Sarizé Retief

Die stil lyding van infertiliteit

Ds Piet en ds Sarizé Retief

Vroue se identiteit word vandag nog vasgemaak aan hulle rol as moeders en in baie kulture dra infertiliteit steeds ‘n stigma. Hoe ontkoppel ons ma-wees van vrouwees? In aanloop na Moedersdag delf ons dieper oor die kwessie, wat so baie paartjies raak.

“Hoe groter die smagting na ’n baba, hoe minder word die sukses en hoe breër word die glimlag wat ons voorhou, want dit is wat mense nodig het om te sien,” so verduidelik Sarizé Retief hulle reis met infertiliteit. Sy en haar man is albei predikante in Namakwaland. “Hierdie jarelange gebedstryd en maandelikse smeek en pleit en teleurstelling het natuurlik ’n invloed op ’n mens se geloofslewe. Terwyl ’n mens steeds bedien en deel, loop ons met hierdie seer, wat ons nie durf waag om uit te spreek en te erken nie.”

‘n Berader help hulle om hierdie verlies as ‘n rouproses te erken en te hanteer. In hierdie week se podcast deel Sarizé openlik hulle storie en hoe hulle op die pad van aanvaarding gekom het - onder andere deur hulle betrokkenheid by vier peetkinders. Ons gesels ook met fertiliteitspesialis professor Igno Siebert en Lou-Maré Denton van Brackenfell-gemeente deel teologiese en persoonlike insae. “Ma-wees is nie iets wat jy is nie, dis iets wat jy doen,” vertel Lou-Maré, wat dien op Kaapkerk se Taakspan Gendergeregtigheid. “Jou kinders kan op meer as ’n biologiese manier jou kinders wees en jy kan op verskillende maniere ’n ma vir kinders wees.” Sy werp ook ‘n insiggewende interpretasie op die skeppingsverhaal en hoe die opdrag om te vermeerder nie noodwendig oor vrugbaarheid gaan nie, maar oor geestelike vermeerdering.

Klik hier vir Sarizé se storie. Luister hier na die podsending ("Is bloed dikker as water?") en klik hier vir teologiese insigte oor infertiliteit. (Met dank aan Vrydagnuus)

Gebed vir Moedersdag

Lees ook DinkJeug se Moedersdag-wenk.

Die goeie idioot

deur Roedolf Botha, e-Kerk

Dit was Martin Luther, wat bekend was vir die uitspraak dat gelowiges moet ophou verwag dat die wêreld hulle soos slim filosowe gaan hanteer, maar dat ons eerder moet bereid wees om as dwase hanteer te word. Toe ek onlangs begin het om die ou televisiereeks, Columbo, te begin kyk, kon ek nie help om aan Luther se woorde te dink nie. Columbo was in die 1970’s en 1980’s uiters gewild en het gehandel oor ‘n speurder in Los Angeles Polisie se moordafdeling. In elke episode is daar dan ‘n moord, wat gepleeg word, wat deur Columbo opgelos moes word.

Wat die reeks egter interessant en uniek gemaak het, was die karakter van Columbo self. Hy was ‘n uiters eksentrieke karakter, wat vreemde eienskappe getoon het tussen die ryk, gesofistikeerde mense, in wie se lewens hy dan betrokke geraak het om die moord op te los. Ek noem ‘n paar van hierdie eienskappe:
• Hy kom slonserig voor met ‘n ou gekreukelde oorjas, wat hy altyd dra.
• Hy ry ‘n ou geroeste kar, wat rook, en dink geensins dat hy ‘n nuwe een nodig het nie.
• Hy lyk altyd verstrooid en deurmekaar oor die huidige moordsaak en mense se getuienisse rakende die omstandighede van die moord.
• Sy medekarakters beleef hom altyd as ietwat naïef en liggelowig en uit pas met die realiteit.
• Hy het egter duidelik goeie waardes, is altyd uiters vriendelik met almal, selfs met die mees onbeskofte karakters, selfs die moordenaar.
• Hy het ‘n baie gesonde huwelik en praat altyd van mrs. Columbo se opinie oor sake, alhoewel die kyker haar nooit te siene kry nie.

Hierdie eienskappe maak dat Columbo as ‘n idioot voorkom en heel dikwels onderskat die moordenaar hom geheel en al, wat natuurlik tot sy ondergang tot gevolg het. Want Columbo is eintlik vlymskerp, mis geen onreëlmatigheid nie, sien elke stukkie detail raak, som mense uiters akkuraat op en vang uiteindelik altyd die moordenaar.

Hy is die goeie, slim idioot.

Ek wonder soms of Columbo nie iets sê van hoe Jesus-volgelinge in hierdie wêreld beleef behoort te word nie. Paulus sê dat die boodskap van die kruis dwaasheid in die wêreld se oë is. Wat vir die wêreld waardevol is, het nie vir ons en God groot waarde nie. Mense sal hulle oë dikwels vir ons rol, wanneer ons van Jesus of die waardes van Sy koninkryk praat. Dit maak nie altyd vir hulle sin nie. Ons is Jesus se “goeie idiote”. Ons is nie veronderstel om te probeer cool wees, of in te wees by die belangrike mense nie. Ons streef nie na die duurste, nuutste karre nie. Ons leef nie vir die waardes van hierdie wêreld nie. Ons is veronderstel om onverbonde aan die materiële, selfsugtige idees van ons samelewing te leef. Ons sien en bring hoop, waar ander mense nie hoop sien nie. Ons glo in ‘n Verlosser, wat ons nie kan sien nie. Ons is naïef genoeg om God op Sy Woord te neem, om Sy beloftes te glo.

Dit beteken nie dat ons onwys, dwaas, ondeurdag en oningelig moet wees nie. Columbo is beslis nie. Hy kom net so voor, omdat hy nie probeer om slim te klink, of cool te lyk nie. Nee, dis net dat ons nie moet verwag om altyd aanvaar te word nie, want ons geloofsoortuiging strook nie met die ander mense s’n nie.
Tog probeer ons goed, liefdevol, vreugdevol wees en ‘n verskil maak. Ons poog om vrede en versoening tussen vyande te bring. Wanneer mense in die moeilikheid beland, is ons heel dikwels die mense na wie toe hulle kom vir hulp.

Jesus is vir Sy boodskap gekruisig, terwyl Hy redding vir die einste soldate, wat Hom vasspyker, bring. Hy vergewe Sy vyande vanaf die kruis af.

Paulus is gestenig, geslaan en uiteindelik vermoor en tog was sy doel bloot om mense aan Jesus bekend te stel.

God se mense is Sy goeie idiote. Ons pas nie in nie.

Tog leef ons Sy vreugde uit en tog skyn ons met Sy lig.

NG Kerk Joubertina se nuwe landlynnr

Die kerkkantoor van die NG Gemeente Joubertina het 'n nuwe landlyn: 042 880 5023. Gemeentes kan dit gerus in hul Kerkjaarboek aanteken.

Pastorale beradingskursus

Aanlyn VBO: Kinderjare trauma te midde van 'n milieu van verslawing

Die effek van kinderjare trauma kan emosioneel, fisies en geestelik verwoestend wees. Die navorsing het oortuigend aangetoon dat veral liggaamlike probleme een van die aftakelende gevolge in die langtermyn kan wees. In hierdie verband het die ondersoekende joernalis, Donna Jackson Nakazawa, wat reeds verskeie toekennings vir haar navorsing ontvang het, ʼn insiggewende boek geskryf met die titel, Childhood disrupted. How your biography becomes your biology, and how you can heal. Haar basiese vertrekpunt is haar eie traumatiese kinderjare na die skielike afsterwe van haar pa toe sy 12 jaar oud was, met uiteindelik oorweldigende liggaamlike probleme tot laat in haar volwasse jare.

Wanneer sodanige kinderjare trauma ook nog gekoppel sou wees aan die verslawing van een of beide ouers, dan het die emosionele lading vir so ʼn kind oorweldigend geraak.

Hierdie is die boustene van 'n pastorale beradingskursu wat prof Wentzel Coetzer op 28 Mei op Zoom aanbied. Klik hier vir meer agtergrondsinligting en om in te skryf.

Elders gesien

  • Die uitvoer van nuwe voertuie het alle rekords in 2023 verpletter. Gevolglik het die prestasie van die Suid-Afrikaanse voertuigindustrie die res van die vervaardigingsektor verlede jaar beduidend oortref. Die uitvoerwaarde van voertuie het met 19.1% tot R270.8bn gestyg, wat 14.7% van die totale uitvoer uit Suid-Afrika verteenwoordig. Voertuie is na 148 lande uitgevoer. Die motorindustrie is een van die grootste werkgewers in die Oos-Kaap. (Naamsa)
  • Die medisinale kannabis-ekonomie het 'n groot hupstoot gekry via 'n belegging deur Medigrow in die Coega industriële sone by Gqeberha. Die belegging sal aanvanklik tot 3,000 werkgeleenthede skep en toekomstig selfs tot 30,000 aangroei. Dagga is groot besigheid. (Daily Maverick) Opwindend is die feit dat kleinboere dagga (kannabis en hemp) kan verbou. Die werkskepping het dus minder met megaboerdery en meer met die insluiting van bestaansboere in die landbou-ekonomie te doen. Die Oos-Kaapse landbousektor het begin om landbou-adviseurs op te lei om kleinboere by te staan om kannabis en hemp te verbou (blykbaar meer ingewikkeld as wat mens tot dusver meegedeel is). (The Herald)
  • Sewejarige slimkop Azothandwa Maseti van Laerskool Fort Grey in Bhongweni (in die ooste van die voormalige Transkei) het gekwalifiseer om aan die Afrika Jeugskaakkampioenskap van 15-23 Junie in die Kopanohotel in Benoni deel te neem. Hy het 'n jaar gelede onder leiding van sy onderwyser, mnr Petse, begin skaak speel en het agtste in die Suid-Afrikaanse kwalifiserende rondtes geëindig. (Daily Dispatch)
  • Slangvanger Mark Marshall van Gqeberha met sy reptielvriende kry 'n eie TV-reeks wat van 27 Mei op Openview kanaal 115 uitgesaai word. Die program is opvoedkundig van aard. Mark sê sy ontsluiting van verskeie natuurwonders uit die wêreld van reptiele is heeltemal toeganklik vir kleiner kinders.

VBO: Hoe reageer jul gemeente tydens 'n ramp?

Wêreldwyd is daar aanduidings dat ons meer en meer rampe begin beleef. Dit hou verband met weer, water, wind en vuur. Dit het ook 'n impak op menslike rampe en ons beleef ook toenemend rampe deur die mens veroorsaak. Suid-Afrika word nie gespaar nie.

'n Ramp kan relatief klein (hanteerbaar deur 'n plaaslike netwerk), groter (hanteerbaar deur 'n streeksnetwerk) of nasionaal (waarvoor 'n nasionale intervensie nodig is) wees.

Leraars en lidmate word genooi om opleiding vir die vestiging van so 'n netwerk in Port Elizabeth te kom deurloop. Die opleiding vind van 4-5 Junie 2024 by die Bybelhuis plaas, en word gelei deur die ervare Lester Sedras van die RESPOND-Netwerk. Klik hier om in te skryf.

RESPOND is 'n vennoot ook van ander kerke en interkerklike liggame soos die SA Raad van Kerke en die The Evangelical Alliance SA, vennote met die wie die NG Kerk ook in ander opsigte saamwerk.
Julle kan 'n glimps van RESPOND se benadering kry by https://www.warehouse.org.za/respond-coalition/

Vakature: NG Gemeente PE-Noord

Ons is nie so geïnteresseerd in wat jy as predikant kan doen en wat jy ons kan laat doen nie. Ons is meer geïnteresseerd in wie jy is en wat jy ons kan help om te word.

In PE-Noord neem bemagtigde lidmate onder leiding van 'n dinamiese kerkraad inisiatief om die Here, mekaar en die gemeenskap te dien. Ons heg groot waarde aan liefde en gebed. Die gemeente het projekte soos vrouebemagtiging, bejaardeversorging, uitreik na die gemeenskap se jeug, 'n sopkombuis, voedselhulp aan behoeftiges en leerders, asook 'n klerebank. Ons het ook 'n fonds wat leerders ondersteun.

Ons omgewing is vir sommige 'n blyplek, vir ander 'n werkplek, en vir nog ander 'n gebied waar verskeie openbare dienste gelewer word. Ons area het woonhuise, meenthuise, woonstelblokke, kleiner fabrieke, hospitale, klinieke en gemeenskapsdienste.

Ons omgewing het drie skole, winkelsentrums en verskeie kleuterskole met hoofpaaie wat ons area deurkruis. Ons is naby blouvlagstrande en die lughawe. Klik hier vir die posbeskrywing.

Vakature: NG Gemeente Dordrecht

Die NG Gemeente Dordrecht is `n plattelandse gemeente, geleë tussen die Stormberge in die Oos-Kaap.
Die gemeente is gestig in 1857 en bestaan tans uit 180 belydende lidmate en 50 dooplidmate. Hierdie vakature is `n driejaar-termyn voltydse leraarspos, hernubaar na 3 jaar. Die gemeente resorteer binne die Ring van Dordrecht en Sinode Oos-Kaapland.
Klik hier om die posbekendstelling te lees.
Sluitingsdatum: 25 Mei 2024

Leraars beweeg

Prop Rion van Niekerk, gelegitimeerde diensleraar, is op 28 April 2024 na die NG gemeente Jansenville beroep.

Ds Llewellyn Oliver het die beroep na die NG Kerk Grasvoëlkop bedank.

Prop Hessie van der Watt, gelegitimeerde diensleraar, is na die NG gemeente Jeffreysbaai beroep.

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars.
facebook twitter