Jaargang 22 - Nommer 15 - 17 Mei 2024
Beste leser,
TEKEN IN op Grens.Pos

In hierdie uitgawe:

  • Skep 'n veiliger kerk vir kinders - met bruikbare materiaal
  • Nuwe Wet op Haatspraak stel almal bloot en maak die openbare ruimte onveiliger
  • 'n Erediens met riglyne oor die uitbring van 'n verantwoordelike stem op stemdag
  • Vakatures en VBO
  • Leraars beweeg

Veldtog vir die beskerming van kinders

Bevorder 'n veilige kerk en veilige kinders

Vanaf 28 Mei tot 4 Junie is Kinderbeskermingsweek. Gemeentes word aan die hand van materiaal wat spesiaal ontwikkel is aangemoedig gesprek te voer oor die veiligheid van kinders en tieners in gemeentes se ruimtes en byeenkomste.

Kyk net watter wonderlike produkte is beskikbaar:
  • Volkleur A2-plakkate wat afgelaai, uitgedruk en in die kerk geplaas kan word
  • 'n Powerpoint wat in eredienste gewys en bespreek kan word
  • Grafika wat afgelaai en op sosiale media geplaas kan word om bewussyn en gesprek te verhoog
  • 'n Gespreksraamwerk vir kerkrade en besture om gesels oor die gemeente se beleid en protokol vir die beveiliging van kinders (hier is werklik waardevolle inligting).
Bykomende wenke vir gemeentes:
  1. Gesels gereeld in die kerkraad en leierskap van die gemeente oor die kinderveiligheid van die gemeente en hoe ‘n beleid gevestig kan word. Gesels ook oor die kultuur van die gemeente en die onderliggende teologie.
  2. Maak seker alle volwassenes wat met kinders werk (vrywilligers by die kategese ens.) asook ouers weet wat die protokol is vir veilige en opbouende persoonlike gesprekke, ook aanlyn.
  3. Maak ook seker dat alle ouers en leiers weet hoe, waar en wanneer om moeilike gesprekke te hanteer asook kinders / tieners te verwys en hoe hulle waarskuwingstekens van mishandeling en misbruik kan herken.
  4. Laat alle vrywilligers die Volwasse Verklaring onderteken.
  5. Vereis dat alle personeel in diens van die gemeente ‘n bevestiging lewer dat hulle nie op die National Register for Sexual Offenders verskyn nie. Individue kan self die bevestiging aanvra deur Vorm 30 te voltooi en na CPRenquiries@dsd.gov.za (die kontak nommer is 012 312 7554) te stuur. Werkgewers kan namens al die personeel bevestiging aanvra deur Vorm 29 hiervoor te gebruik en stuur aan CPRenquiries@dsd.gov.za (die kontak nommer is 012 312 7554)
  6. Kry so gou moontlik ‘n maklike sisteem in plek om seker te maak alle leiers en vrywilligers wat met kinders / tieners werk (direk of indirek) is nie op die NRSO (National Register for Sexual Offenders) Vra die plaaslike kinderbeskermings-organisasie om hiermee te help, aangesien die proses andersins duur en tydsaam kan wees.
  7. Plak noodnommers op vir kinders en tieners bv. in badkamers.
  8. Verhoog die beligting en sekuriteit van die perseel.
  9. Werk saam met die maatskaplike diensorganisasies en skole se projekte, veldtogte en netwerke. Hoor ook wat ander gemeentes reeds doen in julle ring of streek.
  10. Gesels met almal, ook kinders, oor waardes soos insluiting, persoonlike grense, en opbouende gesprekke (ook aanlyn-gesprekke) en hoe dit prakties uitgevoer word.
Hierdie veldtog is saamgestel deur DinkJeug (die Jeug en Familie Diensgroep van die NG Sinode van Wes-Kaapland) asook Little Seeds Eenheid vir VKO (‘n program van Badisa).
Gemeentes kan hulself formeel verbind om na kinders om te sien

Wetgewing teen ongedefinieerde haatspraak beperk vryheid van uitdrukking

Terwyl ANC-politici graag kerke se drumpels deurtrap om steun in die aanloop tot verkiesings te wen, het dieselfde regerende party uiters problematiese wetgewing teen haatspraak (wat ook impak op godsdiensvryheid het) in die afgelope week aanvaar. Die krisis is dat die wet geen objektiewe maatstaf vir haatspraak neerlê nie, maar werk met die impak wat die woorde het op wie ook al daardeur gekrenk voel. Dit skep regsonsekerheid en lewer enige beskuldigde uit aan die aanvoeling van die regbank van die dag.

Michael Swain van FORSA gee in meegaande video 'n kort oorsig nadat pres. Cyril Ramaphosa dit op 9 Mei 2024 onderteken het. Terwyl die wet voorgee om 'n vrye en oop samelewing te bevorder, ondergrawe dit die grondwetlike reg tot vryheid van uitdrukking, sê Swain. Klik hier om na sy opsomming te kyk.

Erediens met riglyne

Na wie se stem luister jy wanneer jy jou kruisie trek?

Daar is baie stemme wat opgaan van politieke partye voor die verkiesing op Woensdag 29 Mei 2024. Na wie se stem moet jy luister wanneer jy Woensdag jou strepie gaan trek? Op Sondag 26 Mei 2024 om 09:00 te NG Sionsrand, Bramhope-weg 16, Linton Grange gaan Dr Willem Wiid ons lei in ‘n erediens met die tema: DIE STEM, oor hoe ons keuses kan uitoefen op stemdag om die Goddelike perspektief (DIÉ STEM) te verstaan wanneer ons gaan STEM en nie vas te haak by kulturele en politieke STEMME nie. Die volgende kunstenaars gaan daar optree: Lucretia Sikwebu, Marvin Draai en Alfred Felkers. Navrae: Willem Wiid 0718660771.

Suid-Afrika se geskiedenis met grond

Die kreet na 'n stukkie grond en die noodsaak vir grondhervorming

'A Piece of Land' vertel die verhaal van gedwonge verskuiwing en die wyse waarop gemeenskappe oor jare opgebreek is, met katastrofale gevolge

Die regering se mislukking om grondhervorming teen 'n bekwame spoed deur te voer, is een van die jammerlike wyses waarop Suid-Afrikaners in die steek gelaat word. Die is egter net die jongste hoofstuk in 'n lang geskiedenis van grondverskuiwings en hardhandige optrede om mense van grond te weerhou.

Joernalis en filmmaker Sesihle Manzini het 'n besondere dokumentêr oor Suid-Afrika se donker geskiedenis met grond gemaak, A Piece of Land. Die dokumentêr is onlangs tydens 'n ekumeniese saamtrek van kerke in Gqeberha vertoon en 'n paneel het agterna daaroor gesels. Dr Gustav Claassen, pas uitgetrede algemene sekretaris, het namens die NG Kerk 'n inset gelewer. Ander deelnemers was prof Janet Cherry van Nelson Mandela Universiteit, dr Sox Leleki, Metodistebiskop in die Baai en me Palesa Kadi wat ten nouste met die hersiening van plekname gemoeid is.
Dr Gustav Claassen aan die woord tydens 'n paneelbespreking oor SA se geskiedenis met grond. Hy lig die NG Kerk se rol in grondregte en restitusie toe. Vlnr me Sesihle Manzini, vervaardiger van A Piece of Land, prof Janet Cherry van NMU, dr Sox Leleki, Metodistebiskop, me Palesa Kadi van die Dept van Sport en Kultuur en dr Claassen, voormalige algemene sekretaris van die NG Kerk.
Armoede en ongelykheid in Suid-Afrika kom 'n lang pad, veral omdat die handelspos en latere kolonie deelgeneem het aan die internasionale handel wat goedkoop arbeid en produksie benodig het om kompeterend te kan wees en maksimum wins vir die empire kon verseker. Die myn van goud en diamante het ongeskoolde trekarbeid benodig, terwyl die vervaardigingsbedryf (soos in die Baai) meer in opleiding en 'n stabiele personeelkorps belanggestel het. Tog het gedwonge verskuiwings oor hier voorgekom.

Die paneel en gehoor kon aan interessante moontlikhede dink om die situasie om te keer. Ons is nie geroep om grond te besit nie, maar om die grond te bewerk, het biskop Leleki gesê. Waar mense mekaar se hande vat en saam die vrug van grondproduksie geniet, met die kerk wat 'n morele stem hieroor laat hoor, kan die bestaande werklikheid deur ekonomiese deelname verander. Claassen het gesê hy word met skaamte vervul oor die kerk se rol as hy na 'n historiese dokumentêr van hierdie aard kyk, maar dat verskeie kerke - die NG Kerk inkluis - en kerklidmate verbind is tot 'n pad van herstel. Prof willie Jonker se verskoning oor die kerk se teologiese regverdiging van apartheid by Rustenburg in 1990 was 'n keerpunt in die NG Kerk se reis met apartheid.

Klik hier om meer te lees oor die NG Kerk se standpunt oor grond en grondonteiening.

NG Kerk Joubertina se nuwe landlynnr

Die kerkkantoor van die NG Gemeente Joubertina het 'n nuwe landlyn: 042 880 5023. Gemeentes kan dit gerus in hul Kerkjaarboek aanteken.

Pastorale beradingskursus

Aanlyn VBO: Kinderjare trauma te midde van 'n milieu van verslawing

Die effek van kinderjare trauma kan emosioneel, fisies en geestelik verwoestend wees. Die navorsing het oortuigend aangetoon dat veral liggaamlike probleme een van die aftakelende gevolge in die langtermyn kan wees. In hierdie verband het die ondersoekende joernalis, Donna Jackson Nakazawa, wat reeds verskeie toekennings vir haar navorsing ontvang het, ʼn insiggewende boek geskryf met die titel, Childhood disrupted. How your biography becomes your biology, and how you can heal. Haar basiese vertrekpunt is haar eie traumatiese kinderjare na die skielike afsterwe van haar pa toe sy 12 jaar oud was, met uiteindelik oorweldigende liggaamlike probleme tot laat in haar volwasse jare.

Wanneer sodanige kinderjare trauma ook nog gekoppel sou wees aan die verslawing van een of beide ouers, dan het die emosionele lading vir so ʼn kind oorweldigend geraak.

Hierdie is die boustene van 'n pastorale beradingskursu wat prof Wentzel Coetzer op 28 Mei op Zoom aanbied. Klik hier vir meer agtergrondsinligting en om in te skryf.
Plek: Aanlyn
Tye: 27 Mei en 3 Junie 2024, (09:00 – 14:00)
Koste: R250-00 per persoon
VBO: 20 punte
Sluitingsdatum: 24 Mei 2024
Inskrywing: Klik hier - Inskrywings geskied deur middel van dié aanlynvorm

Bankbesonderhede vir elektroniese betalings:
Bank: ABSA
Naam van rekening: TSO
Rekeningnommer: 142 0830 463
Takkode: 632005
Tak: PRETORIA
Verwysing: VBO naam en van
Bewys van betaling: epos na excelsus@up.ac.za
Registreer hier vir die seminaar. 2 VBO-punte

VBO: Hoe reageer jul gemeente tydens 'n ramp?

Wêreldwyd is daar aanduidings dat ons meer en meer rampe begin beleef. Dit hou verband met weer, water, wind en vuur. Dit het ook 'n impak op menslike rampe en ons beleef ook toenemend rampe deur die mens veroorsaak. Suid-Afrika word nie gespaar nie.

'n Ramp kan relatief klein (hanteerbaar deur 'n plaaslike netwerk), groter (hanteerbaar deur 'n streeksnetwerk) of nasionaal (waarvoor 'n nasionale intervensie nodig is) wees.

Leraars en lidmate word genooi om opleiding vir die vestiging van so 'n netwerk in Port Elizabeth te kom deurloop. Die opleiding vind van 4-5 Junie 2024 by die Bybelhuis plaas, en word gelei deur die ervare Lester Sedras van die RESPOND-Netwerk. Klik hier om in te skryf.

RESPOND is 'n vennoot ook van ander kerke en interkerklike liggame soos die SA Raad van Kerke en die The Evangelical Alliance SA, vennote met die wie die NG Kerk ook in ander opsigte saamwerk.
Julle kan 'n glimps van RESPOND se benadering kry by https://www.warehouse.org.za/respond-coalition/

Vakature: NG Gemeente PE-Noord

Ons is nie so geïnteresseerd in wat jy as predikant kan doen en wat jy ons kan laat doen nie. Ons is meer geïnteresseerd in wie jy is en wat jy ons kan help om te word.

In PE-Noord neem bemagtigde lidmate onder leiding van 'n dinamiese kerkraad inisiatief om die Here, mekaar en die gemeenskap te dien. Ons heg groot waarde aan liefde en gebed. Die gemeente het projekte soos vrouebemagtiging, bejaardeversorging, uitreik na die gemeenskap se jeug, 'n sopkombuis, voedselhulp aan behoeftiges en leerders, asook 'n klerebank. Ons het ook 'n fonds wat leerders ondersteun.

Ons omgewing is vir sommige 'n blyplek, vir ander 'n werkplek, en vir nog ander 'n gebied waar verskeie openbare dienste gelewer word. Ons area het woonhuise, meenthuise, woonstelblokke, kleiner fabrieke, hospitale, klinieke en gemeenskapsdienste.

Ons omgewing het drie skole, winkelsentrums en verskeie kleuterskole met hoofpaaie wat ons area deurkruis. Ons is naby blouvlagstrande en die lughawe. Klik hier vir die posbeskrywing.

Vakature: NG Gemeente Dordrecht

Die NG Gemeente Dordrecht is `n plattelandse gemeente, geleë tussen die Stormberge in die Oos-Kaap.
Die gemeente is gestig in 1857 en bestaan tans uit 180 belydende lidmate en 50 dooplidmate. Hierdie vakature is `n driejaar-termyn voltydse leraarspos, hernubaar na 3 jaar. Die gemeente resorteer binne die Ring van Dordrecht en Sinode Oos-Kaapland.
Klik hier om die posbekendstelling te lees.
Sluitingsdatum: 25 Mei 2024

Leraars beweeg

Prop Rion van Niekerk, gelegitimeerde diensleraar, is na die NG gemeente Bothasrus beroep.

Ds Llewellyn Oliver het die beroep na die NG Kerk Uitenhage aangeneem.

Kerkkantore word herinner om die Direkteur Sinode in kennis te stel oor die beweging van leraars.
facebook twitter